Nou in die verlede: die Foxstraatbeleg

  • 4

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

’n Afbeelding van Johannesburg (Foto: Wikipedia)

28–29 April 2020

Vandag is Foxstraat in sentraal-Johannesburg ’n saai eenrigtingstraat tussen onimposante geboue van ’n vervloë era. Die enigste geboue wat moontlik nog vermelding regverdig, is die eens gewilde Colosseum-teater, asook die Carlton Hotel, wat beskou word as Johannesburg se eerste wolkekrabber. Maar 45 jaar gelede was Foxstraat die middelpunt van waarskynlik een van die mees bisarre gyselaardramas in die geskiedenis van Suid-Afrika. Met hierdie artikel gedenk ons die gyselaardrama in die Israelse konsulaat, wat in die volksmond bekend sou staan as die Foxstraatbeleg.

Die oggend van Maandag 28 April 1975 was koel maar sonnig toe Galia Miron deur haar pa by die Hershleigh-gebou in Foxstraat afgelaai is. Sy was op pad na ’n werksonderhoud in die Israelse konsulaat op die vyfde vloer. Met haar aankoms stoot sy die swaar versterkte staaldeur oop om die konsulaat binne te gaan en daar, voor haar op die vloer, sien sy ’n man vasgebind lê. Nog ’n man, oënskynlik in sy middel-twintigs, het haar met ’n vriendelike glimlag gegroet en beveel om ook op die vloer te gaan lê, omdat hulle met ’n sekuriteitsoefening besig is. Totaal buite haar gemaksone het Miron ’n dringende behoefte ontwikkel om toilet toe te gaan, maar toe sy die man daarvoor toestemming vra, het hy aggressief geword en haar versoek geweier. Sy het toe maar teësinnig sy bevel gehoorsaam.

Hierdie man was David Protter, ’n 26-jarige Suid-Afrikaanse Jood wat in Johannesburg gebore is van redelik welvarende ouers. Blykbaar was Protter vanaf ’n jong ouderdom ’n gekwelde kind wat beskryf is as ’n boelie wat behae daarin gevind het om die lewe vir sy jonger sibbe onaangenaam te maak. Hy het ook van ’n vroeë ouderdom af ’n obsessie met speelgoedgewere en regte messe gehad. In ’n poging om hom aan dissipline bloot te stel, het sy ouers hom op ’n jeugleierskamp in Mosselbaai gestuur en daar is hy, tot hulle groot verligting, as kampeerder van die jaar aangewys. Gevolglik is hy die geleentheid gegee om ’n twee maande lange leierskapkursus in Israel by te woon, maar dit het nie lank geduur nie, toe word hy uit die kursus ontslaan. Na sy terugkeer na Suid-Afrika het hy by die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) aangesluit en is hy by 1 Seinregiment ontplooi, maar ook dit het nie lank gehou nie. Na sy ontslag is hy na die Burgermag oorgeplaas, waarna hy homself beskikbaar gestel het om lid te word van die elite Hunter Group, maar hy is nooit daarvoor gekeur nie. Sy aanspraak dat hy wel in daardie eenheid opgeneem is as ’n "karate- en ongewapendegevegsinstrukteur" is as sy eie fabrikasie ontmasker.

In 1970 het Protter na Israel teruggekeer en twee jaar later by die Israelse weermag aangesluit, maar hy is binne drie maande ontslaan weens sy geestestoestand. Volgens die Jewish Telegraphic Agency het ’n psigiatriese paneel hom selfs vir reserwediens ongeskik bevind. Kort daarna is hy gearresteer omdat hy homself as ’n kaptein in die Israelse valskermbataljon voorgedoen het. Hy het egter volgehou met hierdie identiteitsbedrog en is verskeie male daarvoor gearresteer en kort gevangenisstraftermyne opgelê, voor hy na Suid-Afrika gedeporteer is. Op ’n stadium na sy terugkeer is Protter ’n pos as veiligheidswag by die Israelse konsulaat aangebied. Omdat hy versuim het om te openbaar dat hy eens in Israel gewoon het, was sy werkgewers onbewus van sy vorige oortredings en sy veelbewoë loopbaan in die Israelse weermag. Aanvanklik het hy net vir ’n halfdag laegraadse roetinewerk vir die konsulaat gedoen. Na twee maande is sy pligte opgegradeer tot die vervoer van diplomatieke possakke na Jan Smuts-lughawe (vandag die Oliver Tambo-lughawe). Mettertyd het dit by Protter ’n obsessie geword dat die veiligheid by die konsulaat onvoldoende is. Hy het derhalwe in die geheim begin beplan hoe om die veiligheid van die konsulaat te "toets". Uiteindelik het hy op ’n plan besluit ingevolge waarvan hy die Israelse konsulaat in Johannesburg sou beset.

In Oktober 1974 het Protter se direkte hoof uitgevind dat hy wel al in Israel gewoon het, en hom daarmee gekonfronteer. Protter het toe erken dat hy die inligting weerhou het, waarop sy hoof aangedui het dat hy met die owerhede in Israel in verbinding sou tree om Protter se agtergrond te ondersoek. Twee weke later is Protter egter meegedeel dat hy in sy pos kon aanbly. Interessant genoeg, is generaal Rehaveam Zevi, spesiale antiterrorisme-adviseur van die Israelse eerste minister, later, ná die beleg, na Suid-Afrika gestuur om te ondersoek hoe ’n persoon met Protter se psigiatriese agtergrond hoegenaamd by ’n konsulaat as sekuriteitsbeampte aangestel kon word. In sy verslag het Zevi bevind dat niemand aanspreeklik gehou moet word vir Protter se aanstelling en sy volgehoue indiensname ten spyte van sy leuens nie. Hy het bevind dat Protter in diens gehou is omdat hy bewys het dat hy baie bevoeg vir sy taak was. Eenvoudig gestel, hy was die beste man vir die werk.

In November 1974 is majoor Giora Raviv (26) as die nuwe hoof van sekuriteit by die konsulaat aangestel. In teenstelling met Protter, het Raviv ’n uitmuntende loopbaan as valskermsoldaat in die Israelse weermag agter die rug gehad. Hy was een van die eerste soldate wat gedurende 1967 tydens die Sesdaagse Oorlog die Ou Stad van Jerusalem binnegedring het, en toe die Jom Kippur-oorlog in 1973 uitgebreek het, het hy hom sonder huiwering teruggehaas na Israel, van waar hy in Meksiko vakansie gehou het om bevel te neem van sy eenheid wat die Suezkanaal onder sy leiding oorgesteek het na die Wesbank.

Gedurende Februarie 1975 het Protter ’n Johannesburgse elektroniese-kommunikasie-maatskappy besoek en twee tweerigtingradio’s gehuur onder die valse voorwendsel dat hy in opdrag van die Israelse ambassade optree. Op sy versoek het die maatskappy spesiale radiosekuriteit vir die roepsisteem uitgewerk. Hiermee was Protter toe in staat om ononderbroke in verbinding met die konsulaat te bly. Intussen het hy gereël dat sy 19-jarige broer, Charles, ook ’n aanstelling by die konsulaat kry, en wel as deeltydse veiligheidswag. Hoewel dit nie duidelik is of Protter se reëling om sy broertjie aangestel te kry verband gehou het met die uitvoering van sy plan nie, het dit wel geblyk dat Charles ’n belangrike rol sou speel in die chaos en bloedvergieting wat weldra sou volg.

Om 08h10 op 28 April 1975 is majoor Raviv deur sy agt maande swanger vrou, Murit, voor die Hershleigh-gebou afgelaai. Hy het die gebou binnegegaan en die hyser na die vyfde verdieping geneem, waar Charles Protter hom gegroet en die konsulaat se deur vir hom oopgemaak het. Toe hy ingaan, loop hy hom vas in David Protter, gewapen met ’n Uzi-submasjiengeweer in die hand, sowel as ’n .45-rewolwer en .22-pistool in sy gordel. Toe Raviv vir David Protter vra wat aan die gang is, het dié aan hom verduidelik dat hy met ’n sekuriteitsoefening besig is. Vir Raviv as hoof van sekuriteit was hierdie verduideliking vanselfsprekend nie aanvaarbaar nie. Oënskynlik het daar toe ’n worsteling tussen die majoor en David Protter uitgebreek, waartydens Raviv drie maal geskiet en noodlottig gewond is. Protter het later tydens sy verhoor beweer dat Raviv daarin geslaag het om hom te ontwapen en dat hy wat Protter is, toe geglo het dat hy geskiet sou word en dus het hy probeer om die vuurwapen terug te neem toe die skote afgevuur is. Die polisie-ondersoek het egter Protter se weergawe weerspreek en daar is bevind dat Raviv twee maal van voor en een maal in die rug geskiet is. Dit beteken dus dat minstens een skoot afgevuur is toe die majoor sy rug op Protter gedraai gehad het. ’n Meer waarskynlike weergawe is dat Protter majoor Raviv geskiet het toe hy besef dat die majoor nie met sy fantasieë wou saamspeel nie en hom eerder wou verhinder om dit verder uit te leef.

Om 08h30 het die Israelse konsul-generaal in Johannesburg, Arieh Bustan, by die konsulaat opgedaag en ook hy is deur Charles Protter by die deur gegroet en binnegelaat. Toe hy binne was, het David Protter hom meegedeel dat hy besig is met ’n sekuriteitsoefening, waarop hy Bustan na ’n kamer agter in die gebou vergesel het waar nog ’n lid van die personeel, Yochai Shaked, alreeds vasgebind op die vloer gelê het.

Om 10h45 het Maurice Kaplan, ’n Suid-Afrikaans-gebore argitek uit Israel, by die konsulaat aangekom om dokumente te laat teken deur die visekonsul, Shemi Tsur. Kaplan is aanvanklik toegang geweier deur Charles Protter, maar Kaplan het daarop aangedring om Tsur te sien, soos hy vooraf gereël het. Protter het uiteindelik vir Tsur toegelaat on Kaplan buite die konsulaat te gaan sien, waar Kaplan ongeduldig by die ingang gewag het. Die oomblik toe Tsur buite kom, het hy in Hebreeus geskree dat die konsulaat oorgeneem was en dat almal so gou as moontlik die gebou moes verlaat. Hy self het hom met die trappe na onder gehaas. Protter het sy broer opdrag gegee om Tsur agterna te sit en na die konsulaat terug te bring. Tsur het daarin geslaag om tot op die grondvloer te vlug, maar is daar deur Charles Protter ingehaal, gevang en geboei. Teen hierdie tyd het Kaplan ook al tot op die grondvloer gevorder en het opgemerk dat die visekonsul deur Charles Protter aan ’n "Brasiliaanse man", ’n werknemer van die Brasiliaanse lugdiens Varig, wat toevallig ook op die grondvloer was, vasgeboei was. Toe hy hulle beide wou terugneem na die konsulaat, het die Brasiliaan geweier en Charles Protter het hom toe maar ewe gedwee weer losgemaak en na Kaplan gedraai (eie vertaling uit die Engels): "Hy het my toe gevra of ek nie aan die Israeli (Tsur) vasgeboei wou word nie. Ek het geantwoord ’natuurlik nie!' Die Israeli (Tsur) het my toe gesmeek om die polisie te bel. 'Ons kantore is beset,' het hy gesê." Charles Protter het hierop vir Tsur aan sy kraag gevat en hom teen die trappe op teruggeforseer na die konsulaat.

Later die oggend het Murit Raviv na die konsulaat teruggekeer om met haar man te praat, maar Protter het haar toegang geweier en haar deur een van die gyselaars laat weet dat daar ’n noodtoestand by die konsulaat heers en dat haar man na Pretoria is. Sy het hierop vertrek, maar na ’n uur teruggekeer en daarop aangedring dat Charles Protter haar inlaat. Uiteindelik het David Protter sy broer gemagtig om haar in te laat. Binne het sy opgemerk dat David Protter ’n kamoefleerdragbaadjie dra en ’n Uzi-submasjiengeweer in sy hand het, met twee handwapens in sy gordel. Toe sy vra waar haar man is, het David Protter haar beveel om te loop. Sy het geweier en gevra om die toilet te gebruik. David Protter het daartoe ingestem en ook die visekonsul se vrou toegelaat om haar te vergesel. In die privaatheid van die badkamer het mev Tsur Murit Raviv meegedeel dat David Protter haar man vermoor het. Sonder om enige tekens van emosie te toon, het Murit Raviv na David Protter gegaan en gevra of sy maar kon gaan. Protter het ingestem en sy het die konsulaat verlaat. Om een of ander onverklaarbare rede het sy egter nooit die polisie gebel nie. Op hierdie stadium het Protter en sy broertjie alreeds 17 gyselaars aangehou, meestal konsulaatpersoneel, maar daar was ook drie kinders onder die gyselaars.

Teen die tyd dat die agtiende persoon, Gadi Dror, gyselaar geneem is, was die polisie nog salig onbewus daarvan dat ’n gyselaardrama hom in Foxstraat afspeel. Dit wil egter voorkom dat daar ’n boodskap, hetsy by wyse van telefoon of teleks, na die Israelse ambassade in Pretoria deurgestuur is met die strekking dat alles nie pluis is by die konsulaat in Johannesburg nie. ’n Soortgelyke boodskap is in Jerusalem ontvang, van waar dit na die polisie in Pretoria deurgestuur is. Om 11h45 is twee polisiemanne na die konsulaat op die vyfde vloer, waar hulle Charles Protter agter sy lessenaar aangetref het. Hy het hulle doodluiters meegedeel dat alles in orde is, waarop hulle weer vertrek het.

Om 12h30 is generaal-majoor Mike Geldenhuys, bevelvoerder van die veiligheidstak van die polisie, deur die Israelse ambassadeur in Kaapstad geskakel met die versoek dat hulle net nog een keer gaan ondersoek instel by die konsulaat in Foxstraat, Johannesburg. Geldenhuys het onmiddellik die veiligheidspolisie by John Vorster-plein in Johannesburg opdrag gegee om te gaan ondersoek instel. Pogings deur luitenant-kolonel Joubert om die konsulaat telefonies te skakel was onsuksesvol. Toe hy egter uitvind dat Protter tweerigtingradio’s namens die ambassade gehuur het, het hy die verhuringsmaatskappy gekontak en hulle versoek om aan hom die frekwensie te verskaf waarop Protter se radio’s ingestel was. Oomblikke later het Protter ook die maatskappy gekontak en die voorafbepaalde kodewoord gegee wat sou aandui dat die konsulaat aangeval word. Die volgende oomblik skree Protter oor die radio dat die konsulaat beset is deur ses terroriste – drie Japannese en drie Libanese. Daarna verbreek hy kommunikasie. Wat hierna sou volg, gaan alle verstand en logika te bowe.

’n Halwe straatblok van die konsulaat af was daar die Carlton-sentrum, wat veral gewild was onder klante oor middagete. Die strate rondom die konsulaat was gedurende die middaguur gewoonlik vol met hierdie kopers. Om ongeveer 13h15 het alle hel losgebars. ’n Sarsie masjiengeweervuur het die skare uiteen laat spat. Verskeie mense is neergevel deur koeëls wat hul teikens gevind het. Sonja Brandt was op haar middagete-uitstappie toe sy sien hoe ’n vrou skielik voor haar neergevel word: "Ek het gedink dat sy ’n hartaanval of iets gekry het. Maar toe sien ek bloed by haar nek uitspuit. Ek het vooroor gebuk om te sien of ek haar kon help. Van die mans het haar opgetel. Toe hoor ek ’n masjiengeweer afgaan. ’n Man agter my het neergeslaan. Hy was in die maag geskiet en het gebloei." Mev Levitan, ’n bibliotekaresse, het die dood letterlik met ’n haarbreedte vrygespring toe ’n koeël deur haar hare gefluit het sonder om haar te verwond. Petrus du Plooy was minder gelukkig. Hy het ’n skare sien saamdrom in Von Wielighstraat, ’n paar meter van die konsulaatgebou af, en het oorgestap om te kyk wat aangaan. ’n Dwaalkoeël het hom getref en hom lewenslank verlam gelaat.

Baie van die slagoffers het al met Foxstraat langs gestap na die agterste muur van die Colosseum-teater. David Fieldman was ’n ooggetuie van die chaotiese tonele wat daar afgespeel het: "Hulle het mekaar teen die muur vasgedruk terwyl die terroriste op hulle gevuur het. Mense het van alle kante geskreeu namate die paniek versprei het. Hulle het in alle rigtings begin hardloop. Tussen die mense wat gelê en bloei het, het ek ’n klein seuntjie gesien wat in die been gewond was." Die polisie het opgedaag en met sporadiese sarsies die vuur beantwoord. Ambulanse wat opgedaag het, kon nie by die gewondes kom nie, want die paaie was deur nuuskierige toeskouers versper. Die gebied is uiteindelik deur die polisie afgesper. Die ongevalle-afdeling van Johannesburg se Algemene Hospitaal was ’n toneel van een groot warboel. Die gewondes is aanvanklik op trollies geplaas, maar daar was nie ’n voldoende aantal trollies om die invloei van gewondes te akkommodeer nie, met die gevolg dat sommiges sommer op die hospitaal se vloer moes lê. Minstens 40 gewondes het ingekom, party in ‘n ernstige toestand. Maar wonder bo wonder is niemand gedood nie.

Na ongeveer ’n halfuur het die skietery afgeneem; net nou en dan was daar ’n skoot deur ’n polisieman, of die geratel van ’n masjiengeweer vanuit die konsulaat se vensters. Galia Miron het plat op die konsulaat se vloer gelê uit vrees dat die polisie haar kon raakskiet: "Ek was soort van deel van die muur, want al die gewondes (in die konsulaat) is getref deur die Suid-Afrikaners wat van onder af geskiet het in ’n poging om hom te tref ..." Gedurende hierdie vroeë stadium is twee gyselaars, Evelyn Dakin en Edwin Molopo, gewond.

Die polisie het steeds op hierdie stadium aangeneem dat hulle met ’n bende terroriste te doen het, waarskynlik deel van die Japannese Rooi Leër (Rengo Sekigun). Die opdrag vanaf die destydse eerste minister, John Vorster, was onomwonde en duidelik aan die manne op die grond by Foxstraat: Onder geen omstandighede sal die terroriste toegelaat word om die gebou te verlaat om na enige plek te gaan nie. As een of al die gyselaars dan moet opgeoffer word, sal dit beskou word as noodsaaklike kollaterale skade. Hierdie houding is deur die Israelse regering onderskryf.

Net na 14h00 het David Protter die Carlton-sentrum per radio gekontak en gerapporteer dat van die gyselaars, insluitende hy self, gewond was en mediese behandeling nodig het. Toe hy hiervan hoor, het dr Calelis "Solly" Gottlieb, ’n Joodse medikus, sonder inagneming van sy eie veiligheid aangebied om die gewondes te gaan behandel. Voor hy in die konsulaat toegelaat is, moes hy eers sy klere uittrek totdat hy net in sy onderklere, sokkies en skoene geklee was. Toe die deur vir hom oopgemaak word, staan die dokter van aangesig tot aangesig met die ware terroris, David Protter. Nadat hy seker gemaak het dat die dokter ongewapen was, het hy hom na die gewonde Dakin en Molopo vergesel. Toe Gottlieb vir Protter meedeel dat hy dringend mediese voorraad nodig het, het Protter dit per radio met die polisie gereël, en die mediese voorraad is toe met ’n tou na die konsulaat opgehys. Protter het Gotlieb meegedeel dat nie hy of die gewondes die konsulaat sou kon verlaat nie, uit vrees dat hulle die ware toedrag van sake en sy identiteit aan die polisie sou oordra. Protter het op ’n stadium toegelaat dat Gottlieb met die polisie oor die radio praat om hulle so ver te kry om vuur te staak. Hy het gedreig dat indien hulle dit nie doen nie, hy twee kinders na die venster sou bring waar hy hulle sou skiet.

 Jap Burger (wat later ’n generaal sou word) was nog ’n jong offisier in die polisie toe hy deur luitenant-kolonel Joubert versoek is om na Foxstraat te gaan om vas te stel wat daar aan die gang is. Toe hy daar kom, vind hy kolonel "Rooi Rus" Swanepoel van die Brixtonse Moord- en Roofeenheid van die polisie agter die linkervoordeur van sy amptelike voertuig in die middel van die straat, in ’n klaarblyklike poging om die verkeer af te sny. Burger onthou:

Oral op die dakke van geboue rondom die Joodse konsulaat het gewapende lede van die uniformtak posisie ingeneem. Elke nou en dan het skote uit die gebou geklap en dan het die polisie teruggeskiet. Kolonel Swanepoel het dan met sy Walther HMK op die gebou gevuur en geskree "Come out you bloody cowards, come and fight like a man."

Gedurende die middag het verskeie senior offisiere opgedaag, insluitende die afdelingskommissaris, WH Kotze, brigadier Gert Prinsloo, hoof van Veiligheid, asook generaal-majoor Geldenhuys. Ook op die toneel was ’n brigadier van die Israelse intelligensiediens, wat gereël het dat water en kos na die konsulaat opgestuur word. Generaal-majoor Geldenhuys het dit egter verhoed, omdat hy van oordeel was dat ’n vrye vloei van voorraad na die terroriste net hulle weerstand sou versterk en die gyselaardrama onbepaald sou laat voortduur.

Kommandant Sybrand van der Spuy, bevelvoerder van 2 Verkenningsregiment (ook bekend as 2 Recce), ’n burgermag-spesialisregiment, was besig met sy burgerlike beroep toe hy hoor van die gyselaardrama by Foxstraat. Hy het dadelik Kommandement Witwatersrand geskakel en gevra dat hy en sy manne daar ontplooi word. Op daardie stadium was daar baie min, indien enige opleiding aan hetsy polisie- of gewone weermageenhede gegee om situasies soos die oorname van ’n gebou die hoof te bied. 2 Recce het egter wel hiervan ervaring gehad en kommandant Van der Spuy het soveel as wat hy moontlik kon van sy manne telefonies geskakel en hulle beveel om solank Uzi-submasjiengewere, outomatiese haelgewere, ligte masjiengewere, ammunisie en radio’s by hul basis te Doornkop te gaan trek.

Om 15h30 is Van der Spuy deur sy seniors gevra hoe lank dit hom sou neem om sy manne volkome toegerus op die toneel te kry. Die kommandant het geantwoord dat dit nie langer as twee ure sou neem nie. Binne 90 minute was 15 lede van 2 Recce inderdaad reeds ten volle uitgerus op die toneel by Foxstraat. Kommandant Van der Spuy het aan brigadier Germishuysen, bevelvoerder van Kommandement Witwatersrand, gerapporteer, wat Van der Spuy in bevel geplaas het van alle Staandemagsoldate wat by en om Foxstraat ontplooi was om alle ontsnaproetes af te sny. Maar soos die beleg voortgeduur het, het dit gou duidelik geword dat daar verwarring en onsekerheid onder die lede van die sekuriteitsmagte was oor wie oorhoofs in beheer was en waar die grense van elke afdeling en eenheid se jurisdiksie lê. Brigadier Germishuysen was van oordeel dat die oorname van ’n gebou deur terroriste ’n weermagaangeleentheid is. Daarom het hy aangeneem dat hy oorhoofs volkome in beheer was. Daarteenoor het generaal-majoor Geldenhuys weer gevoel dat aangesien dit ’n binnelandse bedreiging was, dit ’n polisie-aangeleentheid is en dat hy daarom oorhoofs in beheer was. Hierdie debat sou voortduur totdat generaal “Lang” Hendrik van den Bergh van die Buro vir Staatsveiligheid deur Vorster oorhoofs volkome in beheer geplaas is.

Gedurende die middag het verskeie joernaliste op die toneel aangekom om oor die ontluikende drama verslag te doen. Een van hulle was die betreklik jong De Wet Potgieter van Die Oggendblad. Hy kan goed onthou hoe kolonel Swanepoel daar op die toneel opgemerk het dat die polisie dringend ’n spesiaal-opgeleide taakmag benodig om situasies soos hierdie te hanteer. Ook op die toneel was die nuweling-televisieaanbieder wyle Chris Saunders. Hoewel daar op daardie stadium nog nie algemene televisie-uitsendings in Suid-Afrika was nie, was hierdie nuusstorie net te groot om te ignoreer. Saunders onhou wat hy gesien het toe hy op die toneel aankom (eie vertaling uit die Engels): "Koeëls wat deur die lug trek, polisiehonde wat ons rondjaag, polisie wat wild in die rigting van die (Hershleigh-) gebou skiet wanneer hulle sien ’n kamera is op hulle gerig."

Intussen het kommandant Van der Spuy en sy manne ongesiens by die geboue in die omgewing inbeweeg om 12 masjiengeweerstellings op te stel wat die konsulaat uit alle hoeke sou dek. Maar die polisie- en weermaglede se radio’s was nie op mekaar ingestel sodat hulle met mekaar kon kommunikeer nie. Die risiko van blootstelling aan mekaar se vuur was dus wesenlik. Gevolglik was die gevaarlikste deel van die 2 Recce-operateurs se taak om die Hershleigh-gebou te beveilig die vermyding van vriendelike vuur. Die manne moes oor die dakke seil en dan vinnig, een na die ander, teen die brandtrappe ophardloop sonder om hulle te lank aan die polisie onder in die straat bloot te stel. Die polisie het op ’n stadium nie geweet wie is vriend en wie is vyand nie en aangesien hulle gedink het daar is verskeie Rooi Leër-terroriste in die gebou, kon hulle enige gewapende persoon op of naby die gebou vir ’n terroris aansien.

Die waargenome feite onder in die straat het egter stadigaan ’n ander prentjie begin skilder. Burger onthou hoe hy 9 mm-patroondoppies onder die vensters van die konsulaat opgetel het. Hy het opgemerk dat die doppies die Ster van Dawid op hulle gegraveer gehad het. Hy het toe vir die Israelse brigadier gevra wie van sy manne aan die geveg deelgeneem het, maar die brigadier het woedend enige Israelse deelname ontken. ’n Rukkie later het Burger ’n jong man op en af sien stap in die straat met ’n tweerigtingradio waarop hy praat en nou en dan opkyk na die konsulaat se kant toe. Hy het luitenant-kolonel Joubert daaroor ingelig, waarop hy Burger beveel het om die man na John Vorster-plein te neem vir ondervraging. By die polisiestasie sou Burger uitvind dat die man Charles Protter is. Hy deel Burger toe mee dat hy opdragte van sy broer, David Potter, vanuit die konsulaat ontvang. Toe hy gevra is of daar enige terroriste in die konsulaat is, het Charles Protter geantwoord dat daar geen "vreemde persone" in die konsulaat is nie. Hy het Burger ook meegedeel dat hy vermoed dat sy broer David Protter die enigste persoon verantwoordelik vir al die skietery was. Burger is hierop terug na Foxstraat en het luitenant-kolonel Joubert oor die nuwe verwikkelinge ingelig.

Tussen 19h00 en 20h00 het die Israelse ambassadeur, dr Unna, en die Suid-Afrikaanse minister van justisie, Jimmy Kruger, uit Kaapstad in Johannesburg aangekom. Teen hierdie tyd het generaal Van den Bergh alreeds bevel oorgeneem en ’n hardewarewinkel naby die toneel opgekommandeer en in sy ops-kamer omskep. Hierop het hy radiokommunikasie met die konsulaat ingestel en met die onderhandelinge begin. Intussen het dr Gottlieb binne-in die gebou volgehou om Protter te probeer oorreed om van die gyselaars vry te laat. Hy het belowe dat indien hy die gyselaars vrylaat, niemand sy rol sal bekend maak of openbaar dat hy alleen was nie. Gottlieb het later gesê (eie vertaling uit die Engels): "My grootste kommer was dat die polisie sal inkom en dat daar ’n klomp slagoffers sal wees." Uiteindelik het Protter ingestem om Gottlieb en die gewondes vry te laat, op voorwaarde dat daar kos opgestuur sou word. Generaal Van den Bergh het ingestem en drie draagbare is om 22h30 op die vyfde vloer gelos. Die gewonde Dakin en Molopo, asook die liggaam van Giora Raviv is op die draagbare geplaas. Gottlieb en ’n histeriese Shemi Tsur het die konsulaat verlaat, maar verbasend genoeg kom dit voor asof nie een van die vrygelate gyselaars die polisie onmiddellik ingelig het van wat in die konsulaat aan die gang is nie. Was dit uit vrees aan die kant van Dakin en onkunde aan die kant van Molopo, en het Gottlieb homself miskien moreel gebonde geag aan die onderneming wat hy aan Protter gegee het dat hy nie sou uitpraat nie?

Burger en majoor (later brigadier) Schalk Visser is dadelik na die hospitaal toe om met die twee gewonde gyselaars te praat. Evelyn Dakin wou egter nie praat nie, want sy het gevrees "hy gaan hulle doodmaak". Dit was alreeds vir die polisielede verdere bevestiging dat daar net een persoon betrokke was. Daarna is hulle na Edwin Molopo en op ’n vraag hoeveel terroriste daar in die gebou was, het hy verbaas na Burger opgekyk en geantwoord (eie vertaling uit die Engels): "Nee meneer, daar is nie terroriste in die gebou nie, dis die polisie wat op ons skiet en ons weet nie hoekom nie. Die enigste gewapende persoon in die gebou is mnr Protter, die sekuriteitswag; hy beskerm ons teen die polisie." Burger en Visser is hierop terug na Foxstraat, waar hulle aan generaal Van den Bergh teruggerapporteer het dat die "bende terroriste" volgens alle weergawes eintlik maar net uit Protter bestaan het. Volgens Burger was Unna hewig ontsteld by die aanhoor hiervan en het hy dit net daar as onsin verwerp. Generaal Van den Bergh was egter meer geneë om dit te glo:

Generaal Van den Bergh het ’n ruk lank na ons gestaar en toe die radio geneem en vir David Protter gesê: "Come on David, we know it is you. Talk to me." Na ’n lang ruk het David Protter die radiotelefoon geneem en gesê: "OK General, I knew that when I let those people free, you're going to find out the truth."

Protter en Van den Bergh het voortgegaan om deur die nag te onderhandel, met Protter wat verskeie eise gestel het. Hy wou hê dat Unna in die middel van die straat gaan staan sodat hy hom kon identifiseer voordat hy met hom praat. Van den Bergh het hierdie versoek geweier. Toe wou Protter hê dat daar vir hom vervoer na die lughawe en ’n vlug uit die land gereël word. Ook dit is geweier. Protter het nog verdere eise gestel waarvan elkeen deur die generaal geweier is.

Om ongeveer 05h30 die oggend van 29 April 1975 het David Protter oor die radio aangekondig dat hy homself aan Van den Bergh wou oorgee. Sy voorwaarde was egter dat alle polisieskerpskutters uit die gebied onttrek moet word. Dit was een voorwaarde waaraan Van den Bergh bereid was om gehoor te gee. Omdat hy gevrees het dat Protter gewapen of op ’n selfmoordmissie sou uitkom met handgranate aan sy lyf gebind, en ’n gyselaar sou vermoor voor hy selfmoord pleeg, het Van den Bergh aan kommandant Van der Spuy opdrag gegee om sy manne gereed te hou (hulle was mos nie polisieskerpskutters nie) om in so ’n geval Protter te skiet voor hy nog lewens sou neem. Van der Spuy het met vyf van sy skerpskutters in ’n winkelvenster stelling ingeneem, hulle wapens gerig op die deure van die Hershleigh-gebou. Protter het eers nog ’n paar gyselaars vrygelaat voor hy met die oorblywende gyselaars met die hysbak na onder is. Hy het seker gemaak dat hy te alle tye omring was deur gyselaars, wat dit vir Van der Spuy en sy skerpskutters moeilik sou maak om hom te skiet sonder om die risiko te loop dat van die gyselaars ook gewond kon word. Sodra hulle egter buite was, het kolonel Swanepoel vir Protter gegryp, hom deursoek om te verseker hy is ongewapen, en hom toe gearresteer. Protter is daarna onseremonieel in ’n polisievoertuig geboender en na John Vorster-plein vervoer. Die Foxstraatbeleg was verby.

Tydens die hele beleg van 21 uur is een persoon gedood en 45 gewond. Nuusblaaie het heelwat teenstrydige berigte gepubliseer; een het byvoorbeeld beweer dat vier mense gedood is – twee gyselaars en twee omstanders. Een koerant het die getal beseerdes op so hoog as 82 gestel. Nie een van hierdie berigte kon egter bevestig word nie. As ’n sydelingse opmerking is dit interessant om te noem dat die beeldmateriaal wat Cliff Saunders en sy span van die gyselaardrama geneem het, die eerste nuusberig was wat op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai is. Tydens die beleg het die SAUK nog nie ’n televisienuusdiens gehad nie (die eerste televisie-uitsendings sou eers op 5 Januarie 1976 ’n aanvang neem), maar die beeldmateriaal wat daardie dag opgeneem is, is as so belangrik geag dat dit op die eerste dag toe daar met toetsuitsendings begin is, 5 Mei 1975, uitgesaai is.

Vir die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste was die uitkoms van die beleg ’n ongemaklik noue ontkoming. Dit het groot gapings uitgewys in hulle vermoëns om soortgelyke situasies te hanteer. Dit het ook die belangrikheid beklemtoon om maatreëls te hê vir situasies waar daar noue samewerking moet wees tussen die polisie en lede van die weermag (’n situasie wat maar alte bekend is aan Suid-Afrikaners op die oomblik). Daarbenewens het dit ook daartoe bygedra dat die polisie en ander regeringsamptenare tot die besef gekom het dat ’n teenterroriste-eenheid binne die polisie onontbeerlik is. Hoewel hierdie behoefte alreeds gedurende die vroeë 1970’s geïdentifiseer is, het dit die Foxstraatbeleg gekos om die burokrasie te laat wakker skrik en die pas van inwerkingstelling te versnel. Op 1 Februarie 1976, minder as 10 maande later, is die Suid-Afrikaanse Polisie Spesiale Taakmag dan ook gestig. Soos uit elke krisis en tragedie, was daar ook uit hierdie een enkele positiewe gevolge.

Charles Protter is ook gearresteer en later daaraan skuldig bevind dat hy 18 mense teen hulle wil aangehou het (in eenvoudige taal, “vryheidsberowing”), sowel as aan oortreding van die wapens- en ammunisiewetgewing van daardie tyd, en tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan die helfte voorwaardelik opgeskort is. Wat David Protter aanbetref, hy het volgehou dat hy onder opdragte van Jerusalem ’n sekuriteitsoefening gehou het, maar die hof het klaarblyklik nie sy weergawe as redelik moontlik waar aanvaar nie. Daar is uiteindelik bevind dat hy ’n "klinies sertifiseerbare psigopaat" is en hy is skuldig bevind aan die moord op majoor Giora Raviv, 45 aanklagte van poging tot moord, die “vryheidsberowing” van 18 persone en drie oortredings van die wapens- en ammunisiewetgewing van daardie tyd. Die hof het egter in sy guns bevind dat hy verminderd toerekeningsvatbaar was weens sy geestesongesteldheid of geestesgebrek en hy is derhalwe tot altesaam 59 jaar gevangenisstraf gevonnis. Omdat sommige vonnisse samelopend uitgedien moes word, is hy effektiewe gevangenisstraf van 25 jaar opgelê. In Julie 1991, nadat hy 16 jaar gevangenisstraf uitgedien het, is hy vrygelaat.

Na sy vrylating het Protter in ’n poging om ’n bestaan te maak, ironies genoeg verskeie sekuriteitsfirmas gestig. Hy het hom uiteindelik in Tzaneen gevestig, waar hy ’n sekuriteitsfirma met die naam Rescue 911 op die been gebring het. Hy is ’n bekende persoonlikheid in hierdie dorp op sy aangepaste BMW K1200LT-toermotorfiets, toegerus met ’n rooi noodlig en hy self tot die tande gewapen met wapens wat wissel van messe tot vuurwapens. Hy bedryf ook deesdae ’n "krisissentrum" wat as ’n veilige hawe dien vir veral slagoffers van geslagsgebaseerde geweld. Volgens alle inligting word Protter as ’n waardevolle lid van sy gemeenskap beskou, veral weens sy blitsige reaksie op enige noodgeval; baie vinniger as die plaaslike polisie. In ’n gebied waar veral die boeregemeenskap hulself besonder blootgestel voel aan gewelddadige aanvalle, word Protter se toewyding oor ’n wye spektrum hoog op prys gestel.

Desnieteenstaande is Protter vandag nog steeds ’n omstrede figuur. Hy het onlangs onder die aandag van minstens een Facebook-groep gekom wat daarop ingestel is om persone te ontmasker wat hulleself valslik as voormalige SAW-soldate voordoen wat aan bepaalde eenhede behoort het, of aan bepaalde veldslae deelgeneem het, of wat bepaalde medaljes verwerf het. Hierin word hy opgemerk waar hy volgens ’n foto die gevegsuniform en kentekens van sekere elite-eenhede dra. Vir oudlede van daardie gevegseenhede en ander dienspligtiges wat wel hulle land gedien het, is die beeld van iemand met ’n geskiedenis soos dié van Protter, wat volgens hulle waarneming hulle eenheid se kentekens dra, nie net ’n klap in die gesig vir hulle eenheid nie, maar ook ’n belediging vir hulle gevalle kamerade.

Protter se bedoelings teenoor sy gemeenskap is waarskynlik goed. Hy was klaarblyklik sedert sy vrylating uit die gevangenis daartoe in staat om sy fantasieë as ’n alleenloperheld binne die grense van die reg uit te leef, en in die proses het hy baie goeie werk gedoen. Dit moet nie uit die oog verloor word nie. Maar terselfdertyd moet sy rol in die mees dramatiese gyselaardrama in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ook nie vergeet word nie. Elke jaar op 28 April gedenk majoor Giora Raviv se familie en vriende nog sy dood. David Protter se naam sal altyd onlosmaaklik verbind word aan die Foxstraatbeleg 45 jaar gelede, want om te vergeet kan beskou word as om te aanvaar, om te vergewe. Maar vergifnis is nie ons s’n om te gee nie, dit lê binne die mag en beheer van die slagoffers en hulle geliefdes. Al wat ons kan doen is om te onthou.

Erkennings. Ek sou nooit die groot hoeveelheid inligting wat ek versamel het om hierdie artikel te skryf, in so ’n kort tydjie byeen kon gebring het sonder die hulp van ’n klein groepie SANW- en SAPD-lede nie. Heelwat dokumente waartoe ek tydens my navorsing toegang gehad het, is eintlik nog steeds geklassifiseerd en die inhoud kon dus nie gebruik word nie. Dit het egter tog ’n unieke insig gebied in die binnewerkinge van hierdie operasie. Spesiale dank aan Sieg Minnie en brigadier (afgetree) Hennie Heymans. Mag die helde van die verlede, foute en al, helderder as die skurke in ons kollektiewe geskiedenis voortleef.

Bibliografie

Associated Press. 1975. Johannesburg siege ends; police hold Israeli agent. The New York Times, 29 April.

Belling, M. 2015. Forty years on, Giora Raviv's killing commemorated, SA Jewish Report, 1 Julie.

Bernstein, A en Y Shargil. 1975. Lone gunman surrenders to authorities in Johannesburg. Jewish Telegraphic Agency – Daily News Bulletin, 42:83, 30 April.

Beukes, A. 2019. Kommentaar deur genl Andre Beukes oor die historiese figuur: Generaal van den Bergh. Nongqai, 10(1), 1 Januarie.

Botten, SF. 2017. We dare: History of 2 Reconnaissance Regiment South African Special Forces. Kalifornië: CreateSpace.

Burger, J (met permissie ontvang van Heymans, H). 2020. Foxstraat beleg: Generaal Hendrik van den Berg. E-pos-korrespondensie, 20 April.

De Bruyn, B. 2016. The road to a sex and slavery hell passes through Tzaneen. The Citizen, 17 Oktober.

Hanoch, M. 2008. Crazy April. Haaretz, 9 Oktober. 

Onbekende skrywer. 1977. American Jewish Yearbook, 77:503–14.

Onbekende skrywer. 2005. Dr No's demise gave TV life. IOL, 9 Mei.

Onbekende skrywer. 2019. Tzaneen: Do you know this man? Letaba Herald, 16 Februarie.

Polakow-Suransky, S. 2010. The unspoken alliance: Israel's secret relationship with apartheid South Africa. New York: Pantheon Books.

Potgieter, DW. 2020. Enige inligting oor die Foxstraatbeleg, 28 April 1975. E-pos-korrespondensie, 20 April.

Potgieter, D, D van Zyl, R van Rooyen en R Allan. 2014. Siege of the Israeli Consulate in Johannesburg. Nongqai, 57, 2 Julie.

Protter, D. 2015. Dave Protter Rescue 911 Tzaneen. YouTube, 14 Junie.

Rescue 911 / 24 hours.

Sacks, G en S Sacks. Onbekende jaar. Solly and Gerald Sacks – Ex-Arcadians. JewishGen.

Stiff, P. 1999. The silent war: South African recce operations 1969–1994. Alberton: Galago.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    hennie van deventer

    Die dagblad Beeld was toe ses maande oud ‒ dit het op 16 September 1974 die eerste keer verskyn. Ek was nuusredakteur. Jack Viviers, hoofverslaggewer, was in beheer op die toneel. Hy het op tipiese flambojante Jack Viviers-manier 'n "bevelkamer" in die Carlton-gebou ingerig waarvan kopie en foto's na die koerant in Voorhoutstraat (eintlik Millerstraat maar ons het van die Voorhout gehou as amptelike adres), Doornfontein, versend is. Ek dink 'n mens sou met reg kon beweer dat dit Beeld se eerste groot storie was. Hy het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Sê van Jack Viviers wat jy wil; hy was 'n bobaas-verslaggewer. Beeld se dekking kon dalk maar hier vermeld gewees het?

  • Dankie Jako vir jou baie interessante artikel en deeglike navorsing. Is daar meer inligting oor die Protter-hofsaak beskikbaar en die regsargumente wat aangevoer is mbt Protter se toerekeningsvatbaarheid?

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    "’n Dwaalkoeël het hom getref en hom lewenslank verlam gelaat."

    Tydens Protter se verhoor het die aanklaers hierdie persoon (toe in 'n rystoel) geroep om te kom getuig. Protter se advokate het beswaar gemaak op die basis dat die getuienis van daardie slagoffer geen bewyswaarde gehad het nie want die onderliggende feite was gemene saak. Hulle het aangevoer dat die aanklaers die getuie wou roep uitsluitlik vir sy emosionele inpak.

    Sedertdien was ons howe nogal gevoelig oor getuienis van daardie aard alhoewel ons onlangs na ontstellende foto's van 'n slagoffer se hoofbeserings moes kyk.

    'n Besondere insiggewende artikel - ek weet nou vir die eerste keer wat daar gebeur het. Baie dankie daarvoor.

  • Ek het onlangs op koerantuitknipsels afgekom wat my pa nagelaat het. Hy was bevelvoerder van een van die Burgermag Regimente wat binne 'n paar uur ontplooi was om steun te verleen in die Foxsstraat beleg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top