Nelle Dreyer: 'n Ster verskiet

  • 12

nelledreyer_ster1Nelle Dreyer, 1950–2015

“Cut!” Ashley Lazarus pluk die pet van sy kop af. Hy waai daarmee oor sy gesig. Dis warm en bedompig in die swartgeverfde ateljee. Die kameraman kom orent en gluur na ons. Nelle gee die glas appelwyn vir die meisie van die agentskap aan. Dié gooi dit dadelik in ‘n amper vol plastiekemmer uit en poets die soveelste glas sodat dit soos die aandster skitter. Ek vat ‘n sluk van die louwarm bottel Woodpecker cider wat ek in my hand hou. Niel Diamond se stem drentel deur ‘n oopgemaakte dubbeldeur. “Song sung blue”. Die benoude ruimte ruik na poeier en parfuum en haarsproei. Die skerp kolligte doof uit. ‘n Haarkapper met afgesnyde jeans en ‘n lang pinkienael vroetel met Nelle se hare en ons gesigte word behendig gepoeier en geontblink. Sy knipoog donkeroog vir my. Ek knipoog blouoog terug. Dié keer gaan ons die ingewikkelde prosedure voor die zoemende kamer regkry: ‘n yskoue bottel drank word agter my rug aangegee; ek moet dit dan, met die etiket perfek regop, tot neffens die glas in Nelle se hand bring – als in een soomlose beweging ... Ons knipoog vir ‘n denkbeeldige persoon in die kamera se lens en ek skink dat die skuim net so drie sentimeter van die rand van haar glas triomfantlik borrel. Dit alles gebeur terwyl ons oortuigend en gemaklik glimlag vir die skare wat die advertensie in die bioskoop gaan gadeslaan. 
nelledreyer_ster3
“Action!” Sy pet is ‘n rooi sinjaal op sy kop. 

Ons – ek en Nelle – is studente aan die Universiteit Stellenbosch en ons behoort aan dieselfde modelagentskap in Kaapstad. Sy is reeds ‘n legendariese skoonheid op Matieland. Wie kan die gelaaide oomblik en uitspattige gejuig vergeet toe sy as Sjampanjenooi voor die skare op Coetzenburg uitstap. Dit was nie slegs die hoop op oorwinning wat die skare laat jubel het nie. Dit was ook ‘n kollektiewe, onderbewuste herkenning van skoonheid. Daardie onpeilbare element – je ne sais quoi. Die x-faktor. Óf jy het dit, óf jy het dit nie. Nelle het dit. In oorvloed.

Murray la Vita skryf in 2011 in Die Burger na aanleiding van ‘n onderhoud met Nelle Dreyer:

Benewens haar natuurlike skoonheid – die oë, die mond, die lenige figuur – is Nelle ook iemand met ‘n sonderlinge styl en uitstraling.

Ek kan sien mense kyk vir die vrou in die swart broek en rooi leerespadrilles. Sy dra ‘n lieflike groot sonbril. Voor in die middel van haar rooi kopband is iets soos ‘n goue blom. Dit kan ook ‘n son wees wat daar vasgesteek is.

Die woord feline beskryf haar goed. Wanneer ons op die hotelstoep sit, is hierdie kat- agtige grasie veral te bespeur in hoe sy ‘n arm uitstrek of haar bene kruis.

Baie jare later is ons weer voor die kameras. Vir ‘n ander rede. Dis Donderdag 5 Oktober 15 jaar gelede. Ons is in ons vyftigs en die geleentheid is die voorskou van my tweede solotentoonstelling in Parys. Ek trek ‘n lawwe gesig vir die kamera. Nelle is mooier as ooit. Sy is geklee in ‘n eenvoudige middernagblou ensemble met ‘n ligter skakering omslaanmoue. Haar hare is in ‘n poniestert opgebind. Om haar nek is ‘n helderkleurige halssnoer wat herinner aan die Suidsee-eilande. Sy dra amper geen grimering nie. Die galery word stil toe sy deur die glasdeure op Rue de Seine stap. Ek sit my arm om haar skouer soos in die sewentigerjare in Kaapstad. Die kamera flits. 

nelledreyer_ster2
Johan Liebenberg ken Nelle sedert hul kinderjare, maar dis met die publiseer van haar boek dat hulle vriendskap verdiep. Hy skep ‘n vinjet uit hulle samesyn oor die jare:

Na Nelle haar permanent in Frankryk gevestig het, het ek haar af en toe gesien. Daar was iets onwerklik omtrent hierdie ontmoetings, wat ‘n paar maal by Meerlust plaasgevind het. Hannes Myburgh was die gasheer, sjarmant, besonder aantreklik, lenig; en tog teruggetrokke: die eienaar van die mees bekende wynlandgoed in Suid-Afrika. Eenmaal, op Chateaux Rothschild, so vertel hy, het hy by die venster uitgekyk, en gesien hoe Greta Garbo tussen die wingerde aangestap kom. Ek onthou die pieknieks op die uitgestrekte grasperk, met die komberse uitgesprei, die gaste onberispelik geklee in wit flenniebroeke.  

nelledreyer1

Tennisfoto geneem deur Gavin Furlonger

Dit is ‘n loom somersdag met die geluid van die bal wat die snare van die raket met eentonige reëlmaat tref, die trae applous na ‘n goeie rughandhou. En tussen die bome kom Giorgio Dalla Cia aangestap, Meerlust se wynmaker. ‘n Gawe man, effe ingetoë, soos Hannes self. Hy kyk self hoe Nelle Dreyer atleties oor die baan beweeg en ‘n uitstekende terughou speel.  

Nelle, wat ek van kleins af al ken. Van Sub A af … In die geestesoog vloei herinneringe inmekaar, sonder om hulle te steur aan die ordelike kronologie … die langbeen meisie in haar swart baaikostuum wat my nuuskierig aankyk in Langstraat Turkse Baddens & Swembad. Die mis wat oor die water opstyg. “Pasop vir kieme, my kind,” waarsku my ma. Daar was iets ongesonds omtrent die plek. Die gebreekte teëls … die lig wat flou deur die dakvensters val. Die ou opsigter in die hoek, op die stoeltjie, sy oë wat al verflou. En Nelle, stralend. Die lewe lê voor haar, die wêreld is so te sê reeds aan haar voete.  

*  

Dan roep Hannes ons om te kom eet. Hy staan gebukkend oor die braaiskottel, die rook verberg vir ‘n oomblik sy gelaatstrekke en hierna is sy gesig rosig. Giorgio staan hom by. Nelle proe aan die sampioene wat wild op die plaas groei: “Boletus edulis,” kondig sy aan. “In Parys betaal jy ‘n fortuin hiervoor.” Nelle, die uitstaande meisie; die Stellenbosse Sjampanjenooientjie, die topmodel wat deur David Bailey gefotografeer is … en sou ook met Helmut Newton gewerk het as dit nie was dat hy siek geword het nie. 

Later, in Hannes se huisie, wat verdwerg word deur die statige Meerlust-herehuis, sit ons en drink nog wyn – nou klein glasies, Meerlust Laatoes – ‘n pryswenner op wynskoue. Die wyn is soet met besonderse diepte. Dan word almal stil. ‘n Figuur het in die deur verskyn. Die ligval op haar gesig gee dit die deursigtige voorkoms van delikate glas. Sy staan skamerig daar, met iets treurig omtrent haar, hierdie beeldskone jong meisie. Dan verdwyn sy stilweg. “Dis Hannes se jonger sussie,” fluister Nelle. Later verneem ek daar was dalk sprake van ‘n probleem met haar.

Ek moet op my beurt verduidelik: op skool het Nelle met Rauch van Reenen uitgegaan. Hy het mens aan ‘n Griekse god herinner. Sy vol lippe was so duidelik gedefinieer, sy oë seeblou. Hy was die modelskoolseun, uit die boereadel, het vir Jan van Riebeeck se eerste span gespeel. As jy vir die onder 19’s se eerste span gespeel het, het jy nie gewone truie gedra nie – jy het ‘n wit broekie en ‘n wit trui gedra met ‘n wit krawat as jy formeel geklee was. Hulle, die onder 19’s, was die uitverkorenes, en dit was vanselfsprekend dat Rauch, die uitverkorene, Nelle, toe nog in standerd ses, sou keis. Keis? Of is dit “case”? Ja, ek onthou nog die woord. Dit beteken dat Nelle sy meisie was. Want selfs op dertien was sy reeds beeldskoon. Ek en my mede-standerd-sessers was benede haar. Ons was onvolwasse. Haar oë was gerig op groter dinge. Vergete was die dae toe ons beide so ses of sewe jaar oud was, by Langstraat se Turkse Baddens & Swembad toe sy my “gebom” het, toe ons saam geswem en gespeel het. 

Die atmosfeer op Meerlust is onwerklik, die figurante is onwerklik mooi, Rauch van Reenen wat met Nicky getrou het, die pragtige Christel Malan wat met Hannes sou getrou het. Die foto’s op voorblaaie … die “skande” daarna, veroorsaak ten dele deur Barry Dunne, Nelle Dreyer se minnaar wat, soos Nelle self vertel, op 13 soos Tadzio in die filmweergawe van Death in Venice gelyk het. Saam het hulle nagte deurgewerk in Koningin Victoriastraat, sy voor die kamera, vol idees … en Barry Dunne wat sy blonde hare terugveeg, sy oë blink van opwinding. Natuurlik het hulle die vloeiende wit klere van Harvey Rothschild gedra. Soos uitverkorenes het hulle deur die stad beweeg, in hul vloeiende linnekleredrag, en dis asof hulle die stad besit het. Mense het gaan stilstaan en hulle agterna gestaar. 

Barry Dunne sterf in Parys, eensaam. Twee dae lank lê hy daar, in ‘n kamertjie. Hy wou nooit hê dat Nelle hom moes kom sien nie. Hy het ‘n ou man geword. Sy hare het uitgeval en hy het nie meer tande oorgehad nie – die prys wat jy betaal as jy heroïne as jou minnares aanvaar.

nelledreyer2

Voorblad van Nelle se boek deur Protea Uitgewers

Toe ontvang ek eendag ‘n e-pos van haar. Sou ek bereid wees om te loer na haar manuskrip? Die titel is: ‘n Afrikaanse Meisie. Die opvolg sou wees: Toe ek klein was. Pragtig. Maar Protea Boekhuis het Voorbladnooi verkies – omdat sy die eerste Suid-Afrikaanse model was wat op Vogue se voorblad verskyn het. ‘n Model wat ‘n boek skryf? “Ja, stuur maar aan,” het ek traag geantwoord. (Ek het myself lankal nie meer as ‘n model beskou nie.) Die manuskrip kom by my aan. Ek begin te lees en hou aan met lees. Hierna stuur ek dit vir nog ‘n oud-Jan van Riebeecker, Annari van der Merwe (destyds by Tafelberg) en ook sy lees, en hou aan met lees.

Die boek verskyn. Sy is my miskien ewig dankbaar (hoe beskeie my bydrae ook al was). Sy word soos my suster. Ons skryf twee, drie maal per week vir mekaar. Sy lees alles wat ek skryf. Sy ondersteun my.

Maar op 15 Oktober 2015 gaan staan die horlosie. Nelle se kalender verstar. Daar sal nie ‘n Novembermaand wees nie. Dis alles, alles verby. 

*

nelledreyer3

Tulband-foto geneem deur Johan Liebenberg vir BY

Ons eet saam met Nelle en Louise Hennigs in Groenpunt. Dis ‘n vrolike geleentheid. Nelle is op haar stukke. ‘n Pragtige pers tulband sit soos ‘n Oosterse kroon op haar kop. Ons lag en spot oor die ou dae, raak dan weer ernstig oor die genadeloosheid van oud word. Dan skater ons weer oor die oënskynlike voordele van Botox en ander kosmetiese hulpmiddels. Ons maak planne om in Frankryk bymekaar te kom.

 Louise vertel van haar eerste ontmoeting met Nelle:

Ek sal die dag dat ek haar ontmoet, nie vergeet nie. Dit gebeur op die Place des Voges in Parys. Ek is saam met Hannes Myburgh. Ons ontmoet Nelle vir middagete en gaan na die tyd die Picasso Museum besoek. My eerste indruk van Nelle is oorweldigend. Dié beeldskone vrou is in swart geklee. Daar is ‘n bloedrooi lap om haar skouers gedrapeer. Sy sit by ‘n tafel onder die arkade, ‘n lang sigaret in haar hand met ‘n glas rooiwyn voor haar. Ek is aanvanklik totaal geïntimideer en voel soos ‘n plaasjapie!

Toe word Nelle my vriendin. Sy is dierbaar, vrygewig, snaaks, eerlik en lojaal. Nelle is soos ‘n suster vir my en ons kon oor enigiets en alles gesels. En lag. 

Louise kuier verlede naweek by ons op die Franse platteland. Sy het kom help met ‘n kunskursus wat ek hier aanbied. Dis haar voorlaaste dag – ons is in die tuin besig om die reëlings vir haar vertrek af te handel. 

“Ek gaan gou vir Nelle kontak om seker te maak watter tyd sy in Parys aankom.” 

Louise kom tussen die herfswordende kastaiingbome aangestap. Sy skud haar kop. 

“Sy antwoord nie haar telefoon nie. Ek probeer later weer.”

 

  • 12

Kommentaar

  • Renée Conradie

    Louis Jansen van Vuuren se huldeblyk is roerend en gepas. As modeskrywer in die Kaap het ek dikwels met Nelle Dreyer te make gehad. Uiters professioneel en veral as Tom Burgers agter die kamera was, het ’n fotosessie glad en met humor verloop. Ek het haar juis by Louis se uitstalling in Parys herontmoet en daarna by haar ateljee en elders gekuier. Dit is ’n hartseer groet.

  • marie bredenkamp

    Ek is meegevoer. Moet ten alle koste die boek kry. Onder andere oor daardie beskrywing van die swembad in Langstraat soveel herinneringe opgeroep het en die nostalgiese verwysing na Greta Garbo. Je ne sais quoi. Baie dankie.

  • Anet Pienaar-Vosloo

    My hart is so seer. Ek het haar bietjie geken, te min, wou nog kontak maak wanneer ek in Parys is maar te skaam/ bang om te pla. Plaas dat ek dit tog net gedoen het.

  • Pragtige beskrywing van die ikoon. Dankie, sy was verruklik en so anders as ons gewone sterflinge op Stellenbosch in die 60's.

  • Francois le Roux

    Louis, of enige iemand anders - hierdie kom as 'n groot skok vir my! Ook met Nelle bevriend geraak via Hannes Myburgh, was by haar en Bob 'n hele paar maal in Suid-wes Frankryk en Parys. Ons het vroeër vanjaar nog gepraat en het uitgesien om weer volgende jaar met hulle te kuier. Ek kry geen inligting oor haar afsterwe elders nie. Kan iemand dalk meer inligting verskaf? Dis skielik! Tans in Amerika en dus moeilik om met Bob in verbinding te tree. Beste Francois le Roux (HA!Man)

    • Amanda Dreyer

      Volgens die doodsberig in Die Burger 23 Okt, het sy 'n operasie ondergaan en daarna gesterf. "How sad" is dit nie?

      • Francois le Roux

        Dankie, Amanda! Van iemand anders het ek gehoor dit was 'n beroerte. Sal hopelik eendag weer met Bob kan gesels en beter verstaan wat gebeur het.

  • Johannes Comestor

    Werklike skoonheid is verslawend. Dit is een van die dinge wat die lewe die moeite werd maak.

  • Marie-Alet Louw

    Liewe Nelle, vriendin sedert ons laat tienerjare, Maanskyndraai, die Royal Sessions in Hermanus en jou ma se mini gateaux met tee. Ek onthou. rus sag, liewe vriendin. Die Astoria is ook nie meer. Marie-Alet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top