Nasionale Boekweek 2025: Miemie du Plessis se kinderboekkeuses

  • 0

Die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (UVSA) moedig Suid-Afrikaners aan om Nasionale Boekweek 2025 te vier. Naomi Meyer het ’n paar kinderboekuitgewers om hul boekkeuses gevra. Hier is Miemie du Plessis se kinderboekhoogtepunte van die week.

Ek wil graag die fokus plaas op prenteboeke, veral plaaslike prenteboeke wat in Afrikaans vertaal word. Dit verruim beide die Afrikaanse kinderboekaanbod en ons begrip vir mekaar. Ek het hierdie jaar drie sulke boeke uitgegee: Dapper soos ek deur Zulaikha Patel; Jou kans om te dans deur Refiloe Moahloli en Neo se onsigbare kombers deur Salamina Mosese. Al drie skrywers het ’n sonderlinge vermoë om te verwoord hoe belangrik dit is om dit te doen waarvoor jy lief is en waarin jy glo, en die ondersteunende rol wat ouers en ander familielede daarin kan vertolk. 

Ek wil ook Jaco Jacobs se prenteboek My stem kan vreemde dinge doen uitlig. Dit het ontstaan as ’n liriek vir ’n laerskoolkoor van Bloemfontein en ek het toe vir Jaco gevra of ek ’n prenteboek daarvan kan maak. Ek sing van kindsbeen af in kore en dit het baie waarde tot my lewe toegevoeg om koor te sing en na kore te luister. Al is ek so bekend met die boek se teks, raak ek steeds bewoë wanneer ek dit lees. Die boek gaan egter oor baie meer as koorsang. Koorsang is slegs een van die wyses waarop kinders hul stemme kan laat hoor. Die boek wys vir jong lesers hoe hulle hul stemme kan gebruik om verandering teweeg te bring. 

Prenteboeke is waar ’n kind se verhouding met boeke werklik vlam vat, en behoort ’n prioriteit te wees in alle sfere van die boekbedryf.  

Lees ook:

Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke

Jy’s seker nie ernstig nie

Goue lint, my storie begint: Karakterisering in jeugverhale

Nasionale Boekweek 2025: Michelle Cooper se kinderboekkeuses

Press release: PASA Calls on South Africans to celebrate and champion the joy of reading for National Book Week and International Literacy Day

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top