Net ek deur Zinèt Oosthuizen: ’n resensie

  • 0

Titel: Net ek
Skrywer: Zinèt Oosthuizen
ISBN 9781779871459
Uitgewer: Romanza

Ek lees voorin Zinèt Oosthuizen se Romanza, getiteld Net ek, die volgende omtrent haar:

Zinèt Oosthuizen is op haar gelukkigste wanneer sy ons pragtige land kan verken. Tussendeur werk en die lewe is die uiteindelike doelwit om die mooi rondom haar te kan geniet. Lees, bak en brou en rondrits is maar net van haar passies, waarvan die liefde self die belangrikste is.

Ek kan in Zinèt se teer liefdesverhaal sien dat sy in romantiese liefde glo.

Sy is ’n finansiële bestuurder van beroep en haar skryfwerk bied aan haar broodnodige ontvlugting. Daar het ook al ander Romanzas uit haar pen verskyn, soos Liewer as lief (2022), Liefde vir ’n prins (2023), Daar is net een jy (2024), Boomhuise en beloftes (2025), Kastele en kerse (2025) en Karoo-koors (2026).

Die leser leer in Net ek vir Leola de Lange en Wian Olivier, albei veeartse van beroep, ken. Leola het ’n eie veeartspraktyk, met die allerpragtige naam Pens en Pootjies, in Bloubosch. Wian is ’n nuwe intrekker op die dorp. Hy kom woon in die huis wat hy by sy ouma Vytjie geërf het. Omdat hy nie vanuit die staanspoor noem dat hy ook ’n veearts is nie, kom dit as ’n groot skok vir Leola toe sy uitvind dat hy spreekkamers in ’n perseel op die dorp geopen het.

Tannie Santie van die biblioteek blaas verder vlamme aan wanneer sy vir Leola vra: “Ek wil weet hoe jy beplan om jou plek se deure oop te hou met daardie nuwe veeartsie wat nou op die dorp is?” (35). Bogenoemde scenario dek die spreekwoordelike tafel vir ’n hele paar misverstande. Maar toe Wian se huis afbrand en hy vir ’n wyle geen heenkome het nie, is dit Leola wat letterlik haar blyplek vir hom opoffer en hom bystaan. Die “saamblyery” bring egter meer uitdagings as waarvoor Leola en Wian gereed is.

Die skrywer gebruik ’n verwoestende bosbrand in die Knysna- en George-omgewing om eksterne spanning, asook aksie te skep. Bloubosch is ook vir ’n ruk sonder elektrisiteit en afgesny van die buitewêreld en verseker só dat die hoofkarakters heelwat tyd in mekaar se geselskap deurbring.

Zinèt se beskrywing van die brand en skade is geloofwaardig en wek simpatie by die leser.

Instinktief gaan staan hy by die kamerdeur en toe tref ’n warm gloed hom voluit teen die lyf. Sy huis is aan die brand! Paniekbevange storm hy in die gang af. Die eerste ding wat deur sy kop maal, is dat hy iets moet red. Enigiets. (83)

[...]

Hy trotseer die berg plafonplanke wat hom vaskeer, maar gly plek-plek oor die vuurwarm rommel. Die tekkies aan sy voete begin brand. Hy móét na buite. Met spoed probeer hy oor die rommel klim en dit is ’n helse uitdaging, maar hy slaag daarin. (89)

Wat ek wel bietjie te dik vir ’n daalder gevind het, is die onbeholpe wyse waarop Wian hier na die einde van die boek toe sy gevoelens woordeliks aan Leola probeer oordra. Dit neem hom meer as een probeerslag. Pleks daarvan dat dit spanning en afwagting skep, het ek nogal geïrriteerd gevoel dat die man nie net kan sê wat hy wil sê nie. Hy het immers die waagmoed en vrymoedigheid gehad om haar, toe nog vir hom ’n wildvreemde persoon, in die eerste paar bladsye te soen. En op bladsye 122–4 vertel hy heel op sy gemak meer oor homself.

Wian se onbeholpenheid om ’n liefdesverklaring te maak het my nou wel laat frons, máár op die ou einde het hy tog sy sê gesê gekry en dit nogal op ’n heel romantiese wyse. Sommige mans wys mos eerder as praat. En Wian weet van wys:

[E]n hy besluit om die oomblik ten volle te geniet. Dus vryf hy met sy hand oor haar heup, verby haar bobeen en agter die waai van haar knie. Dan sit hy vorentoe op die kussings en met een beweging trek hy haar op sy skoot, sodat sy wydsbeen met haar bene oor hom sit, hul gesigte etlike sentimeters van mekaar. (126)

Zinèt beskryf ’n paar vurige tonele tussen Leola en Wian. Hulle liggaamlike aangetrokkenheid tot mekaar gebeur op ’n natuurlike, ongeforseerde wyse. Die tweetjies kafoefel darem ook nou nie die hele tyd nie. Daar is ruimte en geleentheid om mekaar andersins ook beter te leer ken, soos deur wandelinge op die strand en ’n inkopietog. Omdat albei veeartse is, sal mens verwag dat diere ook in die storie figureer, en hulle doen wel – as pasiënte. “Ons huisslang het uitgekom en ek vermoed hy het te naby aan die vuur gegaan. Dokter moet asseblief help, voor my seuntjie se hart breek” (115).

Net ek is ’n mooi storie wat deur ’n vaardige skrywer neergepen is. Ek het lekker daaraan gelees en sal vir seker ook op die uitkyk wees vir nóg boeke uit Zinèt se pen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top