Nasionale Eisteddfod van Suid-Afrika: Sluitingsdatum vir inskrywings verleng

  • 3

Ten spyte van die grendels wat ons tans bind, is dit belangrik dat jeugontwikkeling in die kunste nie ingeperk word nie! Al is die lewe nog steeds nie terug na “normaal” nie, is die verandering na vlak 2 van inperking goeie nuus! Daarom het die Nasionale Eisteddfod van Suid-Afrika besluit om die sluitingsdatum vir aanlyn inskrywings te verleng tot 6 September 2020.

Terwyl verskeie kunswedstryde en ander feeste vir 2020 reeds met die instelling van die inperking teen die einde van Maart gekanselleer is, het die Nasionale Eisteddfod Akademie (’n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy wat die Nasionale Eisteddfod bestuur) reeds vanaf dag een besluit om voort te gaan met aktiwiteite vir 2020.

Maatreëls is in plek gestel om voorsiening te maak vir toekomstige vereistes wat tydens die inperking gestel mag word. Benewens die verwagting dat lewendige optredes onder bepaalde voorwaardes in die toekoms wel sou moontlik wees, is ook nuwe moontlikhede ontgin. Dit sluit in die gebruik van tegnologie vir virtuele optredes wat dit moontlik maak om die opwinding van lewendige optredes in ’n sekere mate te behou – iets wat nie moontlik is met video-opnames wat die derde alternatief vir deelname is nie.

In sy strewe om die kunste in opvoeding te bevorder, beklemtoon die NEA voortdurend die belang van eisteddfoddeelname vir persoonlike ontwikkeling en groei van deelnemers. Gegewe die huidige uitdagings, moet die terapeutiese waarde en impak van die “betowering van die kunste” op jong deelnemers nooit onderskat word nie. Die NEA glo daarom dat eisteddfoddeelname nie net tot die sogenaamde “talentvolle” deelnemers beperk mag word nie.

Dit is ’n werklikheid dat COVID-19 ons wêrelde omgekeer het. Bykans alle volwassenes ervaar emosies van angstigheid en vrees. Kinders voel hierdie spanning aan en ervaar gevolglik self hierdie emosies. Deelname aan die Eisteddfod is ’n aktiwiteit wat kinders kan help om hierdie uitdagings te trotseer.

Die Nasionale Eisteddfod van Suid-Afrika  beskik oor ’n omvattende Prospektus wat voorsiening maak vir al die kunsvorme. Vir meer inligting hieroor en hoe om deel te neem, besoek gerus die Nasionale Eisteddfod se webblad by https://www.eisteddfod.co.za.

Ouers, onderwysers of individuele deelnemers wat addisionele hulp verlang kan ook die NEA kantoor skakel by 011 886 6005 of ’n epos stuur aan info@eisteddfod.co.za.

Volg die NEA op:

Die Nasionale Eisteddfod Akademie (NEA) is ’n nie-winsgewende maatskappy wat geleenthede skep vir jeugontwikkeling in die kunste. Aktiwiteite van die NEA bied verskeie geleenthede oor die hele spektrum van artistieke en kulturele diversiteit waar jong kunstenaars hulle talent ten toon kan stel en hulle vaardighede kan slyp en ontwikkel. Sedert die ontstaan van die organisasie in 1997 het hierdie aktiwitiete van die NEA reeds meer as 526,000 deelnemers in verskeie stedelike en plattelandse gebiede betrek. Die Nasionale Eisteddfod van Suid-Afrika, die grootste eisteddfod in die land, word deur die NEA bestuur.

  • 3

Kommentaar

  • Baie dankie aan die NEA vir al hul moeite om die geleentheid te skep in hierdie tye waar ons kinders ontneem is van sport en kulturele uitlaatkleppe! Volwassenes kan ook deelneem in die ope afdeling en hierdie is ook 'n uitmuntende geleentheid vir gesinslede om as 'n groep (twee to vyf deelnemers) deel te neem aan 'n musiek of spraak en drama item. Kom ons ondersteun die NEA in hul lofwaardige poging!

  • Vir my as Zulu-sprekende was dit 'n groot voorreg om as kind in Afrikaans aan die Eisteddfod deel te neem - die opbouende kritiek van die beoordelaars het my selfvertroue om Afrikaans te praat versterk. Ek het ook die voorreg gehad om saam met my peetpa en ander as 'n ensambel in die ope afdeling deel te neem. Die medalje wat ons as kategorie-wenners gewen het, is nog steeds een van my kosbaarste besittings. Ouers, maak asseblief gebruik van van hierdie geleentheid, julle sal nie spyt wees nie!

  • Dankie aan die NEA wat steeds moeite doen om die liefde vir Afrikaans en die kunste op hierdie wyse vir ons kinders lewend te hou. Ek kan met gesag getuig van die bydrae wat deelname aan Eisteddfods op my kinders se ontwikkeling gehad het. Nie net is hul horisonne verbreed nie, maar kon hul vaardighede ontwikkel wat hulle gehelp het om as volronde volwassenes te ontluik. Ek vertrou dat daar tog deelnemers sal wees om ook 2020 deel te neem en so herinneringe vir die toekoms bymekaar te maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top