Nou in die verlede: Die dag toe David Pratt Suid-Afrika se eerste minister geskiet het

  • 0

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

Hendrik F Verwoerd (foto: Wikipedia)

Donderdag 9 April 2020

Sestig jaar gelede, op Saterdag 9 April 1960, het die 51-jarige boer en sakeman David Beresford Pratt by die jaarlikse Randse Paasskou te Milnerpark, Johannesburg opgedaag. Dit was ’n spesiale geleentheid vir Suid-Afrika, wat op hierdie dag die 50ste jaar sedert Uniewording gedenk het. Maar Pratt was nie daar om in die feesvierings te deel nie. Hy was daar om die sogenaamde argitek van apartheid Suid-Afrika, Hendrik Frensch Verwoerd, te skiet.

Minder as drie weke voor hierdie geleentheid, op 21 Maart, is 69 swart mense deur die polisie doodgeskiet by die Sharpeville-polisiestasie tydens ’n betoging bestaande uit ongeveer 7 000 swartes, georganiseer deur die Pan-Africanist Congress (PAC), teen die paswette. Hierdie skietery het in die daaropvolgende weke tot verdere betogings, protesoptogte en onluste regoor die land gelei. Op 30 Maart het eerste minister Verwoerd en sy Afrikanernasionalistiese regering ’n nasionale noodtoestand afgekondig.

Intussen was David Pratt, wat pas vanaf oorsee teruggekeer het, diep bekommerd oor die politieke warboel wat hy in Suid-Afrika aangetref het. As lid van Margaret Ballinger se Suid-Afrikaanse Liberale Party (wat as medestigter die bekende skrywer Alan Paton gehad het) het Pratt hom dikwels in die openbaar sterk teen apartheid uitgespreek. Pratt het egter ook van jongs af aan epilepsie gely en na berig word was hy op skool ook bekend as ’n alleenloper. Hy was twee keer getroud en is vir die eerste keer in 1946 vir depressie behandel, na sy egskeiding van sy eerste vrou, Mary Hatrick. Gedurende 1954 het Pratt beweer dat hy ’n boodskap ontvang het wat hy aan die hele Suid-Afrika moes oordra, want hy was baie bekommerd oor Afrikanernasionalisme wat besig was om die land te verswelg en die apartheidsisteem wat besig was om geïmplementeer te word. ’n Psigiater het hom gediagnoseer as iemand wat ly aan "grootheidswaanhallusinasies van die politiekeredderstipe". Hy het ook gely aan spanningsverwante oortuiting wat hom laat beweer het dat hy deurgaans orrelmusiek in sy kop kon hoor, wat hy dan geïnterpreteer het as hemelse boodskappe.

Pratt was feitlik deurgaans onder psigiatriese behandeling. Nadat hy haar gedreig het, het sy tweede vrou, Patty van Heijningen, ’n Nederlanse burger, hom ook in 1958 verlaat en met haar twee kinders na Den Haag teruggekeer. As toegewyde Katoliek was Van Heijningen nooit van plan om van Pratt te skei nie, maar sy was ook nie van plan om ooit weer na hom terug te keer nie. Pratt het hulle egter met ’n vuurwapen in sy sak tot in Amsterdam gevolg, waar hy op Schiphol-lughawe aangekeer en na Suid-Afrika teruggestuur is.

Hierdie insident is blykbaar voorafgegaan deur Pratt se ontdekking dat sy vrou ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Sy toestand het hierna aansienlik vererger, tot so ’n mate dat hy manies geword het. Sy neuroloog het aan sy suster voorgestel dat sy ’n curator bonis vir hom laat aanstel omdat hy nie meer sy sake na behore kon bedryf nie. Gedurende hierdie tyd het hy ook sy neef saam met wie hy ’n besigheid bedryf het, ernstig aangerand. Waarskynlik ten einde die familie die verleentheid te spaar is geen kriminele klagte egter teen hom aanhangig gemaak nie. Pratt is egter na ’n ander neuroloog, Solly Jacobson, vir verdere behandeling verwys. Dit is interessant om te weet, teen die agtergrond van Pratt se verdere gedrag, dat hierdie dr Jacobson ’n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en ’n goeie vriend van Joe Slovo was.

Nadat sy pogings om met Van Heijningen versoen te raak misluk het, probeer Pratt hulle jong dogtertjie ontvoer tydens ’n skivakansie in Europa. Toe hy egter besef dat die familie snuf in die neus begin kry van sy planne, het hy dit laat vaar. Met sy terugkeer vanaf hierdie uitstappie het Pratt weer in depressie verval. Soos hy al meer desperaat begin word het weens sy huweliksprobleme, het hy ook al meer geestelik versteurd geraak. Hy het drie keer probeer om sy eie lewe te neem. Die bloedbad by Sharpeville en die daaropvolgende politieke onrus het net daartoe bygedra om sy grootheids- en vervolgingswaan verder aan te wakker. David Pratt was volgens alle waarnemings ’n wandelende psigologiese tydbom. Die krisis wat besig was om in die land te ontstaan het bloot gedien om die tydskakelaar aan te skakel.

Die noodtoestand was steeds in volle swang toe Verwoerd die Randse Skou by die ou skouterrein sou open. Sy toespraak was ook daarop gemik om die 50ste jaar sedert Suid-Afrika ’n unie geword het, te herdenk. Ten spyte van die noodtoestand het ongeveer 3 000 mense na die skouterrein gestroom om die Eerste Minister se toespraak te hoor.

Na sy toespraak het Verwoerd, vergesel van ’n afvaardiging BBP’s, insluitende die hoofbestuurder van die skou, Charles James Laubscher, en Verwoerd se vriend senator Connie C Schabort, na die wennerspodium gegaan om na die vee in die arena te kyk. Verword was deurgaans omring deur ’n sterk teenwoordigheid van lyfwagte. As gevolg van die onlangse gebeure in die land was hy meer ongewild as ooit onder die swart meerderheidsbevolking, asook onder hulle wit simpatiseerders. Net twee weke voor hierdie dag het ’n veiligheidswag by ’n politieke saamtrek op Meyerton ’n nota aan Verwoerd oorhandig wat gelui het: "Vandag maak ons Verwoerd dood" (vertaling uit die Engels my eie; ook elders, tensy anders vermeld). In die lig hiervan het die staat se veiligheidsdienste en ook die organiseerders van die skou dit nodig geag om die veiligheidsreëlings rondom Verwoerd te verskerp. Niemand het egter voorsien dat enigiemand ’n aanval op hom sou loods in die BBP-losie self nie, daarom was geen veiligheidswagte behalwe Verwoerd se persoonlike lyfwag, majoor Carl Richter, daar ontplooi nie.

Na afhandeling van die prysoorhandigings het Verwoerd, Laubscher en Schabort na die BBP-losie teruggekeer. Verwoerd was besig om langs sy vrou Betsie te gaan sit, met Schabort aan sy linkerkant. Laubscher was aan sy regterkant besig om met iemand te praat, toe hy hoor hoe iemand Verwoerd se naam uitroep. Toe hy hom in daardie rigting draai, was Laubscher net betyds om te sien hoe ’n man minder as ’n meter van hom af staan met ’n .22-handwapen in sy hand. Voor Laubscher kon reageer, het die eerste skoot reeds geklap en Verwoerd is in die wang getref. Luitenant-kolonel Geoffrey Marchant Harrison, president van die Witwatersrandse Landbou-unie, wat naby die aanvaller gestaan het, het daarin geslaag om sy hand te gryp voor hy die tweede skoot kon afvuur. Die man het egter tog daarin geslaag om nog ’n skoot af te vuur, maar hierdie skoot was van koers af en het Verword in die oor getref. Dit word algemeen aanvaar dat Harrison se vinnige optrede waarskynlik Verwoerd se lewe gered het.

’n Ooggetuie, Ruth Pilkington, het net ’n paar rye agter Verwoerd gesit en roep die gebeure soos volg in herinnering:

Mev Verwoerd het "Hendrik!" geskree. Voor hy ineengestort het, het hy met sy hand op sy linkerwang gedruk. Toe die gewapende man die wapen rig om sy derde skoot af te vuur, het die president van die Landbou-unie opgespring en hom gegryp, met hulle arms – en die vuurwapen – wat in die lug rondswaai. Ons het oopmond in ons voorste ry stoele toegekyk, net soos enigiemand anders in die vuurlyn, totdat iemand skree "Af!" en toe val ons almal op die grond.

Die vuurwapen is uiteindelik uit die man se hand geforseer en hy is oorrompel en op die grond vasgepen deur Harrison, Richter, privaat mense en ’n polisieman wat daar naby was. Die aanvaller, wat geïdentifiseer is as David Pratt, is gearresteer en van die BBP-losie weggeneem, in ’n polisievoertuig ingeboender en vinnig na Marshallplein-polisiestasie geneem. Toe die polisie opmerk dat Pratt vreemd optree, het hulle hom na die Forensiese Mediese Laboratorium oorgeplaas vir observasie.

Pandemonium het intussen by die skou losgebars waar mense in alle rigtings laat spaander het, onseker of daar moontlik nog ’n skerpskutter iewers kon wees. Ander het verdwaas rondgestaan, onseker wat om te doen. Verwoerd self het op die grond gelê met bloed wat vryelik uit die wonde aan sy gesig gevloei het. Schabort het gebukkend oor hom gestaan en terwyl hy Verwoerd se kop vashou, desperaat om hulp geroep. Te midde van die verwarring het Schabort iemand opgemerk wat van die onderkant af na die BBP-losie probeer opklim, en oënskynlik onder die indruk dat dit nog ’n aanvaller kan wees, het hy ’n glasbeker met water gegryp en dit in die rigting van die persoon daar onder geslinger. Absolute chaos.

Binne minute na die skietery was daar egter ’n ambulans op die toneel om Verwoerd hospitaal toe te neem. Daar is met hom na die nabygeleë Johannesburg-hospitaal gehaas, waar hy deur ’n neuroloog, Terry Kerr, behandel is. Volgens dr Kerr het die eerste koeël die regterkant van die nek, net onder die skedel, binnegedring en teen die binnekant van die skedel vasgeslaan. Wonderbaarlik het die projektiel al die belangrike slagare gemis, asook die slukderm en lugpyp. Die tweede koeël het regdeur die regteroordrom gedring en Kerr het opgemerk: "Net ’n wonderwerk kon hom gered het. As ’n swaarderkaliber-wapen gebruik was, was dit verby met hom."

Terselfdertyd het Pratt se dogter Susan in Johannesburg by die huis gesit en lees toe sy ’n kakofonie van geluide buite in die straat hoor. Sy onthou:

Die skril geskree van sirenes het deur die stil Saterdagmiddag gesny en my my boek laat neersit en na buite laat haas om te sien watter drama hom daar afspeel. ’n Konvooi van motors met loeiende sirenes het in Oxfordweg, twee honderd treë van ons huis af, verbygejaag.

Dit was die konvooi wat die ambulans vergesel het waarin Verwoerd na die hospitaal geneem is. Oomblikke later het haar stiefpa by die huis opgedaag en haar vertel dat haar pa so pas die Eerste Minister geskiet het.

Die owerhede wou Verwoerd na die Volkshospitaal verskuif, omdat hulle gevoel het hy sou veiliger in ’n "Afrikanerhospitaal" wees. Twee dae later is Verwoerd na Pretoria oorgeplaas, waar beide projektiele chirurgies verwyder is. Aanvanklik het dokters gevrees dat die tweede koeël veroorsaak het dat Verwoerd die gehoor in sy regteroor verloor het, maar hy het tog ten volle van al sy wonde herstel. Om die waarheid te sê, op 29 Mei, minder as ’n maand na die skietery, het Verwoerd alreeds weer sy amptelike pligte hervat.

Pratt is onder die noodregulasies van 30 Maart aangehou. Hy het eers op 20 en 21 Julie vir ’n voorlopige ondersoek in die Johannesburgse landdroshof verskyn nadat dit vasgestel is dat sy optrede nie tot Verwoerd se dood sou lei nie. Die prokureur-generaal, RW Rein QC, wou wag tot na Verwoerd se ooroperasie, want ingevolge die reg soos dit toe was, kon ’n persoon van moord in plaas van poging tot moord aangekla word indien sy slagoffer binne 101 dae sou sterf as direkte of indirekte gevolg van die betrokke aanval.

Voor die voorlopige ondersoek het die polisie vermoed dat daar ’n verbintenis kon wees tussen Pratt en die nota met die doodsdreigement wat op 26 Maart aan Verwoerd oorhandig is. Maar na ’n kort dog intensiewe ondersoek kon hulle nie die doodsdreigement met Pratt verbind nie. Hulle kon ook geen bewyse vind dat Pratt met iemand anders of ’n ander groep saamgewerk het om die aanval te beplan nie. Hoewel Pratt lid was van die Liberale Party en ’n stigterslid van die party se skurkagtige militante vleuel, die National Committee of Liberation (NCL), was daar geen getuienis om hierdie twee instansies met Pratt se optrede te verbind nie. In elk geval was die meeste Liberale Party-lede, insluitende Alan Paton, sterk gekant teen enige vorm van geweld en sou hulle beslis nie so ’n aanval goedgekeur het nie.

Op 12 September 1960 het Pratt se verhoor in die Hooggeregshof begin. Interessantheidshalwe kan genoem word dat die regter-president van die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika, Frans Herman Lourens Rumpff, self die regterstoel ingeneem het. Hy sou later bekendheid verwerf as die regter wat al die beskuldigdes in die opspraakwekkende Rivionia-hoogverraadverhoor vrygespreek het en wat ook uiteindelik hoofregter sou word. Issie Maisels, Pratt se advokaat, het in stryd met sy kliënt se opdrag ’n formele aansoek tot die hof gerig om te bevind dat Pratt weens geestesongesteldheid of -gebrek nie daartoe in staat is om die verrigtinge dermate te begryp dat hy sy verhoor na behore kan voer nie, en dat hy derhalwe sonder meer tot staatspasiënt (soos dit vandag bekend staan) verklaar moes word. Maisels het die Sondag voor die verhoor sou begin, met Pratt gekonsulteer en was daarna oortuig dat Pratt sonder twyfel nie daartoe in staat was om verhoor te word nie, veral nie nadat hy Pratt se uitvoerige "ontsnappingsplan" moes aanhoor nie:

Met intense vertroulikheid het hy (Pratt) voorgestel dat ek tydens my openingsrede by die verhoor iets moet doen om die aandag van hom af te lei, waartydens hy dan uit die beskuldigdebank sou spring en deur ’n oop venster ontvlug. ’n Kar sou dan vir hom wag om hom na Lanseria-lughawe te neem van waar hy, volgens hom, ’n gehuurde vliegtuig na Swaziland sou neem.

Maisels was nie bereid om met Pratt se fantasieë saam te speel nie en voor die verhoor se aanvang het hy Rein genader en hom daarvan ingelig dat hy beplan om Pratt se geskiktheid om verhoor te word in geskil gaan plaas. Rein het Maisels egter meegedeel dat hy nie so ’n aansoek sou opponeer nie. Tydens hierdie selfde ontmoeting tussen die advokate het Rein Maisels vertel van ’n kommerwekkende gerug wat in Pretoria rondgaan dat Pratt se motief vir sy aanval op Verwoerd gegrond is op die feit dat die man met wie Patty van Heijningen ’n buite-egtelike verhouding gehad het, inderdaad Verwoerd self was. Maisels se reaksie was "om oor die absurditeit van die gerug te lag". Maisels onthou egter dat "Rein by [hom] die versekering wou hê dat [hy] nie hierdie onsin tydens die verhoor sou opper nie" – waartoe hy "natuurlik ingestem het".

Pratt het daarop aanspraak gemaak dat hy "die beliggaming van apartheid" geskiet het, maar gedurende die verhoor het dit al hoe meer duidelik geword dat die aanval op sigself waarskynlik ’n impulsiewe besluit was. Professor Hurst, hoof van psigiatrie by die Johannesburg-hospitaal en die Tara-kliniek, het die aand na die aanval met Pratt gepraat. Hurst het voor die hof getuig dat Pratt hom vertel het dat hy die vorige dag gesien het hoe "ongeveer 100 mense" agter-in ’n polisievangwa gegooi word. Op daardie stadium was Pratt steeds onbewus daarvan dat die Randse Skou die volgende dag sou begin. Hy het eers die aand voor die skou gehoor dat Verwoerd dit sou open. Die volgende oggend het Pratt sterk gevoel dat iemand iets moet doen "en dit kan verdomp net sowel ek wees, aangesien ek so sterk daaroor voel". Tydens sy eie onbesonne getuienis het Pratt die hof meegedeel: "Suid-Afrika moet die slymerige slang van apartheid afgooi wat hom aan die keel beet het." Hy voeg egter by: "Praktiese apartheid kan vanselfsprekend nie dadelik verdwyn nie", maar "die beginsel van apartheid moet omvergewerp word … en dan is dit vir die gekleurde deel van die bevolking om te besluit hoe lank die praktiese deel in stand moet bly." Dit kom dus voor asof, volgens Pratt, apartheid beëindig moes word, maar nie onmiddellik nie, want dit kon nog op die oomblik ’n doel dien. Daarbenewens, indien hy nie die swart meerderheid insluit by "die gekleurde deel van die bevolking" nie, kom dit voor asof hy die bruin gemeenskap in beheer wil plaas van die tempo waarteen "praktiese apartheid" afgeskaf moet word. 

In ieder geval, Pratt het Hurst meegedeel dat toe hy by die skouterrein aankom, hy oorgestap het om na die Eerste Minister se toespraak te luister. Volgens hom het die toespraak hom glad nie beïndruk nie; inteendeel, die drang "om iets te doen" het net al sterker geword. Hy het gesê dat as die skare Verwoerd uitgejou of gehekel het, sou dit waarskynlik sy drang bevredig het. Toe die toespraak egter met luide, geesdriftige applous begroet is, het Pratt na die wennerspodium oorbeweeg en gedink: "Ek sal nie hierdie man doodmaak nie, maar ek sal hom eerder buite aksie stel vir ’n maand of so om hom tyd te gee om dinge te deurdink." Volgens Hurst het Pratt toe besluit dat as hy iets wil doen, sal hy dit dadelik moet doen. Hy het hierop na die BBP-losie gestap en Verwoerd geskiet. Pratt het Hurst meegedeel dat hy bereid was om homself op te offer vir sy land. Hurst was egter nie oortuig van Pratt se onbaatsugtigheid nie. Hy het voor die hof getuig: "Pratt begryp baie duidelik dat sy optrede verkeerd was in die oë van die reg, maar regverdig dit ingevolge sy politieke redder-martelaar-grootheidswaan-hallusinasies. Sy berou is vir homself en sy besigheidsvennote."

Hurst het voorts getuig dat hy bevind het dat Pratt se "bedoeling om te vermink gevorm was onder druk van sy geneigdheid tot hallusinering, [wat] volgens my opinie Pratt ontneem van kriminele aanspreeklikheid".

Regter Rumpff het Hurst se mediese verslag, asook dié van vier ander psigiaters aanvaar, wat eenparig bevind het dat Pratt nie die nodige regsaanspreeklikheid gehad het om aan ’n misdaad skuldig te wees nie en dus ook nie aanspreeklik kan wees vir die skiet van die Suid-Afrikaanse Eerste Minister nie. Rumpff het Pratt dus tot staatspasiënt verklaar. Dit sou behels dat hy in ’n psigiatriese hospitaal in aanhouding bly en indien sy toestand nooit sou verbeter sodat hy wel tussen reg en verkeerd kon onderskei en sy handelinge daarvolgens rig nie, sou hy tot sy dood daar bly. Pratt is op 29 September 1960 na die Oranje-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Daar het hy in ’n hewige depressiewe toestand verval omdat sy vrou hom nooit kom besoek het nie. Hy was ook ongelukkig omdat hy elke dag vanaf 5 nm in sy kamer toegesluit is. Dr Jacobson het hom gereeld besoek en was baie bekommerd oor sy toestand. Jacobson het by die hospitaalowerhede gepleit dat Pratt vroeg uitgelaat word op afwesigheidsverlof, maar hulle was van oordeel dat sodanige verlof nie voor ten minste ’n jaar van sy aanhouding oorweeg behoort te word nie.

Op 1 Oktober 1961, kort voordat hy vir afwesigheidsverlof oorweeg sou word, het David Beresford Pratt homself om die lewe gebring (toevallig op sy 53ste verjaardag). Die oorsaak van dood word aangegee as verwurging as gevolg van sy psigiatriese toestand van "epileptiese psigose".

Wat Verwoerd aanbetref: Hy sou Suid-Afrika in 1961 tot republiekwording lei, terwyl hy verdere rassistiese apartheidswetgewing sou deurvoer en beheer oor die hardhandige afdwinging daarvan sou uitoefen vir nog ses jaar. Die ironie van die saak is dat die gepoogde sluipmoord niks gedoen het om Verwoerd en die Nasionale Party van hulle apartheidsbeleid te laat afsien nie. Om die waarheid te sê, die gepoogde sluipmoord het eerder daartoe bygedra om Verwoerd meer doelgerig te laat optree. Die feit dat hy die aanval oorleef het, het hom en sy aanhangers net meer oortuig dat dit ’n "positiewe boodskap van God" uitgestuur het.

Maar uiteindelik sou ook sy "goddelike beskerming" tot ’n einde kom. Op 6 September 1966, drie dae na ’n historiese ontmoeting met die eerste minister van Lesotho, hoofman Leabua Jonathan, was die verwagting dat Verwoerd ’n belangrike beleidstoespraak in die parlement sou maak. Hy het egter nooit die kans gekry nie. Toe hy sy sitplek in die Volksraadsaal inneem, het ’n geestesversteurde parlementêre bode, Dimitri Tsafendas, ’n dolk van onder sy klere uitgetrek en Verwoerd vier keer in die bors gesteek. Parlementslede het vinnig ingespring om Tsafendas te ontwapen en in bedwang te bring en ’n ambulans was gou by om Verwoerd hospitaal toe te neem. Hierdie keer was alles egter tevergeefs. Hendrik Frensch Verwoerd is by aankoms dood gesertifiseer.

Vandag word Verwoerd hoofsaaklik onthou as argitek van ’n veragtelike, onmenslike sisteem van onderdrukking. Sy nalatenskap word geag as een van haat en verdeling van rasse, sy leierskap as een van kru outoritarisme. Swart nasionalistiese partye in Suid-Afrika en die buiteland het sy sluipmoord as ’n oorwinning vir die vryheidstryd beskou, en hulle beskou dit selfs vandag nog so, selfs al het dit geensins daartoe bygedra om die apartheidsmasjien te stop of selfs net spoed te laat verminder nie. Ingevolge die vryheidsnarratief word Tsafendas vandag as vryheidsheld beskou, ten spyte van die feit dat hy volgens alle bewyse, net soos Pratt, kranksinnig was. Desnieteenstaande geniet David Pratt nie naastenby soveel erkenning nie. Net onder ouer, wit liberale geniet die naam David Beresford Pratt ’n mate van erkenning. Max du Preez skryf:

Pratt het nogal iets van ’n held geword onder anti-apartheid aktiviste, wat daarvan gehou het om hom aan te haal waar hy sê: "As jy weet jy moet iets doen en jy doen dit nie, is jy nie vry nie." Deur "die beliggaming van apartheid" te skiet, het Pratt oënskynlik homself bevry.

Pratt en Tsafendas se verhale, soos Loammi Wolf verduidelik, illustreer maar net weer hoe die optrede van ’n geestesversteurde persoon wanvertolk en opgehemel kan word as heldedade, bloot omdat die dade voorkom asof dit die doelstellings van die anti-apartheidbewegings bevoordeel. Pratt was weliswaar gekant teen apartheid (of ten minste Verwoerd se weergawe daarvan) sowel as teen Afrikanernasionalisme. Maar "gelykheid vir almal" was nie baie hoog op sy prioriteitslys nie. Hy wou oënskynlik net die menseregte van gekleurdes herstel, en dan met verdrag en heelwat later die swart bevolking bekendstel aan gelyke regte, maar dan gebaseer op meriete.

David Pratt is dus nooit as die held vereer soos hy gehoop het nie. Inteendeel, sy lewe was ’n klaaglike mislukking – selfs die daad waarvoor hy beroemd (of berug) sou word, het misluk. Sy verhaal dien as ’n sombere herinnering aan die onstuimige tye waardeur ons land in die verlede is; tye waaraan ons hoop om nooit ooit weer blootgestel te word nie.

Bibliografie

Cazenove, S. 2019. Your father just shot Verwoerd. Sunday Times, 14 April.

Gevisser, M. 2019. The moral struggles imparted by Verwoerd. Business Day, 27 September.

Maisel, I. 1998. A life at law: The memoirs of IA Maisels, QC. Johannesburg en Kaapstad: Jonathan Ball.

Onbekende regisseur. 2015. Dr Verwoerd shot. YouTube, 21 Julie. British Movietone.

Onbekende skrywer. 2019. David Pratt’s daughter’s memoir explores why her father attempted to murder Verwoerd. Times Live, 2 April.

Onbekende skrywer. Onbekende jaar. South African prime minister and architect of apartheid assassinated. 

Schoeman, BM. 1975. Die sluipmoord op dr Verwoerd. Pretoria: Strydpers.

Wolf, L. 2012. David Beresford Pratt: die mens agter die sluipmoordpoging. LitNet, 12 April.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top