Nou in die verlede: ’n Viering van die menslike gees oor swaarkry – Vic Clapham en die Comrades-marathon

  • 0

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

Fotobron: Unsplash

Sondag 24 Mei 2020

Jy mag vermoed dat die Comrades-marathon anders is, maar by die wegspring is jy seker daarvan … Van oggendskemer tot sonsondergang in Durban is ons die kinders van die pad, om ondersteun, aangemoedig, geprys en beskerm te word. Vandag kan daar net een uitslag wees, elke drawwer ’n wenner, elkeen ’n held …

Tim Noakes, Lore of running (Vertaling uit die Engels my eie; ook elders, tensy anders vermeld)

Die Comrades-marathon van 2020 is gekanselleer. Vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog is hierdie moordende ultramarathon tussen Durban en Pietermaritzburg, die oudste en waarskynlik een van die moeilikste ultramarathons ter wêreld, afgelas. Hierdie aankondiging deur die Comrades Marathon-vereniging (CMA) het ’n einde gemaak aan ’n ononderbroke tydperk van 75 jaar van Comrades. Maar die feit dat die wedloop afgelas is, regverdig nie dat die doel waarvoor dit in die eerste plek ingestel is, nie gedenk moet word nie. Hierdie week gedenk ons die eerste Comrades-marathon wat op 24 Mei 1921 gehardloop is.

Teen die begin van die 1920’s het die wêreld nog gesteier onder die nagevolge van die mees vernietigende oorlog wat dit al ooit gesien het. Die Eerste Wêreldoorlog, of die Groot Oorlog, het vir meer as vier jaar geduur en het die lewens van ’n geskatte 15 tot 20 miljoen mense geëis. Nog 23 miljoen soldate het fisieke letsels oorgehou, om nie eers te praat van die miljoene jongmense wat die psigiese littekens van die oorlog lewenslank met hulle sou moes saamdra nie. ’n Hele geslag jong manne en hulle gesinne van lande regoor die aardbol is deur die oorlog geraak.

Vic Clapham was nie ’n uitsondering nie.

Clapham is in 1886 in Londen gebore. Kort voor die Anglo-Boereoorlog het hy saam met sy gesin na die Kaapkolonie in Suid-Afrika geëmigreer. Na die oorlog het Clapham na Natal verhuis, waar hy as masjinis op die spoorweë gewerk het. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het die 27-jarige Clapham besluit om by die Unie van Suid-Afrika se weermag (UDF) aan te sluit. Die Unie van Suid-Afrika onder eerste minister Louis Botha het sy gewig agter sy koloniale meester, Groot-Brittanje, gegooi. Hoewel dit nie duidelik is by watter eenheid Clapham ingedeel was nie, beweer sommige bronne dat hy in 8 Suid-Afrikaanse Infanterie-regiment (8 SAI) as deel van 2 Suid-Afrikaanse Infanterie-brigade gedien het. Wat egter wel duidelik is, is dat Clapham as deel van die geallieerde magte na Oos-Afrika ontplooi is om die Duitse magte aldaar in bedwang en besig te hou sodat hulle nie na die oënskynlik meer belangrike slagvelde van Europa herontplooi sou kon word nie.

Die Duitse Schutztruppen onder aanvoering van die uitgeslape luitenant-kolonel Paul Emil Von Lettow-Vorbeck het egter ’n formidabele en glibberige opponent geblyk te wees vir die Britse en Suid-Afrikaanse magte. In plaas daarvan om die Duitse magte besig te hou, is die geallieerde magte deur luitenant-kolonel Von Lettow-Vorbeck ore aangesit. Benewens die hewige veldslae en skermutselings soos by Salatia Hill en Kilwa, was die soldate ook onderwerp aan nadelige weerstoestande, tropiese siektes en die vervloekte tsetsevlieë, om maar ’n paar beproewings te noem. Oor hierdie veldtog het die Suid-Afrikaanse soldate gesing:

A shocking land is German East
Accursed alike by man and beast
A land of rains ‘till comes a break
With days and nights so hot you bake!
From base to base in quest of foe
We wretched fed-ups come and go,
With scrubby shins and dirty knees,
And toe-nails mined by jigger fleas.

Die veldtog is teen ’n baie hoë koste geveg. Van die 200 000 geallieerde troepe wat aan die Oos-Afrika-veldtog deelgeneem het, het meer as 10 000 gesterf en duisende is buite aksie gestel. Van 8 SAI, Clapham se waarskynlike eenheid, was net 15 soldate uit 1 059 nie gehospitaliseer gedurende die finale fase van die veldtog nie.

Clapham was oënskynlik nooit gedurende die oorlog gewond nie, maar hy was diep geraak deur wat hy daar gesien het. Na die oorlog het die idee by hom posgevat om daardie soldate wat gely en gesterf het, op ’n besondere manier te onthou. Die aanvanklike doel was om ’n reünie van veterane te hou, maar dit was ook nie tot hulle beperk nie. Die gedagte was gebaseer op die aanname dat as opgeleide infanteriste gedwing kon word om oor lang afstande te marsjeer, sou geoefende atlete nie veel moeite ondervind om die afstand tussen Durban en Pietermaritzburg af te lê nie. Na sy oordeel was die mees toepaslike wyse om sy gevalle kamerade te gedenk, ’n wedloop wat die grense van die liggaam en die gees se vermoëns sou toets wat sodoende die deelnemers ’n vlugtige blik sou gee op hulle lyding. Om die wedloop te voltooi, sou ’n triomf vir die deelnemer wees, ’n bewys en toonbeeld van die moed en deursettingsvermoë van die menslike gees. Clapham het gehoop dat die Comrades-marathon op hierdie wyse ’n “lewende monument” sou wees vir hulle wat in die Groot Oorlog geveg en gesterf het.

In 1919 het Clapham toestemming gevra om die voorgestelde 56-myl-wedloop (89,6 km) van Pietermaritzburg na Durban te organiseer. Die administrateurs by Natal Atletiek het gevoel Clapham is van sy sinne beroof om so iets voor te stel, maar hy het volgehou met voorstelle en aansoeke regdeur 1919 en 1920, en toe hy steeds nie kon hond haaraf maak nie, het hy hom tot die veterane-organisasie bekend as die Comrades of the Great War gewend om hom te hulp te kom. Aanvanklik was hy hier ook nie suksesvol nie, maar in 1921 het die Comrades of the Great War met die Returned Soldiers and Sailors Association saamgesmelt om die British Empire Services League of South Africa (BESL SA) te vorm. Clapham het toe die BESL SA genader en hulle het uiteindelik ingestem om die wedloop te finansier. Terloops, BESL SA is later hernoem tot die South African Legion of Military Veterans, vandag die oudste veterane-organisasie in Suid-Afrika, en steeds betrokke by die Comrades-marathon. Dit is hulle wat deelnemers jaarliks aanmoedig om die Remembrance Day Poppy te dra in ’n poging om te verseker dat die oorspronklike doel van die wedloop nie uit die oog verloor word nie.

Clapham het die wedloop die gepaste naam van Comrades-marathon gegee as ’n teken van respek teenoor die veterane-organisasies en ook ter herinnering aan, en ter ere van, sy gevalle en oorlewende kamerade. Aanvanklik het 47 atlete vir die eerste wedloop ingeskryf, maar net 34 het uiteindelik vir die eerste Comrades by die wegspringpunt aangetree. Die roete het by Commercialweg (vandag Chief Albert Luthuli-straat) buite die Pietermaritzburgse stadsaal begin en van daar vir 87,9 km na Durban gekronkel tot dit voor die Durbanse stadsaal in Smithstraat (vandag Dr Pixley KaSeme-straat) geëindig het. Die afsnytyd vir die voltooiing van die wedloop was 12 ure. Anders as vandag, was net die laaste paar kilometer van die pad in Durban geteer. Die res was grondpad.

Op 24 Mei 1921 is Clapham se droom dus bewaarheid. 34 geregistreerde en vier ongeregistreerde “skamelgeklede mans” het voor die Pietermaritzburgse stadsaal in enkelgelid oor die pad gestaan. Om 07h10 het ’n enkele vuurwapenskoot deur die straat gedawer om die begin van die eerste Comrades-marathon aan te kondig.  

Die klein, enkele “bussie” hardlopers het al met Commercialweg langs na die suid-oostelike buitewyke van Pietermaritzburg gedraf en die eerste man wat die brug oor die Umsinduzirivier bereik het, was Butcher Purcell, gevolg deur Harry Phillips (36) en Bill Rowan (26). Die stofpad het oor en tussen bulte en koppe deur al die pad tot in Durban voor hulle oopgelê. By Cato Ridge was Purcell, Phillips en Rowan steeds die voorlopers, maar by Inchanga het Purcell begin stoom verloor. By die halfpadmerk, Drummond, het Rowan weggebreek en die voortou geneem.

Met ’n gevolg van fietse, motorfietse en motors is Rowan deur Gillits en Pinetown terwyl hy steeds geleidelik die gaping tussen hom en Phillips, wat deur ’n kniebesering gepla was, vergroot. Rowan het Weststraat in Durban binnegehardloop met sy hele liggaam gehul in bruin stof, en uiteindelik die wedloop voltooi. Sy tyd van 8 uur en 59 minute teen ’n gemiddelde spoed van ses minute per kilometer is die stadigste wentyd van die Comrades tot vandag toe. Ten spyte van sy besering het Phillips vasgebyt en uiteindelik in 9 uur en 40 minute klaargemaak. Hy sou, terloops, Suid-Afrika in die marathon tydens die Olimpiese Spele van 1924 in Parys verteenwoordig. Dit was by hierdie Olimpiese Spele waar die Britse baanatlete Harold Abrahams en Eric Liddell ook sou deelneem, en wat later as inspirasie sou dien vir die 1981 Oscar-wenner Chariots of fire.

Slegs 16 uit die 34 amptelike beginners het die eerste Comrades voltooi. Aan al 16 is silwer medaljes toegeken omdat hulle die wedloop voltooi het. Daar is toe besluit dat die rigting van die wedloop elke jaar sou verander: een jaar van Pietermaritzburg na Durban (die afwedloop) en die volgende jaar van Durban na Pietermaritzburg (die opwedloop). Tydens die jare wat op hierdie historiese gebeurtenis sou volg, sou die Comrades-marathon ontwikkel in ’n wedloop van wêreldgehalte wat atlete nie net van regoor Suid-Afrika sou aantrek nie, maar van regoor die wêreld. Dit het ook ’n aantal atlete opgelewer wie se prestasies legendaries sou wees. Gedurende die opwedloop van 1931 het ’n 21-jarige groentjie met die naam van Wally Hayward vir die eerste keer deelgeneem. By Pinetown was Hayward voor en toe hy deur Hillcrest gaan, was hy al 11 minute voor sy naaste teenstander. Hy het Botha’s Hill met gemak agter hom gelaat en is deur die halfpadmerk by Drummond met ’n tyd van 3 uur en 30 minute. Ook Inchanga is hy uit sonder veel moeite, maar in die Harrison’s Flats, ’n gelyk en vervelige deel van die wedloop, het hy begin krampe ontwikkel, tot so ’n mate dat hy by Cato Ridge moes stop vir behandeling. Daarvandaan het hy teen ’n looppas voortgesukkel terwyl sy mede-atlete hom vinnig begin inhaal het. Toe hy deur Camperdown gaan, was hy steeds voor en sy tyd was 5 uur, 13 minute en 25 sekondes, met Philip “Phil” Masterton-Smith wat vinnig besig was om die gaping toe te maak. Die  gaping was egter te groot en Hayward wen uiteindelik sy debuut-Comrades met ’n tyd van 7 uur 27 minute en 26 sekondes, net 27 sekondes voor Masterton-Smith. Masterton-Smith, wat self as ’n formidabele atleet beskou is, sou die Comrades die daaropvolgende jaar wen.

Hayward sou eers weer 20 jaar later aan sy volgende Comrades deelneem, en het dié een ook gewen. Vanaf 1950 tot 1954 het Hayward elke Comrades gewen behalwe in 1952, toe hy gekies het om nie deel te neem nie sodat hy Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Helsinki kon verteenwoordig. In 1951 en 1953 het hy af-wedloop-rekord twee maal verbeter en die eerste persoon geword wat die wedloop in minder as 6 uur kon voltooi. In 1954 het hy ook die rekord vir die opwedloop verbeter en op 45-jarige leeftyd die oudste man geword wat die wedloop gewen het. Eers in 2004 het ’n ouer man, die 48-jarige Vladimir Kotov van Belarus, die wedloop gewen.

Verbasend genoeg tree Hayward in 1988 weer vir die Comrades aan en hardloop vir helfte van dié wat die wedloop voltooi het weg om in 9 uur 44 minute klaar te maak. Maar sy swanesang was dit nog nie. In 1989, op 80-jarige ouderdom, tree hy weer by die wegspring aan vir die afwedloop. Sou hy binne die afsnytyd klaarmaak, sou hy die oudste persoon wees om die Comrades suksesvol te voltooi. Tydens die tweede helfte van die wedloop wou dit voorkom asof hy dit nie sou maak voor die afsnytyd nie. Maar toe gaan daar skielik ’n oorverdowende gejuig uit die Kingsmead-stadion op, waar die eindstreep was. Terwyl die sekondes verbysnel, slof Hayward ritmies en vasberade voort met mede-atlete en toeskouers wat hom met alles tot hul beskikking aandryf na die eindpunt. Die kollektiewe energie het uiteindelik vir Hayward oor die eindstreep gedra met nog 1 minuut 57 sekondes oor voor die afsnytyd. Dit was ’n bomenslike vertoning wat die kroon sou span op ’n Comrades-loopbaan wat oor byna ses dekades gestrek het.

Waarskynlik die mees dramatiese wedloopeinde in die geskiedenis van die Comrades het in 1967 plaasgevind met Manie Kuhn en Tommy Malone die dramatis personae. Selfs voor die aanvang van die wedloop het kenners alreeds voorspel dat die wenner een van hierdie twee sou wees. Die dag van die wedloop was die weer ideaal – bewolk en matig – en so het dit dan ook die hele dag gebly. Die atlete het uit Pietermaritzburg gehardloop met die plaaslike atleet Eric Renken aan die voorpunt, gevolg deur ’n groot groep hardlopers onder wie ook Malone. Met Malone, Craig Morrison, Phil Hargreaves, Tim Blankley en Rencken wat die pas aangee, het die groep in mekaar se skaduwees gehardloop totdat Blankley op pad na Inchanga die voortou geneem het om die bondel atlete in die Vallei van ’n Duisend Heuwels in te lei. By Drummond is aan Blankley, Malone, Morrison, Hargreaves, Baker, Craig en Kuhn almal dieselfde amptelike tyd toegeken, van 2 uur 51 minute. Op pad na Botha’s Hill het Morrison en Malone weggebreek en ’n beduidende gaping tussen hulle en die res van die groep opgebou. Teen die tyd dat hulle by Gillits aangekom het, het Malone weer die voortou geneem en weggebreek om alleen die voorloper te wees. Hy is deur Pinetown in ’n tyd van 4 uur 30 minute, met Kuhn twee minute agter hom. Op hierdie stadium het Malone met soveel gemak gehardloop dat daar onder die toeskouers geen twyfel was dat hy die wedloop gemaklik sou wen nie. Hoewel Kuhn heeltyd binne trefafstand van Malone af gebly het terwyl hulle teen Cowie’s Hill uit is tot in Westville, was die gaping tussen die twee atlete by Tollgate in Durban nog steeds twee minute. Van Tollgate af is dit afdraand tot by die eindpunt, en die gevoel was dus dat Kuhn nie meer die gaping sou kon toemaak nie. Aangevuur deur die ondersteuning van sy tuisskare, het Kuhn egter wel vir Malone begin inhaal. Die 3 000 ondersteuners by die eindpunt is oor die publieke luidsprekers ingelig dat Malone minder as 140 m van die eindpunt was. Nog meer mense het begin saamdrom om te sien hoe die wenner oor die wenstreep hardloop. Die volgende oomblik het Malone verskyn, ongeveer 70 m van die eindstreep. Maar kort hierna sien hulle hoe Kuhn ook in die finale pylvak indraai, slegs 20 m agter Malone. Malone het oor sy skouer geloer en opgemerk dat Kuhn hom vinnig inhaal. Met sy laaste kragte het hy probeer om sy pas te versnel tot ’n naelloop na die eindstreep, maar die skielike versnelling het ’n hewige kramp in sy linkerbeen tot gevolg gehad. Hy het gestruikel en net drie meter van die eindstreep af neergeslaan. Kuhn het met sy laaste kragte alles ingesit en verby Malone geskiet, waar hy desperaat na die eindstreep uitgereik het. Maar dit was alles tevergeefs. Kuhn was die wenner met die kleinste tydsverskil ooit tussen die wenner en die atleet in die tweede plek: net een sekonde.

Die Comrades het in vele opsigte die grense van sosiale norme verskuif. In ander opsigte is die Comrades ’n weergawe, ’n weerspieëling daarvan. Die eerste vrou wat die wedren gehardloop het, was Frances Hayward in 1923, hoewel haar inskrywing afgekeur was. Sy het nietemin besluit om nie-amptelik deel te neem en het die wedloop in 11 uur 35 minute voltooi. Hoewel geen medalje aan haar toegeken is nie, het die ander deelnemers aan haar ’n silwer teestel en ’n roosbak (“rose bowl”) oorhandig ter erkenning van haar prestasie. In 1935 was Robert Mtshali die eerste swart man wat die Comrades gehardloop het, en boonop in ’n skaflike tyd (vir daardie jare) van 9 uur 30 minute. Net soos Frances Hayward kon hy ook nie amptelik deelneem nie – bloot omdat hy swart was.

Somtyds het die Comrades darem ook gemeenskapsnorme uitgedaag. In 1975 tydens die 50ste wedloop het die organiseerders besluit om die Comrades oop te stel vir deelname aan enigeen wat wou deelneem, ongeag ras of geslag. Daardie jaar is 1 500 atlete toegelaat om deel te neem, van wie 18 swart en twee vroulik was. Vincent Rakabele sou die eerste swart persoon word wat ’n Comrades-medalje gewen het deurdat hy 20ste geëindig het in ’n tyd van 6 uur 27 minute. Elizabeth “Betty” Cavanagh was die eerste amptelike wenner in die vroueafdeling met ’n tyd van 10 uur 8 minute. Cavanagh het uiteindelik ses Comrades-wedlope voltooi (waarvan 4 nie-amptelik tussen 1970 en 1973). Sy sterf op 27 Januarie 2020 in die rype ouderdom van 89 jaar.

Deur die jare het hierdie wedloop sy eie stel gebruike en tradisies ontwikkel. Uit die staanspoor was dit die gebruik dat die atlete sou wegspring na die afvuur van ’n vuurwapen deur die burgemeester van Pietermaritzburg of Durban, afhangende van waar die wegspring plaasvind, terwyl sy/haar ampsgenoot van die stad waar die wedloop eindig, ’n amptelike brief wat groete oordra, van die beginpuntburgemeester sou ontvang wat deur die wenner van die wedloop oorhandig word. ’n Voormalige deelnemer, Max Trimborn, het die tradisie begin om soos ’n hoenderhaan te kraai voor die wedloop begin. ’n Opname van sy gekraai word vandag nog voor elke wedloop gespeel. Meer onlangs het deelnemers spontaan hulle eie weergawe van “Shosholoza” begin aanbied voor die begin van ’n wedloop, en die klanke van Vangelis se epiese “Chariots of fire” het ook al sinoniem geword met die begin en einde van elke wedloop. By die eindpunt is dit die voorsitter van die CMA wat die wapen afvuur om die afsnytyd van die wedloop aan te kondig, wat deesdae 12 uur is. Die tradisie is dat die voorsitter met sy/haar rug na die inkomende atlete by die eindpunt staan wanneer die wapen afgevuur word om te verhoed dat hy/sy in simpatie met atlete wat ’n meter of twee vanaf die eindstreep is, die afvuur vertraag. Onmiddellik na die afsnytyd van 17 uur 30 minute speel ’n enkele beuelblaser “The last post” as ’n herinnering aan en erkenning van die wedloop se oorsprong as ’n lewende monument.

Tot 1962 is bykans elke Comrades op 24 Mei, Empire Day, gehardloop. Daarna, tot 1994, is dit op 31 Mei, Republiekdag, gehardloop. Toe Republiekdag in 1995 as vakansiedag afgeskaf is, is die wedloopdatum na 16 Junie, Jeugdag, verskuif. In 2007 het die African National Congress se jeugliga die organiseerders egter onder druk geplaas om dit op ’n ander dag te hou omdat hulle in hul onkunde van oordeel was dat die Comrades die aandag van die Jeugdagvieringe sou aftrek. Die wedloopdag is gevolglik verander na die naweek voor of na die vakansiedag op 16 Junie.

Sedert 1921 het die Comrades-marathon ’n vaste plek op die wêreld se sportkalender gekry. Weens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is die wedloop egter vir die eerste maal gekanselleer. Verskeie deelnemers  is opgeroep om by hulle weermageenhede aan te sluit, wat die organiseerders geen ander keuse gelaat het as om die wedloop af te gelas nie. Die hartseer ironie was natuurlik dat ’n gebeurtenis wat veronderstel was om die afgryslikheid van oorlog in herinnering te roep, juis uiteindelik oorskadu is deur nog ’n oorlog – wat hierdie keer selfs meer vernietigend sou wees.

Eers toe die Comrades in 1946 hervat is, sou die ware prys wat vir die oorlog betaal is, werklik na vore kom. Net agt atlete het aan daardie eerste naoorlogse Comrades deelgeneem. Daar is toe ook verneem dat twee voormalige wenners tydens die oorlog gesneuwel het. Phil Masterton-Smith (30), wenner van die 1931-Comrades, het in 1942 in Noord-Afrika die hoogste prys betaal en Frank Sutton, 1928 se wenner, het verdrink toe sy troepedraer in 1944 naby Durban getorpedeer is. Hulle sterftes, en die sterftes van so vele ander, het net die behoefte versterk om voort te gaan om die Comrades aan te bied as lewende getuienis ter nagedagtenis aan die gesneuweldes.

Dit kom egter voor dat met die verloop van jare die ware betekenis en doel van die Comrades moontlik verlore gegaan het. Met dié dat die wedloop gegroei en as’t ware ’n lewe van sy eie gekry en meer kommersieel geword het, het dit in iets anders ontwikkel. Die afgelope dekades is sportmanne van regoor die wêreld na die wedloop aangetrek weens die prestige verbonde daaraan om die oudste ultramarathon ter wêreld te wen; en die aansienlike prysgeld is ook nie te versmaai nie. In 2010, die 85ste Comrades, het dit 14 343 deelnemers gehad, waarmee dit ’n plek in die Guinness Book of Records losgeslaan het as die ultramarathon met die meeste deelnemers. In 2019 het 21 625 atlete van regoor die wêreld aan die wedloop deelgeneem.

Weens sy gewildheid sorg die wedloop vir ’n borrelende stroom van inkomste, nie net vir die organiseerders nie, maar ook vir die borge, plaaslike besighede en entrepreneurs wat op die jaarlikse invloei van Comrades-deelnemers en -toeskouers staatmaak vir hul besighede se voortbestaan. Daarom het die aankondiging op 14 Mei 2020 dat die 95ste Comrades gekanselleer is weens die COVID-19-pandemie, die erns van die krisis nie net by die deelnemers ingeskerp nie, maar ook by hulle wat van die wedloop afhanklik was vir hulle ekonomiese welstand. Wat ook al in die toekoms mag gebeur, sal die wedloop nooit weer dieselfde wees nie.

Die kansellasie het dit ook aan so baie mense duidelik gemaak watter integrale rol die Comrades in hulle eie lewens speel. Hoewel ek nog nie self aan die Comrades deelgeneem het nie, het ek grootgeword in ’n gesin van drawwers. My ouers het beide aan vyf Comrades-wedlope deelgeneem tussen 1986 en 1994. Hulle het inderdaad ook saam met Wally Hayward aan sy laaste twee wedlope in 1988 en 1989 deelgeneem. Tot vandag toe vermaak hulle my met stories uit hulle Comrades-dae. Met die toename in hul ouderdom (en wysheid) verkies hulle deesdae om die Comrades vanuit die gemak van hul woonkamer te volg, eerder as om hulself aan “sulke bomenslike marteling” te onderwerp. Desnieteenstaande word beide van hulle tydens direkte uitsendings van die Comrades meegevoer deur nostalgie. Elke keer as die naam Polly Shortts genoem word, sal beide my ouers ril by die gedagte aan daardie bultjie op pad na Pietermaritzburg. En wanneer die deelnemers verby Tollgate hardloop op die buitewyke van Durban, kan mens die verligting in ons huis aanvoel as beide tevrede terugsit op die bank, wetende dat die ergste verby en die einde in sig is. Elke pleknaam op die roete herinner hulle aan minstens een voorval. Die stories hieraan verbonde is so uiteenlopend soos die emosies wat die deelnemers ervaar op verskillende tye gedurende die Comrades.

Party stories is nogal skreeusnaaks, soos die keer tydens die opwedloop toe my pa en sy vriend ’n deelnemer wat weens lae bloedsuiker geestelik totaal gebroke was, by die voet van Klein Pollies, ’n paar kilometer voor die “regte Pollies”, teëgekom het. Omdat dit sy eerste Comrades was, het die man waarskynlik nie besef wat die rede vir sy toestand was nie. Om dieselfde rede was hy ook verkeerdelik onder die indruk dat dit die ware Polly Shortts is wat voor hom lê, en toe hy hoor dat dit maar net “Klein Pollies” is en dat dit maar ’n vulletjie teen die eintlike Pollies is, het hy net daar in trane uitgebars en besluit om die stryd gewonne te gee. In die gees van die Comrades het my pa en sy vriend die man eers opgetel, hom drie Bar Ones ingejaag saam met Coke om sy bloedsuiker te verhoog en hom vir ’n paar treë byna saam met hulle gesleep-dra. Maar toe skop daardie Bar Ones en Coke in en die kêrel begin knieë optel; en toe raak hy geselserig. Teen “regte Pollies” het die man so herstel dat hy aan sy weldoeners wou polisse verkoop: “Die vorms is daar in my kar; ek het die perfekte polis vir julle.” Dis toe dat my pa-hulle besef dat dié ou duidelik sy depressie tot so ’n mate oorkom het dat hy nou vir hulle ’n ekonomiese bedreiging begin inhou, waarna hulle hul pas versnel en hom in die veilige hande van ander deelnemers gelaat het wat moontlik by sy produkte sou kon baat vind.

Daar is egter ook stories van hartseer, soos die kollektiewe wroeging van klublede wat staan en kyk hoe ’n klublid die afsnytyd met ’n paar sekondes mis.

Hoe uiteenlopend hierdie stories ook al mag wees, deur almal loop daar dieselfde goue draad: kameraadskap en moed.

My ouers  se stories oor die Comrades het ’n diep indruk op my gelaat. Hulle bly ’n deurlopende bron van inspirasie, ’n herinnering aan waartoe die menslike gees in staat is. In 1962 het die Engelse atleet John Smith die opwedloop in onder ses uur gewen, maar die roeterekord met 33 sekondes gemis. Terwyl hy toekyk hoe die agterosse ure later nog oor die eindstreep strompel, het Smith teenoor ’n voormalige wenner, Bill Cochrane, opgemerk dat hierdie agterosse net soveel applous van die skare ontlok as wat hy as wenner gekry het. Cochrane het na bewering hierop geantwoord: “Wat jy nou sien, is die ware gees van die Comrades.” Cochrane was reg. Elke individuele storie van elke enkele deelnemer wat die Comrades voltooi, is ’n inspirasie, ongeag die tyd waarbinne hulle klaarmaak.

In baie opsigte was Vic Clapham verkeerd toe hy gedink het dat ’n ultramarathon as lewende monument vir sy strydgenote sou dien. Dit het inderdaad net 20 jaar geneem vir die wedloop om deur nog ’n oorlog bedreig te word. Daarbenewens het heelwat van die oorspronklike bedoeling van die wedloop verlore gegaan en is dit deur kommersiële magte verswelg. Daar kan egter met oortuiging geargumenteer word dat hoewel die Comrades heelwat van sy oorspronklike doelstellings ingeboet het, die wedloop tog vandag steeds iets beteken, al het daardie “iets” verskillende betekenisse vir verskillende mense. Vir die meeste deelnemers hou dit ’n persoonlike uitdaging in om iets aan hulleself te bewys. Vir ander hou dit herinneringe aan ’n geliefde in, of het dit ’n welsynsdoel. In hierdie opsig is daar wel aan Clapham se visie van meer as ’n eeu gelede voldoen. Die doel van Comrades is veel wyer as bloot die fisieke inspanning tydens die wedloop. Die ware triomf van die menslike gees is om uit te hou in tye van swaarkry. Om te oorkom. Tesame.                    

Bibliografie

Burnard, L. 2015. 10 things to know about Comrades. Sport24, 27 Mei.

Comrades. 

Couzens, T. 2014. The gtreat silence. Kaapstad: Art Publishers.

Digby, PKA. 1977. Historical records of the 8th South African Infantry. Scientia Militaria. South African Journal of Military Studies, 7(1). 

Noakes, T. 1988. The lore of running. Kaapstad: Oxford University Press.

Anoniem. 2010. Most runners in an ultra marathon. Guinness World Records, 30 Mei.

https://www.guinnessworldrecords.com/world-records/most-runners-in-an-ultra-marathon-.

Anoniem. 2015. How it all began. Unogwaja.

Anoniem. 2017. Why the Comrades Marathon is called the “Comrades”. The Observation Post, 4 Mei.

Anoniem. 2017. A “living” war memorial. The Observation Post, 4 Mei.

Anoniem. 2019. 20 Fun facts about the 2019 Comrades Marathon. Runner’s World, 7 Junie.

Anoniem. 2019. The first Comrades Marathon takes place. SAHO, 30 September.

Anoniem. 2020. First official female Comrades Marathon winner dies. IOL, 28 Januarie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top