Nomadland: ’n filmresensie

  • 0

Nomadland
Met Frances McDormand
Regisseur: Chloé Zhao

’n Verlore aan flarde siel wat nêrens hoort nie maar tog iéwers bestaan en bly beweeg. Iemand wat soos ’n spook deur haar eie lewe wandel en glip, hier en daar ’n visuele beeld of vriendskap of los werkies optel, en dan verder sloer na nêrens. Sy het vriende uit Soebatsfontein en Verlatevlakte wat kom en gaan soos wolke wat deur ’n warm wind opgebreek word en soos tolbossies by mekaar in die wind verbyrol. Sy is warm en vriendelik teenoor sommige; ander rol en tol verder in die wind na die plat horison.

Haar (op die oog af) nuttelose, stekelrige lewe, wat ’n poëtiese ashoopskoonheid aan die verlatenheid gee waarvoor sy verby beweeg, is dié van iemand wat asemhaal, maar nie ander se suurstof steel nie. Haar daaglikse sneeuwitkoue bestaan word gevul met ’n kort werkie vriesende fabrieke of die leë sale van Amazon, en dan terug na haar geliefde waentjie (haar suster in ’n weeskindbestaan) deur ’n sielsvriesende koue landskap.

Die kamera merk verskeie dinge op wat haar lewe kenmerk: blikoopsnyers, ou borde van haar pa, ’n pap band, ’n emmer waarin sy ontlas, ’n fluit, ’n groen stoel in die semiwoestyn en vergeelde foto’s, asook haar verbleikte jeans wat knap om haar boude span.

Nou moet lesers baie goed verstaan. Die rolprent sal fliekgangers in twee drukgange inboender en dan skaapskeer. Of jy jouself gaan laat skeer, is jou saak. Diegene wat na ’n leë Netflix-Bridgerton-glansreeks soek, sal na vyf minute beneuk uit die teater skarrel, en daar is ander wat hierin, soos in Babette’s Feast (1987), Into the Wild (2007) en Days of Heaven (1978), ’n eenselwige maar tog ook helder, oogophelderingslewe sal bewonder. Hulle mag verwonderd staan oor swerwers wat nooit vind nie tog uiteindelik vrede bymekaarmaak uit klein oomblikkies, al is dit in die middel van daar doer gunter myle van nêrens.

Soos een van Fern (die meesterlike Frances McDormand) se vriendinne wat by haar verbyseil in die nag sê: Dis beter om hier in die oopte op die dood te wag en vrede te maak om daarna te sterf as om vasgekeer tussen die vier mure van ’n onvriendelike hospitaal te dooi. Of dan vasgegrendel te wees tussen mense wat nie vir jou omgee nie en wag op een minder mens om hul suurstof te gebruik.

Hierdie karakters ly eintlik aan Alzheimers of demensie van die siel. Soms flikker ’n vorige bestaan op, maar andersins is die klippe hul beste geselskap. Nie dat hulle die eensaamheid noodwendig voel en betreur nie, want eensaamheid kan ook ’n metgesel word, soos hier. Dit frustreer nie. Dit is net.

Dié strak, bleek fliek (nogal soos die Coens se Fargo (2014) sonder die humor) ploeter fassinerend voort na ’n filmiese iewers, want niks gebeur op die oog af of op die oppervlak nie, en tog gebeur so baie in die subteks en in McDormand se melankoliese of uitdrukkinglose kyke. Want die rolprent versamel beelde en neem waar soos baie mense skulpies bymekaarmaak – hier is geen Photoshop in die stroewe prentjies van middelklas Amerika nie, net die kaalkophardebaardwaarheid. Ook van die werkersklas wat (ironies genoeg nou post-Covid) hul werk verloor het en soos dinosourusoorblyfsels van die hippie-era die las van die dollar haat en stede as boos afmaak.

McDormand se gesig is ’n blanko lei waarop jy enigiets kan skryf wat jy raaksien. Soms glimlag sy breed, soos wanneer sy na vergeelde foto’s van haar ouers en haar oorlede man Bo staar; soms is dit uitdrukkingloos as sy in ’n regte Grapes of wrath (1940)-werkerskamp of -kampeerterrein verdwaal het en na die siele staar soos verskietende sterre wat by haar verby gly. Ook as sy met ’n lewende dooie praat wat die vlaktes aandurf op soek na ’n vredevolle dood.

Hier is dus ’n film wat met jou siel kommunikeer, ’n eensaamheidsfluistering wat jy hier binne intens maar persoonlik beleef, of een lang stuk verveling vir diegene op soek na ’n “storie”. Die “storie” hier lê juis in dit was nie gesê of gedoen word nie.

Terloops, Fern, wat soos ’n dor varing uit ’n skeur in die sypaadjie van die lewe groei, noem haarself “houseless”, nie “homeless” nie, dus is haar waentjie haar tuiste maar nie haar huis vol nodelose besittings nie. Nog ’n glimpsie ironie is dat sy kort-kort deel word van ’n flentergemeenskap, en hulle dan net weer verlaat en verder swerf. En dit is waaroor hierdie rolprent gaan: swerswersvryheid, swerwersbeneuktheid en swerwersveugde. Sommige mense wil net van een plek na ’n ander beweeg; ander verkies om hulle te verknies oor hul situasie en omstandighede en op ’n hopie te wil sit en doodgaan.

Indien jy na ’n protagonis of antagonis en prikkelende storielyn-B-newekarakters soek – hierdie film laat haar nie maklik in sulke resensenteboksies plaas nie. Fern is die protagonis, o ja, maar daar is geen antagoniste nie, behalwe miskien die plat, eentonige landskap wat jou vir ure lank sal teister, gekoppel aan snapsies eensame klaviermusiek.

Die uitstekende regisseur Chloé Zao, die eerste Asiër-vrou wat as beste regisseur vir ’n Oscar benoem te word, neem geen standpunt in teenoor haar karakter nie. Sy volg haar net en hou ’n visuele dagboek van haar. Trap soos ’n goeie hond in haar spoor, maar snuffel nie te naby nie. Handhaaf haar afstand, al dring haar kamera soms tot in haar ongegrimeerde plooie.  

Gaan kyk na hierdie afgeblaaste band van ’n mens wat nie regtig die motortjie kan kry wat haar uit hierdie sloerbestaan sal neem nie. Zhao veroorloof haar ’n filmiese digterlike vryheid om haar storie op ’n onkonvensionele manier te vertel, sonder pretensie of houding.

Jy word genooi om haar te vergesel, of om na nog ’n leë glansvals episode van Bridgerton (2021) elders te kyk.

Slegs in teaters.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top