Nou in die verlede: Die dag toe Adolf Eichmann, "die verpersoonliking van die banaliteit van boosheid", gevange geneem is

  • 1

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

Adolf Eichmann (Foto: Wikipedia)

11 Mei 2020

Gedurende die aand van 11 Mei 1960, net buite Buenos Aires, Argentinië, het ’n middeljarige werknemer van die Mercedes-Benz-aanleg, per bus huiswaarts gekeer. Terwyl hy vanaf die bushalte te voet huis toe loop, nader ’n jonger man hom van voor. Hierdie jonger man was ’n agent van die Israelse geheime diens (Mossad) met die naam van Peter Malkin, met die opdrag om die middeljarige man te ontvoer en na Israel te bring waar hy tereg moes staan op aanklagte van onder andere misdade teen die Joodse volk. Want die middeljarige man was niemand minder nie as die SS-Obersturmbahnführer Adolf Eichmann. Hierdie week gedenk ons die waaghalsige operasie om een van die wêreld se mees berugte en glibberigste oorlogmisdadigers vas te trek.

Eichmann het in 1932 by die Oostenrykse Nazi-party aangesluit. Hy is vroeg raakgesien as ’n behendige burokraat en toegewyde anti-Semiet. Hy het dus vinnig deur die partyrangorde gevorder en teen 1935 het hy alreeds bygedra tot sy party se beplanning van die oplossing van die "Joodse Vraagstuk" – ’n debat binne die party oor hoe die Europese Jode behandel moes word. Eichmann het sy party gehelp om ’n logistieke oplossing te vind vir die pleeg van die daaropvolgende massamoord van die Jode. Hy het die Wannsee-konferensie in 1942 bygewoon, waartydens ’n groep hooggeplaaste Nazi-offisiere die besonderhede van wat hulle die Finale Oplossing genoem het, gekoördineer het. Hoewel Eichmann self nie deelgeneem het aan die besluitneming by die konferensie nie, het hy die notule gehou en die inligting voorberei sodat amptenare met hoër range dit kon gebruik om vas te stel presies hoe die Europese Joodse gemeenskap uitgemoor moes word. Na die konferensie het Eichmann aktief deelgeneem aan die Joodse uitwissing, in die volksmond bekend as die holocaust deur die deportasie en massamoord van honderde duisende Jode in Duitsbesette gebiede te koördineer.

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, toe dit alreeds duidelik was dat die Nazi’s die stryd verloor het, is Eichmann deur die Amerikaanse magte gevange geneem. Maar hy het daarin geslaag om te ontsnap, en deur sy identiteit herhaaldelik te verander het hy deur Europa gereis. In Italië is hy deur Rooms-Katolieke priesters en biskoppe wat die Nazi’s goedgesind was, skuiling gebied en uiteindelik gedurende 1950 na Argentinië uitgesmokkel.

In Argentinië het hy die naam Ricardo Clement aangeneem. Sy gesin het later daar by hom aangesluit en hulle het eintlik ’n relatief onopsigtelike, nederige bestaan gevoer met Eichmann wat uiteindelik aangestel is as ’n voorman by die Mercedes-Benz-fabriek. Maar hy was nie die enigste Nazi in Argentinië nie en hy het ook nie sy verlede teenoor die ander Nazi’s geheim gehou nie. Eichmann het sosiale verbintenisse met Nazi-vlugtelinge soos die berugte Auschwitz-dokter, Josef Mengele, gehad en het selfs onderhoude aan die pro-Nazi-verslaggewers Willem Sassen en Eberhard Fritsch toegestaan, waartydens hy gesê het dat hy gefouteer het deur nie al die Europese Jode te laat uitmoor nie (vertaling uit die Engels my eie; ook elders, tensy anders vermeld): "Ons het nie ons werk behoorlik gedoen nie ... Daar was meer wat gedoen kon word."

Gerugte van Eichmann se teenwoordigheid in Argentinië was reeds ’n geruime tyd sedert die 1950’s in omloop en dit het ook uiteindelik in Europa, die VSA en Israel bekend geword. Nie die Amerikaners of Wes-Duitsers was bereid om op hierdie gerugte te reageer nie, maar uit die aard van die saak was Israel gretig om Eichmann vir sy dade tereg te laat staan. Dit was uiteindelik te danke aan Lothar Hermann, ’n blinde vlugteling na Argentinië nadat hy in die Dachau-konsentrasiekamp naby München aangehou was, dat die Israeli's uitgevind het presies waar in Argentinië Eichmann hom bevind het. Hermann se dogter, Sylvia, het in 1956 met ’n jong man met die naam Klaus Eichmann uitgegaan. Klaus het met sy pa se Nazi-prestasies gespog. Dit het Hermann beweeg om aan ’n Duitse aanklaer van Joodse afkoms met die naam Fritz Bauer te skryf dat hy weet waar Eichmann hom bevind, waarop Bauer vir meer getuienis gevra het dat Eichmann hom wel in Argentinië bevind. Hermann het hierop vir Sylvia op ’n feitesending gestuur na die Eichmann-woning in San Fernando, ’n industriële gemeenskap ongeveer 20 km van die Buenos Aires-middestad. Sylvia het toe wel vir Adolf Eichmann by sy huis ontmoet, maar hy het haar meegedeel dat hy Klaus Eichmann se oom is. Kort daarna het Klaus ook by die huis opgedaag en Sylvia het gemerk dat hy Eichmann as Vati (Pappie) aanspreek. Hierdie inligting het Bauer aan die Mossad-direkteur, Isser Harel, deurgegee, wat op sy beurt weer operateurs afgevaardig het om waarnemings te gaan doen. Aanvanklik kon daar egter geen konkrete bewyse gevind word dat Ricardo Clement eintlik Adolf Eichmann was nie.

Drie jaar later, op 1 Maart 1960, het Harel vir Zvi Aharoni, hoofondervraer van Sjin Bet (die Israelse veiligheidsagentskap), na Buenos Aires gestuur, en na ’n ondersoek wat verskeie weke geduur het, kon Aharoni wel die ware identiteit van Eichmann bevestig. Argentinië was op daardie stadium alreeds berug daarvoor dat hulle die uitlewering van Nazi’s wat daar geskuil het, geweier het. Israel se eerste minister, David Ben-Gurion, het derhalwe besluit om nie met ’n futiele uitleweringsaansoek te begin nie, maar om eerder vir Eichmann gevange te laat neem en na Israel te laat bring om verhoor te word.

’n Mossad-operateur, Rafi Eitan, is aangewys as die leier van ’n agtman-"grypspan". Die meeste van die agente in hierdie span se families is gedurende die holocaust uitgewis. Een van hulle was Peter Malkin, wat sy ouer suster, Fruma, en haar drie kinders so verloor het.

Die agente het in April in Buenos Aires aangekom nadat elk op ’n verskillende roete daarheen gevlieg het ten einde nie aandag te trek nie. Hulle het Eichmann se roetine vir verskeie dae onder observasie gehou en so vasgestel dat hy saans altyd op dieselfde tyd met dieselfde bus naby sy huis aankom. Dan loop hy van die bushalte af met Garibaldistraat op tot by sy eenvoudige, onopsigtelike huis. Die span het beplan om hom te gryp terwyl hy op ’n stil gedeelte van die pad langs ’n stuk oop veld stap. Malkin was aangewys om hom fisies te gryp.

Laat die middag van 11 Mei 1960 het die span na San Fernando vertrek. Hulle het Eichmann se bus ingewag, maar tot hul skok ontdek dat hy nie daarop is nie. Die span was op die punt om die hele operasie af te las toe ’n volgende bus ’n halfuur na die vorige een by die bushalte stilhou. Hierdie keer het Eichmann wel van die bus afgeklim en in die rigting van die agente begin stap op pad na sy huis toe. Malkin het vinnig sy handskoene aangetrek, want hy wou nie met sy prooi velkontak maak nie. Daarna het hy in die rigting van Eichmann begin stap en hom regoor die oop stuk veld ontmoet. Toe hy regoor Eichmann kom, het hy hom in Spaans aangespreek: "Uno momentito, Señor" ("Net ’n oomblikkie, Meneer"). Op daardie stadium het Eichmann vermoedelik paniekbevange geraak en probeer vlug, maar twee ander spanlede het sy vlugroete afgesny. Malkin het hom vasgegryp en hom af grond toe gestoei en hom in ’n voertuig geboender, waar hulle hom op die vloer onder ’n kombers weggesteek het.

Hulle het hom na ’n veilige huis wat deur Mossad bewoon is, geneem, waar hy vir nege dae aangehou is terwyl sy identiteit by herhaling nagegaan en bevestig is. Interessant genoeg het Harel gedurende hierdie tydperk ook probeer om Mengele op te spoor, want hulle het inligting gehad dat hy hom ook in Buenos Aires bevind. Harel het gehoop om Mengele saam met Eichmann na Israel te bring, maar Mengele het toe alreeds sy laaste bekende adres in die stad verlaat en dit was onbekend waar hy hom bevind het. Gevolglik is pogings om hom ook te ontvoer laat vaar. Volgens wat Eitan later vertel het, was die span bang dat enige verdere optrede om Mengele vas te trek die Eichmann-operasie in gevaar kon stel. 

Om ongeveer middernag op 20 Mei 1960 is Eichmann deur ’n dokter wat deel van die span was, onder verdowing geplaas en as deel van die span as ’n oënskynlik besope lid van die El Al-bemanning aan boord van ’n El Al Bristol-Britannia-vliegtuig uit Argentinië gesmokkel. Dit was dieselfde vliegtuig waarop ’n Israelse afvaardiging ’n paar dae tevore aangekom het om die Argentynse 150-jarige onafhanklikheidsvieringe by te woon. Daar was spannende oomblikke op die lughawe toe die vlugplan langer as gewoonlik geneem het om goedgekeur te word. Uiteindelik het die vliegtuig na Israel vertrek en op pad by Dakar, Senegal, geland om brandstof in te neem. Op 22 Mei 1960 het hulle in Israel aangekom en Ben-Gurion kon die volgende middag Eichmann se arrestasie aan die Knesset bekend maak. Nadat hy vir 15 jaar gevangeneming vermy het, was Eichmann uiteindelik ’n gevangene in Israel.

In Argentinië het Eichmann se ontvoering woedende, gewelddadige anti-Semitiese reaksie onder verregse elemente uitgelok. Die Argentynse regering het in Junie 1960 ’n dringende sitting van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad aangevra nadat onderhandelinge met Israel misluk het. Hulle het die arrestasie en ontvoering van Eichmann as ’n aanslag op hulle soewereiniteit beskou. In die daaropvolgende debat het Israel se saakgelastigde, Golda Meir (wat later Israel se eerste minister sou word), aangevoer dat die ontvoerders nie Israeli-agente was nie, maar private individue, en derhalwe kon die insident afgemaak word as "’n geïsoleerde oortreding van die Argentynse reg". Op 23 Junie het die Veiligheidsraad Resolusie 138 aangeneem wat bepaal het dat Argentinië se soewereiniteit geskend was en dat Israel dienooreenkomstig moet reparasies maak. Op 3 Augustus het Argentinië en Israel ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin die skending van Argentynse soewereiniteit erken is, maar waarin ook ooreengekom is dat die geskil daarmee afgehandel is. Die Israelse Hooggeregshof het dan ook bevind dat die omstandighede van Eichmann se gevangeneming geen invloed op die wettigheid van sy verhoor sou hê nie.

Dit is interessant om te let op die reaksie van die Amerikaanse Central Intelligence Agency (CIA) op Eichmann se gevangeneming. Volgens CIA-dokumente wat in 2006 gedeklassifiseer is, het sy gevangeneming nie net in die CIA tot kommer gelei nie, maar ook in die Wes-Duitse Bundesnachrichtensdienst (BND). Beide agentskappe het toe alreeds vir twee jaar geweet dat Eichmann in Argentinië skuil, maar het nie opgetree nie omdat dit nie hul beste belange, gesien teen die breër konteks van die Koue Oorlog, sou dien nie. Maar noudat Eichmann wel gevange geneem was, het beide die CIA en BND hulle bekommer oor wat hy sou kon kwytraak oor iemand soos die Wes-Duitse regering se veiligtheidsadviseur Hans Globke. Globke was die mede-outeur van verskeie stukke anti-Semitiese Nazi-wetgewing, insluitende die berugte Neurenberg-wette. Die gedeklassifiseerde dokumente het ook bewys dat beide agentskappe van Eichmann se kollegas gebruik gemaak het om op kommunistiese lande in Oos-Europa te spioeneer. Hierdie noue samewerking van die CIA en sy filiale met Nazi’s waardeur hulle nie net gehelp is om die gevolge van hul dade vry te spring nie, maar dat selfs van hulle dienste gebruik gemaak is, bly tot vandag toe een van die donkerste episodes in die CIA se geskiedenis.

Intussen is Eichmann na die gefortifiseerde polisiestasie by Yagur in Israel geneem, waar hy aangehou is. Die Israelse vervolgingsgesag was huiwerig om hom net op dokumentêre en mondelinge getuienis voor ’n hof te daag, en derhalwe is hy vir nege maande vir ondervraging aangehou. Die ondervraer, hoofinspekteur Avner Less van die nasionale polisiediens, het dit opvallend gevind dat Eichmann nie die enorme omvang en erns van sy misdade besef het nie en dus ook geen berou daarvoor getoon het nie.

Die verhoor het op 11 April 1961 begin – presies 11 maande na Eichmann se gevangeneming – voor ’n spesiale tribunaal in die Jerusalemse Distrikshof. Dit is gehou by die Beit Ha'am, ’n ouditorium in sentraal-Jerusalem. Tydens elke hofsessie het Eichmann in ’n koeëlvaste glaskas gesit om hom te beskerm teen enige gepoogde aanslae op sy lewe. Die regsbasis waarop die aanklagte teen hom ingebring is, was die Israelse Nazi and Nazi Collaborators (Punishment) Law van 1950, en ingevolge hierdie wet het hy tereggestaan op 15 strafregtelike aanklagte, waarby ingesluit was misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade, misdade teen die Joodse volk en lidmaatskap van ’n misdadige organisasie (wat in Suid-Afrikaanse terme sou bekendstaan as rampokkery). Drie regters het die saak bereg: Moshe Landau, Benjamin Halevy en Yitzhak Raveh. Die vervolging is gelei deur die Israelse prokureur-generaal, Gideon Hausner, bygestaan deur sy adjunk, Gabriel Bach, en Tel Aviv se distriksaanklaer, Yaakov Bar-Or. Eichmann se verdedigingspan is gelei deur die Duitse regsgeleerde Robert Servatius en sy regsassistent, Dieter Wechtenbruch. Op daardie stadium het buitelandse regsgeleerdes geen locus standi in Israelse howe gehad nie, dus moes die Israelse wetgewing gewysig word om dit moontlik te maak dat diegene wat op halsmisdade teregstaan, wel van buitelandse regsverteenwoordigers gebruik mag maak. Tydens ’n Israelse kabinetsitting kort na Eichmann se gevangeneming het Israel se minister van justisie, Pinchas Rosen, die voorstel om die bestaande reg te wysig geregverdig deur te verklaar: "Ek dink dit sal onmoontlik wees om ’n Israelse regsverteenwoordiger te vind, hetsy Jood of Arabier, wat sal instem om hom (Eichmann) te verdedig."

Die Israelse regering het intussen seker gemaak dat die verhoor wye en prominente dekking sou kry. Capital Cities Broadcasting Corporation (CCBC) van die VSA het eksklusiewe regte bekom om die verhoor te verfilm vir televisie-uitsending. Die film van die verrigtinge is daagliks per vliegtuig na die VSA vervoer sodat dit die volgende dag daar uitgesaai kon word. Heelwat groot nuusblaaie van regoor die wêreld het verslaggewers na die verhoor gestuur en die verloop van die verrigtinge by wyse van voorbladberigte uitgebasuin. Die verhoorsaal is so aangepas dat sommige joernaliste die verrigtinge op geslotebaantelevisie kon volg, en dan was daar ook nog 750 sitplekke beskikbaar in die ouditorium self. Onder die joernaliste was daar ook die Amerikaanse politieke filosoof van Duitse afkoms, Hannah Arendt, wat vir die New Yorker verslag sou doen. Arendt sou Eichmann later beskryf as "die verpersoonliking van die banaliteit van boosheid", aangesien hy na haar mening ’n gewone persoonlikheid gehad het wat "nóg skuld, nóg haat" uitgestraal het.

Die verhoor het oor agt maande gestrek, met die aanklaer wat 56 dae geneem het om sy saak aan te bied. Honderde dokumente is as getuienis voorgelê en die getuienis van 112 getuies is aangebied – heelwat van hulle holocaust-oorlewendes. Hausner was daarop uit nie net om Eichmann se skuld te bewys nie, maar om getuienis aan te bied wat die hele holocaust sou dek ten einde daarmee ’n volledige rekord daarvan voor die hof te plaas. Servatius het egter by herhaling beswaar aangeteken wanneer getuienis wat nie direk op Eichmann betrekking het nie, aangebied is, en sy besware is meestal gehandhaaf.

Tydens Eichmann se eie getuienis het hy daarmee volgehou dat hy eintlik geen ander keuse gehad het as om bevele uit te voer nie, want hy was met ’n eed van lojaliteit aan Adolf Hitler daartoe verbind. Hy het verder aangevoer dat hy nie die besluite waarvoor hy nou teregstaan, geneem het nie, maar dat dit deur ander hooggeplaaste Nazi’s, soos die Gestapo-hoof, Heinrich Müller, hoof van die Sicherheitsdienst (SD), Reinhard Heydrich, Shutzstaffel- (SS-) hoof Heinrich Himmler en Hitler self geneem is. Servatius het ook aangevoer dat besluite wat deur die Nazi-regering geneem was, handelinge van die staat was en daarom nie beregbaar is by wyse van ’n normale regsproses nie. Eichmann het getuig dat hy ’n gevoel van tevredenheid en verligting ervaar het na die afsluiting van die Wannsee-konferensie, want toe ’n duidelike besluit eers eenmaal deur sy seniors geneem is om die Jode uit te wis, het hy gevoel die saak is nou uit sy hande uit en dat hy dus van alle skuld onthef is. Op die laaste dag van sy ondervraging het hy erken dat hy verantwoordelik was vir die reëling van die vervoer van die slagoffers na die konsentrasie- en uitwissingskampe, maar volgehou dat hy nie rede het om oor die gevolge van hierdie dade van hom skuldig te voel nie.

Tydens kruisondervraging het Hausner by herhaling probeer om Eichmann sover te kry om te erken dat hy persoonlik aanspreeklik was. Eichmann het erken dat hy nie van die Jode gehou het nie en dat hy hulle as "opponente" of "teëstanders" beskou het, maar volgens hom het hy nooit gevoel dat hulle totale uitwissing geregverdig was nie. Hausner het egter getuienis opgediep waarvolgens Eichmann in 1945 sou gesê het: "Ek sal laggend in my graf spring, want die gevoel dat ek vyf miljoen menslike wesens op my gewete het, is vir my ’n bron van groot tevredenheid." Eichmann het hierdie stelling verdedig deur te sê dat hy verwys het na "vyande van die Ryk" soos die Sowjetsoldate. Maar gedurende latere ondervraging deur die regters het hy erken dat hy eintlik na die Jode verwys het en bygevoeg dat die opmerking ’n akkurate weergawe van sy opinie op daardie tydstip was.

Op 12 Desember 1961 is uitspraak gelewer. Eichmann is skuldig bevind aan 15 aanklagte van misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade, misdade teen die Joodse volk en lidmaatskap van ’n misdadige organisasie. Die hof het hom daaraan onskuldig bevind dat hy persoonlik enigeen doodgemaak het of dat hy in beheer was van die aktiwiteite van ’n moordeenheid bekend as die EinsatzgruppenHy is egter verantwoordelik gehou vir die haglike omstandighede op die deportasietreine en vir die verkryging van Jode om daardie treine te vul. Benewens sy skuldigbevinding aan misdade teen Jode, is hy ook skuldig bevind aan misdade teen Poolse en Sloweense burgers, asook teen sigeuners. Hy is verder skuldig bevind aan lidmaatskap van drie organisasies wat tydens die Neurenberg-verhore as misdadig bevind is, naamlik die Gestapo, die SD en die SS. By oorweging van vonnis het die hof tot die slotsom gekom dat Eichmann nie net bevele gehoorsaam het nie, maar dat hy hom heelhartig met die Nazi-doelstellings vereenselwig het en dat hy ’n sleutelspeler in die volksmoord was. Op 15 Desember 1961 het die hof Eichmann ter dood veroordeel om aan die galg te sterf.

’n Hele reeks appèlle en versoeke om begenadiging deur sy regsverteenwoordigers en familie is almal afgewys en om 20h00 op 31 Mei 1962 is Eichmann meegedeel dat sy finale aansoek om appèl ook afgewys is. ’n Paar uur later, die oggend van 1 Junie 1962, is Adolf Eichmann tereggestel. Ironies genoeg het die feit dat hy gehang is, aan sy stelling in 1945 dat hy in sy graf sou spring, ’n byna profetiese eggo gegee.

Eichmann se laaste woorde was volgens verslae:

Lank lewe Duitsland. Lank lewe Argentinië. Lank lewe Oostenryk. Hierdie was die drie lande waaraan ek die sterkste verbind was en wat ek nie sal vergeet nie. Ek groet my vrou, familie en vriende. Ek is gereed. Ons sal binnekort weer ontmoet, soos dit die lot van alle mense is. Ek sterf terwyl ek in God glo.

Eichmann se liggaam is veras en sy as is in die Middellandse See gestrooi, buite Israelse gebiedswaters.

Eichmann se verhoor en die mediadekking daarvan het opnuut die belangstelling in die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog laat opvlam. Die gevolglike toename in die publikasie van memoires en geskrifte deur deskundiges het gelei tot groter publieke bewuswording van die Joodse volksmoord. Die verhoor het wye mediadekking in Wes-Duitsland geniet en verskeie Wes-Duitse skole het aangeleenthede wat tydens die verhoor na vore gekom het, by hulle leerplanne ingesluit. In Israel het getuienis tydens die verhoor daartoe gelei dat daar ’n dieper begrip ontstaan het, veral onder die jonger geslagte, van die invloed wat die holocaust op die oorlewendes daarvan gehad het. Vir die eerste keer sedert die Neurenberg-verhore is oorlewendes toegelaat om hulle ervarings op rekord te plaas en deur ’n amptelike kanaal aan die wêreld bekend te maak. Gevolglik het dit baie daartoe bygedra om die populêre wanbegrip dat die Jode hulle soos "skape na die slagting" laat lei het, ongedaan te maak.

So ’n herontwaking van herinneringe aan die Joodse volksmoord sou waarskynlik nooit plaasgevind het as dit nie vir die Eichmann-verhoor was nie. Om die waarheid te sê, die verhoor sou ook nooit plaasgevind het as dit nie was vir die optrede van ’n klein groepie mense wat hulle daartoe verbind het om onafgehandelde sake af te handel nie. Terwyl die grusaamhede van die holocaust begin vervaag in die openbare geheue, was daar hierdie individue wat daagliks moes saamleef met die herinneringe aan hulle vermoorde geliefdes. Hoewel baie van die persone verantwoordelik daarvoor wel vir hul dade tot verantwoording geroep is en geregtigheid geskied het, het nog meer, van wie Hitler die belangrikste is, geregtigheid ontduik deur hulle eie lewens te neem. Party het die gereg ontwyk deur na ander lande te vlug. Mense soos Adolf Eichmann het elders nuwe lewens begin en heelwat van hulle het hulle lewens afgesluit sonder om ooit vir hulle wandade verantwoording te doen. Eichmann was oortuig dat hy die "lang arm van die gereg" ontwyk het. Maar hy het nie rekening gehou met die gemotiveerde toewyding van die Israeli’s nie. Met sy gevangeneming het hulle ’n duidelike boodskap aan alle Nazi-oorlogsmisdadigers regoor die wêreld uitgestuur: "Dit maak nie saak in watter donker gat julle wegkruip nie, ons sal julle kry. En ons sal julle uitbring na die helder lig vir die wêreld om te sien sodat julle kan verantwoording doen vir julle wandade."

Ook op ’n meer individuele vlak vra die Eichmann-verhoor vrae, onder andere oor hoe ’n mens met ’n "gewone persoonlikheid", met ’n middelklasopvoeding binne ’n hoogs beskaafde samelewing, wat met sy laaste woorde sy geloof in God bely, terselfdertyd ook "die verpersoonliking van die banaliteit van boosheid" kan wees. Miskien lê die antwoord in die wese van menswees self; miskien is Van Wyk Louw reg: Die Bose volg elke mens, "trap in jou spoor soos ’n goeie hond", totdat mens en boosheid subtiel een word en jy vind die boosheid "is jou wese se ondergrond" en hy "trap jou spoor soos ’n goeie hond". Boosheid het nie saam met Eichmann aan die galg gesterf nie. Hy leef sterker of swakker binne elkeen van ons vandag nog voort en sy invloed hang af van hoeveel meer of minder hy binne elkeen se "gewone persoonlikheid" onderdruk of vrye teuels gegee word.

Kyk ’n dokumentêr oor Adolf Eichmann hier:

Bibliografie

Arendt, H. 1963. Eichmann in Jerusalem – I. The New Yorker, 8 Februarie.

Blakemore, E. 2019. The daring Israeli spy operation to capture Nazi mass murderer Adolf Eichmann. History.com.

Onbekende skrywer. 2011. The long road to Eichmann's arrest: A Nazi war criminal's life in Argentina. Spiegel International, 1 April.

Paterson, T. 2016. Germany finally pays tribute to first Nazi hunter Fritz Bauer. Independent, 28 Februarie.

Prazan, M (regisseur). 2011. Documentary: The trial of Adolf Eichmann. YouTube.

Rothman, L. 2018. Operation Finale shows the capture of Nazi Adolf Eichmann. But what happened at his trial changed history, too. Time, 29 Augustus.

Wiegrefe, K. 2011. A triumph of justice: on the trail of holocaust organizer Adolf Eichmann. Spiegel International, 31 Maart.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir hierdie boeiende oorsig!
    Lees gerus ook "De zaak 40/61" van Harry Mulisch, wat die Eichmann-proses bygewoon het. Met die insiggewende kritiese beskouing van H.A.Gomperts, in sy boek "Intenties".
    Vertalings van Mulisch se boek is in Engels ("Criminal Case 40/61"), Frans, Duits, Spaans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top