Neville Alexander-prestige-eerbewyse: Oproep om benoemings

  • 0

Taalmonument bied R40 000 vir onbesonge taalhelde

As deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 45ste vieringe, nooi hierdie instelling die publiek om geskikte kandidate te benoem vir die vierde Neville Alexander-prestige-eerbewyse ter waarde van R20 000 elk.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is dié eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936-2012) was ʼn bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

“Die eerbewyse sal toegeken word aan mense of organisasies wat hul tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ’n medium gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder,” sê Jonas. In 2018 is Suzie Matlhola van Johannesburg en Ernest Loth van die Paarl in Bloemfontein met die pryse bekroon. Matlhola se passie vir Afrikaans en haar onwrikbare werk om die taal aan onder andere nie-moedertaalsprekers in Soweto te onderrig, het van haar een voor die hand liggende keuse gemaak. Die pogings van Loth – 'n dramaturg en motiveringspreker – om Afrikaans op alle vlakke en op alle plekke te bevorder, onder meer met sy dramatekste 'Eendag is Daar' en 'Donkerland' wat in skoolhandboeke opgeneem is, het hom die ander prys laat verower.

“In 2018 was die bekende prof Johan Lenake, 'n kenner van Afrikaans en ander Afrikatale, die gasspreker. Hy het die voordele van meertaligheid beklemtoon en hoe om ouers te oortuig dat dit in die beste sosio-ekonomiese belang van hul kinders is,” sê Jonas. “In hierdie 45ste jaar van ons bestaan wil ons voortgaan om die ontwikkeling van die tale van Afrika te bevorder deur mense daaraan te herinner wat in hierdie verband met Afrikaans bereik is.”

Die wenners sal op 10 Oktober 2020 tydens die ATM se 45ste verjaardagvieringe en die Neville Alexander-gedenklesing deur die voorsitter van die raad vereer word. Die twee wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld van R20 000, geborg deur Naspers, wat ten behoewe van relevante taalprojekte aangewend kan word. Ander vorige wenners sluit die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde in. 

ʼn Elektroniese benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM teen Maandag, 7 September 2020, bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by [email protected]. Vir meer inligting, sien www.taalmonument.co.za, skakel 021 863 0543/872 3441 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top