Drie jaar gelede het ek ook die voorreg gehad om met Eben Venter in gesprek te tree. Toe was dit oor sy vorige roman, Horrelpoot, wat ons gesels het. Ek het destyds, aan die einde van ons gesprek, vir hom gevra wat hy volgende wou skryf. Venter se antwoord: “’n Boek oor die liefde ...”
Is Santa Gamka, jou jongste roman, die storie oor ’n streetwise rentboy in die Karoo, Lucky Marais, dáárdie boek, die een oor die liefde?
Ja, maar op ’n komplekse, onwillige manier. Lucky weet net wat dit nie is nie. Selfs al sou die liefde hom- of haarself aanbied, gaan hy dit miskiennie herken nie. Miskien wíl hy nie. In dié opsig is hy te gewond deur daardie huis van klip en modder. Net die honde miskien. Hulle maak liefde. Maar hy twyfel nog daaraan ook. Dis die een kans wat hy nie wil waag om te vat nie. So aanwesig soos vrees in Horrelpoot was, so aanwesig is liefde in sy ontwyking, in sy omgekeerde vorm. Net die hunkering bly, die kilte van die verlange daarna.
Gepraat van Horrelpoot: dit is ’n boek wat nogal weerstand opgetel het by Afrikaanse lesers. Self het ek dit by meer as een geleentheid met leeskringe bespreek, wat ongemaklik gevoel het met wat hulle beskou het as ’n benouende, amper uitsiglose beeld van ’n toekomstige Suid-Afrika. Tog het die Engelse vertaling, Trencherman, ’n heel ander stel reaksies uitgelok – in Suid-Afrika, maar ook in die buiteland. Het jy dit ook so ondervind?
Ek het Trencherman vir baie van my Australiese en Amerikaanse vriende gegee om te lees. Onder hulle was ’n sosioloog, twee onderwysers en ’n Australiese skrywer, Marele Day, dit wil sê mense wat lees en wat weet van. Ver weg en met tweedehandse kennis van Suid-Afrika was die storie vir hulle gewoon ’n storie, “couldn’t put it down”. Maar daardie intense vereenselwiging met die potensiële voorspelling oor die puin-like toekoms van Suid-Afrika – ek sê "potensieel", omdat ek dit nie in die eerste instansie so bedoel het nie – het nie by hulle posgevat nie. Somber weliswaar, maar nou ook nie so dat jy jou gewrigte wil afsny nie. "Ons is gewoond aan somber," het my Poolse vriend PaweÅ‚ Zajas opgemerk.
Maar kom ons keer terug na Santa Gamka. Wat ’n mens na die lees van hierdie roman veral bybly, is die stem van Lucky Marais, jou rentboy-hoofkarakter. Dit is ’n deurleefde, outentieke karakter wat jy hier geskep het, een wat loskom uit papier en dringend en veral liggaamlik voor die leser gestalte kry. Waar het jy aan Lucky Marais gekom? Hoe het jy hom geskryf?
Dis interessant dat al die onderhoudvoerders tot dusver die vraag vra. Asof hulle die verbeeldingsvermoë van die skrywer wantrou. Hoe de hel het James Joyce dit reggekry om so van binne-uit Molly Bloom te skryf? Of Ingrid Jonker oor daardie township-kind wat doodgeskiet is? Maar goed. Na Horrelpoot wou ek oor ’n postapartheid-bybie skryf. ’n Jong bruin man as karakter was onmiddellik ’n uitdaging. Hoe klim jy in sy vel in? Hoe klim jy in ’n mens in wat baie tuis voel met sy vel? Hoe praat hy en hoe redeneer hy in sy kop?
Ek kan nie presies sê waarom ek Lucky verbeel het nie. Dit het sekerlik te make met my lewe hier. Ek het die afgelope paar jaar iets van die bruin gemeenskap leer ken. Nie so baie dat ek deel van hulle kon word nie. Dis te moeilik. Miskien ’n klasse-ding. Hulle het so ’n waterdigte solidariteit, dis nie maklik om daar in te kom nie. Maar hulle mét hulle taalgebruik het my gefassineer. Na baie jare het die mense van die Groot Karoo my voedingsbron geword. Observasie. Luister. Voyeur – al daai ingesteldhede. En die grootste voedingsbron: die taal. Suiwer en met plek-plek die vars gebruik van argaïese terme. Daar’s ook mooi jong mense hier. En ek is byna seker, byna, dat hulle losser en gemakliker omgaan met hulle seksualiteit as die serebrale witmense. Daar tree Lucky Marais stadigaan na vore. Maar hy moes ook so bietjie wêrelds wees. Dit gee Eddy en Eamonn hom. En so bietjie van ’n oor vir die mooiste ding op aarde hê: die letterkunde. Dit gee Mister D’Oliviera vir hom. En hy kan alles vasvat, want hy’s so bietjie besonders ook nog.
Besonders inderdaad! Santa Gamka se slot het nogal by my gespook. Ek was nie seker of dit Lucky se onafhanklikwording en bevryding uitbeeld, en of dit die leser eerder herinner daaraan dat ’n (bruin) mens se vel jou aan bande kan lê en jy diskriminasie aan eie lyf kan voel, selfs ná apartheid, en selfs buite Suid-Afrika nie?
Die einde lyk my is ’n oop einde. Tot dusver lees mense dit telkens anders. Maar sulke veelvuldige interpretasies voeg iets tot die boek by eerder as dat dit wegneem. Wat my bowenal interesseer, is of my storie die lesers enduit boei. En die karakter wat ek geskep het, is hy ’n lekker karakter? Met "lekker" bedoel ek: kan die leser in sy vel en kop inklim en met hom empatie hê? Gebreke/flaws en al. Wikus van de Merwe in District 9 was ’n lekker karakter. ’n Man van sy tyd en sy geskiedenis, bietjie naïef en daarom skattig; en dan aan die einde die daad wat hom volkome rehabiliteer as méns: hy laat die klein alien teruggaan na die moederskip. Dus: as ek daardie karakter staan gemaak het in die boek en die boek afgegee het aan die publiek, is dit wat ek my veral afvra: het die storie en karakter die lesers end-uit geboei?
Maar tog klink dit of jy die boek as ’n soort Bildungsroman lees, ’n storie oor individuasie en volwassewording, eerder as ’n verhaal oor die politieke teenstrydighede van ras, klas en die posisie van bruin mense in postapartheid-Suid-Afrika? Lê Lucky se vel hom aan bande?
Ek dink sy bruin vel laat hom baie tuis in Santa Gamka voel. Daarmee maak hy die dorp syne. Aan die einde wonder hy of hy nog ’n keer nog ’n kans met sy gladde, gespierde bruin vel sal vat met daardie wit FBI-ou. Dan besluit hy daarteen. Hy’s nou ’n volwassene. Hy staan uiteindelik op sy eie voete. Daar kom die vertederende herinnering aan sy pa wat vir hulle ’n mooi draadkar probeer maak. Kordaat, soos reg van die begin af, vra hy die man vir ’n sigaret. Waarom nie?
Inderdaad, waarom nie? Interessant genoeg het jy sedert My simpatie, Cerise tien jaar gelede nog nie weer ’n "Australiese" roman geskryf nie. Sou jy ooit weer? Of is Suid-Afrika die landskap van jou verbeelding?
Dis soos jy sê: die grond van my verbeelding. Onlosmaaklik. Op die tuisveld. Jy "verstaan" daai ou wat daar van die pawiljoen af skree. Jy kan sy slaapkamer verbeel, sy ma; jy kan sy taal gebruik as ’n sleutel om hom óóp te maak. Ek bly byna helfte van die jaar op die ooskus van Australië, en dan weer hier in die Groot Karoo. Vars oë, oop ore, dis wat sulke geheen-en-weerdery aan jou doen. Twee skyfies polonie op ’n sny witbrood – as jy elke Sondag jou koerant by daardie kafee gaan koop, kom jy mos nie meer die eie-aardigheid daarvan agter nie. Maar gaan bly nou lank oorsee. Ek het pas weer onder die indruk gekom van hoe goed JM Coetzee skryf as hy oor sy tuisveld skryf. Daardie passasies oor Merweville in Summertime is veel meer sappig as dié in Slow Man, wat gebeur in ’n Adelaide-voorstad in Suid-Australië.
Laaste vraag: Jy het met die vertalings van Ek stamel ek sterwe (My beautiful death) en Horrelpoot (Trencherman) groot sukses bereik. Is daar al vooruitsigte vir ’n vertaling van Santa Gamka?
Ek sou graag die boek laat vertaal, maar ek gaan eers wag op Afrikaanse lesers se reaksies. Wyle Luke Stubbs met sy geslypte vertalersinstrumente het kort voor sy dood nog laat weet dat hy graag die storie sou wou vertaal. Sy dood is ’n swaar slag vir sy familie, maar ook vir my. Teen die tyd dat Luke Trencherman vertaal het, was beide hy en ek meer bedrewe. In ’n e-pos aan my het JM Coetzee dit as ’n "magnificent translation" beskryf. Toe was ek baie, baie bly. Trencherman het inderdaad iets anders geword as die Afrikaanse oer-storie. My lewensmaat, Gerard Dunlop, het gesê dat hy daardie boek kon lees sonder dat hy aan my as die skrywer daarvan gedink het. Die boek het in Engels tot sy eie reg gekom, sy eie storie-wêreld en sfeer geskep.
Dankie vir jou tyd, Eben!