Neville Alexander (1936–2012): ons annerlike taalman

  • 0

Ek het grootgeword in ’n omgewing van taalmanne (van taalvroue het ons selde gehoor). ’n Taalman kon ’n taalstryder wees, of ’n taalkenner, of selfs ’n taalstrydige kenner. In die destydse Natal het ons sulkes gehad − in Pietermaritzburg Johan Combrink; oom (prof) Gawie Nienaber; in Vryheid, waar ek grootgeword het, PC Schoonees, die woordeboekmaker. Toe ek na Bloemfontein kom om universiteitsgeleerdheid te kry, het ek aan die voete van sulke taalmanne kom leer: oom (prof) Petrus Nienaber, Christo van Rensburg, Charles Malan (hy draai sekerlik nou in sy graf om), Jaap Steyn, Hans du Plessis (van ons buuruniversiteit). Maar dis ook hier, danksy Charles Malan, dat ek van ander taalmanne kom leer het: Breyten Breytenbach, Ampie Coetzee, John Miles, en danksy Christo van Rensburg, van nóg ’n hele klomp ander: Ikey van de Rheede, Hein Willemse, Achmat Davids. Taalmanne wat beslis nie taalmanne wou wees nie! Annerlike taalmanne, sou oompie Willem Adams van Philippolis hulle in sy Griekwageit genoem het.

Neville Alexander was so ’n annerlike taalman.

Neville het ek ook in Bloemfontein kom leer ken, al was dit nie persoonlik nie. Dis hier waar ek die eerste keer van hom verneem het na aanleiding van ’n mediaberig oor ’n toespraak wat hy in September 1983 by die eerste kongres van die Education Co-ordinating Council of South Africa (ECCSA), Education and social change, in Pietermaritzburg gelewer het. Hy het gepraat oor die National English Language Programme (NELP), die voorloper van die National Language Project (NLP) wat sedert 1985 die toon in Suid-Afrika op taalgebied begin aangee het. Die NLP het uiteindelik ’n beduidende rol gespeel by die artikulering van ’n meertalige taalbeleid vir ’n demokratiese Suid-Afrika. NELP was egter ’n projek wat uit en uit Engels as bindingstaal (“linking language”) binne ’n groter Suid-Afrikaanse nasiebouprojek bevorder het. Later het die NLP hierdie fokus verskuif en al die Suid-Afrikaanse tale deel van die nasiebouprojek gemaak.

Neville is na aanleiding van sy optrede in Pietermaritzburg destyds in die Afrikaanse media gerapporteer as sou hy gesuggereer het dat Engels die (enigste) taal van die toekoms vir Suid-Afrikaners is. As dissipel van ’n ouer generasie van taalmanne is dit die opmerking wat my oog gevang het. En as wordende taalman was dit waarop ek gereageer het.

Ek het die stoute skoene aangetrek en na ’n bietjie huiswerk ’n brief aan Neville geskryf, in Afrikaans, en hom in my jeugdige voortvarendheid “aangevat” oor sy standpunt. Dit was die tyd waarin ons nog per brief gekorrespondeer het. Wat was my verbasing groot toe daar nie lank daarna nie ’n brief van Neville terugkom, ook in Afrikaans. Hierin het hy baie rustig die groter prentjie verduidelik van wat later deels die NLP se standpunt geword het, naamlik die onvermydelike belang van Engels, maar die komplementêre rol van ons ander tale binne die nuwe nasiebouprojek. Uiteraard was dit binne die taalpolitieke klimaat van 1983 gepas om berekende aksente te plaas, soos wat hy inderdaad in Pietermaritzburg moes doen, gegewe die uniekheid van die konteks. Tot vandag toe bly hierdie brief my by as een van die hoopvolste taalpolitieke dokumente wat ek sedertdien teëgekom het. Neville Alexander het met sy antwoord op my lomp geformuleerde brief in my oë ’n taalman geword.

Dit was eers ’n hele vyf jaar later dat ek hom vir die eerste keer persoonlik ontmoet het. Dit was tydens een van sy besoeke aan die destydse Universiteit van Natal in Durban (waar ek my toe bevind het) en die bekendstelling van ’n video, Robben Island - Our University. Die oomblik van ontmoeting tydens ’n teepouse was kortstondig, maar byna oorweldigend. Teen daardie stadium was ek wel deeglik onder die indruk van die statuur van hierdie nuwe taalman. En het ek ook baie gou uitgevind dat “taalman” die laaste beskrywing is wat aan Neville Alexander toegedig kan word. Dit het ek terdeë beleef by die Taal en Stryd-kongres wat ek saam met Hein Willemse en kollegas van die destydse Universiteit van die Wes-Kaapland gedurende 1989 in Durban georganiseer het en waar Neville een van ons sleutelsprekers was. Ek het die voorreg gehad om die voorsitter te wees by ’n besprekingsessie waar hy die woord gedoen het en kon so sy vlymskerp intellek, teoretiese gefundeerdheid en akademiese geartikuleerdheid eerstehands ervaar, maar tegelykertyd ook sy beginselvastheid, empatie en konsekwentheid van optrede teenoor sy gespreksgenote, of hulle van hom verskil het of nie. Hierna het ons meermale saam opgetree en ’n kollegiale band oor jare heen gebou waarop ek vandag nog kan reken.

Neville Alexander was allermins ’n taalman in die konvensionele sin van die woord. Ek sou hom beslis te na gekom het deur so na hom te verwys. Nietemin was hy sekerlik een van die invloedrykste meningsvormers van die gesprek oor tale in Suid-Afrika, en meer bepaald oor Afrikaans. Trouens, die taalmanne (en -vroue, sou ek sê) réken hom inderdaad as taalman! Maar dit sou tog meer akkuraat wees om sy taalmanskap te herdefinieer, net soos wat hy gedoen het met sy bydrae tot taal in Suid-Afrika. Hy’t vir ons ’n perspektief gebring wat ons almal deel maak van die groter geheel, ’n geheel wat ook voorsiening maak vir annerlikheid.

Ek gedenk jou, Neville, dat jy my onvoorwaardelik deel gemaak het van jou groter geheel.

Theo du Plessis
Departement Taalbestuur en Taalpraktyk, Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein

Lees ’n huldeblyk van Michael le Cordeur aan Neville Alexander.

Lees Christo van der Rheede se huldeblyk.

Lees Hein Willemse se huldeblyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top