NB Akademie voeg nuwe kortkursusse vir boekbedryf by sy program

  • 3

nbakademie280NB Akademie, 'n inisiatief van NB-Uitgewers, het sy program uitgebrei met opwindende nuwe kortkursusse wat reeds in die tweede helfte van 2016 beskikbaar sal wees. Die nuwe kursusse sluit in 'n eendagkursus in die skryf van boekresensies, aangebied deur die veteraanresensent, skrywer en ouduitgewer Kerneels Breytenbach, werkswinkels in die redigering van resepteboeke en Afrikaanse fiksie asook 'n uitgewerskursus in kontrakte en regte.

NB-Uitgewers is die grootste plaaslike handelsuitgewery in Suid-Afrika, met drukname soos Human & Rousseau, Tafelberg, Kwela, Lux Verbi, Queillerie en Pharos. Die NB Akademie-kortkursusse word deur van NB-Uitgewers se mees ervare medewerkers en personeel aangebied. Die volgende kursusse word in Augustus en September in Kaapstad en Pretoria gehou.

Die nuwe resensiekursus bied 'n oorsig van die skryf van resensies in Afrikaans, met die fokus op sowel die aard van die publikasie voorhande as die teikengehoor. Die kursus het 'n praktiese komponent en daar word onder meer van deelnemers verwag om vooraf drie resensies vir verskillende publikasies te skryf - in hierdie geval oor Rudie van Rensburg se speurverhaal Pirana. Dié boek sal in PDF-formaat beskikbaar gestel word indien nodig.

Ander nuwe kursusse is 'n eendagkursus in kontrakte en regte, aangebied deur Catrina Wessels, bestuurder van kontrakte en regte by NB-Uitgewers. Hierdie kursus bied onder meer 'n inleiding tot kopiereg en die wetgewende raamwerk van kopiereg, kontrakte tussen skrywers en uitgewers en 'n inleiding tot die verkoop van regte.

Die twee boekredigeerkursusse - van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse resepteboeke - word deur Suzette Kotzé-Myburgh en Anita van Zyl onderskeidelik aangebied. Albei het meer as 20 jaar ervaring in hulle veld. Dié kursusse word gedoen aan die hand van manuskripte wat onlangs by NB-Uitgewers gepubliseer is.

Die volledige lys kursusse vir die res van die jaar is soos volg:

Kaapstad
AFRIKAANS: Proeflees 101 (1 Augustus), Proeflees 201 (4-5 Augustus), Redigeer 'n resepteboek (15 Augustus), Redigeer 'n fiksieteks (16-17 Augustus), Hoe om 'n boekresensie te skryf (31 Augustus).

ENGELS: How to check an ebook (19 Augustus), How to design a book (29-30 Augustus), Contracts and rights (1 September), How to design an ebook (2 September).

Pretoria
AFRIKAANS: Proeflees 101 (10 Augustus), Proeflees 201 (11-12 Augustus), Hoe om 'n boekresensie te skryf (19 Augustus), Redigeer 'n fiksieteks (22-23 Augustus), Redigeer 'n resepteboek (24 Augustus).

ENGELS: Contracts and rights (18 Augustus), How to check an ebook (26 Augustus), How to design a book (12-13 September), How to design an ebook (16 September).

'n Kursus in boekomslag-ontwerp (Engels) is ook beskikbaar op aanvraag.

Meer inligting en registrasiebesonderhede word op NB Akademie se webwerf, www.nbakademie.co.za<http://www.nbakademie.co.za>, verskaf. Navrae kan ook gerig word aan Theona Geduld by nbakademie@nb.co.za of 021 406 2722. Kursustariewe beloop tussen R1 800 en R3 000.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top