Nagraadse toekennings vir studie in enige vakdissipline in Afrikaans

  • 0

Sperdatum vir aansoeke: 31 Augustus 2016 (Akademiese jaar 2017).

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns stel vir 2017 'n beperkte getal beurse/toekennings (vir een jaar) beskikbaar, bedoel vir nagraadse studie deur die medium van Afrikaans IN ENIGE STUDIERIGTING:

  • M-studie
  • D-studie
  • Voorkeur word verleen aan kandidate wat voltyds studeer.
  • Kandidate wie se navorsingsvoorleggings (M en D) reeds by sy/haar universiteit goedgekeur is, word versoek om skriftelike bewys hiervan voor te lê as ook 'n beknopte opsomming van die studie.
  • Kandidate in hulle tweede of derde jaar van studie vir die betrokke graad kan eweneens vir 'n beurs kwalifiseer.  
  • Van studente word verwag om saam met hul aansoek 'n benaderde begroting in te dien en eweneens verslag te doen oor alternatiewe/bykomende finansiering.
  • Voorkeur word verleen aan studente wat by 'n Suid-Afrikaanse universiteit ingeskryf is en wat oor die Suid-Afrikaanse nasionaliteit beskik.
  • Aansoeke sluit op 31 Augustus 2016 en moet op die voorgeskrewe vorm gedoen word. Die vorm moet volledig voltooi word.
  • 'n Aanbeveling van die studieleier/promotor MOET by die aansoek ingesluit word.
  • LET WEL: Suksesvolle kandidate kan die eerste paaiement van hulle beurse gedurende Maart 2017 aanvra, mits die SA Akademiekantoor die oorspronklike kontrakte reeds ontvang het. Die tweede en laaste paaiement is einde Junie 2017 betaalbaar. Die aanvraag om die tweede en laaste uitbetaling moet vergesel word van 'n bevredigende vorderingsverslag van die studieleier/promotor. Uitbetaling van die beursgeld is onderhewig aan die aanvaarding van die beurse en die gelyktydige ondertekening van 'n leningsooreenkoms wat slegs van krag word sodra 'n kandidaat sy/haar studie voortydig staak, nie bevredigende vordering maak nie of sy/haar studies nie binne die gestelde studieperk voltooi nie: In die geval van 'n M-studie: maksimum drie jaar; In die geval van 'n D-studie: maksimum 4 jaar.Die beurs/toekenning is ook terugbetaalbaar indien die student nie sy/haar studies sou slaag nie. Die leningsooreenkoms word ewewens van krag in geval van enige ander ongerymdhede wat met die beurs/toekenning verband hou.

M-studie

Beurse tot 'n maksimum van R60 000 (eenmalig) en registrasiegeld vir twee opvolgende studiejare is betaalbaar vir studie deur en in Afrikaans in enige studierigting - hetsy in die geestes- of die natuurwetenskappe. Die eindproduk van die studie, in die geval van 'n proefskrif MOET in Afrikaans wees.

  • Die eindproduk van die studie – byvoorbeeld 'n verhandeling of skripsie MOET in Afrikaans wees en as sodanig vir eksaminering ingedien word.
  • Vertalings uit enige ander taal is onaanvaarbaar.
  • Die aard van die studie en faktore soos voltydse of deeltydse studie speel 'n rol by die bepaling van die bedrag wat toegeken word.
  • Indien 'n kandidaat benewens 'n skripsie ook van die opsie van vraestelle gebruik maak, MOET die opsie Afrikaans vir die skryf van die vraestelle gekies word.
  • Afhangende van die vordering met die studie en die aanbeveling van die betrokke studieleier, kan 'n kandidaat aansoek doen om die betaling van registrasiegeld vir die tweede studiejaar.
  • Die derde jaar van studie word as 'n grasiejaar beskou en 'n kandidaat word geag om sy/haar M-studie aan die einde van sy/haar derde jaar af te handel.

Indien nie aan laasgenoemde vereiste voldoen word nie, tree 'n leningsooreenkoms in werking wat 'n kandidaat verplig om die beursgeld wat oor die volle tydperk aan hom/haar uitbetaal is, met rente terug te betaal. Van 'n kandidaat word verwag om by die toekenning van 'n beurs ‘n leningsooreenkoms te teken. Daar moet jaarliks bewys van registrasie gelewer word.

D-studie

Beurse tot 'n maksimum van R120 000,00 (eenmalig) en registrasiegeld vir twee opvolgende studiejare is betaalbaar vir studie deur en in Afrikaans in enige studierigting - hetsy in die geestes- of die natuurwetenskappe. Die eindproduk van die studie, in die geval van 'n proefskrif MOET in Afrikaans wees.

  • Indien ander uitkomste vir die D-studie vereis word, byvoorbeeld 'n reeks verwante tydskrifartikels, moet die meerderheid van die artikels – of minstens drie artikels in Afrikaans – vir eksamendoeleindes aangebied word.
  • Vertaling uit enige ander taal is onaanvaarbaar.
  • Afhangend van die vordering van die studie en aanbevelings van die betrokke promotor, kan 'n kandidaat aansoek doen om befondsing van registrasiegeld vir 'n tweede en opvolgende derde studiejaar.
  • Die vierde jaar word beskou as 'n grasiejaar.
  • 'n Student word geag om sy/haar studies aan die einde van sy/haar vierde jaar af te handel.

Indien die student nie, soos kontraktueel ooreengekom, sy studie in Afrikaans in die gegewe termyn van vier jaar afhandel nie tree 'n leningsooreenkoms in werking wat 'n kandidaat verplig om die beursgeld wat oor die volle tydperk aan hom/haar uitbetaal is, met rente terug te betaal. Van ‘n kandidaat word verwag om by toekenning van 'n beurs 'n leningsooreenkoms te onderteken. Daar moet ook jaarliks bewys van registrasie gelewer word.

Bepalings:      

1. Aansoeke sluit op 31 Augustus 2016.
2. Uitslae word in die begin van Desember 2016 bekend gemaak.
3. Motiverings vir studie moet in goed versorgde Afrikaans aangeheg word.
4. Aansoeker ontvang 'n erkenning van aansoek ontvang vanaf die Akademiekantoor. Dit bly egter die aansoeker se verantwoordelikheid om te bevestig of die SA Akademie
sy/haar aansoek wel ontvang het.

Vir aansoekvorm en enige navrae kontak:
Melanie Rens
SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Tel: 086-1333-786
beurse@akademie.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top