Nou in die verlede: Die verborge oorsprong van Nelson Mandela se Long walk to freedom

  • 3

Lees in hierdie artikel oor ’n gebeurtenis wat vandeesweek in die geskiedenis plaasgevind het.

Dinsdag 11 Februarie 2020

Presies 30 jaar gelede was die wêreld se oë, saam met dié van die meeste Suid-Afrikaners, gerig op die hekke van die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein Korrektiewe Sentrum) net buite die Paarl in die Wes-Kaap. Nelson Mandela, die veroordeelde terroris, sou vrygelaat word na 27 jaar van gevangenskap. Nege dae tevore het die toenmalige president van Suid-Afrika, FW de Klerk, sy voorneme bekend gemaak om Mandela vry te laat en die verbod op die ANC en 60 ander verbode politieke organisasies op te hef. Dit was ’n deurslaggewende oomblik in Suid-Afrika se geskiedenis. Skielik het die hoop opgevlam dat ’n vreedsame oorgang na ’n nierassige, demokratiese Suid-Afrika tog ’n werklikheid kan word, en Mandela het daardie hoop vierkantig op sy skouers gedra.

Maar sou die wêreld, en veral die VSA, met soveel gejuig en optimisme gereageer het as hulle toe bewus was van ’n geheime manuskrip wat geskryf is deur ’n verbitterde Mandela 16 jaar voor sy vrylating?

Die verhaal van sy sogenaamde verlore tronkmanuskrip begin op Robbeneiland in 1974.

Mandela, of Gevangene 466/64, het daardie jaar sy outobiografie snags begin skryf. Soos hy bladsye volgeskryf het, het hy dit aan sy medegevangenes wat hy vertrou het, oorhandig vir hulle kommentaar en navrae as kantlynaantekeninge. Die geskrewe teks is daarna aan ene Laloo Chiba, ’n medegevangene wat dit in mikroskopiese skrif oorgeskryf het, oorhandig, waarna dit in die boeke van Mac Maharaj ingebind is, wat dit toe weer met sy vrylating in 1976 vanaf die eiland met hom saamgeneem het.

Na sy vrylating het Maharaj die teks laat oortik en dit na Londen gestuur. Daar het dit vir tyd en wyl in die hande van die Kommunistiese Party (SAKP) gebly terwyl die bestaan van so ’n geskrif vir die res van die wêreld vir meer as ’n dekade slegs ’n gerug was. Toe, in 1989, het een van Mandela se medegevangenes, Ahmed Kathrada, die bestaan van die geskrif bevestig na ook hy vrygelaat is. Hy het vertel dat die oorspronklike geskrifte in Mandela se handskrif in klein, leë kakaohouers in die tronk se tuin begrawe was, maar uiteindelik deur die tronkbewaarders ontdek is. Teen daardie tyd was die mikroskopiese afskrifte daarvan egter alreeds saam met Maharaj van die eiland af. Fatima Meer, Mandela se vriend en biograaf, het intussen ’n brief gedateer 6 November 1989 vrygestel waarin Mandela die skryf van sy biografie in die 1970’s bevestig het. In Mei 1990, drie maande na sy vrylating, het die Amerikaanse uitgewer Little Brown die regte op Mandela se outobiografie beding vir ’n geskatte bedrag van $3 miljoen. Maar ten spyte daarvan dat hulle Mandela soveel betaal het vir die regte op sy verhaal, het hulle “probleme ondervind” om hom sover te kry om dit te skryf.

Op ’n stadium is daar besluit om die taak aan ’n New Yorkse joernalis, Rick Stengel (wat later Barack Obama se ondersekretaris vir openbare diplomasie sou word) op te dra. Stengel is deur die uitgewer aangestel as Mandela se skimskrywer en die enorme taak opgedra om die manuskrip te redigeer en aan te vul wat uiteindelik gepubliseer sou word as Long walk to freedom, die outobiografie van, sonder twyfel, die beroemdste persoon van die 20ste eeu.

Die oorspronklike tronkmanuskrip verskaf verstommende insig in hoe Mandela se beeld oor dekades gemanipuleer is. Volgens die ANC-narratief was Mandela byvoorbeeld ’n gematigde swart nasionalis wat gehoop het dat vryheid by wyse van vreedsame onderhandeling verkry sou kon word, totdat hy as gevolg van die Sharpeville-bloedbad, tot die gewapende stryd gedwing was. Maar volgens Mandela se eie woorde in die tronkmanuskrip het hy al sedert 1952 ’n gewapende stryd beplan, aangesien hy toe al besef het dat vreedsame verset “die beste wapen was slegs in soverre ons mense dit steeds nodig het om voor te berei vir ’n meer effektiewe vorm van stryd” (bl 142). Hy het selfs vir Walter Sisulu oorgehaal om op ’n geheime sending wapens en geld van die Rooi Leër te bekom (142–3). Dit was in direkte konflik met die ANC se nieverbonde en niegewelddadige beleid op daardie stadium. Mandela het meer en meer gefrustreerd geraak met die ondoeltreffendheid van geweldlose opstand teen die staat: “Weens die veelvuldigheid van vernedering en frustrasie wat ek moes ly, en die geleenthede waarvan ek uitgesluit is, was ek verbitterd en het al sterker daaroor gevoel dat Suid-Afrikaanse wittes weer ’n Isandlwana nodig het” (195). Verder beskryf hy opgetoë ’n land gedompel in ’n oorlog “verskeur deur rasse-onmin, waar die vars lug gevul sal wees met kruitdampe, sierlike geboue sal ineenstort en waar die strate met bloed bevlek sal wees” (191).

Die openlike oproep tot bloedvergieting sou vanselfsprekend deur die apartheidstaat as ’n duidelike en onmiddellike bedreiging gesien word. Derhalwe sou hulle dit as regverdiging kon voorhou nie net om Mandela te isoleer nie, maar ook om toe te slaan op swart nasionalistiese en kommunistiese politieke bewegings. Dit sou reg in die hande gespeel het van die verdedigers van apartheid as ’n bewys van Mandela se radikalisme, dat hy oorgehaal was om oorlog te voer teen die blanke minderheid. Dit is dus nie verbasend nie dat hierdie gedeeltes deur Stengel weggelaat is gedurende sy versorging van die finale weergawe van die outobiografie.

Die tronkmanuskrip openbaar ook Mandela se teenstrydige sienswyses oor leierskap. In Long walk to freedom verwys Mandela na die onsuksesvolle driedaagse nasionale staking gedurende April 1958 wat deur die ANC gereël was. Hy wys daarop dat die staking egter wel suksesvol was in dorpe waar die staking gepaardgegaan het met geweld en afsluiting van besighede. Hoewel hy volgens hom “altyd sodanige metodes teëgestaan het” (204), argumenteer hy voorts dat dwang wel aanvaarbaar is in gevalle waar die meerderheid van ’n organisasie so ’n besluit ondersteun: “’n Minderheid, ongeag hoe luidrugtig dit mag wees, behoort nie die wil van die meerderheid te ondermyn nie” (204). Maar in die tronkmanuskrip bereik hy die teenoorgestelde slotsom: “[H]ierdie is nie ’n kwessie van beginsel of ’n hoopvolle hersenskim nie … Die ware vraagstuk is net of die gebruik van geweld die stryd gaan bevoordeel of benadeel … [A]s dit die stryd gaan bevoordeel, moet daarvan gebruik gemaak word ongeag of die meerderheid met ons saamstem of nie” (329). Volgens hierdie sienswyse is die (hoofsaaklik kommunistiese) leierskap van die ANC daarvoor verantwoordelik om die rigting en aard van die stryd te bepaal. Of die meerderheid met daardie rigting en aard van die stryd saamstem, is vir hom irrelevant.

’n Verdere ongerieflike aspek van die tronkmanuskrip is dat Mandela daarin impliseer dat die besluit van die kommuniste binne die ANC om gedurende Desember 1961 met ’n veldtog van bomplanting te begin, ongeregverdig was. Gedurende die veelvuldige suksesvolle veldtogte wat deur die ANC gelei was teen busmaatskappye, voedsel- en tabakmaatskappye, sowel as protesoptrede teen die paswette en die behaal van ’n verstommende oorwinning in die Hoogverraadverhoor, was daar geen ANC-lewensverlies nie (onthou, Sharpeville was deur die PAC gelei). Mandela erken dan ook: “Na die beste van my wete was geen individue (politieke aangehoudenes) geïsoleer, gedwing om inligting te verskaf, aangerand, gemartel, vermink of vermoor soos wat die geval was sedert 1963 nie” (303). Dus kan daar na aanleiding van Mandela se eie erkenning geargumenteer word dat die begin van die bomplantingsveldtog tot gevolg gehad het dat die staat se veiligheidsmagte se reaksie daarop gelei het tot ’n toename in die marteling en moord op aangehoudenes wat die regering teëstaan.

Ook dit kon natuurlik nie toegelaat word om in die finale manuskrip te verskyn nie. Volgens Stengel se weergawe was Mandela deur die onderdrukkende brutaliteit van die owerheid aangevuur om die gematigdes in die ANC te oortuig dat ’n gewapende stryd absoluut noodsaaklik is (260). Met hulle ondersteuning vorm hy toe MK, die beweerde “militêre vleuel van die ANC”, wat ’n bomplantingsveldtog teen niemenslike teikens van stapel gestuur het, soos onbewoonde regeringsgeboue en kragstasies.

Volgens historici wat oor hierdie onderwerp gepubliseer het, is dit egter twyfelagtig, indien nie ’n totale fabrikasie nie, dat die besluit om die gewapende stryd teen die owerheid te begin, van Mandela gekom het. Die besluit is inderwaarheid deur die Kommunistiese Party geïnisieer. Die ANC-president, Albert Luthuli, was teen die opneem van wapens teen die owerheid, en MK was hoegenaamd nie die ANC se gewapende vleuel nie. Elkeen wat betrokke was by MK se stigting en wat in sy opperbevel gedien het, was óf openlik óf in die geheim ’n kommunis.

Laastens openbaar die tronkmanuskrip ook Mandela se eenheidsgevoel met Fidel Castro se Kuba en sy sterk weersin in die VSA. Met verwysing na die Kubaanse missielkrisis in 1962 (511) bekla hy die lot van Kuba wat as die “eerste Sosialistiese Staat in die Westelike Halfrond” deurlopend onder bedreiging deur die VSA is: “Sonder twyfel lê my simpatie by Kuba … Die vermoë van ’n jong en klein staatjie om sy belange en onafhanklikheid te verdedig en die herhaalde gepoogde aanslae van die magtige VSA om dit te vernietig af te slaan … demonstreer in geen onsekere terme nie die meerderwaardigheid van sosialisme teenoor kapitalisme.” Dan gaan hy voort en sê: “Ek haat alle vorme van imperialisme, en ek beskou die VSA-weergawe, wat probeer om onafhanklike lande te onderwerp terwyl Europese imperialisme op sy laaste bene wankel, as die walglikste en veragtelikste” (512).

Dit moet egter genoem word dat Mandela se algemene renons in die VSA nooit ’n geheim was nie. Kort na sy vrylating is Mandela op sy eerste besoek aan die VSA tydens ’n onderhoud gevra of hy leiers soos Jasser Arafat, Muammar el-Gaddafi of Fidel Castro sou wou laat oorneem as president van Suid-Afrika. Sy antwoord was: “Een van die foute wat sommige politieke analiste maak, is om te dink dat hulle vyande ons vyande behoort te wees.” Hy verduidelik dan voorts dat die houding wat hy teenoor ander lande het, bepaal word deur die houding wat daardie lande teenoor hom en die ANC het. Hoewel hy dankbaar is vir die ondersteuning van Westerse lande, merk hy op dat sommige lande hom net in hul retoriek ondersteun. Castro, daarenteen, praat nie net nie, maar het, volgens Mandela, “hulpbronne tot ons beskikking gestel”.

Mandela het inderdaad alle rede gehad om die VSA te wantrou. Dit is onlangs deur die Amerikaanse diplomaat Donald Rickard onthul dat die Amerikaanse CIA die Suid-Afrikaanse sekuriteitsmagte ingelig het oor waar Mandela hom bevind het, en dat dit tot sy inhegtenisneming op 5 Augustus 1962 gelei het. Oud-VSA-president Ronald Reagan het Mandela bloot as ’n kommunistiese terroris beskou en die ANC as ’n terroriste-organisasie wat met kommunisme simpatiseer. Daarbenewens het sy naam nog tot in 2008 op die VSA se terroristelys gebly! Dit ten spyte van verskeie VSA-presidente, insluitende Bill Clinton en George W Bush, se ywer om die strydikoon te ontmoet en sy gasheer te wees (Barack Obama het selfs ’n roerende huldigingstoespraak by Mandela se begrafnis gelewer).

Die oorspronklike tronkmanuskrip is geheim gehou totdat die Nelson Mandela Stigting dit in November 2011 op sy webtuiste gepubliseer het. Stephen Ellis van die Universiteit van Leiden wys egter daarop dat die Stigting, verbasend genoeg, geen ophef van die publikasie van so ’n belangrike dokument op sy webtuiste gemaak het nie. In ag genome die historiese belangrikheid van die dokument, is Ellis se waarneming baie gepas. Die joernalis James Myburgh beskryf die ontdekking van die manuskrip op hierdie wyse in die kuberruim as soortgelyk daaraan “om die Heilige Graal in ’n stowwerige houer op ’n rak in een van die Britse Museum se stoorkamers te vind met ’n etiket daarop geplak met die woorde ’Beker gebruik deur Jesus by die laaste avondmaal, circa 33 AD’”. Met die plofbare inhoud van die manuskrip in gedagte, is so ’n vergelyking miskien nie te vergesog nie.

Die tronkmanuskrip ontmasker Nelson Rolihlahla Mandela, toekomstige president van Suid-Afrika, as ’n bitter, radikale kommunis, vasberade om sy mense met geweld te bevry en wat die wêreld uitdaag om hom te probeer keer. Die inhoud daarvan sal vir menige ’n skok wees, en mag selfs daartoe bydra om sy beeld as ’n voorvegter vir ’n vredevolle demokrasie te skaad. Maar wat onthou moet word van ’n persoon, is nie sy/haar woorde nie, maar sy/haar dade. Leo Tolstoi het eens gesê: “Elkeen dink daaraan om die wêreld te verander, maar niemand dink daaraan om homself te verander nie.” Toe Mandela uit die gevangenis vrygelaat is, het die wêreld verwag om ’n bitter, wraakgierige vryheidsheld te sien. As hy geweld teen wit Suid-Afrikaners sou aangemoedig het, sou dit die wêreld nie in die minste verbaas het nie. In plaas daarvan het hy egter ’n persoonlike evolusie ondergaan waar haat en bitterheid vervang is deur empatie en versoening. Daarom is dit miskien gepas dat hy en Stengel die volgende woorde in die slotparagrawe van Long walk to freedom neergepen het: “Ek is nie werklik vry as ek iemand anders sy vryheid ontneem het nie, net so seker as wat ek nie vry is nie as my vryheid my ontneem word. Die onderdrukker sowel as die onderdrukte word beide van hulle menslikheid beroof … Toe ek by die tronk uitgestap het, was dit my missie om beide die onderdrukte en die onderdrukker te bevry” (617). Hoewel Mandela se sukses om dit te vermag oop is vir argument, staan dit vas dat sy dade na sy vrylating die wêreld stomgeslaan het. En die bestaan van die tronkmanuskrip het net daartoe bygedra om hierdie dade, hierdie man, nog meer merkwaardig te maak. Hy het gekies om ter wille van ’n groter saak sy eie gevoelens en emosies te onderdruk, en daarin geslaag.

Nelson Mandela het homself tot verandering gedwing. En daardeur het hy die wêreld verander.


Jako Bezuidenhout is ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner wat daagliks gedwee, soms verleë, soms wroegend, maar hoofsaaklik met trots, sy geërfde historiese bagasie met hom saamdra. Hy het pas sy doktorale proefskrif in geskiedenis by Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans 'n vryskutnavorser.

 

Bronne

Ellis, S. 2011 Mandela, Communism and South Africa”, Open Democracy, 25 Julie.

—. 2012. External Mission: The ANC in exile 1960–1990. New York.

Filatova, I. 2013. Comrade Mandela’s Legacy to the ANC. Standpoint, 29 Oktober. https://standpointmag.co.uk/issues/november-2013/features-november-13-comrade-mandelas-legacy-to-the-anc-irina-filatova-south-africa-communism.

Filatova, I. en A. Davidson. 2013. The hidden threat: Russia and South Africa in the Soviet era. Johannesburg.

Malan, R. 2014. What a lost prison manuscript reveals about the real Nelson Mandela. The Spectator, 18 Januarie. https://www.spectator.co.uk/2014/01/the-mandela-files/amp.

Mandela, NR. 1994. Long walk to freedom: The autobiography of Nelson Mandela. Suid-Afrika. Johannesburg

  • 3

Kommentaar

  • Wonder wie het hom gedwing - hyself of die feit dat sy kommunistiese vriende se tyd verby was om hom te ondersteun en sy “raadgewers" vir hom ‘n ander “gesig” moes skep. Waarom hierdie feite eers na sy dood te voorskyn kom spreek boekdele van die sameswering om ons land te dompel in die gemors waar ons vandag is.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek het groot waardering vir die sinvolle opmerkings waarmee Sarie vorendag kom.
    Nelson Mandela word beskryf as "sonder twyfel die beroemdste persoon van die 20ste eeu." Sou 'n professionele of uitgelese historikus met so 'n stelling kom? Of word berugste bedoel?
    Willie Esterhuyse skryf: "Waarom kry slagoffers van erge strukturele geweld ... asook diegene wat van tyd tot tyd fisieke geweld ervaar, dit reg om nie self gewelddadig te reageer nie? Baie kere vergewend, versoenend en vredesoekend? Soos Nelson Mandela, byvoorbeeld" (Oorlog en vrede, Naledi, 2019, p 11). Kan sulke uitlatings enigsins versoen word met wat in die artikel hier bo staan?

  • Leopold Scholtz
    Leopold Scholtz

    Ek en my vrou het al in November 2014 in die akademiese tydskrif Historia (59/2) 'n artikel hieroor gepubliseer ("Nelson Mandela se houding teenoor die kommunisme"). Ons gevolgtrekking wyk nie ver af van Jako Bezuidenhout s'n nie, maar is duidelik meer genuanseerd. Die taak van die historikus is nie om morele oordele te vel nie (ook nie as jy byvoorbeeld oor apartheid skryf nie!), maar om te analiseer en te verstaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top