NB-Uitgewers kondig Ultrasatyn-wenners aan

  • 0

Smeulende, erotiese liefdesverhale waarin passievolle lyflike plesier besing word. Dís waarna NB-Uitgewers op soek was in hul 2013 Ultrasatyn-liefdesverhaalwedstryd. Die inskrywings – van erotiese verhale oor plaasromanse tot wulpse huurmoordenaars – het die beoordelaars behoorlik laat regop sit. 

Elizabeth Engela stap vanjaar weg met die eerste prys van R20 000 vir haar verhaal Sophie Sophia. Reëls van die spel deur Collette Berg is as die naaswenner van R10 000 aangewys. Albei skrywers gebruik skrywersname en is reeds voorheen onder hul eie name bekroon vir hul liefdesverhale. Die wenverhale handel oor moderne jong vroue wat hul sensualiteit ontdek. 

Die inskrywings van omtrent 35 000 woorde moes die suksesresep van NB-Uitgewers se gewilde liefdesverhale volg, maar ook ékstra stoom. Gesoute én debuutskrywers kon aan die kompetisie deelneem en inskrywings is anoniem deur ’n interne paneel liefdesverhaalkenners beoordeel.  

“Ons is nie verbaas nie dat albei hierdie prettige, sensuele wenverhale deur bekroonde liefdesverhaalskrywers is. Dit wys jou net, die skryf van ’n stomende, sexy liefdesverhaal sit nie in elkeen se broek nie,” sê die liefdesverhaalredakteur Hester Carstens. 

Die twee wenverhale word binne die volgende 12 maande as digitale boeke uitgegee onder NB se splinternuwe druknaam, Ultrasatyn. Die e-boeke sal by Leserskring, Amazon, Kalahari en Kobo te koop aangebied word.

Hou intussen die NB Liefdesverhale-blad op Facebook dop vir lusmakers uit die twee wenverhale.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top