NALN 50-fees: Hertzogpryswenner Johan Myburg gesels oor Narreskip

  • 0

Oor hierdie Hertzogpryswenner se nuutste bundel sê Louis Esterhuizen: “Nog selde het ek ’n versameling gedigte teëgekom wat so volgehoue en voluit op satire ingestel is, in dié mate dat hierdie gedigte gunstig vergelyk met MM Walters se indrukwekkende digterskap. Bykans die totaliteit van menswees en menslike prestasie word in hierdie gedigte voor stok gekry: van die klassieke skrywers en mitologieë, tot die hedendaagse; so ook die visuele kunste en musiek.”

Daniel Hugo sê: “Hierdie skip is – soos Lucas Malan se ’n Bark vir die ontheemdes (1981) – ’n nuwe versameling gedigte waarin hy à la Slauerhoff ’n onderdak of kajuit kan vind. Dit neem spesifiek die vorm aan van ’n ‘ship of fools’. Die enigste manier om in Suid-Afrika te oorleef is dus om die geweld, korrupsie en onbevoegdheid van die politieke leiers en staatsamptenare satiries uit te beeld.”

Binne die bestek van drie digbundels het Johan Myburg hom gevestig as een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse digkuns; in hoofsaak omrede elke publikasie van hom van ’n fyn vakmanskap getuig wat nie net sy eie nie, maar die totale digkuns verruim. Hy debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel, Kontrafak (1994) word met die Eugène Marais-prys bekroon. In 2008 verskyn die indrukwekkende Kamermusiek; ’n bundel waar die kamer die sentrale ruimte is waarbinne handeling afspeel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top