Nazi-Duitsland en sy dwelms

  • 3

Foto van hedendaagse soldate: Pixabay

Krag. Spoed. Fokus. Stamina. Dit is die eienskappe wat ’n goeie soldaat moet hê. En of dit nou Fox Mulder van The X-Files is wat beweer dat sekere Amerikaanse soldate oor superieure alien-DNS beskik, en of dit gewelddadige videospeletjies, of virtual reality is wat deel van dié soldate se opleiding vorm, kruks van die saak is, dit is elke land se droom om ’n superweermag te ontwikkel. En tog word dwelmmiddels tydens oorlogsituasies mildelik ingespan om die soldate se militêre prestasies te verbeter, alhoewel dit nooit die geskiedenisboeke haal nie. Vergewe my die cliché van die dag: Dit vorm nie deel van die “historiese narratief” nie.

Met die verskyning van die films Das Boot (1981) en Platoon (1986) het die veterane kapsie gemaak. En heeltemal te verstane: Dit mag die moreel van die soldate aantas, hulle heroïese optrede in die skadu stel – en dit grens aan verdagmakery.

Die Nazi’s het die voortou geneem met die ontwikkeling van “oorlogsdwelmmiddels”. Stel jou voor ’n staatshoof, die army en die burgerlike samelewing is vir jare lank “hoog”. Op crystal meth. Dit is presies wat die geval met die Duitsers tydens die Tweede Wêreldoorlog was. Om die waarheid op onverdoeselde wyse te stel: Hitler was ‘n junkie, en sy Wehrmacht het, soos hy, metamfetamien misbruik. Die Duitsers was op die voorpunt van farmaseutiese ontwikkeling en die Temmler-fabriek het ’n middel, Pervitin, in 1937 bekendgestel. Pervitin is die oupa van crystal meth soos ons dit vandag ken en wat in kristalvorm op die swartmark verkoop word. Die misbruik van dié middel deur die Nazi’s sou selfs die karakters van Breaking Bad laat bloos het. Dit was sonder voorskrif beskikbaar en dit is mildelik aan die troepe uitgedeel; daar was selfs ’n Pervitin-sjokolade, gepatenteer as Hildebrand, wat ’n baie hoë dosis crystal meth bevat het en verslind is deur die volk. Naas verhoogde energievlakke, weerstandigheid teen pyn en moegheid, euforie en géén behoefte aan slaap nie, het die middel ook jou eetlus onderdruk, wat op sy beurt gelei het tot huisvroue wat (heerlik!) op sjokolade verslank het. Pervitin is nie (op daardie stadium) deur die Duitsers gesien as ’n dwelmmiddel nie. Alhoewel die Ariese ras gedroom het van ’n supervolk, het hulle geglo die swakkes gebruik opium om te ontvlug, en hulle, die sterkes, Pervitin, omdat dit bloot ’n stimulant is om hulle bestaande krag verder te vergroot. En natúúrlik was die Ariërs nie dwelmgebruikers nie, die Jode was … Ai. Deel van die Nasionaal-Sosialistiese regime was ’n skoon en gesonde leefstyl. Hitler se liggaam was deel van die beliggaming van dié ideologie: Die saluut, “Heil Hitler”, sinspeel ook op die gesondheid van die Führer (en sy liggaam).

Nou ja, chemies verbeterde soldate kan harder en langer veg as hulle vyande, met moderne mediese metodes behandel, en jou soos ’n Duracell-hasie vir 36–50 uur sonder slaap laat voortstoomroller. Volgens neuroloë het die mens ’n meganisme in sy brein wat hom keer om ander dood te maak, maar ’n sinteties-vervaardigde dwelm soos metamfetamien systap hierdie inhiberende funksie en skep ’n (beter) moordmasjien uit ’n soldaat. Duitsland het, as farmaseutiese reus, medisyne vervaardig waarin kokaïen, morfien en heroïen vrylik voorgekom het – trouens, die Duitsers was wêreldverskaffers van farmaseutika, middels wat die narkotikawaghonde van vandag die horries sou gee. En die Duitsers was vernuwend – gee die duiwel wat hom toekom. Hulle het selfs ’n kokaïenkougom vervaardig wat die soldate “nuwe energie” gegee het.

Ná hulle neerlaag in die Eerste Wêreldoorlog het dit sleg gegaan met die Duitse volk en wou hulle van die vernedering ontvlug. Hiperinflasie, werkloosheid en burgerlike onrus het sy tol begin eis. Die Duitsers was ontvanklik vir verandering en enigiets was moontlik. Berlyn se nagklubs en kabaretteaters was gekenmerk deur promiskuïteit en drank- en heroïenmisbruik. Angst – en sy teenpool, hedonisme – het hoogty gevier.

Te midde van hierdie onseker klimaat, wat ryp was vir sosiale en politieke verandering, het die snelgroeiende Nationalsozialistischen Party militêre inspirasie uit Berlyn se naglewe geput. Die Nazi’s het verstaan dat wanneer die manne se testosteroon begin vloei, die behoefte aan vroulike geselskap ook toeneem.

Die Wehrmacht se mediese offisiere het Pervitin in die Derde Ryk begin versprei en die Blitzkrieg was die militêre toets. Die Duitsers se aanvanklike sukses nadat hulle Pole binnegeval het in 1939, is waarskynlik grootliks te danke aan dié wondermiddel. Tussen April en Julie 1940 (alleen) het die leër 35 miljoen meth-tablette gebruik wat die soldate se selfvertroue en aggressievlakke ’n aansienlike hupstoot gegee het. Die Blitzkrieg (oftewel weerligoorlog) vereis spoed, krag en maneuvreerbaarheid, en die soldate het dae sonder slaap klaargekom – hulle was onstuitbaar in sowel die grond- as die lugaanvalle. Na die inval in Frankryk het selfs Churchill in sy memoires sy verstomming uitgespreek oor die kragdadigheid van die Blitzkrieg.

Van die talle offisiere wat beswyk het aan hartaanvalle as gevolg van die kardiovaskulêre newe-effekte van Pervitin, is daar egter nie ‘n dooie woord gerep nie.

Dinge het egter lelik skeefgeloop vir die Nazi’s tydens die Slag van Brittanje in 1940. Die Luftwaffe was nie opgewasse vir die Royal Air Force nie, en omdat die Duitsers se tegnologie en wapentuig minderwaardig was in vergelyking met die Britte s’n, het die Pervitin-gedrewe vlieëniers langer, en meer vlugte onderneem om hiervoor te vergoed. ’n Moontlike verklaring vir die talle botsings van die Duitse vlieëniers is dat die misbruik van Pervitin sy skerp kant begin wys het: dubbelvisie, uitputting, duiseligheid, ens.

Eers in 1942 het Pervitin die aandag getrek van die owerhede en is die inname beperk deur nuwe regulasies; daar is ook toegegee dat dit ’n verslawende middel is. Dwelms is al vir eeue deur weermagte gebruik, maar die Duitsers was die pioniers van sintetiese ontwerpersdwelms – “pep pills”, “go pills”, “uppers”, of “speed” – wat die sentrale senuweestelsel stimuleer. Die nasleep van Pervitin was egter psigose, paranoia, sweet, hallusinasies, hartprobleme en depressie, om ’n paar te noem. Maar dit was ’n vieslike dwelm, soos langtermyngebruik getoon het. Die verslaafdes het uitgeteer, hulle hare het uitgeval en hulle tande en mukusmembrane het begin verrot.

Dr Theodor Morell was Hitler se persoonlike arts en vertroueling. Aanvanklik was hy ’n gewilde dokter met ’n florerende praktyk – waarskynlik as gevolg van sy voorliefde vir sterk medikasie en inspuitings. Nadat hy Hitler suksesvol vir maagkrampe behandel het (met probiotika), het die Führer gereken hy’s ’n mediese genie – want ná episodes van moegheid het die dok hom met sy geheime konkoksie “vitamiene” ingespuit, wat inderwaarheid Pervitin was. Hitler, opgekikker met hernude Ariese krag, het Morell (wat oor ’n mediese doktorsgraad beskik het) summier bevorder tot professor. Morell het sy praktyk verlaat en vir ’n veel kleiner salaris vir die Führer begin werk, waarskynlik oor die mag en aansien wat hy geniet het. Hitler se binnekring het Morell egter as ’n kwaksalwer gesien wat met medikasie eksperimenteer; die dok was (ironies genoeg) ook nie lief vir bad nie. Hitler het sy arts verdedig deur te sê hy het hom aangestel om hom te behandel, nie om lekker te ruik nie. Dr Feelgood se houvas op Hitler was die verslawende inspuitings. Die dokter het getrou rekord gehou van die behandeling – die Führer het tot 20 inspuitings ’n dag ontvang, wat 74 verskillende soorte substanse in 28 verskillende kombinasies betrek het! Unheilig. Hitler was toksies (letterlik en figuurlik), en as die gevaarlikste man op aarde met die rits patologieë soos psigopatie, grandiose, narsistiese en paranoïese stoornisse, was hy ’n tikkende tydbom. Nuwe, sterker dwelmmiddels nodig.

In 1944 het ’n apteker, Gerhard Orzechowski, met sy wonderpil genaamd D-IX vorendag gekom. Die Duitsers het ondertussen mini-eenmanduikbote vervaardig wat vereis het dat die bemanning vir vier dae sonder slaap moes klaarkom. Die bestanddele van Orzechowski se nuwe kuur was Eukodal, kokaïen en metamfetamien. Orzechowski het sy eksperimentele medikasie getoets op gevangenes in ’n konsentrasiekamp wat letterlik vir dae aaneen met rugsakke vol klippe moes loop tot hulle inmekaar gesak het van uitputting. Nodeloos om te sê, die gevolge van die wonderpil het in ’n nagmerrie ontaard. Die marinekorps het begin hallusineer van die nuwe dwelm.

Tydens die Slag van Berlyn was dit dan ook Morell wat vir Hitler en Eva Braun hulle sianiedpille gegee het – asook vir Joseph Goebbels en sy vrou Magda, wat eers hulle ses kinders om die lewe gebring het voor hulle selfmoord gepleeg het.

In 1944 was Hitler se ruim verskeidenheid medisyne nie meer voldoende nie en het Morell begin om hom met ’n opiaat (handelsnaam Eukodal), wat vaagweg verwant was aan heroïen, in te spuit. Morell het Hitler gewaarsku om die inspuitings te verminder, want hy kon geen are meer vind om te spuit nie – die verslaafde kanselier se are was kaput. Ook die Führer se agteruitgang was skrikwekkend. Hy het verander in ’n afgetakelde ou man, bewerig van Parkinson se siekte (en deels onttrekking), en het meer aan delusie gely as ooit. Toe die Geallieerdes begin om die farmaseutiese fabrieke te bombardeer, het Morell se manne op motorfietse na die brandende geboue en apteke gejaag om vir oulaas voorrade vir die diktator te red. Uiteindelik het Morell geen nut meer vir die onttrekkende Hitler gehad nie en het hy hom afgedank; hy het Berlyn op 23 April 1945 per vliegtuig verlaat.

Alhoewel Norman Ohler in sy opspraakwekkende baanbrekerswerk, Blitzed: Drugs in Nazi Germany, die historiese narratief aanvul met die Nazi’s se substansgebruik, is die gebruik van middels deur soldate so oud soos die mensdom self. Alkohol was maar altyd die nommer 1-verdoofmiddel. Japan, Amerika en Brittanje het óók tydens die Tweede Wêreldoorlog stimulante gebruik. Opium en magiese sampioene is reeds duisende jare gelede deur die Vikings, Inkas en Romeinse soldate gebruik. Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog was morfien die voorkeurmiddel. Die Eerste Wêreldoorlog is die “tabakoorlog” genoem. Die Tweede Wêreldoorlog is aangevuur deur stimulantmisbruik. Die Viëtnam-oorlog is gekenmerk deur speed, dagga, heroïen en opium. Daar is 58 000 Amerikaanse soldate dood in Viëtnam en 70 000 van die veterane het selfmoord gepleeg. (Daar bestaan nie ’n gedenkmuur vir hulle nie; hou ook in gedagte dat onttrekking ’n groot deel van PTSS uitmaak en dat daar nie rehabilitasiegeriewe vir hulle was nie.) En vandag, met die konflik in die Midde-Ooste of die oorlog in Sirië, is daar ’n terugkeer na afhanklikheidsvormende voorskrifmiddels soos OxyContin (ook genoem die “hillbilly heroin”, ’n opioïed), Vicodin (’n opioïed), Captagon (’n amfetamien), of die afsluk van deksedrien met Red Bull-energiedrankies. Kabinette verdoof hulle leërs – of hou hulle blind – wanneer dit kom by die besigheid van doodmaak. En in die proses bly die regerings se eie megalomanie ook onaangetas.

  • 3

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Ook interessant, volgens Wikipedia: 'The popular story dates the etymology of the term Dutch courage to English soldiers fighting in the Anglo-Dutch Wars[2] (1652–1674) and perhaps as early as the Thirty Years' War (1618–1648). One version states that jenever (or Dutch gin) was used by English soldiers for its calming effects before battle, and for its purported warming properties on the body in cold weather. Another version has it that English soldiers noted the bravery-inducing effects of jenever on Dutch soldiers.'

  • Waldemar Gouws

    Beste me Bennett, ek sien die Britse historikus, Alan Clark, gee wel 'n verwysing na die gebruik van middels deur die Duitsers. In sy boek "The Fall of Crete" (1962) noem Clark: " The men were also supplied with pervitin, or benzedrine tablets, but apart from this there is no evidence to suggest that they were 'doped'..." (p.53 in my 2001-uitgawe deur Cassell Military Paperbacks).

    Groete
    W Gouws

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top