Lank lewe Neville Alexander!

  • 0

Die voormalige politieke aktivis en struggle-held, asook gerespekteerde linguis, opvoedkundige en akademikus, Neville Alexander, is Maandagoggend 27 Augustus oorlede op die ouderdom van 75, na ’n stryd teen kanker.

Neville Alexander is op 22 Oktober 1936 in Cradock in die Oos-Kaap gebore as die oudste van ses kinders van Dimbiti Bisho Alexander, ’n laerskool-onderwyseres, en David James Alexander, ’n skrynwerker. Hy het aan die Holy Cross School in Cradock gematrikuleer. Daarna het hy Duits en geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer en verwerf hy ’n meestersgraad in Duits aan dieselfde universiteit. Hierna verwerf hy ’n doktorsgraad met ’n verhandeling oor stylverandering in die dramatiese werk van Gerhart Hauptmann aan die Universiteit van Tübingen in Duitsland.

Hy was ’n lid van die NEUM (Non-European Unity Movement), asook die stigter van die National Liberation Front (NLF). In Julie 1963 is hy saam met nog lede van dié beweging in hegtenis geneem en in 1964 is hy skuldig bevind aan sameswering met die doel om sabotasie te pleeg. Hy is daarna vir ’n tydperk van tien jaar (1964 tot 1974) op Robbeneiland aangehou saam met oudapartheidstryders soos Nelson Mandela, Walter Sisulu en Govan Mbeki.

Tydens sy gevangenskap het hy geskiedenis aan sy medegevangenes onderrig. Hieroor skryf hy op SA History Online: “The 'University of Robben Island' was one of the best universities in the country. It also showed me that you don't need professors.”

Na sy vrylating in 1974 was hy vir nog vyf jaar onder huisarres in Lotusrivier, Kaapstad, tot in 1979. Hy was later ook betrokke by die Swartbewussynsbeweging en het gedagtes uitgeruil met leiers soos Steve Biko. Hy speel ’n belangrike rol in die stigting van aktivisgroepe in die Wes-Kaap en was ook aktief betrokke by die stigting van Werkers Organisasie vir ’n Sosialistiese Suid-Afrika.

Ná demokratisering het hy veral bekendheid verwerf as voorstander vir veeltaligheid in Suid-Afrika en het hy die direkteur van die South African Committee for Higher Education (SACHED) geword. Hy het verdere pionierswerk gedoen op die gebied van taalbeleid-ontwikkeling en -beplanning as direkteur van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika (Praesa) aan die Universiteit van Kaapstad.

Neville Alexander se intellektuele uitsette sluit ’n verskeidenheid invloedryke boeke en artikels in. Onder sy bekendste werke tel One Azania, One Nation, geskryf onder die skuilnaam No Sizwe, wat ’n visionêre perspektief bied op die herverdeling van mag en voorregte in terme van klas, ras en kleur. Sow the Wind (1986) bied ’n rigtinggewende analise van die opstande in Suid-Afrika. An Ordinary Country (2002) reflekteer op die politieke bestel van Suid-Afrika na demokrasie. In 2008 het hy die internasionale Linguapax-toekenning in Barcelona ontvang vir sy bydrae tot meertalige onderrig. Hy was tot sy dood hoogleraar aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands

Hy was die argitek van die idee om Wes-Kaapse Taalbeleid te konseptualiseer gebaseer op veeltaligheid en drie amptelike tale – die eerste sodanige taalbeleid in Suid-Afrika – in sy rol as voorsitter (met my as ’n gewone, onervare lid wat hom gehelp het). Die nuwe Suid-Afrikaanse Talewet wat so pas aanvaar is, is slegs ’n uitbreiding van Neville se idees. As sodanig was hy ’n pionier wat sy tyd ver vooruit was, en daarom beskou ek hom as die vader van veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Nadat hulle mekaar op Robbeneiland ontmoet het, het Nelson Mandela vir Neville in Long walk to freedom beskryf as “a prominent coloured intellectual and member of the Unity Movement” (457).

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) gaan Neville Alexander baie mis – sy wysheid en insig was goud werd vir die ATR op ons pad. Hy het verkies om op die agtergrond te bly, maar was altyd bereid om raad te gee en het as klankbord gedien vir menige strategiese sessie. Ons het regtig 'n strydros vir veeltaligheid en taalontwikkeling verloor. Hy het ons altyd vermaan om in ons strewe na eenheid vir Afrikaans dit “voetjie vir voetjie te vat. Twee voetjies vorentoe, en een agteruit om so seker te maak dat ons almal aan boord het.”

Op ’n persoonlike vlak was hy vir my ’n mentor en adviseur. Op ’n stadium (2000) het hy my saamgenooi na sy alma mater, die Universiteit van Tübingen naby München in Duitsland. Ons kon vir ure gesels, en die lesse wat ek by hom geleer het, het my in staat gestel om hom later as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee op te volg terwyl hy ook gereeld advies gegee het oor hoe om kernvraagstukke binne die ATR te hanteer. Ek kon my verstom as hy in vlot Duits met sy kollegas van Tübingen kommunikeer. Afgesien van Afrikaans en Engels was hy ook vlot in isiXhosa. Dus: hy het nie net veeltaligheid gepredik nie, hy het dit uitgeleef.

Neville het my tot sy dood bygestaan as medepromotor met die begeleiding van ’n doktorale student wat oor taalbeleide in skole navorsing doen. Ek kan my amper nie ’n Afrikaanse wêreld sonder Neville indink nie. Wat ’n voorreg om te kon saamwerk met ’n reus, te kon leer van ’n meester. Die voetspore wat hy nagelaat het, is te groot vir enige persoon om in te volg. Gelukkig het hy vir ons almal ’n pad oopgetrap waarlangs ons kan loop. Sy nalatenskap sal ons vir altyd bybly.

’n Seder het geval in Grassy Park. Afrikaans het een van sy grootste en vreesloosste ikone verloor. Neville Alexander is dood. Lank lewe Neville.

Mooi loop, my vriend. Goodbye. Hamba kahle.

Michael le Cordeur
Voorsitter: Afrikaanse Taalraad, Departement Afrkaansonderwys, Universiteit Stellenbosch 27 Augustus 2012

Lees ’n huldeblyk van Theo du Plessis aan Neville Alexander.

Lees Christo van der Rheede se huldeblyk.

Lees Hein Willemse se huldeblyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top