NB-Uitgewers kondig met trots die derde Groot Afrikaanse Romanwedstryd aan. Dié wedstryd is nie net die omvangrykste plaaslike romanwedstryd nie; dit bied ook die grootste beloning sowel as die geleentheid om by Suid-Afrika se grootste uitgewery te publiseer.
Prysgeld van altesaam R350 000 is op die spel. Die wenner ontvang R200 000, terwyl die tweede en derde prys onderskeidelik R70 000 en R40 000 beloop. Daar is ook ’n debuutprys ter waarde van R40 000.
“Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd se doel is om talentvolle nuwe aspirantskrywers aan te moedig om te skryf, én om ervare skrywers aan te moedig om nuwe manuskripte te voltooi,” sê Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers. “Ons het 95 inskrywings vir die vorige wedstryd ontvang, en hoop dat die aantreklike pryse en die prestige van die wedstryd Afrikaanse skrywers weer eens sal inspireer om hulle manuskripte vir die wedstryd gereed te kry.”
Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd word volledig deur NB-Uitgewers geborg en vind elke drie jaar plaas. In 2012 was die wenner Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach, en in 2015 is die kompetisie gewen deur Dan Sleigh, met sy roman Die laaste goeie man. Die titel van Sleigh se wen-boek het intussen verander na 1795, en dit word op Saterdag 9 Julie by die Kasteel in Kaapstad bekendgestel. Die debuutwenner, Die skaalmodel deur Anneli Groenewald, het vroeër vanjaar verskyn.
Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd het ’n trotse geskiedenis wat terugdateer tot 1990, en het ontwikkel uit die destydse Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd wat later die Sanlam-romanwedstryd geword het.
Deelnemers kan hulle manuskripte voorlê aan enigeen van NB-Uitgewers se fiksiedrukname, naamlik Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie of Kwela. NB-Uitgewers onderneem om die wenmanuskrip(te) te publiseer en het eerste opsie op alle romans wat ingeskryf word. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 1 September 2017 en manuskripte word vanaf 1 Januarie 2017 aanvaar.
Die wedstrydreëls en inskrywingsvorm is beskikbaar op NB-Uitgewers se webwerf, www.nb.co.za. Skrywers se navrae kan telefonies gerig word aan 021 406 3412 of per e-pos aan romanwedstryd@nb.co.za.


Kommentaar
Ook vir beginners soos ek?
Hi Ina, ek is ook 'n beginner en het myne ingestuur. Wie nie waag nie sal nooit wen nie.
Sterkte aan al die deelnemers. Ek sal maar wag vir 2019?