Oskar en die Pienk Tannie
Eric-Emmanuel Schmitt (vertaal deur Naòmi Morgan)
Human & Rousseau
ISBN 9780798159685
Koop Oskar en die Pienk Tannie van Kalahari.com
Oskar en die Pienk Tannie was al die land vol soos wat die toneelstuk van kunstefees na kunstefees gereis het. Maar eintlik kom die tienjarige Oskar van België af. Naòmi Morgan, medeprofessor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, het die oorspronklike Oscar et la dame rose in Afrikaans vertaal. Sy het ook die dramateks geskryf. Die Afrikaanse boek Oskar en die Pienk Tannie het in 2013 by Human & Rousseau verskyn. Naomi Meyer het Naòmi Morgan oor die lewe voor Oskar, daartydens en daarna gevra.
Hoe het jy die eerste keer met die teks kennisgemaak? As boek, op die verhoog, of hoe?
Ek doseer Franse letterkunde, en probeer dus op hoogte bly van eietydse skrywers. Wanneer 'n mens in Parys se strate loop, is daar byna altyd 'n plakkaat wat 'n toneelstuk van Schmitt adverteer; soms speel daar drie of meer van sy stukke tegelyk in die stad se teaters. Hy is in die eerste plek 'n dramaturg, maar is ook 'n bekroonde romanskrywer en lid van die Koninklike Akademie vir Franse Taal en Letterkunde van België. Oscar et la dame rose het al 'n handvol pryse gewen: België se Grand Prix Étranger in 2006, Switserland se Prix Chronos in 2005, Frankryk se Prix Chronos in 2004, Frankryk se Prix Jean Bernard (Akademie vir Geneeskunde) in 2004.
In 2004 het die tydskrif Lire lesers gevra om die boeke te lys wat hul lewens verander het. Bo-aan die lys was die Bybel, Die drie musketiers, Die klein prinsie, en Oskar en die pienk tannie. So 'n boek moet 'n mens lees, en ek het. Ek het die toneelstuk egter nooit in Frankryk op die verhoog gesien nie; soms stem 'n mens se reisdatums ongelukkig net nie ooreen met die speelvak van 'n toneelstuk wat jy graag wil sien nie. Ek het wel 'n opname van die eerste speelvak van die stuk, nog met Danielle Darrieux (toe 86!) in die rol van ouma Rosa.
Ek raai jou blootstelling aan die teks was vanselfsprekend kennismaking met die oorspronklike Frans – is ek reg? Baie mense prewel dat Frans vir hulle so ’n romantiese taal is, maar ek wil my verstout om oor jou te raai dat Frans so deel is van jou alledaagse bestaan dat jy ook daarin vóél en emosioneel belééf. Gans anders as wanneer mens normaalweg ’n tweede of derde taal aanleer, wanneer mens eers die simbole wat taal is, moet ontsyfer voordat mens dieper as veloppervlak tas. Laat ek jou eerder vra om in jou eie woorde te vertel ... Wat is jou pad met Frans?
Ja, ek het dit oorspronklik in Frans gelees, en dit as vertaalprojek voorgeskryf vir my honneursklas. Omdat dit baie interessant is om die verhaal ook in ander tale te lees, het ons ook na die Engelse vertaling (Oscar and the pink lady, vertaal deur Adriana Hunter) gekyk. Jy is heeltemal reg oor hoe ek Frans ervaar: dit is eintlik nie vir my 'n taal nie, dis 'n musiek, dis 'n kwessie van intonasie. My pad met Frans was nie van die begin af 'n loopbaankeuse nie. Op skool was dit waarskynlik eerder 'n soort geheime kodetaal wat ek met ander geïnisieerdes wou deel; ek het toe gedink my lewe na skool lê elders, in die skone kunste (kuns was my gunsteling-vak op skool) of in die musiekwêreld (veral klavier). Maar ek was ook baie bewus van hoe min ek nog gelees het, watter wonderlike ontdekkings daar was in die letterkundes van die wêreld (Engels, Frans, Italiaans, later Nederlands). Ek het ná BA Tale gaan kinders oppas in Frankryk, en later 'n beurs gekry om in Genève te gaan studeer. Switserland was baie goed vir my: Switserse Frans word stadiger gepraat, en daar is verskillende intonasies vir elke kanton. Soos in Vlaandere, waar daar nie 'n standaardtaalvorm is nie, is mense in Switserland baie simpatiek teenoor sprekers met verskillende aksente. 'n Mens kry gouer selfvertroue, jy leer die intonasies aan, jy vermom jou Frans na aanleiding van die dorp wat jy besoek. Maar jy onthou altyd waar die “moederland” is, waar die bron van die taal is. Dis ook hoekom ek so baie van Jacques Brel hou - hy het wonderlike, insigvolle dinge gesê oor die verhouding tussen Frankryk en die ander Franssprekende lande.
Oskar en die Pienk Tannie is nie die eerste Franse teks wat jy vir Afrikaanse gehore oopsluit nie. Ek dink vinnig aan die Afri-Frans-projek waarby jy betrokke was. Hier het Myra Maud die tekste wat jy vertaal het, in Frans gesing. Net mooi andersom het jy daardie slag vertaal. En toe moes jy dit boonop musikaal so doen dat die woorde “uitwerk” op die regte musikale manier. Wil jy iets van hierdie projek vertel?
Graag. Soms speel een van die Afri-Frans-liedjies onverwags oor die radio en dan dink ek terug aan daardie tyd, hoe heerlik die projek was, van begin tot einde. Ek was al baie gelukkig in my lewe om mense te ontmoet wat nie net lekker is om mee saam te werk nie, maar werklik sielsgenote is. Baie van hulle is in die uitvoerende kunste, soos Matthys Maree. Afri-Frans was sy idee – ons het mekaar geken van die Brel-projek af (hy doen die klavierbegeleiding op die twee Herman van den Berg-CD’s). Hy het die meeste van die liedjies gekies, want as professionele begeleier ken hy die Afrikaanse repertoire seker beter as enigiemand anders. Ek het net een liedjie bygesit, “Stille rivierstroom”, 'n ou gunsteling van my. Dit was ontsaglik moeilik, baie moeiliker as Oskar, want liedjies gaan dikwels oor kultuurgoedere wat baie beteken vir plaaslike luisteraars, maar nie veel vir 'n oorsese gehoor nie. Wie in Frankryk of in 'n Franssprekende land weet wie Mannetjies Roux is? Hoe vertaal 'n mens Anton Goosen se Kaapse liedjies, waarin daar verskillende tale en registers is, en verwysings na kos (soos waterblommetjies) wat mense nie elders eet nie? En soos jy sê, soms werk jy dae aan 'n oortuigende vertaling en as jy dit dan sing (want dis nie poësie nie, nè, dis nie stom nie, dit het 'n melodie!), eindig 'n klank op 'n lang noot wat nie mooi is om na te luister nie. Dan begin jy weer oor.
Ek moet jou eerlik sê: die idees vir die vertaling van Afri-Frans het gekom uit herinneringe aan woorde wat ek oor dekades gelees, gehoor, geskryf het, en dit is hoe ek werk. As ek nie verder kan nie, los ek dit, en my onderbewuste hou aan met soek. Soms duur dit 'n hele paar dae, maar dan kry 'n mens die verlore legkaartstukkie. Ek is baie dankbaar dat dit 'n sukses was, want so kon ons die CD’s maak. Daar is ander wonderlike projekte waarby ek betrokke is waarvoor ons nie borge kan kry nie, en sonder 'n CD is dit asof al die werk verniet was. Daar moet 'n tasbare herinnering wees, iets waarna toekomstige generasies kan luister, iets wat 'n mens agterlaat. Verba volant, scripta manent, sê die spreekwoord, maar sang vlieg net soveel soos woorde; dit moet ook vasgelê word.
En so het jy ook vir Herman van der Berg Brel in Afrikaans vertel. Ek is lus om te vra watter kant om is die lekkerste as jy kan kies: Frans na Afrikaans, of andersom?
Dis 'n baie goeie, maar baie moeilike, vraag, as gevolg van die kwaliteit van Brel se lirieke. Afri-Frans was 'n groot uitdaging, maar die lirieke was nie poësie nie. Brel se liedjies word voorgeskryf in skole en op universiteit in Frankryk; daar is al talle meesters- en doktorsgrade gedoen oor sy liedjies. Daarom was ons twéé wat aan die Brel-projek gewerk het: ek en 'n gepubliseerde digter, Bernard Odendaal. Dit was ook 'n vernuwende manier van werk, want Bernard verstaan nie Frans nie. Ek het dus 'n eerste vertaling gedoen, met uitgebreide kulturele en taalkundige notas, en dan dig hy dit om. Dis 'n nuwe woord wat ek toe geleer het .. omdigting. Ons gebruik te maklik die woord vertaal vir enige soort transposisie. Bernard het my eerste vertaling nie net omgeskryf nie, hy het dit omgedig. Sommige van daardie liedere, soos “Die stad sluimer in” en “Om 'n vriend te sien huil”, is suiwer emosie en van die mooiste lirieke in Afrikaans. Die Nederlanders en Vlaminge dink die Afrikaanse vertalings van Brel is van die beste onder die vertalings in verskillende tale. Maar om jou vraag te beantwoord: om na Frans toe te kan vertaal, gee my 'n voordeel ('n mens vertaal gewoonlik na jou moedertaal toe), maar na Afrikaans toe gee my waarskynlik meer bevrediging, want so kan ek my gunsteling-tekste deel. Dit is 'n eensame bestaan, so in 'n taal en 'n kultuur wat min ander mense om jou praat en verstaan.
Ek vermy dit om jou oor Oskar en die Pienk Tannie te vra. Dis so ’n pynlike storie, al staan daar op die omslag van die boek dat dit “’n storie van vriendskap en aanvaarding” is. Maar dit gaan oor ’n seuntjie van tien wat aan die sterf is! Hoe kán mens begin praat van aanvaarding? Al die ander fases van om die dood te beskou, ja: woede, hartseer, ontkenning, maar aanvaarding ...? Is dit soos jy die teks beleef het die eerste keer toe dit tot jou gespreek het?
Nee, maar dit is ook omdat ek die teks in buitengewone omstandighede gelees het. Ek was in Leuven, besig met navorsing, en 'n goeie Vlaamse vriendin (die “Lieve” aan wie die boek opgedra is) het my oor koffie vertel dat haar niggie, Ella (die ander persoon aan wie die boek opgedra is, 'n dogtertjie wat Oskar se ouderdom was) gediagnoseer is met kanker. Sy is 'n paar maande later oorlede. Schmitt kombineer die verhaal van Oskar se kennismaking met ouma Rosa met 'n spirituele kennismaking met God, aan wie Oskar begin briewe skryf. Ek dink die aanvaarding kom wanneer die siekte jou so uitgemergel het dat jy nie meer kan veg nie, dat jy wil gaan rus. Aanvaarding is vir my 'n sterk woord, iets wat jy miskien net kan doen as jy nog ten volle in beheer is. Laat ek dit so stel: Oskar aanvaar omdat dit nie anders kan nie, maar hy sê naby aan die einde: "Maar ek moet nog steeds eerste gaan", wanneer ouma Rosa hom daaraan herinner dat almal sterflik is. Dis wat dit vir my is, maar miskien nie vir Schmitt, wat 'n soort Damaskuservaring in die Hoggar-woestyn gehad het nie. Vir my aanvaar jy omdat dit nie anders kan nie.
Die donker humor in die teks is natuurlik fantasties. Blou Bettie, die Pienk Tannie en dan ook Braaivleis en die ander karakters wat mens net ’n bietjie te ongemaklik laat voel omdat jy hulle so visueel vertaal het ... Was die humor so bedoel?
Die oorspronklike name is Peggy Blue, Mamie Rose (Mamie beteken “Ouma” in Frans) en Bacon, wat net so erg is as Braaivleis. Laasgenoemde was dus net 'n kulturele verskuiwing na 'n Afrikaanse omgewing. Ek moet sê die grafiese aard van die karakters se name pla my minder, want die kinders in die verhaal het óf self hul byname gekies óf die name aanvaar wat hul maats hul gegee het. Dit hang vir my saam met hul eerlikheid oor hul siektetoestand: hul draai nie doekies om nie – anders as die grootmense.
Hoe dink jy beleef die Franse dit (aangesien jy dan so volkome in ’n Franse vel inklim, voel ek jy kan die vraag namens die Franse nasie beantwoord): as snaaks, of as hartverskeurend?
As bittersoet, dink ek - sonder die humor sou 'n mens nie deur die teks gekom het nie. Humor, hoe galg ook al, is ook 'n manier om te oorleef, hetsy in Frankryk of in Suid-Afrika.
Jy werk baie nou saam met Sandra Prinsloo, soos jy elders ook noem. Het jy haar as aktrise gekies en het jy van die begin af gedink dit gaan 'n eenmanstuk wees - waar een persoon dit regkry om die seuntjie én die Pienk Tannie te kan speel?
Toe ek die weergawe met Danielle Darrieux sien, het ek gedink net Sandra kan dit nadoen (nou dink ek natuurlik sy het Darrieux ver oortref). Die weergawe met Darrieux, wat Schmitt self verwerk het uit sy novelle, is ook 'n eenvroustuk. Dit is byna onmoontlik om 'n kind die rol van Oskar te laat speel - te veel woorde, en netnou kry die arme kind plankevrees!
Ek het, terloops, nooit die Engelstalige film gesien nie, maar dit lyk nie vir my die karakter was net een mens hier nie. Die film is ook deur Schmitt gemaak, in Frans, maar seker nou al met Engelse onderskrifte of 'n klankbaan. Dit is 'n gewone film, met tientalle karakters.
Duidelik vertaal jy gemaklik ander mense se tekste. Gemaklik en emosioneel, tot so ’n mate dat mense van jou vertaalde karakters hou en die karakters mens bybly. Maar eintlik en inderwaarheid is jy self ook ’n skrywer uit eie reg. Beland op kortlyste as gevolg van jou eie skryfwerk. Wat verkies jy, of waarmee is jy besig wanneer jy die pen optel: om iemand anders se verhaal te vertel, of om jou eie te skryf? Anders gestel: Hoe lyk die lewe na Oskar (en die Pienk Tannie)?
Ek kry ten minste my vertalings (soms) gepubliseer! Skryf word vir my al hoe moeiliker, miskien omdat ek letterkunde doseer. 'n Mens word baie krities oor jou eie werk. Vertaal is makliker, maar skryf is meer bevredigend – jou keuse van woorde het emosionele waarde, dis jou hele ervaringswêreld wat ingespan word. Daar is altyd projekte (waaroor ek nie eens meer praat nie, want die Daaglikse Katastrofes kom altyd tussenin!), onder andere (dis nou ook nie fiksie nie, maar darem ook nie vertaling nie!) 'n biografie oor Jacques Brel waaraan ek al jare werk. En soveel toneelstukke wat ek graag sou wou vertaal! Ons is dekades agter met wat op die Franse verhoog gebeur, en dit is so 'n plesier om saam met goeie akteurs te kan werk. Dus 'n kombinasie van die twee, en miskien (troos 'n mens jouself) kry jy meer selfvertroue as skrywer deur ander skrywers te vertaal.
Klik hier om LitNet op Twitter te volg |
Is jy op Twitter? Wen 'n eksemplaar van Oskar en die Piek Tannie! Al wat jy hoef te doen is om die artikel op Twitter te deel. Onthou om @mylitnet in jou twiet te koppel om in aanmerking te kom. Kompetisie sluit 17 April 2013. |
Kommentaar
Baie dankie hiervoor. Ek hou vreeslike baie van die Afr-Frans CD. En het gewonder wie dit met soveel gevoel vertaal het! En Sandra Prinsloo is nou maar net een uitstekende aktrise.