
NB-Uitgewers het met leedwese verneem dat die geliefde skrywer Margaret Bakkes op 29 Junie oorlede is.
Margaret Bakkes se lang skrywersloopbaan is geloods met die publikasie van haar eerste tydskrifkortverhaal in 1954. Van daar het sy van krag tot krag gegaan. Leon Rousseau nader haar in die sestigerjare met ’n publikasieaanbod en haar eerste bundel verhale verskyn in 1966 – vyftig jaar gelede – by Human & Rousseau. Sy verwerf bekendheid as kortverhaalskrywer wie se werk wyd voorgeskryf is en in versamelbundels opgeneem is. Ook as romanskrywer het sy haar merk gemaak met veral historiese romans, onder meer Elegie vir ’n onbekende, Susanna die geliefde en Kroniek van die sewe blou waens.
In ’n onderhoud met met Beeld in 2011 sê Margaret Bakkes: “Ek het in ’n sekere sin alles wat ek beleef het, in terme van ’n moontlike storie gesien.” En dit het inslag gevind in haar werk: Madeleine van Biljon verwys byvoorbeeld na haar “bevredigende en soms verrassende blik” op “wat gewoonweg die alledaagse genoem kan word”.
Ons is hartseer oor Margaret Bakkes se heengaan, en ons innige meegevoel gaan aan haar kinders – Marius, Christiaan en Johan Bakkes, en Matilde de Jager – en kleinkinders.
Die skrywer Jeanette Ferreira reageer soos volg: “Dat sy so stil uitgegaan het, die onblusbare Margaret Bakkes. Haar historiese romans, haar besinning oor ouderdom wanneer die amandelboom wit in die bloei staan; dit het sy vir ons nagelaat. Ek dink veral oor haar nostalgiese verhale oor die haar grootwordplek in die Stormberge se bittere koue, en dat sy nou juis in die koue moet groet. Maar haar warm lag en haar kleurvolle lewe sal by ons bly. Goeie reis aan 'n skrywer, vriendin en buitengewone mens.”
Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, onthou: “Margaret Bakkes was vandat ek my verstand gekry het deel van my lewe. Sy en my ma het saam grootgeword in Sterkstroom in die Oos-Kaap. Sy was ’n sterk vrou wat ’n familietradisie van wonderlike skrywers begin het. Ek sal haar op ’n persoonlike en professionele vlak baie mis. Daar is ’n hele generasie van groot skrywers wat ons nou verlaat.”
Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, sê: “Ek onthou my eerste ontmoeting met Margaret Bakkes toe ek nog maar ’n jong, beginner-redakteur was, en my groot bewondering en ontsag vir dié selfversekerde, stylvolle rooikopvrou met die lieflike amber-juweliersware, skrywer van wonderlike kortverhale en diep-menslike historiese romans. Dit is daardie beeld, van haar in haar fleur, wat my sal bybly. Dit was vir NB-Uitgewers ’n voorreg om oor baie jare Margaret Bakkes se werk te kon publiseer, en ons treur oor haar heengaan.”
Vir meer oor hierdie merkwaardige skrywer lees haar profiel in die ATKV/LitNet-Skrywersalbum: Margaret Bakkes (1931–2016)

