Nobelpryswenner Gurnah herlees SA skrywer Peter Abrahams

  • 0
Waarna soek ons wanneer ons besluit om iets te weer te lees?

Abdulrazak Gurnah, die ontvanger van die Nobelprys vir Letterkunde in 2021, het vroeër vandeesmaand in die Stellenbosch-instituut vir Gevorderde Studie die jaarlikse lesing vir geesteswetenskappe van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) gelewer, berig Willem de Vries.

Abdulrazak Gurnah (Foto: Ignus Dreyer)

Herbesoeke

Gurnah het in sy lesing oor die herlees van boeke teruggekyk na onder meer sy verblyf van sowat drie maande aan Stias in 2018 toe hy gewerk het aan die manuskrip van wat sy mees onlangse roman, Afterlives, sou word.

Toe hy en sy vrou, die letterkundige Denise DeCaires Narain, tóé na Suid-Afrika gekom het, het hy nog maar onlangs afgetree as professor in Engels en postkoloniale letterkundes aan die Universiteit van Kent waar hy die vorige sowat 35 jaar klasgegee het. Gurnah, oorspronklik van Zanzibar, is in die sestigerjare na die Verenigde Koninkryk as vlugteling.

Deur die jare het hy Suid-Afrika meerdere male besoek en deel nie die pessimisme oor die land wat hy van tyd tot tyd in Suid-Afrika teëkom nie as hy dit vergelyk met ander plekke en hoe dit daar met vryheid van spraak gesteld is.

Tydens sy verblyf aan Stias in 2018 het hy ’n lesing getiteld “Reading the World” gelewer waarin hy dit daaroor had dat meer bewustelik werk nodig is in die letterkundes van die globale suide waarvan die kanon gelykstaande moet wees aan dié van die noorde, maar dan een wat fokus op belange en kwessies wat straks nie relevant sou wees vir die Weste (globale noorde) nie. (Lees op Stias se webwerf meer oor die lesing.)

Soorte kosmopolitisme

In daardie lesing (2018) het hy, luidens die Stias-berig, daarop gewys dat daar histories aan “wêreldletterkunde” gedink is as die ontvanklikheid van die Weste vir letterkundes van die res van die wêreld, en dit kan verstaan word as deel van die nalatenskap van kolonialisme.

In die 2018-lesing het hy benadruk dat van veruniverseling wegbeweeg moes word in die rigting van erkenning van verskille en ontvouende soorte kosmopolitisme wat nie Europa as hoeksteen het nie. Hy het ook beklemtoon hoe belangrik dit is dat vertaling tussen lande in die suide plaasvind en gesê die hang na “wêreldletterkunde” moet besiel wees deur die gedagte aan medemenslikheid sonder grense.

Coetzee en letterkundes van die suide

Nog ’n ontvanger van die Nobelprys vir Letterkunde van Afrika, JM Coetzee, skenk eweneens daadwerklik aandag aan letterkunde in die suide. Hy het byvoorbeeld sy onlangse werke eers in die Suidelike Halfrond uitgereik. In September 2022 het hy aan die koerant El País genoem dat sy drie mees onlangse romans eers in die Suidelike Halfrond, te wete in Argentinië in ’n Spaanse vertaling en in Australië in Engels, uitgereik is voordat dit in Brittanje en Amerika uitgegee is. Die simboliese gebaar om sy werk eers in die suide te publiseer voordat dit in die noorde verskyn, is vir hom belangrik, het hy aan die koerant gesê.

Herlees en opnuut waardeer 

Gurnah se lesing oor die herlees van werke kan saam met die een van 2018 gelees word.

Hy het in die lesing vandeesmaand aandag geskenk aan die proses wat hy gevolg het by die herlees van werke, wat uiteraard die herwaardering van ouer werke en skrywers inhou. Dit het gespruit uit die verskuiwing van sy boeke (tientalle houers) van sy kantoor by die universiteit na waar hy en sy vrou, ’n kenner van Karibiese letterkunde, woon (’n huis waarin die boekrakke tóé reeds vol boeke was). Hy het vertel van die gepaardgaande ontvouende oorwegings, soos dat hy moes besluit watter boeke hy graag wil hou om weer te lees.

Dit het talle vrae by hom gewek. Sou dit die regte keuse wees om hierdie of daardie boek te hou? Hoe waarskynlik was dit dat hy dit sou herlees? Sekere boeke het hy voorheen met plesier gelees, maar kon nie die gang van die verhaal onthou nie. Toe begin hy met die boeke wat hy gehou het om weer te lees om te bepaal of hy die regte keuse gemaak het. Só onthou hy toe William Saroyan se bundel kortverhale The daring young man on the flying trapeze en dit was ’n plesier om dit weer te lees.

Hy het ook besin oor wát hom by die herlees van sekere werke uitgebring het. Waarna soek ons wanneer ons besluit om iets te weer te lees?

Sou dit genoeg rede kon wees om ’n boek weer te lees omdat die teks in die geheue vervaag het? Omdat die herinnering aan die vorige lees daarvan aangenaam was? En daarmee saam die begeerte om die ervaring te herhaal? Of was die vorige leeservaring daarvan teleurstellend? En het hy tóé te haastig geoordeel of die boek nie met genoeg aandag gelees nie? Waarom het hy hierdie besluit geneem en wat vind hy van die werk? Kon hy dit deurvoer?

Daar was ook ambisieuse redes, soos Dickens van begin tot einde. In die meeste gevalle was die herlees van die boeke ’n onverwagse plesier, maar wat ander betref te ambisieus, het hy gesê. Ná twee boeke van Dickens het hy gedink hy laat dit vir ’n jaar of twee daar en kom later terug na Dickens. Of hy het dadelik onthou wat dit was hom ’n boek in die eerste plek laat neersit het.

Peter Abrahams in 1955 (Foto: Carl Van Vechten, via Wikimedia Commons [kopieregvry])

Peter Abrahams herbesoek

Te midde van sy sorteerwerk het ’n CD hom in die pos bereik waarop familielede van die skrywer Peter Abrahams (1919–2017), kennelik lief vir die skrywer en sy werke, van sy skryfwerk voorgedra het. Hy het verneem dit was bedoel as ’n geskenk wat bedoel was vir Abrahams vir sy 100ste verjaardag. Abrahams het wel vroeëre uittreksels ontvang, want hulle het sy toestemming gevra om seker te maak hy keur dit goed.

Gurnah was seker hy het Abrahams se boeke tuis, maar kon toe nie één daarvan vind nie. Hy meen hy moes die boeke aan ’n student of kollega geleen het wat dit nie aan hom terugbesorg het nie. Hy het wel in hierdie proses weer die werk van hierdie Suid-Afrikaanse skrywer teëgekom.

Hy het toe begin soek in boekwinkels aanlyn, maar kon niks van hom vind nie. Baie mense koop nou boeke aanlyn en Gurnah was feitlik seker dat hy geeneen van Abrahams se boeke sou kry as hy in hul boekwinkel in Canterbury sou gaan kyk nie. Ietwat meer werke was darem beskikbaar op webwerwe vir ouer boeke, maar teen  bedrae soos £200 vir Mine boy.

Die skaarste van Abrahams se boeke het Gurnah aan die herlees van boeke as ’n onderwerp laat dink. Om en by daardie tyd het hy die uitnodiging ontvang om aan Stias die Assaf-lesing te kom gee. Dit het vir hom die geleentheid gebied om te sien wat die herlees van iemand soos Abrahams se werk kan beteken, veral wanneer die boeke nie eintlik meer beskikbaar is nie.   

Veel meer genuanseerde skrywerskap

In ’n onlangse publikasie word Abrahams se werk ingedeel by Suid-Afrikaanse skrywers wie se onderwerp die swart-township-omgewing is, maar dit doen sy werk skaars gestand, het Gurnah gesê as hy dink aan die teerheid van die skryfwerk aan die kind se ontmoeting met die wêreld in byvoorbeeld die memoir Tell freedom. En dit lyk vir Gurnah of Abrahams skryf oor dié kwesbaarheid van alle tye, nie net in Suid-Afrika of in die land se townships nie.

Gurnah begin toe herlees aan Wild conquest, wat in die vroeë vyftigerjare gepubliseer is. Dit was die eerste van Abrahams se boeke wat makliker te vinde was, en Gurnah was verbaas oor hoeveel hy daarvan onthou het, al het hy dit laas as tiener gelees. Toe hy dit destyds gelees het, het hy vir die eerste keer ’n benul gekry van die Afrikaner se moeilike posisie. Tot in daardie stadium was dit vir hom of alles gewoon netjies uiteengesit was. Vir hom, soos vir baie mense van daardie generasie, was die polisiehonde van Sharpeville dieselfde honde van Birmingham, Alabama, en die oorloë in Mosambiek en Angola ’n voortsetting van die oorloë in Algerië, in die Sinai en wat destyds Rhodesië was.

Toe Gurnah aanvanklik Wild conquest gelees het, was dit vir hom of hy vir die eerste keer die mees basiese begrip begin kry het van die Afrikaner-bestaan en -wreedheid, en daarmee saam, op die ou end, die onvermydelike inploffing in die verskeidenheid van ontkenning, spyt en ontwyking, wat in die roman so noukeurig uiteengesit word. Dit was vir hom opvallend hoeveel empatie Abrahams verleen aan die Afrikaner-dilemma, spesifiek in die karakter Anna in vroeë dele van die roman.

Ideologie en afstand 

Miskien was ’n eenvoudige manier om dit te verstaan om al die teerheid aan die vroue van die lelike ideologie te gee, het Gurnah gesê. Die Hollywood-Western-fliek verskaf die paradigma – dit wat die man grief het hom hardvogtig gemaak. Hy soek wraak en wil straf uitdeel. Daarteenoor sien die vrou die nutteloosheid en selfvernietiging daarvan in.

Gurnah het vertel dat in die dae toe daar bioskope in Zanzibar was, daar dikwels ’n oomblik in ’n Wilde Weste-rolprent was wanneer die fronsende held met ’n geklemde kaak besig was om sy perd op te saal en sy geweergordel reg te skuif om uit te vaar teen wie ook al hom woedend gemaak het, en die vrou of minnares dan aan hom sou klou en hom sou smeek om nie op te saal nie. Dan sou die gehoor luidkeels protesteer – ’n ingeligte held neem immers geen notisie van so ’n stomme idioot nie! En hulle juig dan van verligting wanneer die man hom van die vasklouende vrou losmaak en wegry om die wêreld reg te ruk. Pioniervroue in die koloniale ontmoeting in Noord-Amerika, Australië en Indië, en in Suid-Afrika, was natuurlik net so bang en wou inheemse mense dood hê, net soos die mans, het Gurnah gesê.

Vir Anna was daar ’n oomblik van verdeeldheid toe sy deel word van ’n Afrikaner-onderneming eerder as ’n persoonlike een. In die karakters van Paul van As en Anna lyk dit vir Gurnah of Abrahams probeer om oor te dra wat hy aangevoel het die koloniale setlaars se dilemma was: Aan die een kant is daar die impuls om dwang toe te pas, te oorheers en ’n greep op die grond te kry wat dan gekonsolideer word in ’n ideologiese narratief van eksepsionalisme en die gedagte om op iets geregtig te wees. Aan die ander kant is daar die onderdrukte bewustheid van die dubbelhartigheid en strakheid van die narratief. Dus is vir Anna haar pa se geloof in sy Bybel en sy geweer gewys as onvoldoende rede vir die transformasie wat sy waarneem in haar man en die mense om haar. In Wild conquest laat Abrahams haar sterf aan ’n gebroke hart oor wat van haar mense geword het.

Vermenslikende verkenning 

Benewens die diepgaande vermensliking van wat Gurnah noem die Afrikaner se moeilike situasie, bespiegel Abrahams so goed oor hoe die sogenaamde Boere lief is vir die grond, het hy gesê. Gurnah was verbaas dat die teerheid wat aan Anna getoon word, weerhou word van die Ndebele. Dit het hom laat wonder: Is dit waarop hier gesinspeel word, ’n narratief van, aan die een kant, "Boere"-opregtigheid wat verwring is deur ideologie, en aan die ander kant een van wreedheid van die Ndebele? Daar is natuurlik Mkomozi wat opgeroep word in die roman se motto en hy het Gurnah laat wonder of dit die begin is van ’n postkoloniale Gagool (met verwysing na die karakter in Rider Haggard se roman King Solomon’s mines). Maar wat die narratief van wreedheid betref, is reeds die herstel (of korrektief) van die karakter van die raadgewer – hy was ’n wyse "barbaar" eerder as iemand met kwade bedoelings, vind Gurnah.

Was dit in daardie tyd die enigste postkoloniale herstel wat moontlik was? Gaan dit gewoon om die wegdoen met die narratief van wat hier beskou is as die nostalgie wat afleiding bied vir verslaande adel en om daarvan afstand te doen ten gunste van onweerstaanbare moderniteit? Is dit deel van die rede hoekom só ’n teks nie kon staande bly met die verloop van tyd nie? Daar is vlugtige pogings om die bewussyn van die Ndebele-karakters te peil, wat op sigself ’n riskante onderneming was, gegewe die vorm van die roman tot op daardie punt, want dit hou ’n diffusie en verlies aan narratiewe fokus in, kom dit vir Gurnah voor.

Soos wat die onafwendbare konfrontasie dreig tussen die "Boere" wat noordwaarts trek en die Ndebele, skynbaar onbewus van wat op pad is, is daar ook pogings om te verstaan wié "die ander" is. Dit is hiér waar Mkomozi as die raadgewer meer na die voorgrond tree. Hy lewer dan die betoog waarmee die roman afgesluit word: dat die verbeelde "ander", die dreigende "Boer", ’n broer is.

Dit eggo dan die roman se motto, dat die boek vir die Suid-Afrikaners is, wat Mkomozi se droom dalk sou verwesenlik in die tye wat sou volg, deur hoop te skep eerder as vrees, en te lewe met liefde eerder as haat.

Dit is ’n verrassend positiewe einde, gegewe dat ’n mens weet daar was nog gruwels en vernedering op pad vir Mzilikazi se mense en sy seun Lobengula. Dit kom dus voor of Abrahams aan die een kant skryf met soveel simpatie en empatie moontlik vir die moeilike situasie van die "Boere" soos dit personifieer is deur Anna en haar dood, en die tragiese manier waarop die mense eng en wreed geword het, en aan die ander kant is daar die onbeklaagde oorgang van ’n manier van lewe wat nie verdedig of mee volgehou kon word nie. Dit is dus ’n meer ingewikkelde boek as met die eerste oogopslag, het Gurnah gesê.

Realisme en verdrukking in die mynwêreld

Daarna het hy Mine boy, ’n vroeëre roman, een van 1946, gelees. Abrahams was ongelooflik prolifiek in die periode van 1945 tot 1955, met elke jaar ’n nuwe boek. Mine boy is, vreemd genoeg, die eerste keer gepubliseer deur ’n Britse uitgewer, ’n regse figuur wat almal geïrriteer het en met almal slaags geraak het, veral ander regses, maar hy het nietemin twee van Abrahams se boeke gepubliseer. Dit is ’n roman wat telkens vergesel word van die mening dat dit die eerste fiksiewerk is wat die werklikheid van Suid-Afrika se rasgegronde politiek aan ’n internasionale gehoor bekendgestel het. Gurnah meen dit was eintlik meer die probleem met die internasionale gehoor van destyds, aangesien daar wel reeds ander werke was wat dit al aan die doen was.

Wat in die roman so goed gedoen word, sê Gurnah, is dat dit die lewe wys van mense wat verdruk en minder gemaak is deur mag, geld en ’n gekorrumpeerde ideologie. Hy doen dit deur simpatiek om te gaan met mense wat skynbaar vir almal lyk of hulle deur hul omstandighede afgebreek en verslaan is. En om die noodsaaklike strategieë te wys wat hulle gebruik om te oorleef sonder om sin in hul menslikheid te verloor.

Gurnah het as voorbeeld genoem dat ondanks haar groot hardheid én wysheid, die sjebien-eienaar Leah se gesig sal versag by die herinnering aan haar man, wat in die tronk is. Daar is ook ’n briljante beskrywing van Lena, een van die vroue wat vir Leah werk en wat gruwels van dronkenskap ondergaan. Maar op ander tye sien die leser dieselfde Lena wat vir ander omgee sonder gelyke.

Iemand anders wat van die polisie gered is – niemand weet wat die klagte was nie – se arm word deur ’n dokter na omgesien. Hy steel egter nietemin van die dokter en hardloop weg.

Hierdie tonele van die lewe van townshipmense is nie verromantiseer of as verhewe aangebied nie. In die roman word gewys dat die stad mense verplaas, en Abrahams wys dit merendeels in sy uitbeelding van die lewe van mynwerkers en spesifiek dié van die karakter Xuma. Dit is eers enkele dae nadat hy in die stad aangekom het dat Xuma weer aan die mense tuis dink.

In Mine boy word die felheid van die mynstelsel gewys en die geweld wat daar op straat was. Die werking van daardie brutale stelsel was so alledaags dat dit die vertelswyse briljant laat werk en wys die medewerking van die werkers daarin en die selfvernietiging en gevoelens van waardeloosheid wat daarmee gepaard gaan. Dít, tesame met ’n gemeenskapsetos van lyding, die voorreg van mag en manlikheid, en die brutaliteit wat ’n daaglikse werklikheid was. Gurnah vertel dat op een plek ’n township beskryf word as ’n stroom donker lewe, maar met daarin ’n soort menslike oorlewingsdrang.

Ma Plank, een van die ander beskonke karakters, vertel van Daddy, ’n ou dronkaard en man wie se gelyke sy nog nooit ontmoet het nie. Sy dood grens wel effens aan melodrama. Daar is ook ’n liefdesverhaal in die roman. Want wat is ’n roman sonder ’n liefdesverhaal? Wat is lewe sonder liefde? het Gurnah gevra.

Xuma is gek oor ’n vrou genaamd Eliza en sy is op haar beurt gek oor wit waardes of ten minste die opwaartse mobiliteit wat dit simboliseer. Dit lyk dus op ’n hopelose liefde van meet af aan. Wanneer sy haar vermurwe teenoor Xuma, is die evokasie van die toneel onoortuigend en lyk dit op ’n uitgewerkte toneel om Eliza se fout te illustreer, meen Gurnah. Hul liefde en versoening lyk te maklik, die hantering van hierdie emosionele oomblikke tussen hulle kom veerlig oor waar iets wat eerder diepgaande sou moes wees, aangedui word. Dit wil sê, aan die een kant is daar die smagting na witheid en aan die ander kant is daar Xuma wat Eliza onweerstaanbaar vind. Dit lyk na een van die oomblikke in die roman wat nie heeltemal werk nie, eweso ’n boodskap van versoening na die einde.

Daar is ’n episode waar Xuma in die wit distrik in Johannesburg loop en hy tussen mense wandel asof hulle nie regtig daar is nie, volgens die beskrywing. En daar loop Xuma sy “wit man” raak, in die taal van die myn, sy mynbaas, Paddy, wat daar is met sy gade, Di. Hulle bring hom saam na hul huis en bied vir hom iets te ete aan. ’n Mens se wantroue is al klaar dan geaktiveer. Daarna volg ’n onwaarskynlike gesprek oor manlikheid tussen Xuma en Di. Dit blyk Paddy beskou Xuma as die “boorling van die toekoms” en Di se argument is dat hy die toekoms sal wees slegs as hy leer hoe om op gelyke grondslag met vroue te leef. Dit kom vir Gurnah voor as ’n verspeelde toneel waarin gehoop word op ’n optimistiese toekoms, maar waarvan die voorafgaande narratief gewys het dat dit buite bereik is.

Onverdiende obskuriteit

Gurnah het genoem dat Abrahams Return to Goli gou daarna geskryf het, toe Abrahams vir ses weke na Suid-Afrika teruggekeer het uit die buiteland. Hy het dit as ’n verslag geskryf vir The Observer en dit was ’n hele ander storie daardie, het hy gesê.

Gurnah noem dat ’n bekende suggestie vir die afwesigheid of die relatiewe obskuriteit van Abrahams se werk die uitsluiting is van hierdie soort bakenskrywers (“foundational writers”) soos waarna hy verwys word in ’n publikasie van huidige akademiese programme (in 2018). Daarvolgens is die situasie daaraan te wyte dat hierdie skrywers beskou word as dié wat ’n eng, nasionalistiese raamwerk het, dat hul skryfwerk nie kwessies behandel wat verband hou met vroue, gesinne en die kategorisering van stereotipes nie. Die betrokke publikasie wil wys dat dit hier eerder gaan oor die mag van kanonisering binne die akademie en bied nie ’n volhoubare lees van Abrahams se werk nie. Maar Abrahams se werk het wél ’n groter agenda in verband met gender en ras, het Gurnah op gewys.

Is kanonisering ’n genoegsame verklaring vir die relatiewe verwaarlosing van Abrahams se werk? Is akademiese opinie só invloedryk op die leserspubliek en op die resepsie van tekste?

Dit kán dalk wees waar die lees van ’n teks regstreeks in verband met die akademie staan, het Gurnah gesê, maar dit is nie so waar ’n groter leeskultuur bestaan nie. Gurnah meen in die memoir Tell freedom verskaf Abrahams ’n leidraad van ’n kompleksiteit, iets wat vir hom op ’n baie ingewikkelde geskiedenis lyk. Nadat sy ma se man, ’n Kaapse Maleier, oorlede is, het sy met ’n Ethiopiese man getrou, iemand wat op die myne gewerk het en wat daar tragies omgekom het toe Abrahams maar vyf jaar oud was en Abrahams daarna by verskeie familielede grootgeword het. Dit lyk vir Gurnah na ’n baie ingewikkelde geskiedenis en dat uit hierdie tragiese begin ook ’n oomblik van moontlikheid gekom het. Gurnah meen dat iets uit oorweldigende onregverdigheid waarmee mense moes saamlewe, die spesifieke optimisme wat teenwoordig is in Mine boy verklaar. Die oomblikke van vreugde wat opgeroep word in Tell freedom is vir Gurnah egter baie meer treffend as die gefiksionaliseerde oomblikke van optimisme van eersgenoemde.                   

Gurnah het genoem dat hy verneem daar is ’n nuwe uitgawe van ’n A wreath for Udomo, waaroor hy bly is, en het gesê hy sal graag wil sien dat Mine boy en Tell freedom binnekort heruitgereik word, verkieslik tegelykertyd.

Wat hy wel weet ná die vlugtige herlees van Abrahams se werk, is dat hierdie werke nié verdien om opsy geskuif te wees nie.

Herinner mekaar aan belangrike boeke

In vraetyd is uit die gehoor genoem dat hy die akademie se literêre kanon stel teenoor ’n groter leeskultuur. Hoe dink hy moet mens ’n groter leeskultuur ontwikkel in ’n era waar aanlynmedia (sosiale media) so oorheersend is en in sekere sin teen ’n groter leeskultuur ingaan? En ook: Sou ’n groter leeskultuur help om die werk van skrywers aan die lig te bring wie se werk verdwyn het?

Gurnah sê hy voel hom nie oorheers deur aanlynkultuur nie. Daar is genoeg ruimte vir verskillendes en dat ’n mens toegang het tot kontemporêre skryfwerk, én dat ouer werk deurentyd aan mens herbekendgestel word. Mense doen dit heeltyd en hy hoop dat hy so iets vir Abrahams gedoen het.

Iets wat Gurnah pla en wat dit vir hom belangrik maak dat mens wel meer doelbewus boeke moet herbekendstel, het te make met die verkoop en uitgee van boeke. Hy had dit dan spesifiek oor al die belangstelling vir dit wat nuut is. As jy informeel lees, dan is die nuwe boek wat pas bekendgestel is, in die winkel. Dis moeiliker om te sê jy moet ’n boek gaan sóék. Hierdie maniere om mekaar aan boeke en skrywers te herinner blý belangrik. Dit bied ook ’n ander manier om dinge uit te vind, om oordeelkundig te wees in jou keuses en jou oop te stel vir dinge. Vergeet van aanlyn (sosiale) media – luister eerder na wat mense sê, het hy gesê.

Lees ook:

Afterlives by Abdulrazak Gurnah: book discussion

Photos: Zoë Wicomb and the Translocal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top