Nou in die verlede: Gedenk Kerkstraat, 20 Mei 1983

  • 2

Fotobron: Canva

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

Woensdag 20 Mei 2020

Vandeesweek gedenk ons een van die dodelikste terreuraanvalle op Suid-Afrikaanse bodem.

Om 16h19 op 20 Mei 1983 was Kerkstraat (vandag bekend as Stanza Bopapestraat) in Pretoria ’n byenes van bedrywighede terwyl werknemers van die aangrensende geboue gereed gemaak het om vir die naweek huis toe te gaan. In die straat reg voor die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) se hoofkwartier by die Nedbankplein Maritime House-gebou was daar ’n wit Colt Galant geparkeer. Dié tipe kar het daardie jare taamlik algemeen voorgekom, maar hierdie een het ’n uiters buitengewone vrag gedra. Binne-in die Colt Galant was ’n kragtige bom wat die lewens van ’n aansienlike aantal mense wat op daardie tydstip in Kerkstraat was, onherroeplik sou verander.

Die dag vantevore het ’n 41-jarige Belgiese burger, Hélène Pastoors, Suid-Afrika vanuit Swaziland binnegekom met ’n wit Colt Galant. Sy was ’n lid van die Spesiale Operasies-eenheid van Umkhonto we Sizwe (MK), die militêre vleuel van die African National Congress (ANC). Haar bevelvoerder, die 28-jarige Aboobaker Ismail, het haar opdrag gegee om die voertuig na ’n bepaalde plek in Pretoria te neem. Die kar was op 19 Junie 1982 in Edenvale, in die destydse Transvaal, gesteel. In die bagasiebak was ’n kragtige 40 kg-bom wat deur middel van afstandbeheer geaktiveer kon word. Volgens Pastoors se verklaring aan die hof het sy “Commander Bai” (vermoedelik Ismail) in die parkeerarea van die Raleigh Fitkin Memorial-hospitaal in Manzini, Swaziland, ontmoet, waar sy in besit van die voertuig gestel is, asook van ’n radio om die bom te aktiveer, en ’n vliegtuigkaartjie. “Ek weet nie waar of hoe die bom eintlik versteek was nie, maar ek het die kar geïnspekteer en dit het oukei gelyk vir my as ’n vervoermiddel.” (Vertaling uit die Engels my eie; ook elders, tensy anders vermeld.) Toe sy by die grens aankom, het sy gevind dat “Suid-Afrikaanse soldate wat die voertuig geïnspekteer het, die radio in my bagasie opgemerk het maar geen vrae gevra het nie”. Pastoors het ’n landelike roete gevolg en die kar se nommerplate vervang, wat later weer vervang sou word met Transvaalse nommerplate in Pretoria.

Sy beskryf haar aflewering van die voertuig as volg:

Ek het Mamelodi-stasie (buite Pretoria) rondom 6–7 namiddag bereik, die kar geparkeer en gesluit met die sleutel binne-in soos ooreengekom, na Pretoria Sentraal-stasie gegaan, van waar ek Bai in Swazi geskakel het om die aflewering te bevestig … Ek het daarna ’n trein na Johannesburg geneem waar ek een nag in ’n hotel gebly het voor ek die middag van 20 Mei met Air Swazi na Swaziland teruggevlieg het. Ek het nooit geweet wat die presiese teiken sou wees nie, totdat die nuus deur die media bekendgemaak is.

Intussen het Ezekiel Maseko en Freddie Shongwe besit van die kar geneem. Maseko was ’n paar jaar tevore aangekeer vir huisbraak, diefstal en gewapende roof, en nadat hy op alle aanklagte skuldig bevind is, is hy tot gevangenisstraf gevonnis. Dit is later tydens die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) se verhore geopenbaar dat hulle deur ’n man met die naam van John Mnisi vir MK gewerf is en vir opleiding na Swaziland gestuur is. Mnisi is ook in 1981 deur die veiligheidspolisie gearresteer, maar weens die waardevolle inligting wat hy verskaf het, is daar besluit om hom nie aan te kla nie en hy is vrygelaat. Volgens die voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie, generaal Johan van der Merwe, is Mnisi “by die Vlakplaaseenheid as ’n askari ingeskakel, waar hy aanvanklik sy volle samewerking verleen het. Sy broer is ook later gearresteer en as askari gebruik, maar die twee het later gevlug en hulle weer by die ANC geskaar.” (Terloops, die oorspronklike betekenis van askari is “inboorlingsoldaat [in Oos-Afrika]”, maar binne hierdie konteks beteken dit bloot ’n voormalige lid van die ANC, PAC of soortgelyke organisasie wat as informant of operateur vir die veiligheidspolisie gewerf is.) Mnisi het nie net vir Maseko en Shongwe gewerf nie, maar hy het ook vir Ismail gehelp om die bom en afstandbeheermeganisme in die voertuig te plaas.

Volgens Maseko se ma het haar seun haar die oggend van 20 Mei geskakel en meegedeel dat hy op pad na hulle huis in Mamelodi-Oos was vanaf Swaziland. Sy vertel verder dat Maseko en nog ’n man later daar opgedaag het met ’n Colt Galant en toe die enjinnommer met ’n hoekslyper afgeskuur het. Maseko het ook ’n metaalkissie met R3 000 kontant by hom gehad wat hy by die huis gelos het. Maseko en Shongwe het hierop in die Colt Galant en Maseko se kombi na Pretoria vertrek, waar hulle die kombi in die omgewing geparkeer en met die Colt Galant na die Nedbankplein Maritime House-gebou gery het.

Dit kom voor dat die plan was dat een van hulle in die kar sou bly om die ontvangstoestel te aktiveer terwyl die ander die sendtoestel in die kombi in gereedheid sou bring. Die sendtoestel sou na aktivering radiogolwe uitstuur wat deur die ontvangstoestel ontvang sou word en die bom sou aktiveer om te ontplof. Nadat die ontvangstoestel geaktiveer is, sou die persoon in die Colt Galant na die kombi loop, wat die ontsnappingsvoertuig sou wees. Sodra beide in die kombi was, sou hulle die sendtoestel aktiveer. Die beplande tyd vir die ontploffing was 16h30, aangesien dit die laaste dag van die werksweek was en die straat vol mense sou wees; derhalwe die optimale hoeveelheid potensiële lewensverlies.

Wat egter uiteindelik wel gebeur het, was dat Shongwe in die kar bly sit het terwyl Maseko na die kombi teruggestap het. Teen 16h20 het Maseko na die Colt Galant teruggekeer en aan Shongwe die teken gegee om die ontvangstoestel te aktiveer, wat hy gedoen het.

Op hierdie stadium was die 22-jarige Neville Clarence, ’n vegvliegtuigbeheerinstrukteur van die SALM, vanaf Waterkloof-lugmagbasis onderweg na SALM-hoofkwartier om dokumente af te haal vir werwingsdoeleindes. Die SALM-hoofkwartier het die eerste, tweede en derde vloer van die 16-verdieping-Maritime House-gebou beslaan. Die oorblywende 13 vloere is deur burgerlike organisasies gebruik. Op die grondvloer was ’n kafee en ander besighede. Clarence onthou: “Ons is na die Lugmag-hoofkwartier maar het nie rekening gehou met die hoeveelheid verkeer op ’n Vrydagmiddag nie … Op daardie stadium het die lugmag tot halfvyf gewerk, so toe ons daar aankom was mense alreeds besig om die gebou te verlaat.” Clarence het in ’n laaisone reg voor die gebou geparkeer. “Ek was nog besig om te besluit of dit die moeite werd sou wees om nou by die gebou in te gaan om die verlangde dokumente te kry of om maar liewer te ry” toe hy iets hoor wat vir hom soos ’n “kliek”-geluid geklink het.

Skielik was daar ’n geweldige slag. Die ontploffing het deur die Maritime House-gebou geruk. André Mostert het pas uit die Poynton-gebou gekom en was op die punt om Kerkstraat binne te gaan om ’n voertuig te gaan haal, maar “voordat ek in die gebied kon kom het ek ’n geweldige ontploffing gehoor. Dit was blote geluk dat ek nie daardeur getref is nie.” Die 19-jarige Lydia van der Merwe het so pas haar werk vir die week by haar kantoor by die kruising van Bosman- en Kerkstraat afgesluit en het op ’n bus gesit wat haar huis toe sou neem toe sy “die hardste ontploffing in [my] lewe” gesien en gevoel het. Sy het onmiddellik van die bus afgeklim en in die rigting van die ontploffing begin hardloop: “[E]n toe ek by Kerk indraai, het daar ’n skouspel my ingewag wat te verskriklik was om waar te wees.” Die vensters van die hoë geboue weerskante van die straat was uitgeskiet en daar was “so baie mense op straat dat elke glasskerf ’n liggaam getref en bloed getrek het”. Sy onthou die toneel van bloed oraloor en die verwarring daardie oomblik, met “die geluide van kermende, beseerde mense” tussendeur.

Intussen was Clarens in sy voertuig vasgekeer, sy gesig verwond deur skrapnel en vlieënde glasstukke en sy oordromme beskadig: “’n Paar sekondes later het ek gevoel hoe ek uit die voertuig getrek en op die sypaadjie neergelê word. Op daardie tydstip kon ek nie sien nie.” Hy sou later vasstel dat hy vir die res van sy lewe blind sou wees. Desnieteenstaande was Clarens in baie opsigte besonder gelukkig. Hy was toevallig omtrent ’n meter agter die Colt Galant geparkeer, maar sy voertuig het grootliks die slag van die ontploffing geabsorbeer, waardeur sy lewe gespaar is.

Almal was egter nie so gelukkig nie. Reg voor die ingang van die gebou was daar ’n bushalte waar verskeie persone, swart en wit, gewag het om opgelaai te word. Hierdie bushalte is totaal verwoes en baie mense het oombliklik hulle lewens daar verloor. Uitgebreide skade is ook aan die SALM-hoofkwartier en omliggende kantore en geboue aangerig. Vir baie ooggetuies het die toneel ooreengestem met dié van ’n oorlogsone.

Intussen was kolonel Basie Smit en majoor Suiker Britz van die polisie se Sentrale Ondersoekafdeling by Club 34, nie baie ver van die toneel af nie. Hulle het hulle na Kerkstraat gehaas, waar hulle ’n toneel van vernietiging en dood aangetref het. Daar was liggame, ernstig verwonde en beseerde mense, arms en bene en bloedbesmeerde klere oor die toneel versprei. Voor die gebou het Smit en Britz die wrak van ’n voertuig gevind met menslike oorskot daarin waarvan hulle geglo het dat dit die oorsprong van die ontploffing was.

Lede van die polisie se forensiesewetenskaplaboratorium onder generaal Lothar Neethling was vroeg op die toneel op soek na deurslaggewende getuienis. Omdat die owerhede nie geweet het of dit die begin was van ’n aantal gekoördineerde bomaanvalle in die stad nie, was tyd van uiterste belang en is die ondersoek verhaas en hoogste prioriteit gegee. Die ingenieursafdeling van die Kwartiermeester het dadelik die motorwrak begin ondersoek en plofstofdeskundiges het die toneel gefynkam op soek na tekens wat kon aandui wat die aard van die plofstof was en ook die hoeveelheid daarvan. Die forensiesewetenskaplaboratorium kon later by wyse van bloed- en weefseltoetse vasstel watter ledemate by watter liggame hoort.

Kort na sy aankoms op die toneel het Britz ’n liggaam opgemerk wat naby die wrak van die Colt Galant gelê het. Hoewel die liggaam gedeeltelik verbrand was, het die gesig vir hom bekend voorgekom. Terug by die huis het hy sy foto-albums van persone wat hy al gearresteer het, bestudeer en so vasgestel dat dit die liggaam van Ezekiel Maseko was. Freddie Shongwe was die lyk in die wrak. Na ’n vinnige, dog deeglike ondersoek, wat ingesluit het onderhoude met beide Maseko en Shongwe se moeders asook forensiese ontleding van ystervylsels wat by Maseko se huis gevind is, was die polisie daartoe in staat om die identiteit van die verantwoordelike persone vir die ontploffing, te bevestig.

Die ondersoek het die polisie ook na die kombi gelei, waarin hulle die sendtoestel gevind het. Oorblyfsels van die ontvangstoestel is ook in die wrak van die Colt Galant gevind. Die polisie se slotsom was dat die twee manne waarskynlik verward geraak het met die volgorde waarin die twee toestelle geaktiveer moes word. Die sender in die kombi is eerste geaktiveer, in plaas van die ontvanger. Die sein van die sendtoestel was dus alreeds geaktiveer toe Shongwe die ontvangstoestel aktiveer, wat tot die onmiddellike ontploffing gelei het. Beide mans is op slag dood.

Aanvanklik is geglo dat 16 mense benewens die bomplanters in die ontploffing dood is, onder wie ses SALM-personeel. Maar een SALM-lid, lugman Wayne Lawrence Kirtley (19), was op daardie stadium nog vermis. Na ’n intensiewe deursoeking van die omgewing is sy liggaam die volgende dag gevind. Die geweldige krag van die ontploffing het sy liggaam regoor die pad teen ’n paal vasgeslinger voor dit op die balkon van ’n woonstel beland het. Uiteindelik het 19 mense, insluitende die bomstellers, in die ontploffing gesterf. Tien van die slagoffers was burgerlikes, van wie sewe swart mense was wat by die bushalte op ’n bus gewag het. In totaal is 217 mense in die ontploffing beseer, met heelwat van hulle wat ledemate verloor.

In haar verklaring het Pastoors gemeld dat “drie senior ‘comrades’ die aksie met haar bespreek het” by haar aankoms in Mosambiek. Hierdie drie was “Commander” Bai (vermoedelik Ismail), “comrade” (Joe) Slovo en “comrade” president Oliver Tambo. Sy het onthou dat nie een van hulle in die wolke was oor die voorgenome aksie nie. Inteendeel, hulle “almal het verklaar dat dit baie swaar is om hierdie tipe wapens te gebruik, maar dit was noodsaaklik vir die stryd”. Wat haar eie betrokkenheid in die operasie aanbetref het Pastoors gesê: “[D]it was moeilik om myself emosioneel daarmee te versoen, maar ek het aanvaar dat dit nodig was en het nie die oordeel van die leierskorps in dié verband bevraagteken nie.”

Dit het ’n rukkie geneem voor Tambo namens die ANC verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar het. Om die waarheid te sê, eers nadat SALM-stralers drie dae later ’n wraakbomaanval op ANC-teikens in Maseru uitgevoer het, het Tambo aangekondig dat MK die Kerkstraat-bomaanval beplan en uitgevoer het nadat hy dit goedgekeur het. Tydens sy aansoek om amnestie voor die WVK 15 jaar later het Ismail aangevoer dat Tambo toestemming aan sy Spesiale Operasies-eenheid verleen het om die aanval te beplan en uit te voer in reaksie op die sluipmoord op die anti-apartheid-aktivis en Joe Slovo se vrou, Ruth First, op 17 Augustus 1982, asook op die aanval deur Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte op 15 ANC-teikens in Maseru gedurende Desember 1982 waartydens 42 mense, onder wie minstens sewe vroue en kinders, omgekom het. Volgens Ismail het Tambo “dit opgehaal dat as die destydse regering sy optrede regverdig het dat burgerlikes gedood word omdat die ANC sy basisse tussen die burgerlike bevolking oprig, sou dit dan nie geregverdig wees vir die ANC om ook operasies uit te voer op vyandelike teikens wat binne beboude gebiede geleë is nie?” Die WVK is deur Ismail meegedeel dat die Spesiale Operasies-eenheid aanvaar het dat die Kerkstraat-bomaanval, hoewel dit hoofsaaklik gerig was op “militêre personeel” wat by die bushalte sou saamdrom, ook tot burgerlike sterftes sou lei. Vreemd genoeg beskryf die WVK die aanval wat gelei het tot die dood en verminking van heelwat meer burgerlikes as militêre personeel soos volg:

Die ontploffing was ’n oorlogsdaad wat ’n ernstige slag teen die ANC se vyande geslaan het, en wat ’n nuwe fase van guerrilla-oorlog in die stryd ingelei het. Hoewel die gevolge van die ontploffing grusaam en tragies was en baie onskuldige burgerlikes geaffekteer het, is ons, na sorgvuldige oorweging, van oordeel dat die manier waarop die operasie uitgevoer was, nie buite verhouding staan tot die politieke doelstellings wat nagejaag is nie.

Dit is van belang om daarop te let dat die Kerstraat-bomaanval plaasgevind het twee jaar voor die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) se Kabwe-konferensie in Zambië in Junie 1985, waar daar besluit is dat burgerlike ongevalle nie meer vermy kan word by die beplanning van militêre operasies nie. Die sogenaamde nuwe fase van guerrilla-oorlog moes dus eintlik eers in 1985 ’n aanvang geneem het, en nie reeds in 1983 nie. Die WVK gee wel toe dat hierdie bomaanval voor die Kabwe-konferensie plaasgevind het, maar bevind dan voorts dat dit nie beteken “dat hierdie teikenidentifisering teen ANC-beleid was nie. Dit was nog altyd MK-beleid om die veiligheidsmagte se personeel te teiken, en wat betref die burgerlike ongevalle, is die operasie goedgekeur op die hoogste gesagsvlak van die ANC.” Die hoogs gerespekteerde historikus Leopold Scholtz wys daarop dat die gewapende stryd tot 1983 getuig het “van ’n morele onwilligheid tot bloedvergieting. Maar die Suid-Afrikaanse aanval op ANC-teikens in Matola, Maputo in 1981, het gelei tot ’n kopskuif, en Oliver Tambo het vergelding belowe.” Dit kan verklaar waarom hierdie aanval plaasgevind het lank voor die amptelike besluit deur die ANC- en SAKP-leierskap om nie meer deur moontlike burgerlike ongevalle weerhou te word by die beplanning van aanvalle nie. Dit kom dus voor dat die doel van hierdie aanval uitsluitlik vergelding was. Desnieteenstaande het die WVK dit as die uitvoering van ’n “politieke doelstelling” aanvaar om “’n hoogs sigbare aanval op militêre personeel te loods wat nie weggesteek sou kon word nie …”

Boonop beskryf die WVK die Kerkstraat-bomaanval as “guerrilla-oorlogvoering”. Maar wat is in werklikheid guerrilla-oorlogvoering? Volgens die Oxford-woordeboek is dit die “engagement in or activities involved in a war fought by small groups of irregular soldiers against typically larger forces”. Met ander woorde, dit is ongereelde oorlog waarin klein groepies of individuele soldate taktiese militêre metodes soos sabotasie, lokvalle, strooptogte, verrassingsaanvalle sowel as hul beweeglike gevegsvermoë gebruik om ’n groter, minder-beweeglike tradisionele militêre mag te beveg en te ontwrig.

Daarteenoor word terrorisme gedefinieer as “the unlawful use of violence and intimidation, especially against civilians in the pursuit of political aims”. Daar is natuurlik heelwat variasies op hierdie definisie wat selfs verder gaan en terrorisme definieer as die afpersing of intimidasie van ’n regering of gemeenskappe in die najaging van nie net politieke oogmerke nie maar ook godsdienstige of ideologiese doelstellings. Selfs ’n staat kan skuldig wees aan terrorisme as dit sy burgers met onregmatige geweld afpers of intimideer. Die apartheidstaat het inderdaad gereeld geweld gebruik om teenstand teen sy politieke beleid te onderdruk, met die Maseru-aanval en die sluipmoord op Ruth First goeie voorbeelde daarvan. Die gemene deler in al hierdie definisies is egter die onregmatige gebruik van geweld ten einde ’n politieke oogmerk te bereik. Dit kom voor asof die WVK in hierdie geval terrorisme verkeerdelik aangesien het as guerrilla-oorlog.

Hoe dit ook al sy, as hierdie aanval ’n “oorlogsdaad” was, soos die ANC en die WVK beweer het, oortree dit in elk geval die Geneefse Konvensies en protokolreëls van 1949, wat van toepassing is tydens oorlog of ander gewapende konflik. Algemene artikel 3 is van toepassing op gewapende konflikte tussen burgers binne die grense van ’n enkele land. Dit bied beperkte beskerming aan mense wat nie aktief by die vyandelikhede betrokke is nie, met ander woorde, burgerlikes. In hierdie kategorie word ook ingesluit “militêre persone wat opgehou het om aktief deel te neem weens siekte, besering of aanhouding”. Volgens hierdie artikel mag burgerlikes nie geteiken word ter bereiking van ’n militêre oogmerk nie.

Volgens hulle eie erkenning het die ANC-leierskap geweet dat burgerlike ongevalle ’n waarskynlikheid sou wees tydens hierdie operasie. Maar hierdie waarskynlikheid is doelbewus deur die ANC geïgnoreer in hulle allesoorheersende begeerte om ’n gewelddadige boodskap aan die Suid-Afrikaanse regering te stuur, naamlik: Die ANC is bereid om die lewe van burgerlikes te neem in hul stryd teen die outoritêre apartheidstaat. Die boodskap was helder en duidelik. Maar wat was dit dan as dit nie terrorisme was nie? Selfs al was dit vir ’n edele doel, was die doelbewuste doodmaak van ongewapende burgerlikes in ’n bomontploffing in die najaging van ’n politieke doelstelling niks anders as koelbloedige moord nie, net soos die voor-die-voet-uitwissing van vroue en kinders in die proses om ANC-vegters buite aksie te stel tydens ’n militêre strooptog. Dit verg eintlik die laakbaarste vorm van opset by moord om so ’n daad te pleeg of te laat pleeg, naamlik dolus indeterminatus, of opset om te moor sonder om ’n spesifieke slagoffer of getal slagoffers in gedagte te hê en dus nie om te gee wie of watter getal slagoffers daar sal wees, of wat die aard van die slagoffers (vrouens, kinders, bejaardes) sal wees nie. Terrorisme bly terrorisme, ongeag wie dit pleeg, en hierdie aanval was terrorisme in sy ernstigste en grusaamste vorm.

Die WVK het egter gevoel dat dié wat vir hierdie aanval verantwoordelik was en amnestie gevra het, dit moet kry. Net drie mense, onder wie Ismail en Pastoors, het vir hierdie Kerkstraat-bomaanval amnestie gevra en aan al drie is amnestie toegestaan. Oliver Tambo en Joe Slovo is voor die begin van die WVK-verhore oorlede en die twee bomplanters is beide in die ontploffing dood. Dit is egter nie vergesog om aan te neem dat heelparty lede van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NEC) en van die senior MK-bevelvoerders in 1983 moes geweet het van die beplanning en uitvoering van die aanval en hulle aktief daarmee vereenselwig het nie. Sommige van hierdie lede, soos Thabo Mbeki, Mac Maharaj, en Jacob Zuma, leef vandag nog, en nie een van hulle het om amnestie aansoek gedoen vir hierdie terreurdaad nie.

In teenstelling daarmee het verskeie apartheid-era-polisiemanne onsuksesvol aansoek gedoen vir amnestie vir die rol wat hulle gespeel het in die dood van honderde anti-apartheid-aktiviste, en hoewel hy nie om amnestie aansoek gedoen het nie, is generaal Magnus Malan selfs vervolg vir die rol wat hy as minister van verdediging gespeel het in die dood van 13 mense, onder wie sewe kinders by KwaMakhutha in 1987, maar die hof het hom onskuldig bevind. Adriaan Vlok, voormalige minister van wet en orde, het wel aansoek gedoen om amnestie vir verskeie vergrype wat hy tydens sy ampstermyn gepleeg het en dit gekry, maar hy is ook strafregtelik vervolg vir ’n minder ernstige misdaad as moord waarvoor hy nie amnestie gekry het nie, saam met die voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie, generaal Johan van der Merwe, en net ’n pleitooreenkoms het hulle van langdurige gevangenisstraf gered. Dan is daar natuurlik ook Janusz Walus, die veroordeelde sluipmoordenaar van die MK-stafhoof en hoofsekretaris van die SAKP, Chris Hani. Toe Walus en sy medeveroordeelde moordenaar, Clive Derby-Lewis, om amnestie aansoek doen, het die WVK dit geweier. Dit is wel so dat die moordenaars van Chris Hani byna ’n burgeroorlog veroorsaak het, wat inderdaad ook uit die staanspoor hulle doel met die moord was. Daardie feit maak die misdaad soveel meer verfoeilik. Aan die ander kant, wat was die Kerkstraat-bomaanval anders as ’n misdaad teen die mensdom? Baie mense het gesterf en meer as 200 is beseer in hierdie enkele aanval, maar dié wat daarvoor verantwoordelik was, gaan ongestraf met hulle lewens voort. Is een lewe net soveel werd as vele, afhangende van aan wie daardie een lewe behoort het? Die WVK was oënskynlik die mening toegedaan dat dit wel die geval is. Die WVK se bedoelings was sonder twyfel in die meeste van die gevalle suiwer, maar daar was heelwat kritiek van alle kante van die spektrum op sy effektiwiteit, veral weens hierdie tipe onkonsekwenthede.

Ongelukkig het dit ook daartoe bygedra dat verregse groepe hulle eie politieke agendas bevorder deur van die Kerkstraat-bomaanval ’n emosionele twispunt te maak. Op 20 Mei 2015 het lede van die regse groep Front Nasionaal saam met AfriForum by die toneel in Kerkstraat byeengekom om die bomaanval te gedenk. Willie Cloete, Front Nasionaal se leier, het verklaar dat die dag van belang is weens die impak daarvan op Suid-Afrika se geskiedenis: “Onskuldige mense is gedood deur ’n bom wat in die eerste instansie nooit geplant moes gewees het nie.” Cloete het onderneem dat sy groep sal voortgaan om hierdie dag te gedenk. Die adjunkhoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU), Henk van de Graaf, het bygevoeg dat die bomaanval “die begin was van ’n terroriste-oorlog wat vandag nog voortgesit word in die vorm van plaasmoorde”. ’n Jaar later het Wessel Basson van die Nasionale Konserwatiewe Party die toesprake gelei voor ’n gemengde gehoor bestaande uit oorlewendes en partylede. Volgens die Pretoria-Oos Rekord het Basson ook ’n klein wit kissie met ses vlaggies op die plek neergesit waar die bom afgegaan het. ’n Granietgedenkplaat met die name van die 17 slagoffers wat in die ontploffing gesterf het, is ook onthul, waarna Basson bygevoeg het: “As die stad ooit hierdie steen verwyder, sal dit wees soos om al hierdie mense weer dood te maak.” Selfs regse vermaaklikheidskunstenaars soos Sunette Bridges en Steve Hofmeyr was daar om die mense wat die aanval gedenk het, in die sing van “Die Stem” te lei.

Die probleem met hierdie tipe groepe is dat hulle die gedenkproses kaap om daarmee woede en haat te laat ontbrand of herleef ten einde goedkoop politieke punte te probeer aanteken, eerder as om die oorlewende slagoffers en hulle vriende en familie, asook die gestorwenes se familielede, geliefdes en vriende toe te laat om te gedenk en te rou. Moet die sewe swart mense wat in die aanval gesterf het, se geliefdes en vriende nou ook hulle verliese gedenk deur die sing van “Die Stem”? Deur op hierdie woede en haat te teer, beweeg hierdie groepe op dieselfde morele vlakke as die ANC leierskap wat van die aanval geweet en dit goedgekeur het. Die verskil is net dat hierdie groepe nie ’n fisiese bom gebruik nie. Hulle probeer om eerder ’n ideologiese bom te laat ontplof in die gewetens van diegene wat maklik beïnvloedbaar is deur hierdie tipe retoriek. Ongelukkig vir die oorlewendes, asook die oorledenes se geliefdes en vriende, kom dit wel voor dat niemand anders deesdae meer omgee nie. Dit kom voor asof dit maar net beskou word as die ongemaklike waarheid wat die ANC se vryheidsnarratief trompop loop. Die straat waarin die bomaanval plaasgevind het, se naam is inderwaarheid ’n ruk gelede verander. Dit lyk vreemd dat die owerhede dit nodig gevind het om ’n betreklik neutrale naam soos Kerkstraat te vervang met die name van ’n klompie helde uit die stryd teen apartheid. Vir heelwat van die families en oorlewendes, voel dit asof hulle lyding deur die owerhede as onbenullig beskou word. Al wat hulle van die ANC verwag, is om jammer te sê sodat hulle trauma en opofferings die erkenning kan geniet wat dit verdien. Vir Lydia van der Merwe en mense soos sy was daar nog geen sielkundige berusting nie: “’n Openbare apologie sal so ’n groot verskil maak.” Maar dit moet nog gegee word.

Die Kerkstraat-bomaanval was een van die ergste terreuraanvalle ooit in Suid-Afrika. Om dit te ontken is om die slagoffers te ignoreer en te onteer. Apartheid was inderdaad ’n bose sisteem van onderdrukking wat elke faset van die Suid-Afrikaanse samelewing ontsier het. Dit moet ook nooit vergeet word nie. Maar terselfdertyd moet onthou word dat apartheid nie die enigste boosheid was nie. In hulle stryd teen apartheid was bevrydingsorganisasies self ook dikwels aan die mees verfoeilike misdade skuldig. Daarom moet daar nie uit die oog verloor word nie dat die konstitusionele demokrasie wat ons vandag geniet, te danke is aan almal wat hulle lewens verloor het in die “gewapende stryd”, nie slegs dié wat die ANC graag wil onthou nie. Maar deur die aanval as ’n land vandag op ’n waardige wyse te onthou, moet dit nie gekondoneer of veroordeel word nie. Daar moet liewer erkenning gegee word aan hoe daar vordering gemaak is sedert daardie verskriklike dag in Mei 1983. Dit is die grootste eerbetoon wat ons aan die slagoffers kan gee en die grootste les wat ons van hulle kan leer.

Erkennings: Spesiale dank aan Sieg Minnie en brigadier (afgetree) Hennie Heymans vir hulle raad en belangstelling.

Bibliografie

Jordaan, A. 2013. Lothar Neethling: ’n Lewe vertel. Pretoria: Litera Publikasies. 

Kuaho, T. 2015. Church Street bombing remembered. Pretoria East Rekord, 20 Mei.

Makhubu, N. 2015. Church Street bombing horror recalled. IOL, 21 Mei.

Maree, H. 2015. Freedom Park won’t honour Church Street bomb victims – AfriForum Youth. PoliticsWeb, 20 Mei.

Meijer, K. 2016. Church Street bombing remembered. Pretoria East Rekord, 21 Mei.

Mtshali, N. 2013. Bomb survivor waits for compensation. IOL, 22 Mei.

Ngoepe, K. 2016. Mbeki, Zuma, Maharaj must be charged for Church Street bombing – apartheid police general. News24, 20 Mei.

Onbekende skrywer. 1996. Human rights violations submissions – question and answers: Neville James Clarence. Truth and Reconciliation Commission, 13 Augustus.

Onbekende skrywer. 1998. ANC mastermind campaign justifies Pretoria Church Street blast. SAPA, 6 Mei.

Soule, A, G Dixon en R Richards. 1987. The Wynand du Toit story. Johannesburg: Hans Strydom Publikasies.

Stiff, P. 1999. The silent war: South African Recce Operations, 1969–1994. Alberton: Galago.

Van der Merwe, J. Onbekende datum. Kerkstraatbomvoorval. South African Mirror.

 

  • 2

Kommentaar

  • Klein korreksie: Die eerste en tweede vloer van die Nedbank gebou was in gebruik deur privaatmaatskappye. Die derde vloer was hoofsaaklik parkeerruimte vir die lugmagvoertuie, en Lugmaghoofkwartier was van vloere 4 tot 13. Ek het destyds op die 7e vloer gewerk.

  • Avatar
    Coenraad Walters

    ’n Baie interessante bespreking. Ek sal beslis nou Jako se vorige inskrywings gaan lees!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top