Nie net die Babalela nie: 'n onderhoud oor Onder water

  • 0

Onder water

LAPA

ISBN: 9780799361100

 

 

Koop Onder water by Kalahari.com.

 

 

Hallo Martie, baie geluk met jou jeugboek, Onder water, wat pas by LAPA verskyn het. Baie van ons lesers sal jou ken as skepper van die Babalela, jou geweldig suksesvolle kinderkarakter. Jy skryf dan klaarblyklik jeugboeke ook?

Dankie, Naomi! Ja, ek skryf jeugboeke ook. Onder water is my twaalfde jeugboek! My eerste boek (Jy en die draakakkedis) is in 1992 deur JL van Schaik gepubliseer en Onder water is my 37ste boek! My laaste jeugboek het welliswaar ’n tydjie gelede verskyn. Die hart van Zeebak is in 2004 deur Tafelberg gepubliseer. Die boek was destyds op die kortlys van die M-Net-prys (kort formaat).  Ek het 11 toekennings/pryse vir my boeke gewen oor die jare, waarvan drie vir jeugboeke was.

Hoe het die storie Onder water vir jou begin? Kan jy die oomblik onthou toe die idee begin posvat het?

Die meeste stories "kom" so stuk-stuk, nie in ’n aha-moment nie. Ek het begin prentjies in my kop kry van so ’n klein verlaterige dorpie en Christien wat daar rondloop. En van haar ouma wat onverwags kom kuier met ’n baie swaar tas (vol familiegeheime) ... En so het die storie ontwikkel en die karakters het hulle een vir een kom aanmeld, todat ek ook begin agterkom het wat regtig in die dorpie aangaan. "Ek" het net agter Christien aangeloop en gekyk wat sy doen en dit begin neerskryf en later oor en oor en weer oor en nog baie kere oorgewerk totdat alles "volledig" gevoel het om hierdie bepaalde storie te vertel.

Wat is vir jou lekker – en moeilik – daaraan om boeke vir niegrootmense te skryf?

Vandat ek kon lees as kind, het ek nooit opgehou lees nie. Ek was ’n fanatiese leser. Vandat ek begin skryf het, lees ek minder, maar dit voel vir my asof ek as skrywer die "eerste leser" is wat die storie ontdek en dit dan neerskryf vir ander om te lees.
Lees het vir my nuwe dimensies van wees oopgemaak as kind en grootmens. As
mens van vlees en bloed kan jy net op een plek wees en die lewe so belewe, maar
as jy lees, kan jy baie lewens lewe en baie ervarings saam met die karakters hê.  

Dis uitdagend om vir kinders te skryf, omdat kinders meestal (nog nie) "ordentlik" is
nie, soos die sprokie van die keiser se nuwe klere so pragtig uitwys. As ’n boek
hulle dus verveel, lees hulle nie verder nie, al is dit ’n bekroonde boek of ’n
bekende skrywer. Jy moet jou skryf ken as jy hulle aandag wil behou! ’n Prenteboek
is by verre die moeilikste om te skryf, omdat dit so min woorde het.

Hoe ken jy dan die hart van die kind en jongmens so goed as jy begin skryf het toe jou kinders al uit die huis was?

My kinders was tieners toe ek begin skryf het, maar ’n mens hoef nie kinders te hê
om vir hulle te skryf nie. Baie wonderlike kinder- en jeugboekskrywers (soos Barrie
Hough, byvoorbeeld) het nie kinders gehad nie. Ons weet almal van kind- en
jongmenswees, want ons was almal daar. Dis die een ervaring wat ons almal deel.

Stories vir kinders of jongmense is maar net mensstories, soos enige ander stories, al is die karakters soms diere of fantasiefigure. As jy vir jonger lesers skryf, bied jy die tema net eenvoudiger en meer konkreet aan om aan te pas by die kognitiewe ontwikkelingsvlak van jou lesers. Ek sou byvoorbeeld ’n roman kon skryf oor ander wat  ’n volwasse karakter byvoorbeeld in ’n boks sit, want dis ’n aaklige universele neiging wat die meeste van ons al ervaar het. En blykbaar weet kleintjies ook alles daarvan af, as jy moet oordeel aan hulle heftige reaksie op die Babalela-boeke.

Enige wenke vir iemand wat vir kinders en jongmense wil skryf?

Moenie dit probeer doen omdat jy dink dis makliker omdat dit korter is nie! Respekteer altyd jou leser en skryf so goed as wat jy kan. En dan begin jy weer voor en skryf dit nog beter oor. En nóg beter. 

Besoek Martie Preller se webwerf hier: http://martieprellerauthor.wordpress.com.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top