Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.
11–17 April 2020
The three astronauts were beyond our physical reach. But not beyond the reach of human imagination, inventiveness, and a creed that we all lived by: "Failure is not an option." Gene Kranz (vlugdirekteurleier, Apollo 13), uit sy boek Failure is not an option.
Hierdie week 50 jaar gelede het die National Aeronautics and Space Agency (NASA) ’n ongekende krisis in die gesig gestaar wat van hulle ’n bykans onmoontlike taak vereis het: om drie ruimtevaarders wat in die ruimte vasgevang was, veilig na die aarde terug te bring. Hierdie week gedenk ons die Apollo 13-sending na die maan.
Op Saterdag 11 April 1970 het die 42-jarige James Arthur Lovell en sy bemanning bestaande uit Fred Wallace Haise (35) en John "Jack" Leonard Swigert (junior) (38) versigtig, al met die nou brugsteier langs, 111 meter bo die grond na hul beheertuig geskuifel wat aan die bopunt van die kolossale Saturn V-vuurpyl gesit het. Swigert het as laat plaasvervanger vir Ken Mattingly ingestaan nadat laasgenoemde kort voor die sending aan rubella (Duitse masels) blootgestel was. Na die groot sukses van Apollo 11 wat die eerste mens op die maan geplaas het, was dit die taak van Apollo 13 om as die tweede sending (na Apollo 12) presiese maanlandings te vervolmaak en om spesifieke gebiede binne en rondom die Fra Mauro-gebied op die maanoppervlak te verken. Die beplanners van die sending het ook van Apollo 13 verwag om ’n groter rol te speel in die uitbreiding van wetenskaplike kennis, veral in die geologie. Die sending se leuse, "Ex luna, scientia" ("Van die maan, kennis") het hierdie doelwit beklemtoon.
Lovell was die Apollo 13-sending se bevelvoerder en was op daardie tydstip die NASA-ruimtevaarder met die meeste aantal ure in die ruimte, naamlik ’n verbysterende 527 ure. Haise was die maanlandingstuig se loods. Hy sou dus die maanlandingstuig met die roepsein Aquarius na die oppervlak van die maan maneuvreer, waarna hy en Lovell dan op die maan sou afklim. Aangesien Lovell en Haise langer ekspedisies op die maan sou aanpak as die ruimtevaarders van die voorafgaande twee sendings, is ’n gereedskapkis wat tydens die Apollo 12-sending met die hand gedra is, van wiele voorsien en die landingstuigtoerustingvervoerder genoem. Swigert sou in die beheer-en-dienstuig (CSM), roepsein Odyssey, agtergebly as loods terwyl dit om die maan sou wentel terwyl Lovell en Haise die maanlandingstuig van die ruimteskip sou ontkoppel en daarmee na die maanoppervlak sou neerdaal.
Die enorme Saturn V-vuurpyl het om presies 14h13 OST op 11 April vanaf die Kennedysentrum, Merrit-eiland, Florida, opgestyg. Sekondes na die opstyging het die eerste onreëlmatigheid opgeduik toe die tweede-fase- (binneboord-) enjin twee minute te vroeg afgeskakel het. Ten spyte daarvan was daar nie werklik ’n krisis nie, aangesien die vier buiteboordenjins asook die fase-drie-vuurpyl langer bly werk het om daarvoor te vergoed. ’n Ondersoek wat ná die sending gedoen is, het aangedui dat die fase-twee-enjin net een siklus weg van ’n katastrofiese defek was.
Intussen het Sendingbeheer in Houston, Texas, beheer oor die sending van die grond af oorgeneem. Hulle was die enigste persone met die deskundige kennis om die bemanning by te staan in geval van ’n noodsituasie. Die vlugdirekteure van Apollo 13 was Gene Kranz (vlugdirekteurleier), Glynn Lunney, Milt Windler en Gerry Griffin. Die ruimtetuigkommunikeerders (die persone in die beheersentrum, gewoonlik self opgeleide ruimtevaarders, verantwoordelik vir mondelinge kommunikasie met die bemanning) vir Apollo 13 was Joseph Kerwin, Vance D Brand, Jack Lousma, John Young en Mattingly, ten opsigte van wie dit intussen geblyk het dat hy nie rubella onder lede gehad het nie.
Nadat die ruimteskip die sogenaamde parkeerwentelbaan om die aarde voltooi en na die maan koersgevat het, het Swigert die ontkoppelingsmaneuvers tussen die Odyssey en die Aquarius uitgevoer, voordat hy weer die twee tuie met mekaar in verbinding gebring en aan mekaar vasgekoppel het. Die bemanning het hulle gereed gemaak vir die drie dae lange reis na Fra Mauro. Behalwe wanneer hulle roetinetoetse uitgevoer het, het hulle hulself besig gehou met lighartige geselsies onder mekaar en ook met Sendingbeheer. ’n Komiese voorval het hom afgespeel op 12 April toe Swigert besef dat hy in sy haas om Mattingly te vervang, vergeet het om sy federale belastingopgawe wat op 15 April moes in wees, in te dien. Onder gelag van die mense by die beheersentrum het hy paniekerig verneem wat hy nou kon doen om uitstel te kry. Hulle het hom gekalmeer deur hom in te lig dat aangesien hy hom sonder twyfel "buite die landsgrense" bevind, hy outomaties vir ’n 60-dae-uitstel sou kwalifiseer.
Die volgende dag, 13 April, was ’n daar ’n beplande direkte televisie-uitsending vir die 55ste uur van die sending. Lovell het as gasheer opgetree en aan kykers die binnekant van die Odyssey en Aquarius gewys. Maar aangesien die Apollo 13-sending op hierdie stadium alreeds as ’n "roetinesending" beskou is, het nie een van die groot televisienetwerke dit uitgesaai nie. Dit het tot gevolg gehad dat Lovell se vrou Marilyn na die BBP-kamer by die beheersentrum moes gaan om haar man tydens die direkte uitsending te kon sien.
Intussen het Sendingbeheer opgemerk dat die druksensor in een van die CSM se suurstoftenks wat in die vuurpylgedeelte van die CSM geleë was, begin onklaar raak. Sy Liebergot, die persoon in beheer van die monitering van die CSM se elektriese stelsel, het hierop versoek dat die waaiers in die tenks aangeskakel word. Dit is gewoonlik net een maal per dag gedoen, maar daar is gehoop dat as daar meer beweging of roering van gasse sou wees, die inhoud van die onderskeie tenks beter sou meng, wat dan die druklesings meer akkuraat sou maak. Kranz was op daardie tydstip aan diens en het Liebergot laat wag om die bemanning eers weer na hul gewone roetine te laat terugkeer na die televisie-uitsending, waarna Lousma die versoek aan Swigert oorgedra het, wat toe die skakelaars wat die waaiers beheer, vir ’n paar sekondes aangeskakel het om die vermenging aan te help, waarna hy dit toe weer afgeskakel het. 55 uur, 54 minute en 53 sekondes na die aanvang van die sending het die bemanning "’n taamlik harde slag" gehoor, gepaard met wisselende elektriese kragtoevoer en die afgaan van die hoogtebeheerdrywers. Kommunikasie en telemetrie na die aarde is vir 1,8 sekondes verloor totdat die sisteem homself outomaties herstel het. Lovell se eerste reaksie nadat hy die slag gehoor het, was dat Haise besig was om vir hulle ’n poets te bak, maar hy kon dadelik sien dat ook Haise nie ’n idee gehad het wat die slag veroorsaak het nie. Swigert weer het vermoed dat ’n meteoriet die ruimtetuig getref het, maar hy en Lovell het gou vasgestel dat daar geen lekkasie is nie. 55 uur, 55 minute en 19 sekondes na die aanvang van die sending (26 sekondes na die insident) het Sendingbeheer vir Swigert oor die radio hoor sê (vertaling uit die Engels my eie; ook elders, tensy anders vermeld): "Oukei, Houston, ons het hier ’n probleem gehad …"
23 sekondes later kon Lovell gehoor word wat Sigert se boodskap bevestig: "Houston, ons het ’n probleem gehad. Ons het ’n ‘Main B Bus undervolt’ gehad …"
Terloops, in die 1995-rolprent wat op hierdie sending gebaseer was, het Tom Hanks in sy rol as Lovell die nou baie bekende opmerking gemaak: "Houston, ons het ’n probleem …" Dit was vir doeleindes van die rolprent as meer dramaties beskou as die werklike kommunikasie.
Die betekenis van "Main B Bus undervolt" was bloot dat onvoldoende elektriese stroom vanaf die tuig se drie kragbronne (wat aangedryf is deur waterstof en suurstof, wat vanuit hul onderskeie tenks gepomp is) na die tweede van die beheertuig se twee kragverdelingsisteme gevloei het. Bykans alles in die CSM was van elektriese krag afhanklik. Hoewel die kragtoevoer vir ’n paar oomblikke weer na normaal teruggekeer het, het beide die kragverdelingsisteme A en B kort daarna weer tekorte ervaar. Haise het die stand van die kragbronne ondersoek. Die sendingreëls het dit verbied dat die tuig ’n wentelbaan om die maan mag binnegaan as alle kragbronne nie in werking is nie. Haise het bevind dat twee van die drie kragbronne geheel en al dood was, en daarmee saam ook hul kanse op ’n beplande landing op die maan. Lovell het by die venster uitgekyk en gerapporteer dat hy opmerk dat hulle "een of ander gas" in die hemelruim vrylaat. Dit het dit vir almal baie duidelik gemaak dat daar ’n ernstige probleem is.
Omdat die kragbronne suurstof benodig het om te funksioneer, sou die oorblywende kragbron ook afskakel sodra suurtoftenk 1 leeg is. Dit sou beteken dat die CSM se enigste beduidende bron van krag en suurstof die beheertuig se batterye en suurstofstutenk sou wees. Maar dit was benodig vir die laaste fase van die sending, en die oorblywende kragbron, ontneem van suurstof, was juis besig om suurstof uit die stutenk te trek. Kranz het opdrag gegee dat die stutenk afgesluit word, wat tot gevolg sou hê dat die oorblywende kragbron binne twee ure sou gaan staan wanneer die suurstof in suurstoftenk 1 opgebruik is of alles uitgelek het. Binne ’n kwessie van sekondes het die doelwitte van die sending verander na slegs een: om die drie ruimtevaarders lewend na die aarde terug te bring.
Die maanlandingsvaartuig, Aquarius, het steeds volgelaaide batterye en vol suurstoftenks gehad vir gebruik tydens die maanlanding. Kranz het derhalwe die bemanning beveel om die maanlandingstuig aan te skakel om as "reddingsboot" te gebruik. So ’n situasie is inderdaad deur NASA voorsien as ’n moontlike noodprosedure en is tydens ’n simulasie-oefening vir Apollo 10 deur maanlandingstuigvlugkontroleurs . ontwikkel. Hoewel die moontlikheid van so ’n noodsituasie voorsien is, was dit as uiters onwaarskynlik beskou. Maar feit van die saak is dat as hierdie situasie ontstaan het tydens die ruimtevaarders se terugkeer vanaf die maan, met die maanlandingstuig se kragbron en suurstof reeds opgebruik, sou dit vir hulle noodlottig gewees het.
’n Baie belangrike besluit vir Sendingbeheer was die keuse van die roete waarlangs die ruimtetuig na die aarde sou terugkeer. ’n Direkte kansellasie sou beteken dat die CSM se hoofenjin (SPS) gebruik word om na die aarde terug te keer voor dit die maan bereik het. Maar die ongeluk kon die SPS beskadig het en die kragbron sou ten minste nog ’n uur moes funksioneer om in die SPS se kragbehoeftes te voorsien, derhalwe het Kranz op ’n langer roete besluit. Die plan was dat die ruimtetuig om die maan sou wentel en dan die maan se aantrekkingskrag sou gebruik om dit soos ’n klip in ’n slingervel na die aarde terug te slinger. Die maanlandingstuig se landingsaandryfsisteem (DPS), hoewel nie so kragtig as die SPS nie, sou die ruimtetuig dan kon terugbring uit die maan se aantrekkingskrag uit sodat dit met die opgeboude momentum na die aarde kan terugkeer. Maar daar moes eers nuwe rekenaarprogramme vir so ’n situasie geskryf word, want dit was nooit voorsien dat die hele ruimtetuig op so ’n wyse deur die DPS gemaneuvreer sou moes word nie. Met die afskakeling van die Odyssey het Lovell die oriëntasie-inligting van die tuig se beheersisteem oorgedra na die Aquarius se beheersisteem. Op sy versoek het Sendingbeheer sy berekenings gekontroleer. 61 uur, 29 minute en 43 sekondes na die aanvang van die sending is die DPS se turbines vir 34,23 sekondes geaktiveer om Apollo 13 op sy trajek terug na die aarde te plaas.
Die veranderde skedule vir die ruimtetuig se terugkeer aarde toe het beteken dat Apollo 13 binne ongeveer vier dae terug op die aarde sou wees en dat die beheertuig in die Indiese Oseaan sou neerplons, waar NASA baie min herwinningsfasiliteite beskikbaar gehad het. Jerry Bostick en sy medevlugdinamika-amptenare was egter daarop ingestel om nie net die ruimtereis te verkort nie, maar om ook te verseker dat die ruimtevaarders in die Stille Oseaan sou land, waar al die herwinningsmagte sou wag. Een moontlikheid was om die diensmodule vroeër te ontkoppel, wat die aankomstyd met 36 uur sou vervroeg, maar dit sou die beheertuig se hitteskild aan die ruimte blootstel, iets waarvoor dit nie ontwerp was nie. Na ’n vergadering tussen NASA-amptenare en -ingenieurs is besluit om die DPS se turbines te gebruik om Apollo 13 twaalf uur vroeër op die aarde te kry, en dit sou dan ook beteken dat dit in die Stille Oseaan sou land. Die turbines sou aangeskakel word twee ure nadat die naaste punt aan die maan bereik is. Interessant genoeg het Apollo 13 volgens die Guinness Book of Records by daardie punt die rekord opgestel vir die hoogste hoogte wat deur ’n bemande ruimtetuig behaal is (400 171 km vanaf die aarde), om 19h21 EST op 14 April 1970. Daardie rekord staan vandag nog.
Selfs gedurende hierdie krisis het Lovell nie sy sin vir humor verloor nie. Terwyl hy voorberei het om die DPS-turbines te aktiveer, het Sendingbeheer die bemanning in kennis gestel dat die derde-fase-vuurpyl wel die maan getref het soos beplan. Waarop Lovell droog opgemerk het: "Wel, ten minste het iets darem op hierdie sending gewerk."
Normaalweg sou die akkuraatheid van die ruimtetuig se rigting met die terugkeer na die aarde verseker kon word deurdat Lovell die inligting wat hy aan die maanlandingstuig se rekenaar gevoer het, sou kon vergelyk met die posisie van een van die sterre wat die ruimtevaarders vir navigasiedoeleindes gebruik het. Maar die lig wat vanaf die stukke beskadigde dele aan die tuig wat deur die ontploffing veroorsaak is, weerkaats het, het dit in hierdie geval onmoontlik gemaak. Die ruimtevaarders het toe maar die enigste ster wat duidelik sigbaar was gebruik, naamlik die son. Sendingbeheer het hulle in kennis gestel dat die maan sigbaar behoort te wees deur die bevelvoerder se venster in die maanlandingstuig wanneer hulle die DPS-turbines aktiveer; dit sou minder as 0,3 meter per sekonde van die merk af wees waarheen hulle beplan het om te gaan. Die DPS-turbines is vir 23 sekondes geaktiveer. Daarna het die bemanning die meeste van die maanlandingstuig se sisteme afgeskakel om krag te bespaar.
Hoewel die maanlandingstuig genoeg suurstof aan boord gehad het, was die probleem steeds om van die koolstofdioksied ontslae te raak wat geabsorbeer is deur gasflesse gevul met litium- en hidroksiedkorrels. Hierdie flesse was egter bedoel om twee ruimtevaarders vir 45 uur op die maan te onderhou, nie om drie ruimtevaarders vir die volle terugtog na die aarde tot diens te wees nie. As die koolstofdioksied nie suksesvol verwyder kon word nie, sou die vergiftigde lug tot die ruimtevaarders se dood lei voor hulle op die aarde aankom. Hoewel Odyssey genoeg flesse gehad het, was hulle fatsoengrootte nie versoenbaar met die maanlandingstuig se sisteme nie. NASA-ingenieurs het in Houston ’n manier gevind om die gaping te oorbrug by wyse van plastiek, buiteblaaie van handleidings, kleefband en ander items wat geredelik aan die ruimtevaarders van Apollo 13 beskikbaar was. Hierdie selfgemaakte affêre het hulle na verwys as "die posbus". Die prosedure om hierdie "posbus" te bou is oor ’n tydperk van ’n uur aan die bemanning voorgelees en dis vinnig deur Haise en Swigert aanmekaargetimmer. Onmiddellik daarna het die koolstofdioksiedvlakke begin daal. Lovell sou later hierdie episode beskryf as "’n goeie voorbeeld van samewerking tussen die aarde en ruimte".
Binne-in die donker ruimteskip het die temperatuur tot so laag as 3° Celsius gedaal. Lovell het dit oorweeg dat die bemanning hulle ruimtepakke aantrek, maar het daarteen besluit omdat dit weer te warm sou wees. Lovell en Haise het toe maar hul maanlaarse aangetrek en Swigert het ’n ekstra oorpak aangetrek, maar hulle het desnieteenstaande steeds koud gekry. Boonop is hulle versoek om nie hulle urine in die ruim uit te skot nie, omdat dit die ruimteskip se trajek kon versteur. Hulle moes dit toe maar in sakke opvang en stoor. Water wat teen die ruimtetuig se mure gekondenseer het, het geen gevaar vir die elektronika ingehou nie, want dit was baie goed geïsoleer na die tragedie van die vuur in Apollo 1. Ten spyte van hulle haglike omstandighede het nie een van die bemanning op enige stadium gekla nie.
Intussen het die vlugkontroleur John Aaron, tesame met Mattingly en verskeie ander ingenieurs en ontwerpers, ’n prosedure ontwerp om Odyssey weer aan te skakel na ’n totale afskakeling – iets wat nog nooit tydens ’n vlug gedoen is of ooit bedoel was om gedoen te word nie. Die bemanning het sonder veel probleme die prosedure baasgeraak en geïmplementeer. Kranz het dit later daaraan toegeskryf dat al drie ruimtevaarders ook toetsvlieëniers was wat daaraan gewoond was om in moeilike situasies te werk waar hul lewens op die spel was en hulle net op hulself aangewese was vir oorlewing.
Apollo 13 het nou voldoende krag gehad om sy weg terug na die aarde te vind. Die trajek vir die terugkeer moes egter perfek wees vir die ruimteskip om die aarde se atmosfeer met veiligheid binne te gaan. Sou hulle die atmosfeer met ’n te vlak hoek tref, kon hulle daarvan afskil en terug in die uitspansel geslinger word. As die hoek andersyds weer te skerp sou wees, kon hulle verbrand. Omdat die maanlandingstuig se beheersisteem afgeskakel was na die vorige gebruik van die DPS-turbines, is die bemanning versoek om die lyn op aarde tussen dag en nag te gebruik as rigtingaanwyser wanneer hulle weer die turbines aanskakel. Die turbines is vir 14 sekondes aangeskakel om weer die trajek van die ingangshoek tot die aarde se atmosfeer veilig te maak. Daarna was daar nog een aktivering van die turbines vir 21,5 sekondes lank. ’n Halfuur later is die diensmodule ontkoppel en kon die ruimtevaarders vir die eerste keer sien en foto’s neem van hoe groot die skade aan die ruimtetuig werklik was. Hulle het opgemerk dat ’n hele paneel aan die buitekant van die diensmodule afgeruk was; die brandstofselle bokant die suurtoftenkrak was gebuig; ’n antenna was gebuig; en daar was ’n aansienlike hoeveelheid skade op ander plekke. Die skade was so omvangryk dat dit net ’n wonderwerk was dat hulle oorleef het.
Die laaste probleem wat moes aangepak word voor hulle die aarde se atmosfeer binnegaan, was om die maanlandingstuig so te ontkoppel dat dit ’n veilige afstand van die beheertuig af bly. Wanneer dit eers gedoen was, was al wat oorgebly het om met ingehoue asems te wag vir die beheertuig om die aarde se atmosfeer binne te gaan. By Sendingbeheer is daar gevrees dat die hitteskild moontlik mag verkrummel tydens die binnekoms in die atmosfeer omdat dit moontlik tydens die ongeluk beskadig kon gewees het. Sou dit gebeur, sou die ruimtevaarders se lot wees dat hulle met die binnekoms sou verkool.
Ionisering van die lug rondom die beheertuig wanneer dit die atmosfeer binnegaan, sou normaalweg daartoe lei dat daar vir vier minute geen kommunikasie met die bemanning kon wees nie. Maar weens die feit dat Apollo 13 teen ’n relatief vlak hoek die atmosfeer binnegekom het, het dit tot gevolg gehad dat hierdie breuk in kommunikasie twee minute langer geduur het. Sommige by Sendingbeheer het begin dink dat hul vrese oor die hitteskild waar geword het. Maar Odyssey het uiteindelik tog weer radiokontak herwin en veilig in die Stille Oseaan neergeplons, tot almal se verligting en ekstase.
Lovell, Haise en Swigert is op 17 April deur die USS Iwo Jima opgepik. Hoewel uitgeput, was die bemanning se gesondheid goed, met die uitsondering van Haise wat ’n ernstige blaasinfeksie opgedoen het weens ’n tekort aan vloeistofinname. Die bemanning het op die skip oornag en die volgende dag na Samoa, en van daar na Hawaii gevlieg, waar die destydse president Nixon aan al drie die Presidential Medal of Freedom, die hoogste burgerlike toekenning in die VSA, oorhandig het.
Intussen het die belangstelling in die Apollo-program wêreldwyd ontwaak weens hierdie insident. Miljoene het televisiedekking daarvan dopgehou. Vier Sowjetskepe was selfs na die landingsgebied onderweg om hulle hulp aan te bied indien nodig. Van regoor die wêreld het verskeie lande ook hul hulp aangebied sou die ruimtereisigers op ’n ander plek as verwag neerplons. Apollo 13 het meer aandag ontvang as enige ander ruimtevlug behalwe die maanlanding van Apollo 11. Wêreldwyd het hierdie sending hoofopskrifte behaal en mense van regoor die wêreld voor televisieskerms laat saamdrom om op hoogte van die jongste verwikkelinge gebring te word. Pous Paulus VI het ’n byeenkoms van meer as 10 000 mense gelei in ’n gebed vir die ruimtevaarders se veilige terugkeer. In Indië is gebede deur ’n skare van tien maal hierdie grootte gedoen tydens ’n godsdienstige fees. Op 14 April, ’n dag na die ongeluk, het die Senaat van die VSA ’n resolusie aanvaar ingevolge waarvan besighede versoek word om daardie aand om 21h00 OST vir ’n oomblik hul besigheid te staak ten einde werknemers die geleentheid te gee om vir die ruimtevaarders te bid.
’n Geraamde 40 miljoen Amerikaners het angstig toegekyk hoe Apollo 13 neerplons. ’n New York Post-verslaggewer, Jack Gould, het berig dat Apollo 13, "wat so na aan ’n tragiese ramp gekom het, na alle waarskynlikheid die wêreld meer volledig verenig het in gemeenskaplike kommer as wat nog ’n suksesvolle maanlanding ooit sou kon reggekry het".
’n Ondersoek- en hersieningsraad het fout gevind met die toetsing van die suurstoftenk voor die vlug en die feit dat Teflon in die tenk geplaas was. Die raad het sekere veranderings aanbeveel, waaronder dat so min as moontlik ontbrandbare materiaal in die tenk geplaas moet word. Hierdie veranderinge is onmiddellik geïmplementeer, voor die vertrek van Apollo 14.
Wat Lovell, Haise en Swigert aanbetref: Nie een van hulle het weer ’n ruimtereis meegemaak nie. Lovell het in 1973 afgetree na sy diens aan NASA en die vloot. Haise is benoem om die bevelvoerder van Apollo 19 te wees, maar hierdie program is op die lange baan geskuif na NASA se begroting deur die Amerikaanse Kongres gesny is. Hy het die Ruimtependeltuig se nader- en landingtoetsvlugte onderneem voor hy in 1979 uit NASA se diens getree het. Swigert is gekies om die historiese Apollo-Soyuz-toetsprojek te onderneem, maar is later van die program afgehaal. Hy het toe in 1973 afwesigheidsverlof by NASA geneem en hom in die politiek begewe. Hoewel hy in 1982 tot die Huis van Verteenwoordigers in die Amerikaanse Kongres verkies is, het hy aan kanker gesterf voor hy ingesweer kon word.
Die Apollo 13-sending staan bekend as die "suksesvolle mislukking" omdat die sending se doel van ’n landing op die maan ’n klaaglike mislukking was, maar die wyse waarop die veilige terugkeer van die ruimtevaarders na die aarde verseker is ten spyte van hewige teëspoed, ongeëwenaard is in die annale van ruimtevaart. Hoewel oplossings vir verskillende moontlikhede ingeoefen was, was die aard en omvang van hierdie krisis nooit voorsien nie. Maar die bemanning van Apollo 13 het hul vertroue geplaas in die genialiteit en vernuwende denke van ’n klein groepie deskundiges duisende kilometer ver ten einde te oorleef. Sendingbeheer het geïmproviseer en deur onbekende waters genavigeer, want hulle is deur ’n krisis gedwing om dinge te doen waarvan die moontlikheid voorheen ondenkbaar was. Hulle het nie net "buite die kassie" gedink nie, hulle het nuwe "kassies" ontwerp vir gebruik deur komende geslagte. Hulle omgee vir hul medemens het dit van hulle vereis. Hulle het nie gedurf misluk nie
Insgelyks het die bemanning nie net vertroue in mekaar gehad nie, maar ook ’n blinde vertroue in Sendingbeheer. Toe Swigert en Lovell aan Sendingbeheer rapporteer dat daar ’n probleem is, was beide se woorde "Ons het ’n probleem gehad" – verlede tyd. Dit mag na ’n arbitrêre waarneming lyk, maar deur die probleem te erken en dit aan Sendingbeheer te rapporteer, het hulle onderbewustelik geweet dat die probleem so goed as opgelos was. Hoewel die uitdaging om dit op te los nog voorgelê het, het die bemanning sonder twyfel geweet dat Sendingbeheer hulle veilig sou terugbring huis toe. Dit is ’n belangrike karaktertrek om in gedagte te hou, veral in die huidige situasie.
In hierdie tye wanneer die mensdom gekonfronteer word deur ’n globale krisis, ongekend in aard en omvang sedert die Tweede Wêreldoorlog, kan die herdenking van Apollo 13 se "suksesvolle mislukking" die mensdom herinner aan wat vermag kan word om ’n ramp af te weer. Die befaamde skrywer Arundhati Roy beskryf die huidige COVID-19-pandemie as ’n "poort" of "deurgang" tot ’n ander wêreld. Sy skryf: "Histories het pandemies mense gedwing om hulle van die verlede af te sluit en hulle wêreld weer opnuut te ervaar. Hierdie een is nie verskillend nie. Dit is ’n poort, ’n deurgang tussen een wêreld en die volgende." Dit is waar ten opsigte van enige krisis wat die mensdom in die oë moet kyk. Die ontploffing aan boord Apollo 13 het die bemanning en Sendingbeheer gedwing om die uitdaging te erken en trompop te loop. Dit het hulle verplig om te aanvaar dat samewerking en spanwerk baie beter resultate lewer as dié waartoe ’n enkele genie ooit in staat sal wees. Dit het hulle gedwing om grense oor te steek en rekords te slaan; dit het daartoe gelei dat hulle hulself ’n wêreld kon voorstel en kon skep wat hulle voorheen nie gedink het moontlik is nie. Maar "onmoontlik" was nooit deel van hul gedagtegang nie, want "iets is onmoontlik net totdat jy dit suksesvol aangepak en reggekry het", het Nelson Mandela gesê.
Krisisse skep geleenthede. Dit plaas die mensdom voor ’n toets en dwing hom tot die vind van oplossings. Die huidige krisis is onbekend aan enige lewende staatshoof, gesondheidswerker, skoonmaker, polisiebeampte, soldaat of ekonoom. Dit is onbekend aan ons almal. Om na die verlede te kyk vir leiding het slegs beperkte waarde. Ons moet staatmaak op ons eie vernuwing en dit kollektief inspan sodat ons gesamentlik ’n aanvaarbare oplossing kan uitwerk. Al is daar daarom miskien nie te veel lesse te leer uit Apollo 13 wat ons net so op die COVID-19-krisis kan toepas nie, kan ons wel deur hulle benadering en sukses geïnspireer word. Ons kan dieselfde geloof en vasbeslotenheid aan die dag lê as hulle 50 jaar gelede. Want dan kan ons ook as ’n mensdom verklaar dat wat ook al gebeur, "mislukking nie ’n opsie is nie".
Bibiliografie
Burgess, J. 2020. Apollo 13: Deadly DIY in space. BBC, 6 April.
Feist, B. 2020. Apollo 13 in real time. Mobile edition.
Howell, E en K Hickok. 2020. Apollo 13: The moon-mission that dodged disaster. Space.com, 31 Maart.
Kranz, G. 2000. Failure is not an option. New York: Simon & Schuster.
Roy, A. 2020. The pandemic is a portal. Financial Times, 3 April.


