NB-Uitgewers bied iets vir elke smaak gedurende Augustus!
|
Titel: Brandwaterkom Skrywer: Alexander Strachan Alexander Strachan se Brandwaterkom is ’n dubbelloop-roman: Dit is enersyds ’n aangrypende, bloedstollende verhaal oor die lewe van een van die berugste Boereoffisiere, andersyds is dit ’n boeiende ondersoek na die verleidelike, soms selfs verraderlike manier waarop verhale van ons besit neem en ons verbeelding op loop jaag. Met verbluffende vernuf trek Strachan albei snellers van die roman gelyk af. |
|
|
Titel: Adrenalien Skrywer: Leon van Nierop Angs en adrenalien het die demone in Gustaf Prinsloo se onderbewussyn gevoed, hom laat skryf. Toe droog dit op. ’n Kans om sy roman as rolprent te verwerk dwing hom tot afsondering in ’n huis in die Bosveld. Hy raak bewus van ’n “derde dimensie”. Nou is die verslawende angs terug en kan hy weer skryf. Wanneer sy eksvrou onverwags opdaag, dwing sy die waarheid in gruwelike gedaante aan hom op. En maak ’n nuwe monster wakker . . . |
|
|
Titel: Koekedoor Skrywer: Errieda du Toit Bak raak net gewilder by die dag: Die populariteit van die Koekedoor-program is ’n sprekende bewys. Met hierdie bakboek as kameraad kan jonk en oud by die Koekedoor bakrevolusie aansluit. Die blaaie vang die hoogtepunte van die kompetisie vas. Die tuisgebak-resepte het die bekendheid van ’n familielid en vir beginnerbakkers is dit ’n goeie afskopplek. Die fyngebak-resepte se vernuwende idees en tegnieke kry jou bakfiks. Met die pronkgebakresepte kan jy ’n spoggerige bakreputasie opbou. Koekedoor wil gebak terugbring as iets sinvol wat die gesin kan saamdoen om nuwe herinneringe – en ’n bruisende nuwe Suid-Afrikaanse bakkultuur – te skep. |
|
|
Titel: Vry- Skrywer: Gilbert Gibson Die titel van Gibson se vyfde bundel verwys na die Vrystaatse ruimte waarin die digter grootgeword het en steeds woon, maar dit dui ook op die ontglippende aard van betekenis in die alledaagse lewe. |
|
|
Titel: Liefde is 'n sprokie Skrywer: Santie Nel ’n Bundel unieke kort liefdesstories wat tienerlesers sal wegvoer na ’n moderne sprokieswêreld vol aantreklike helde en romantiese heldinne. Elke verhaal is op ‘n bekende sprokie of feëverhaal gebaseer – maar met ’n heerlike moderne kinkel. Talia is so tuis in die water soos ’n meermin. Maar Erik, met sy blonde hare en blou oe, sorg dat sy sukkel om op haar diepseeduikkursus te konsentreer . . . Van die eerste dag wat Wolfgam vir Vlam van Huten raakgesien het, is sy nie net in sy kop nie, sy is in sy hart – daardie rooikopmeisiekind met die laggend oë wat sy nag- en dagdrome in besit geneem het. Maar sy rits net gedurig saam met daardie slymbol op sy motorfiets rond. Dit is maar net ’n paar van die heerlike kort romanses wat jou hart warm sal laat klop en jou weer in sprokiesliefde sal laat glo. |






