|
||||||||
Opsomming
Hierdie artikel bied ’n woordmedevoorkomsnetwerk-ontleding van die Nederlandse lirieke van die heidenmetaalgroep Heidevolk met die doel om die sentrale temas en narratiewe wat hul werk definieer, bloot te lê. In die breër konteks van swaarmetaal, en spesifiek die verwante genres van Viking- en heidenmetaal, word Heidevolk as ’n unieke groep geposisioneer wat hul moedertaal en plaaslike geskiedenis van die Lae Lande gebruik om hul eie Germaanse erfenis te verken, eerder as om slegs op die Skandinawiese Vikingtydperk te fokus.
Die ondersoek gebruik ’n kwantitatiewe benadering deur ’n woordmedevoorkomsnetwerk uit al sewe van die groep se vollengte albums saam te stel. Na deeglike datavoorverwerking, insluitende lemmatisering en die verwydering van stopwoorde, is die netwerk ontleed deur gebruik te maak van twee algoritmes: PageRank, om die belangrikste kernwoorde te identifiseer, en die Louvain-algoritme, om tematies verwante gemeenskappe of groepe woorde te ontdek.
Die PageRank-resultate onthul kernwoorde soos land, god, volk, bloed, woud, strijd, zwaard, rijk, en aarde, wat dui op ’n duidelike fokus op geskiedenis, etnisiteit, die natuur en ’n krygersgees. Die Louvain-algoritme het hierdie woorde verder in 25 gemeenskappe georganiseer. Die klassifikasies van hierdie gemeenskappe bevestig dat Heidevolk se lirieke sentreer rondom mitologie en Legendes (Germaanse gode soos Wodan en Tiwaz), Natuur en Landskap (aarde, woud, moeder), en temas van Stryd en Konflik, onder andere met verwysing na historiese gebeure.
Deur hierdie woordmedevoorkomsnetwerk-ontleding bied die artikel ’n empiriese bewys van Heidevolk se identiteit as ’n heidenmetaalgroep met ’n sterk, lokaliserende Germaanse en natuurgerigte wêreldbeskouing, wat hul posisie in die groter subgenre onderstreep.
Trefwoorde: Germaanse erfenis; heidenmetaal; Heidevolk; lirieke; Louvain-algoritme; Nederlands; PageRank; Vikingmetaal; woordmedevoorkomsnetwerk-ontleding
Abstract
A word co-occurrence network analysis of the Dutch lyrics of Heidevolk as a pagan metal band
This study provides a comprehensive quantitative network analysis of the Dutch lyrics produced by the pagan metal group Heidevolk, aiming to uncover the central themes and narratives that define their musical output. By positioning Heidevolk within the broader context of heavy metal – specifically the Viking and pagan metal subgenres – the study highlights the group’s unique approach of utilising their native Dutch language and local history from the Low Countries to explore Germanic heritage, rather than relying on generic Scandinavian Viking tropes.
The article begins by situating heavy metal as a diverse musical landscape encompassing various subgenres, including extreme metal, folk metal and pagan metal. Viking metal is defined as a subgenre primarily focused on the Viking Age (8th to 11th century), Norse religious traditions, and Scandinavian landscapes. Pagan metal is a broader umbrella term that incorporates diverse pre-Christian traditions – including Celtic, Slavic Saxon, and Germanic – rather than being strictly limited to Scandinavian themes.
A recurring characteristic in these subgenres is the use of native or archaic languages to distance the bands from Anglo-American cultural hegemony and establish authentic local identities. While some bands utilise dead languages to connect with early history, Heidevolk distinguishes itself by using modern Dutch to interpret the history of the Low Countries, explicitly rejecting generic Viking themes in favour of local historical events and personal experiences in nature.
Heidevolk, founded in Arnhem in 2002, is noted for its heroic, choir-like vocal style and its educational, non-profit approach to cultural preservation. The band members often collaborate with historians and museum curators to ensure that their lyrics are historically grounded, while being creatively interpreted for a 21st-century audience.
To analyse these lyrics, the research employed a quantitative approach using a word co-occurrence network constructed from all seven of the band’s full-length albums. The data processing involved several rigorous steps:
- Data collection: Lyrics were sourced from the Encyclopaedia Metallum and Dark Lyrics websites. Instrumental tracks, cover songs, and non-Dutch tracks were excluded to ensure that the analysis focused exclusively on the band’s own Dutch-language content.
- Data preprocessing: Using the Textlens tool, the lyrics were lemmatised (reducing words to their dictionary base forms) and filtered to remove “stop words” – common words with little thematic value – leaving 1 727 unique words for analysis.
The resulting network was visualised and analysed using two key algorithms within the Gephi software:
- PageRank: Used to identify the most influential or central words within the network.
- Louvain algorithm: Applied to identify “communities” or thematic clusters where specific groups of words frequently appear together (co-occur).
The network analysis resulted in 25 distinct communities, which were classified using the Gemini 3 Flash model to provide objective labels. The results revealed a deeply interconnected worldview where history, mythology and nature are inseparable.
The PageRank algorithm highlighted key terms such as land (land), god, volk (people/nation), bloed (blood), woud (forest), strijd (struggle), zwaard (sword), rijk (empire/realm) and aarde (earth). These words immediately characterise the band’s focus on ethnicity, heritage, conflict and the natural world.
Multiple communities focus on nature. In the band’s pagan worldview, the natural environment is not merely a background but a living entity that interacts with human experience and religious traditions.
Significant communities demonstrate a preoccupation with Germanic mythology. References to Wodan (Odin), Tiwaz (Tyr) and Holda indicate a specific focus on Germanic manifestations of deities, distinct from Viking-specific interpretations. The study notes the inclusion of “Wodan” rather than “Odin” as a deliberate linguistic marker of a Dutch/Germanic frame of reference.
Some communities are defined by themes of resistance and defence. The lyrics anchor the band in the local history of Gelderland and the wider Low Countries, frequently referencing the Batavian rebellion against Rome and the Saxon resistance against Frankish/Christian expansion.
A notable tension between life/death and light/darkness (e.g., nacht vs. dag) permeates the network, contributing to the epic and cosmological tone that characterises the genre.
The article concludes that Heidevolk is definitively a pagan metal group with a strong, localised Germanic and nature-oriented worldview. By empirically mapping the co-occurrence of words like land, dood (death), volk (people/nation), strijd (struggle), and woud (forest), the research validates the band’s unique role in the genre. They do not merely borrow from Viking metal; they actively construct an identity rooted in the specific historical and cultural soil of the Low Countries.
Keywords: Dutch; Germanic heritage; Heidevolk; Louvain algorithm; lyrics; pagan metal; PageRank; Viking metal; word co-occurrence network analysis
1. Inleiding
Die wêreld van swaarmetaal is ’n uitgebreide musikale landskap waar ’n verskeidenheid uiteenlopende subgenres aangetref word wat wissel van ekstreme style tot meer melodieuse variasies. Binne hierdie wye spektrum het genres soos heidense en Vikingmetaal ontstaan, wat onderskei word deur hul liriese fokus op voor-Christelike kulture, geloofstradisies en die geskiedenis van hul onderskeie streke. Hierdie subgenres weerspieël dikwels ’n belangstelling in plaaslike erfenis en word gekenmerk deur die gebruik van inheemse of selfs dooie tale,1 ’n bewuste keuse om afstand te doen van Anglo-Amerikaanse kulturele hegemonie en ’n outentieke plaaslike identiteit te bevestig. Dit is teen hierdie agtergrond van tematiese en linguistiese verkenning binne die globale metaaltoneel dat die werk van groepe soos die Nederlandse Heidevolk tot stand gekom het.
In die huidige ondersoek word ’n woordmedevoorkomsnetwerk-ontleding van die Nederlandse lirieke van die heidenmetaalgroep Heidevolk onderneem ten einde die sentrale temas en narratiewe wat hul werk definieer, bloot te lê. Die doel van die ondersoek is om Heidevolk se kernwoordeskat te identifiseer, en die navorsing bied sodoende ’n empiriese verkenning van die groep se identiteit as ’n heidenmetaalgroep met ’n sterk, gelokaliseerde Germaanse en natuurgerigte wêreldbeskouing.
Die artikel is soos volg gestruktureer. Eers word ’n oorsig van sleutelterme soos heidense en Vikingmetaal, hul oorspronge, en ’n agtergrond van die groep Heidevolk gebied. Daarna volg ’n omskrywing van die metodes wat in die huidige ondersoek gevolg is, wat die stappe vir dataversameling, datavoorverwerking (lemmatisering en stopwoordverwydering), en die ontledingsmetodes (die gebruik van PageRank- en Louvain-algoritmes, laasgenoemde om nodusse te identifiseer wat gereeld saam voorkom, gemeenskappe genoem ) in besonderhede beskryf. Dan word die bevindinge van die woordmedevoorkomsnetwerk-ontleding aangebied en bespreek, insluitende die kernwoorde en die geïdentifiseerde gemeenskappe. Die artikel sluit af met slotopmerkings en voorstelle vir verdere navorsing.
2. Agtergrond
2.1 Terme
Swaarmetaal is ’n sambreelterm wat ’n verskeidenheid uiteenlopende musiekstyle beskryf, met bekende subgenres van swaarmetaal byvoorbeeld dié wat as ekstreme metaal bekendstaan: rukmetaal (thrash metal), doemmetaal (doom metal), doodsmetaal (death metal) en swartmetaal (black metal) (Mora-Rioja 2023:20; Senekal 2025:312). Die term swaarmetaal is omvattend en sluit ook vroeë groepe en ligter musiekstyle in (Senekal 2025:314). Volksmetaal (folk metal) is ’n ander vorm van swaarmetaal wat onderskei word deur die gebruik van tradisionele volksinstrumente (soos viole, fluite en trekklaviere) en streeksmelodieë in ’n swaarmetaalraamwerk (De Klepper, Molpheta, Pille en Saouma 2007:39; Mora-Rioja 2023:23). Heidense en Vikingmetaal kan verwant wees aan volksmetaal, maar kan ook onder ander swaarmetaalsubgenres ingedeel word omdat dit hoofsaaklik op grond van liriese inhoud eerder as musikale styl onderskei word (Von Helden 2010:257; Bénard-Goutouly 2015:95; Heinen 2017:70; Fletcher 2019:230; Manea 2020:69). Let egter daarop dat Heinen (2017:69–70) te kenne gee: “Eine Unterscheidung zwischen Viking, Pagan und Folk Metal gestaltet sich schwierig und bezüglich der dafür notwendigen Kriterien besteht kein Konsens” (Dit is moeilik om te onderskei tussen Viking-, heidense en volksmetaal, en daar is geen konsensus oor die nodige kriteria nie).
Vikingmetaal word spesifiek gedefinieer deur sy fokus op die Vikingtydperk (8ste tot 11de eeu), Noorse geloofstradisies en die landskappe van Skandinawië (De Klepper e.a. 2007:38; Von Helden 2010:257; Heinen 2017:70). Dit word soms beskryf as ’n subgenre van swartmetaal, wat, in navolging van die voorbeeld wat deur die Sweedse groep Bathory gestel is, sataniese beelde vir Noorse beelde verruil het (De Klepper e.a. 2007:38; Heinen 2017:68), maar daar is ook doodsmetaalgroepe wat as Vikingmetaal beskryf word (Moynihan en Søderlind 2003:30; De Klepper e.a. 2007:30–1; Von Helden 2010:257) (kyk verderaan). Wat klank betref, hoef Vikingmetaal nie soos swart- of doodsmetaal te klink nie, omdat die indeling op die tematiese fokus van lirieke berus (Fletcher 2019:230). Stilisties kan die musiek wissel van stadige, epiese liedjies tot vinnige, aggressiewe swaarmetaal, maar die tematiese kern bly die verheerliking van die Noorse verlede en anti-Christelike sentiment, beskou deur die lens van historiese konflik (Segers 2012:56). Nasionaliteit en ’n diepgaande belangstelling in die eie land se geskiedenis is ’n onlosmaaklike deel van Vikingmetaal (Von Helden 2010:258).
Heidenmetaal is ’n breër sambreelterm as Vikingmetaal en omvat groepe wat inspirasie put uit voor-Christelike tradisies wêreldwyd, nie beperk tot Skandinawië nie (Von Helden 2010:257; Segers 2012:56; Heinen 2017:70). Terwyl Vikingmetaal op Noorse gode soos Óðinn en Ϸórr fokus, kan heidense swaarmetaalgroepe Keltiese, Slawiese, Saksiese, Germaanse2 en ander geloofstradisies insluit (De Klepper e.a. 2007:41; Von Helden 2010:257). Algemene temas van heidenmetaal sluit in die viering van die natuur, Middeleeuse kultuur en die verwerping van georganiseerde monoteïstiese godsdienste ten gunste van inheemse geloofsoortuigings (De Klepper e.a. 2007:41). Terwyl alle Vikingmetaal as heidenmetaal beskou kan word, is nie alle heidenmetaal daarom Vikingmetaal nie. ’n Groep wat oor Keltiese geskiedenis of die Romeinse Republiek sing, sal onder heidenmetaal val, maar nie onder Vikingmetaal nie. Om hierdie rede hoort Heidevolk eerder by heidenmetaal as by Vikingmetaal, soos later in hierdie artikel aangetoon word.
’n Algemene kenmerk van beide heidense en Vikingmetaal is die wydverspreide (alhoewel nie eksklusiewe nie) gebruik van inheemse en dooie tale. Heinen (2017:71) skryf: “Auf verbaler Ebene zeichnet sich Pagan Metal durch seine Sprachenvielfalt aus” (Op ’n verbale vlak word heidenmetaal deur sy verskeidenheid tale gekenmerk). In die vroeë 1990’s het sommige ekstreme metaalgroepe begin om Engels – die omgangstaal van rock en pop – te verwerp, soos Trafford (2021:229) aanvoer:
Modern local languages were increasingly deployed by extreme metal bands in their songs as a way of stating distance from and opposition to what was seen as one of the keys to becoming commercially successful: adherence to a flattening neo-liberal Anglo-American hegemony over global culture.
Burzum,3 ’n invloedryke swartmetaalgroep van Noorweë met ’n sterk fokus op Noorse en Germaanse geloofstradisies, het byvoorbeeld Noorweegse lirieke ingesluit in Det som engang var (1993) en Hvis lyset tar oss (1994), terwyl ander Noorweegse swartmetaalgroepe, soos Dimmu Borgir, Satyricon, Ulver, Darkthrone, Demonic, Gorgoroth en Troll, almal opnames in Noorweegs ingesluit het (Senekal 2025:317). Ander inheemse tale is oor die algemeen volop in swaarmetaal: Aes Dana sing in Frans, Cruachan in Iers, Fimbulvet in Duits, Heol Telwen in Frans en Bretons, Korpiklaani in Fins, Månegarm en Vintersorg in Sweeds, Negură Bunget in Roemeens, en Sólstafir in Yslands (Heinen 2017:85–97). Die Faroëse groep Týr verweef tradisionele Faroëse ballades (kvæði) in hul musiek, wat ’n lewende mondelinge tradisie bewaar wat uit die Middeleeue dateer (Trafford 2021:231). In die Baltiese lande sing Obtest, Ha Lela en Zpoan Vtenz in Litaus, terwyl Skyforger in Letties sing (Weinstein 2014:66). Daar is ook ’n hele aantal swaarmetaalgroepe wat in Afrikaans sing (Senekal 2011; 2025), alhoewel hierdie groepe nie as heidense- of Vikingmetaalgroepe beskryf word nie.
Verskeie heidenmetaalgroepe het ook opnames in dooie tale vrygestel. In teenstelling met die gebruik van Latyn in ander musiekgenres, verkies heidenmetaalgroepe gewoonlik ’n enkele uitgestorwe volkstaal wat spesifiek verband hou met hul eie land van oorsprong se vroegste vormingstydperk (Trafford 2021:227). Noorweë se Enslaved het byvoorbeeld Oudnoors (en Yslands) gebruik op Vikingligr Veldi (1994) om egtheid en ’n direkte skakel met hul voorouers aan te dui (Trafford 2021:229). Burzum het ’n album, Dauði Baldrs (1997), vrygestel wat, ondanks die feit dat dit suiwer instrumentaal is, die verhaal van die god Baldr se dood vertel deur middel van volledige Oudnoorse tekste in die omslagnotas (Trafford 2021:230). Burzum se latere album, Umskiptar (2012), is geheel en al in Oudnoors getoonset (Trafford 2021:230). Ásmegin sing in argaïese Noorweegs (Weinstein 2014:66), en Otyg sing op hul beurt in ’n argaïese Sweedse streeksdialek (Kahn-Harris 2007:106). Die Switserse groep Eluveitie skryf lirieke in herskepte Gallies om die stories van die Helvetiaanse Kelte te vertel (De Klepper e.a. 2007:40; Weinstein 2014:66; Trafford 2021:233). Die Griekse groep Kawir sing op hul beurt in antieke Grieks (Fletcher 2019:233). ’n Meer onlangse ontwikkeling in hierdie opsig is die genre NeoFolk wat gedeeltelik uit Skandinawiese swartmetaal ontwikkel het en Oudnoors, Protogermaans en ander antieke tale gebruik (Granholm 2011; Roe 2019; Senekal 2024).
2.2 Oorspronge
Die wortels van heiden- en Vikingmetaal kan teruggevoer word na die grondslagjare van swaarmetaal in die laat 1960’s en vroeë 1970’s. Vroeë groepe soos Led Zeppelin en Black Sabbath het temas van fantasie en mitologie bekendgestel, met Led Zeppelin se “Immigrant song” (Led Zeppelin III 1970) wat eksplisiet na Walhalla en Viking-verkenning verwys (De Klepper e.a. 2007:10,16; Bénard-Goutouly 2015:91; Fletcher 2019:229). Nog ’n noemenswaardige vroeë verwysing na die Vikings in swaarmetaal is Manowar se “Gates of Valhalla” (Into glory ride 1983) (Heesch 2010:72; Fletcher 2019:229). Die spesifieke kristallisasie van Vikingmetaal het egter in die laat 1980’s en vroeë 1990’s plaasgevind, hoofsaaklik uit die Skandinawiese swartmetaaltoneel.
Die Sweedse swartmetaalgroep Bathory word dikwels as die pionier van Vikingmetaal beskou (De Klepper e.a. 2007:38; Heesch 2010:72; Von Helden 2010:258; Weinstein 2014:60; Bénard-Goutouly 2015:91; Fletcher 2019:229), asook ’n pioniersgroep van swartmetaal (Senekal 2025:315). Terwyl Bathory se vroeë werk Sataniese swartmetaal was, was die vrystelling van Blood Fire Death (1988), Hammerheart (1990) en Twilight of the gods (1991) ’n paradigmaskuif in hierdie groep se werk (De Klepper e.a. 2007:38; Segers 2012:26; Weinstein 2014:60). Quorthon, die stigter en enigste lid van die groep, het met hierdie opnames wegbeweeg van Sataniese temas, wat hy beskou het as ’n vervalsing wat deur die Christelike kerk geskep is, en het eerder die Viking-era as ’n bron van outentieke erfenis omarm (Segers 2012:26; Heinen 2017:69). Hierdie oorgang het ’n epiese, geromantiseerde liedjieskryfbenadering bekendgestel wat in Quorthon se woorde “screams of Satan” vervang het met “proud and strong Nordsmen” en “dragon ships” (aangehaal in Heinen 2017:69).
Na Bathory het die Noorweegse swartmetaalgroep, Enslaved, ’n deurslaggewende rol gespeel in die vestiging van Vikingmetaal. Fletcher (2019:230) noem Enslaved: “the first true Viking metal band”, terwyl Von Helden (2010:260) skryf dat Enslaved: “coined the Scandinavian Viking metal scene like no other band” (kyk ook Heinen 2017:69). Hul debuutalbum, Vikingligr Veldi (1994), word beskou as ’n fundamentele teks vir Vikingmetaal, wat ’n bloudruk daarstel wat die aggressie van swartmetaal met vertellings van die Noorse gode gekombineer het (Fletcher 2019:230; Trafford 2021:228). Hierdie beweging was deels ’n reaksie teen die kommersialisering van doodsmetaal en ’n begeerte om terug te keer na ’n suiwerder uitdrukking van Nordiese identiteit (Segers 2012:28).
Die Sweedse doodsmetaalgroep Unleashed, wie se eerste vrystelling die demo The utter dark (1990) was, het ook ’n kernrol gespeel in die vroeë ontwikkeling en vestiging van die Vikingmetaal-subgenre (Moynihan en Søderlind 2003:30; Heesch 2010:72). Hul musiek en lirieke is sterk beïnvloed deur die voor-Christelike heidendom, die Viking-era en Noorse geloofstradisies (Moynihan en Søderlind, 2003:30; De Klepper e.a. 2007:30). Hierdie fokus op hul kultuurerfenis word duidelik in hul lewende optredes weerspieël, waar lede gereeld amulette van Ϸórr se hamer (Mjöllnir) dra en die hoofsanger uit ’n groot Viking-drinkhoring drink om sy voorvaders te vereer (Moynihan en Søderlind, 2003:31; De Klepper e.a. 2007:30).
Ook van Swede is die doodsmetaalgroep Amon Amarth, wat debuteer met die demo The arrival of the Fimbul winter (1994). Amon Amarth is een van die sigbaarste Vikingmetaalgroepe wie se lirieke uitsluitlik op Noorse geloofstradisies en Viking-geskiedenis fokus (De Klepper e.a. 2007:31; Heesch 2010:72; Skeech 2022:209). Benewens hul lirieke en albumomslae is hul Viking-invloede ooglopend tydens vertonings – die kombinasie van drinkhorings, armbande, lang hare en baarde gee aan die groeplede ’n stereotipiese Viking-voorkoms (De Klepper e.a. 2007:31). Om ’n spesifieke atmosfeer te skep wat hul kultuurerfenis weerspieël, nooi die groep selfs historiese heruitbeeldingsgroepe (“re-enactment groups”) soos die Jomsvikings om skyngevegte tydens hul optredes uit te voer (De Klepper e.a. 2007:102; Heesch 2010:75; Bénard-Goutouly 2015:92).
Die Britse groep Skyclad word ook wyd erken as ’n baanbrekersgroep in die skep van beide die volksmetaal- en heidenmetaal-subgenres (Weinstein 2014:60; Skeech 2022:139). Die groep het sy naam gekry van die praktyk van Wicca-rituele om naak onder die oop lug te dans, wat hul sterk ideologiese fokus op die natuur en neoheidendom weerspieël het (Weinstein 2014:60). Hul debuutalbum, The wayward songs of Mother Earth (1991), het die tydskrif Kerrang! aangespoor om die term heidenmetaal (“pagan metal”) in ’n resensie te gebruik (Weinstein 2014:60). Liries het Skyclad dikwels mitologiese en druïdiese terme gekombineer met anti-establishment sosiopolitieke kommentaar, en gereeld die moderne kapitalistiese samelewing verwerp ten gunste van ’n eenvoudiger, historiese verlede (Skeech 2022:139).
Ander belangrike groepe tydens die vestigingsfase van heidenmetaal is Primordial uit Ierland en Amorphis uit Finland, en later Obtest van Litaue, Skyforger van Latvia, en Pole se Graveland (Weinstein 2014:60–2).
Volgens Fletcher (2019:232) het Vikingmetaal soms ontwikkel in heidenmetaal soos groepe “transition[ed] from Norse material to things closer to home”. Weinstein (2014:61) maak ’n soortgelyke stelling: “Viking metal’s greatest influence has been the inspiration that it has given to others to explore their own roots.” Fletcher (2019:232) noem die Italiaanse groep White Skull wat Tales from the North (1999) vrygestel het wat Skandinawiese temas as onderwerp gehad het, maar die volgende jaar Public glory, secret agony (2000) oor die Romeinse Republiek vrygestel het. Fletcher (2019:232) sien hierdie album as deel van ’n breër tendens in swaarmetaal waar die oorspronklike fokus op die Vikings ontwikkel het tot ’n herwaardering van die geskiedenis van lande waaruit groepe ontstaan het. Meer onlangs het groepe albums oor Romeinse geskiedenis vrygestel (bv. Carthago Delenda Est (2016) deur Italië se Ade), Duitse geskiedenis (bv. Arminius: Furor Teutonicus (2012) deur Duitsland se Rebellion), en Griekse geskiedenis (bv. The Battle of Thermopylae: The Chronicle (2008) deur Griekeland se Sacred Blood) (Fletcher 2019:232–3). Fletcher (2019:235) noem ook Heidevolk as ’n duidelike voorbeeld van ’n groep met ’n sterk klem op die geskiedenis van die land waarvandaan die groep kom. In die volgende afdeling word Heidevolk in meer besonderhede bespreek.
3. Heidevolk
Heidevolk, ’n groep uit die Gelderland-provinsie van Nederland, verteenwoordig die kenmerkende eienskappe van heidenmetaal, terwyl dit illustreer hoe groepe buite Skandinawië die genre by hul eie erfenis aanpas. Die groep is in 2002 in Arnhem deur Paul Braadvraat (baskitaar), Joost Vellenknotscher (dromme), Niels Beenkerver (kitaar), Sebas Bloeddorst (kitaar), Jesse Vuerbaert (vokale) en Joris Boghtdrincker (vokale) gestig (Heinen 2017:89; Encyclopaedia Metallum 2026). Die groep bestaan tans uit Rowan Roodbaert (baskitaar), Koen Vuurdichter (kitaar), Jacco de Wijs (vokale), Mat van Baest (kitaar), Kevin van den Heiligenberg (dromme) en Daniël Wansink (vokale) (Encyclopaedia Metallum 2026), met geeneen van die oorspronklike lede wat steeds deel van die groep is nie.
Anders as baie ander swaarmetaalgroepe wat staatmaak op harde vokale wat geskree of gegil word, word Heidevolk onderskei deur hul gebruik van twee sangers wat skoon, baritonsang verskaf. Hierdie styl word beskryf as sou hulle klink “like a choir of soldiers” wat voor die geveg sing, wat hul musiek ’n heroïese atmosfeer gee (Heinen 2017:89). Alhoewel die groep dikwels deur tydskrifte onder Vikingmetaal gekategoriseer word, pas Heidevolk meer akkuraat in by heidenmetaal, aangesien hulle aktief hul moedertaal, Nederlands, gebruik om die spesifieke geskiedenis van die Lae Lande te verken eerder as om generiese Noorse beelde te leen (Ashby en Schofield 2015:505). Hulle sing nie oor Skandinawiese Vikings nie, maar eerder oor die Germaanse stamme van hul eie streek, soos die Saksers en Batawiërs (Ashby en Schofield 2015:505). Hul album Batavi (2012) beskryf byvoorbeeld die geskiedenis van die Bataafse stam en hul opstand teen die Romeinse Ryk in 69–70 A.J. (Ashby en Schofield 2015:505; Fletcher 2019:235). Joris Boghtdrincker noem juis dat die Batawiërs gesien word as die oorsprong van die Nederlandse volk, wat hierdie verhaal van besondere plaaslike belang maak (Siegfried 2013c). Deur liedere soos “Saksenland” en “Koning Radboud” (Walhalla wacht 2008) beklemtoon hulle weer plaaslike weerstand teen Frankiese en Christelike uitbreiding (Halink 2020:115). In ’n onderhoud met Siegfried (2013a) sê Joris Boghtdrincker:
I’m very much into the local stuff. We never played the Viking card or the Pan-Germanic card. We do have some songs that have generic themes, but most of our stuff is about local historic events and our personal experiences in nature.
Heidevolk se belangrikheid lê in hul opvoedkundige en bewaringsgerigte benadering tot swaarmetaal. Die groep funksioneer as ’n organisasie sonder winsbejag met die uitdruklike doel om bewustheid van Germaanse geskiedenis, geloofstradisies en volksvertellings te bevorder (Ashby en Schofield 2015:505). Ashby en Schofield (2015:505) noem dat lede van die groep, insluitend die destydse kitaarspeler, Reamon “Bomenbreker” Bloem – ’n geskiedenisonderwyser – navorsing doen, soos om museumkurators te raadpleeg, om te verseker dat hul lirieke histories gegrond is. In die reeds genoemde onderhoud met Siegfried (2013a) sê Joris Boghtdrincker egter dat hulle daarvan bewus is dat hulle kreatief met die geskiedenis omgaan:
I’ve never claimed that what we write is historically correct. We try to make it as much historically correct [as possible], without letting it interfere into the whole creative process. What we do is, we root it in facts, but we do give it our own interpretation, because this is 21st-century people looking at past phenomena.
Om in hul moedertaal te sing is van besondere belang vir Heidevolk. In ’n persverklaring in 2008 sê hulle: “Since language is the vehicle of the mind, Heidevolk conveys its thoughts in their purest and most authentic way: their native tongue” (aangehaal in Weinstein 2014:66).
Aangesien Heidevolk ook heidense temas aanspreek, of historiese gebeure soos die kerstening van die Saksers vanuit ’n heidense perspektief benader, kom die vraag by ’n mens op waarin die groepslede self glo. In dieselfde onderhoud met Siegfried (2013b) sê Joris Boghtdrincker dat elke groepslid sy eie idees rondom geloof het, maar sy perspektief is op respek vir sy voorsate gegrond:
What I believe is not the same as what my ancestors believed. What I try to put into the music is the respect for the way they thought and the way they portrayed their values on certain gods, because that is my belief. What a god is, is an accumulation of values – of things that have been instrumental for survival portrayed on several characters who also interact.
Benewens lewende optredes was Heidevolk ook produktief ten opsigte van opnames. Heidevolk het die volgende sewe albums tot op hede vrygestel, asook ’n paar enkelsnitte:
- De strijdlust is geboren (2005)
- Walhalla wacht (2008)
- Uit oude grond (2010)
- Batavi (2012)
- Velua (2015)
- Vuur van verzet (2018)
- Wederkeer (2023).
Die metode waarvolgens die lirieke van hierdie sewe albums ontleed is, word vervolgens bespreek.
4. Metodes
In ’n woordmedevoorkomsnetwerk word woorde voorgestel as nodusse (n), en skakels (m) word tussen woorde aangedui wanneer hulle langs mekaar in ’n sin voorkom. Wanneer dit vir ’n hele teks of korpus gedoen word, is die resultaat ’n netwerk (ook bekend as ’n grafiek), wat dan ontleed kan word met behulp van maatstawwe wat binne die netwerkwetenskap ontwikkel is. Wanneer so ’n netwerk saamgestel word, is dit nodig om te verduidelik wat ingesluit en uitgesluit is, hoe datamodellering gedoen is, watter maatstawwe gebruik is en hoe dit geïnterpreteer is. Hierdie afdeling spreek hierdie vrae aan.
4.1 Dataversameling
Die lirieke van die liedjies op Heidevolk se eerste ses vollengte albums is handmatig verkry van Encyclopaedia Metallum (Encyclopaedia Metallum 2026), wat ’n gesaghebbende databasis oor swaarmetaal is. Alhoewel Encyclopaedia Metallum se dekking uitgebreid is, het hierdie databasis nie die lirieke van alle liedjies van Heidevolk se sewende en mees onlangse album, Wederkeer (2023), ingesluit nie, en daarom is hierdie lirieke van Dark Lyrics (S.j.) verkry. Lirieke is in Google Sheets gestoor vir verdere verwerking.
Aangesien die fokus in die huidige ondersoek op lirieke is, is instrumentale liedjies natuurlik uitgesluit. Daarbenewens is oorslae (covers) soos “Immigrant song”, “In the Dutch mountains” en “Rebel yell” op Velua (2015) ook uitgesluit, omdat die lirieke nie deur Heidevolk geskryf is nie en boonop in Engels is. Twee liedjies, “Vinland” (Velua 2015) en “A wolf in my heart” (Vuur van verzet 2018) is in Engels, en aangesien Engelse teks die ontleding sou ontwrig, is hierdie twee liedjies ook uitgesluit. Die lirieke van “The alliance” (Vuur van verzet2018) is in beide Nederlands en Engels, en slegs die Nederlandse deel is ingesluit. Met hierdie uitsluitings in ag geneem, bied Tabel 1 ’n oorsig oor die korpus. Die aantal unieke woorde verwys na hul gelemmatiseerde weergawes, uitgesluit stopwoorde (kyk hier onder).
Tabel 1. ’n Oorsig oor die datastel
| Veranderlike | Waarde | Getal albums | 7 | Getal liedjies | 66 | Getal reëls | 977 | Totale getal woorde (uitgesluit stopwoorde) | 5 436 | Totale getal unieke woorde (uitgesluit stopwoorde) | 1 727 |
4.2 Datavoorverwerking
Nadat die korpus saamgestel is, is Heidevolk se lirieke vooraf verwerk om teksontleding moontlik te maak, met die uiteindelike doel om ’n woordaangrensingstabel (“word adjacency table”) saam te stel wat in Gephi (Bastian, Heymann en Jacomy 2009) as ’n netwerk ontleed kan word. Die huidige afdeling bespreek die stappe vir die voorverwerking van teks.
Eerstens is Doumen, Prins en Vandeghinste (2025) se Textlens4 gebruik om woorde te lemmatiseer, wat verwys na die taalkundige proses om verboë vorme van ’n woord tot hul woordeboekbasisvorm, bekend as ’n lemma, te verminder deur die woord se bedoelde betekenis en konteks in ag te neem. Lemmatisering was nodig omdat die fokus in die huidige ondersoek op die identifisering van temas is eerder as op die bestudering van die struktuur van taal. Textlens is gekies omdat lemmatisering natuurlik taalspesifiek is, en Textlens die vermoë bied om lemmatisering vir Nederlandse tekste, saam met Engels, Duits en Frans, uit te voer. Die gebruik van Textlens het ook beteken dat leestekens verwyder is en woorde na kleinletters omgeskakel is, behalwe in die geval van eiename, wat agterna na kleinletters omgeskakel is. Textlens het ’n uitvoer verskaf met ’n ID, teken, lemma, woordsoort-etikettering en Benoemde Entiteitsherkenning vir elke woord, maar slegs die lemma was nodig vir die huidige ondersoek.
Tweedens is Textlens se uitvoer in Google Sheets ingevoer, waar reëls lirieke met behulp van gepasmaakte formules hersaamgestel is. Vir die openingsreël van “Krijgsvolk” (De strijdlust is geboren 2005), wat oorspronklik lees: “Hoorns galmen in het Noorderland” (soos gesien in die Teken-kolom hier onder), het Textlens byvoorbeeld uitvoer verskaf in die formaat soos in Tabel 2, wat hersaamgestel is as “hoorn galmen in het Noorderland” (die Lemma-kolom).
Tabel 2. ’n Voorbeeld van Textlens-uitvoer
| ID | Teken | Lemma | Woordsoort | Entiteit | d1.p1.s2.w1 | Hoorns | Hoorn | N(soort, mv, basis) | O | d1.p1.s2.w2 | Galmen | galmen | WW(pv, tgw, mv) | O | d1.p1.s2.w3 | In | In | VZ(init) | O | d1.p1.s2.w4 | Het | Het | LID(bep) | O | d1.p1.s2.w5 | Noorderland | Noorderland | N(eigen, ev, basis, onz, stan) | B-LOC |
Derdens, weer eens omdat die fokus in hierdie ondersoek op die identifisering van temas is eerder as om te bestudeer hoe taalstrukture funksioneer, is stopwoorde – algemeen gebruikte woorde wat min unieke betekenis dra – uit Textlens se uitvoer verwyder. Vir ’n lys van stopwoorde het ek die Nederlandse stopwoorde gebruik wat in die Digitale Geesteswetenskappe-instrument, Voyant Tools (Sinclair en Rockwell 2016) gebruik word, soos verskaf deur Driedger (2015).
Oor die algemeen het voorverwerking dus die teks omgeskakel soos in Tabel 3, wat die eerste vers van “Krijgsvolk” (De strijdlust is geboren 2005) aandui. In die eerste kolom is die oorspronklike teks, in die tweede die vorm daarvan na lemmatisering, en in die derde die finale weergawe nadat stopwoorde verwyder is, wat dan die invoer vir teksontleding vorm.
Tabel 3. ’n Voorbeeld van uitsette in die teksvoorverwerkingsfase
| Oorspronklike | Gelemmatiseer | Stopwoorde verwyder | Hoorns galmen in het Noorderland | hoorn galmen in het noorderland | hoorn galmen noorderland | De strijdlust is geboren | de strijdlust zijn geboren | strijdlust geboren | Trouw in t gevecht tot in de dood | trouw in tten gevecht tot in de dood | trouw tten gevecht dood | Bij Balders dood gezworen | bij balder dood zweren | balder dood zweren | In naam Alvaders en onze stam | in naam alvaders en ons stam | naam alvaders stam |
Nadat stopwoorde verwyder is, is reëls lirieke verdeel in aangrensende pare waar die eerste kolom ’n woord bevat en die tweede kolom ’n woord bevat wat saam met die eerste woord voorkom, mits stopwoorde verwyder is. Die openingsreël van “Krijgsvolk” (De strijdlust is geboren 2005) sal dan skakels verkry soos volg: hoorn — galmen en galmen — Noorderland. Let daarop dat die rigting van die skakel tussen woorde nie aangedui is nie, omdat die samevoorkoms as wederkerig beskou is. ’n Gewig is ook aan skakels toegeken gebaseer op die aantal kere wat woorde saam voorkom. Hierdie lys van woorde wat saam voorkom is vanaf Google Sheets as ’n CSV-lêer uitgevoer en in Gephi (Bastian e.a. 2009) ingevoer ten einde ’n netwerkontleding te kan doen, soos in die volgende onderafdeling bespreek word.
4.3 Dataontleding
Woordmedevoorkomsnetwerke is geneig om dig geskakelde netwerke te wees waar dit moeilik kan wees om betekenisvolle inligting te onttrek wanneer die netwerk gevisualiseer word, selfs met stopwoorde verwyder. Om hierdie rede is twee algoritmes in die huidige navorsing gebruik om belangrike temas te identifiseer: PageRank, wat belangrike nodusse in groot netwerke uitlig, en die Louvain-algoritme, wat gemeenskappe in groot netwerke identifiseer. Hierdie metodes word in meer besonderhede bespreek, en beide word in Gephi (Bastian e.a. 2009) geïmplementeer.
PageRank, wat ontwikkel is deur die medestigters van Google, Larry Page en Sergey Brin (Brin en Page 1998), is oorspronklik geskep vir die rangskikking van soekenjinresultate gebaseer op tersaaklikheid en belangrikheid (Newman 2018:166; Brughmans en Peeples 2023:137). PageRank is ’n variant van Bonacich (1987) se eigenvektorsentraliteit en evalueer ’n nodus se belangrikheid nie net volgens die aantal direkte skakels wat ’n nodus het nie, maar ook volgens die kwaliteit van daardie verbindings. ’n Skakel vanaf ’n belangrike nodus dra meer by tot ’n hoë PageRank-waarde as een vanaf ’n onbelangrike nodus (Newman 2018:166; Pinheiro 2023:144). Alhoewel dit fundamenteel was vir websoektogte, word PageRank wyd gebruik in ander domeine, soos die identifisering van invloedryke rolspelers in sosiale netwerke en die rangskikking van wetenskaplike artikels en skrywers in verwysingsnetwerke (Liao, Mariani, Medo, Zhang en Zhou 2017:39; Pinheiro 2023:3). PageRank word in die huidige ondersoek gebruik om die belangrikste woorde in Heidevolk se lirieke te identifiseer, beide oor die algemeen en ten opsigte van temas.
Die Louvain-algoritme, in 2008 ontwikkel deur Vincent Blondel, Jean-Loup Guillaume, Renaud Lambiotte en Etienne Lefebvre aan die Universiteit van Louvain (Blondel, Guillaume, Lambiotte en Lefebvre 2008), is ’n heuristiese metode vir die opsporing van gemeenskappe in groot netwerke deur modulariteit te maksimeer (Barabási 2016:3; Newman 2018:511). Modulariteit is ’n maatstaf wat gebruik word om die kwaliteit van ’n netwerk se verdeling in gemeenskappe te bepaal deur die verskil te meet tussen die waargenome getal skakels wat nodusse binne dieselfde groepe verbind en die verwagte getal skakels indien die skakels ewekansig versprei was (Newman 2018:205; Brughmans en Peeples 2023:132; Pinheiro 2023:39). Die tegniese werking van die Louvain-algoritme word in sowel die oorspronklike publikasie as in Barabási (2016:51), Newman (2018:512), Knoke en Yang (2020:118) en Pinheiro (2023:40) bespreek. In Gephi word daar dan ’n arbitrêre nommer aan gemeenskappe vir verwysingsdoeleindes toegeken. Die netwerk kan boonop op verskillende vlakke ontleed word, maar vir die huidige ondersoek word die netwerk op die verstekvlak ontleed. Te danke aan sy doeltreffendheid en vermoë om netwerke te hanteer waar gewigte aan skakels toegeken is, word die Louvain-algoritme wyd gebruik om groot datastelle in uiteenlopende velde te ontleed (Knoke en Yang 2020:118), insluitende die ontleding van woordmedevoorkomsnetwerke waar hierdie algoritme gebruik word om onderwerpe te identifiseer (Chao, Liu en Li 2021; Vera en Palma 2021). In die huidige ondersoek is die Louvain-algoritme op die hele woordmedevoorkomsnetwerk toegepas om groepe woorde te identifiseer wat dikwels saam in Heidevolk se lirieke voorkom.
Die gemeenskappe is verder voorsien van ’n klassifikasie-etiket deur van die Groot Multimodale Model (GMM), Gemini 3 Flash (Doshi 2025), gebruik te maak. Gemini 3 Flash is tans een van Google se mees gevorderde GMM’s en vertoon PhD-vlak-redeneringsvermoë, tesame met uitstekende prestasie op alle maatstaftoetse (Doshi 2025). Vir die klassifikasie is ’n instruksie aan die model vanuit Google Sheets verskaf, naamlik: “identify the theme, provide response in Afrikaans”, soos toegepas op die 20 woorde met die hoogste PageRank-waardes binne elke gemeenskap. Hierdie oop instruksie het dit moontlik gemaak om ’n etiket te skep wat nuanses in ag neem en die beste by die versameling woorde pas, maar sonder dat die navorser se agtergrondskennis en perspektief die klassifikasie-etiket beïnvloed. Etikette word later in die huidige artikel verskaf soos deur Gemini 3 Flash toegeken, tesame met die woorde met die hoogste PageRank-waardes wat in daardie gemeenskap onder daardie etiket aangetref word.
Die resultate van die ontleding van Heidevolk se lirieke word in die res van die artikel bespreek.
5. Resultate
Die volledige woordmedevoorkomsnetwerk van Heidevolk se lirieke bestaan uit 1 727 nodusse (n) (woorde) en 2 970 skakels (m) (medevoorkomste), maar sommige nodusse is onverbind omdat hulle nie gereeld saam met ander nodusse voorkom nie. Die grootste verbinde komponent van die netwerk – bekend as die reuse komponent – bestaan uit 1 558 nodusse en 2 878 skakels, soos hier onder in Figuur 1 vertoon word. Vir hierdie grafiek is die OpenOrd-kraggerigte uitleg-algoritme van Martin, Brown, Klavans en Boyack (2011) gebruik om die netwerk te visualiseer. Met behulp van die Louvain-algoritme is hierdie netwerk in gemeenskappe verdeel, en daar is 25 gemeenskappe gevind, wat in Figuur 1 met verskillende kleure aangedui word. Woorde met hoë PageRank-waardes word met groter nodusse en etikette aangedui, met ander woorde hoe groter die nodus en etiket, hoe hoër daardie nodus se PageRank-waarde. Ter wille van leesbaarheid word slegs die 20 nodusse met die hoogste PageRank-waardes se etikette in Figuur 1 vertoon, naamlik nacht, leven, land, dood, god, volk, bloed, komen,woud, strijd, vuur, zon, zien, zwaard, rijk, kracht, dag, tijd, aarde en brengen. Hierdie kernwoorde tipeer reeds Heidevolk se lirieke as gemoeid met geskiedenis, etnisiteit, erfenis, die natuur en ’n krygersgees. Let egter daarop dat dit, soos verwag kon word, ’n dig geskakelde netwerk is en dat woorde wat in ’n gemeenskap aangetref word, ook saam met woorde buite daardie gemeenskap voorkom.

Figuur 1. Die grootste verbinde komponent in die woordmedevoorkomsnetwerk van Heidevolk se lirieke, met 1 558 nodusse en 2 878 skakels
Tabel 4 dui al 25 gemeenskappe aan wat met behulp van die Louvain-algoritme geïdentifiseer is (gesorteer van groot na klein), die getal nodusse in daardie gemeenskap, die 5 kernwoorde met die hoogste PageRank-waardes in elke gemeenskap, sowel as Gemini se klassifikasie van kernwoorde.
Tabel 4. Gemeenskappe, kernwoorde en klassifikasies
| Gemeenskap | Getal nodusse | Top vyf kernwoorde | Klassifikasie | 9 | 112 | pad, grond, nieuw, ver, huis | Avontuur en Oorlewing | 19 | 106 | land, woud, ziel, oud, liggen | Natuur en landskap | 17 | 102 | hemel, hal, vinden, groot, vallen | Mitologie en Avontuur | 4 | 95 | god, komen, zoon, laten, drinken | Mites en Legendes | 10 | 88 | nacht, dag, breken, oog, diep | Lig en Donkerte | 2 | 85 | volk, rijk, vechten, broeder, trouw | Geskiedenis en Konflik | 7 | 82 | vuur, aarde, hart, branden, rijn | Taal en Letterkunde | 25 | 75 | woede, stam, winter, naam, verliezen | Mites en Legendes | 14 | 73 | zon, brengen, vlees, onheil, klauw | Stryd tussen Goed en Kwaad | 21 | 67 | leven, dood, vrijheid, rome, lucht | Vryheid en Stryd | 3 | 61 | zien, kracht, moed, sterk, einde | Moed en Deursettingsvermoë | 16 | 60 | sterven, bevrijden, angst, pijn, terug | Stryd en Bevryding | 15 | 57 | bloed, ader, beest, water, bezwijken | Natuur en Lewe | 24 | 57 | man, ontwaken, laat, tiwaz, donder | Geloof en Mitologie | 12 | 55 | wodan, wereld, boom, negen, heersen | Germaanse Mitologie | 8 | 50 | zwaard, heffen, hoorn, rune, heuvel | Mites en Legendes | 11 | 48 | tijd, wachten, hand, nemen, toekomst | Noodlot en Verganklikheid | 20 | 46 | strijd, zege, trekken, uur, drijven | Emosie en Hartstog | 18 | 44 | horen, vijand, eeuwig, klinken, roep | Stryd en Konflik | 22 | 39 | gelre, keren, oorlog, hertog, zicht | Geskiedenis en Oorlog | 5 | 38 | lot, draad, heer, urth, bepalen | Bestemming en Goddelike Wil | 1 | 36 | twee, jagen, brand, kerk, plan | Gevaar en Konflik | 13 | 32 | bier, vloeien, spreken, recht, heel | Natuur en Landskap | 23 | 25 | raaf, wolf, buit, reizen, fier | Avontuur en Stryd | 6 | 25 | aard, baren, moeder, holda, snel | Natuur en Lewe |
Die klassifikasies van kernwoorde van gemeenskappe dui op lirieke wat rondom die geskiedenis, mitologie, natuur, landskap en kultuur sentreer. Heelwat gemeenskappe fokus op Natuur en Landskap (Gemeenskappe 19, 13 en 6), waar woorde soos woud, aarde en moeder sentraal staan. Dit weerspieël die heidense wêreldbeskouing waarin die natuurlike omgewing nie net ’n agtergrond is nie, maar ’n lewende entiteit wat intiem met die menslike ervaring en ook geloofstradisies verweef is (kyk bv. Wolfgang 2014). Hierdie wêreldbeskouing is juis duidelik in die lirieke van “Holda” (Wederkeer) te sien:
En waar zij gaat gehoorzaamt de aard
Gekleed in haar winters gewaad
Weeft zij de wolken bedekt ons met sneeuw
Hoedster der stormen
Mitologiese elemente oor die algemeen, wat kenmerkend is van die genre, is duidelik sigbaar in verskeie groot gemeenskappe, byvoorbeeld Gemeenskap 17 (Mitologie en Avontuur), 4 (Mitologie en Legendes), 25 (Mites en Legendes), 24 (Geloof en Mitologie), 12 (Germaanse Mitologie) en 8 (Mites en Legendes). Gemeenskap 12 (Germaanse Mitologie) bevat spesifieke verwysings na Wodan, die wêreldboom (Yggdrasil), en die getal 9,5 terwyl gode soos Tiwaz (Týr) en Donar (Ϸórr) in Gemeenskap 24 betrek word. Hierdie kernwoorde dui op ’n verbintenis met die Oudnoorse en Germaanse geloofstradisies, maar die keuse van Germaanse naamvorme in plaas van die Oudnoorse Óðinn, Ϸórr en Týr dui daarop dat Heidevolk veral plaaslike manifestasies van hierdie gode in gedagte het, nie ’n Viking-omgewing nie. Die plaaslike karakter van geloofstradisies word versterk deur Heidevolk se verwysings na Holda, wat nie binne ’n Skandinawiese/Viking-konteks bekend is nie (Wolfgang 2014:430), en die afwesigheid van Freyr en Freyja in hul lirieke, wat gode is wat slegs binne ’n Skandinawiese/Viking-konteks bekend is (Grundy 1996:64; Wolfgang 2014:390). Hierdie mitologiese temas word ook dikwels gekoppel aan begrippe van noodlot. Gemeenskap 5 (Bestemming en Goddelike Wil) gebruik woorde soos lot, draad en Urth, wat verwys na die Norns (Urð, Verðandi en Skuld) wat die lewensdrade van gode en mense weef, volgens Vǫluspá vers 20 (Pettit 2023:42). Voorbeelde van liedjies met sterk mitologiese elemente is “Furor Teutonicus” op De strijdlust is geboren, “Wodan heerst”, “Het Wilde Heer”, “Naar de hal der gevallenen” en “Zwaarden geheven” op Walhalla wacht, “Ostara”,6 “Dondergod”, “Reuzenmacht” en “Levenslot” op Uit oude grond, “Urth” op Velua, en “Hagalaz”, “Drink met de goden (Walhalla)” en “Holda” op Wederkeer “Wodan heerst” (Walhalla wacht) vertel byvoorbeeld die verhaal van Wodan/Óðinn se offer om die runes te bekom, en alhoewel die verhaal bekend is uit die Oudnoorse Vǫluspá vers 138 (Pettit 2023:112), plaas die gebruik van sy naamvorm as “Wodan” die liriek binne ’n Nederlandse verwysingsraamwerk:
Wodan hing in de boom zichzelf verwond met een speer
Een offer om de runenwijsheid te krijgen
Geteisterd door zijn honger en dorst voor negen nachten lang
Zo maakte hij zichzelf de runen eigen
Het runenschrift het magisch schrift schonk hij aan ’t Midgaardvolk
Een gift aan ons die met zijn zegen strijden
Nu kerven wij de runen in ons zwaard voor winst in ’t gevecht
Walkuren zien wij door de hemelen rijden.
Konflik en stryd vorm ’n verdere duidelike tematiese pilaar. Gemeenskappe soos 2 (Geskiedenis en Konflik), 21 (Vryheid en Stryd) en 16 (Stryd en Bevryding) toon ’n woordeskat van verset, met terme soos vechten, vrijheid, angst, en bevrijden. Die teenwoordigheid van historiese verwysings, soos gesien in Gemeenskap 22 met verwysings na Gelre en die hertog, dui daarop dat Heidevolk hul lirieke in die plaaslike geskiedenis van Nederland anker, eerder as om slegs generiese mitologiese temas te gebruik. Daar is byvoorbeeld liedjies wat ’n sterk Nederlandse trots verwoord, soos “Het Gelders volkslied” en “Het bier zal weer vloeien” op De strijdlust is geboren, “Een Geldersch lied” op Uit oude grond, en “De hallen van mijn vaderen” op Velua. Daar is ook liedjies oor spesifieke historiese gebeure, byvoorbeeld vertellings oor die Bataafse opstand teen die Romeinse Ryk tydens die 1ste eeu in “Opstand der Bataven” (Walhalla wacht) en op hul konsepalbum, Batavi (kyk bv. Esposito 2021 oor die Bataafse opstand). Hul latere konsepalbum, Vuur van verzet, handel oor ander Germaanse teenstand teen Rome. In “Vrijgevochten” (Batavi) skryf Heidevolk byvoorbeeld oor die stryd teen Romeinse oorheersing:
Ik voel de trots
Als ik mijn land aanschouw
Tot in de eeuwigheid
Verbonden met mijn grond
Ooit was ik de keizer trouw
En vocht ik in zijn naam
Maar de woede van Germania
Droeg ik altijd in mijn hart
Vrijheidszin vervulde mij
En ik wierp mijn masker af
Woeste stammen langs de Rijn
Voerden oorlog met het rijk.
Die stryd teen die Franke en hul gedwonge kerstenings van Germaanse volke tydens die vroeë Middeleeue word ook in Heidevolk se lirieke aangetref. “Koning Radboud” (Walhalla wacht) handel oor Redbad (laat 7de tot vroeë 8ste eeue) se verset teen die Franke en kerstening, soos byvoorbeeld bespreek deur Halink (2020) (daar is ook ’n 2008-film, Redbad, oor hierdie Friese leier vrygestel). Die gedwonge kerstening van die Saksers tydens die 8ste eeu deur Karel die Grote en weerstand daarteen, soos onder andere in Rembold (2018) bespreek, word in “Walhalla wacht” (Walhalla wacht) uitgebeeld:
Kom Saksenbroeders hef uw zwaard ten hemel
Trek nu ten strijde voor de goden en het land
Dood aan de Franken en hun god Jehova
Vernietig hun kruizen steek hun kerken in de brand
Rijs Saksenbroeders toont uw trouw aan Wodan
Hoor hoe zijn raven krijsen in de nacht
Grijp naar de wapens zweer de eed op Gungnir
Vrees toch uw dood niet want Walhalla wacht
Zij die de Irminzuil7 voor God onteerden
Zullen de prijs betalen met hun hoofd
Zij die Aasgetrouwen bruut vermoordden
Kleuren de grond nu met hun bloed dieprood
Rijs Saksenbroeders toont uw trouw aan Donar
Hoor hoe zijn bokken rijden in de nacht
Grijp naar de wapens zweer de eed op Mjölnir
Vrees toch uw dood niet want Walhalla wacht
Nooit zal de christengod hier vrede vinden
Jezus zal nimmer leven in ons hart
Vergeefs is hun strijd om onze ziel te winnen
Gruwelijk zijn dood die de Saksen tart
Rijs Saksenbroeders toont uw trouw aan Saxnot8
Hoor hoe de vrouwen huilen in de nacht
Grijp naar de wapens zweer de eed op de doden
Vrees toch uw dood niet want Walhalla wacht.
Laastens is daar ’n opvallende teenstelling tussen lig en donker en lewe en dood in Heidevolk se lirieke, soos byvoorbeeld gesien daarin dat leven en dood van die woorde met die hoogste PageRank-waardes in hierdie netwerk is. Gemeenskap 10 (Ligte en Donkerte) is ’n gemeenskap van teenstelling waar nacht en dag, licht en donker en duister en helder teenoor mekaar staan. Hierdie teenstelling dra by tot die epiese en kosmologiese toon wat die lirieke kenmerk, en dien as agtergrond vir die temas van stryd en die natuurlike wêreld. “Raidho” (Wederkeer) is by uitstek ’n liriek wat so teenstellend werk:
Door ’t duister der nacht
Door ’t vuur van de dag
Volg ik het pad naar de wijsheid
Ik leef en leer ik offer en eer
Ik hoor ik zie ik spreek
Met vriendschap en vreugd
Verlies en met deugd
Omkleed ik mijn ziel en mijn zinnen
Iedere dag zolang ik mag
Voel ik vraag ik weet ik
Raidho Raidho
Van de schoot die mij baarde
Tot aan mijn dood
Met moed en beleid
En ’t verstrijken der tijd
Vind ik het vuur in mijn leven
Het kind opgebloeid mijn geest is gegroeid
Hoor ik zie ik leef ik.
In geheel gesien, dui die kern van Heidevolk se lirieke op ’n sterk etniese trots waar ’n eie kultuur ten opsigte van plek en geloof gehandhaaf word, en die stryd om daardie eie kultuur teen aanvalle van buite – by name deur die Romeine en Franke – te beskerm. Die klem val op ’n eie Germaanse kultuur, nie ’n Viking-verwysingsraamwerk soos met Vikingmetaal aangetref word nie, soos gesien kan word in plekname en die name van gode wat genoem word. Nietemin is verskillende begrippe in Heidevolk se lirieke verweefd: natuur en gode, gode en stryd, stryd en plek, plek en gode, plek en natuur. Hierdie verweefdheid kan in die woordmedevoorkomsnetwerk in Figuur 1 waargeneem word, en ook in die oorvleuelende kernwoorde, én in die oorvleuelende klassifikasies wat deur Gemini aan gemeenskappe van kernwoorde toegeken is. Só ’n verweefdheid is kenmerkend van die kennisdomein wat Heidevolk se basis vorm, omdat die heidense geloofstradisies verweef is met die geskiedenis, natuur en mense se alledaagse lewens. As sodanig beeld Heidevolk nie slegs hierdie tradisies in hul lirieke uit nie, maar ook ’n lewensuitkyk waar die alledaagse met die verlede en bonatuurlike verweefd is.
6. Ten slotte
Hierdie woordmedevoorkomsnetwerkontleding het Heidevolk se posisie as ’n heidenmetaalgroep met ’n sterk gelokaliseerde Germaanse en natuurgerigte wêreldbeskouing empiries uitgelig. Die PageRank-geïdentifiseerde kernwoorde (land, dood, volk, strijd, woud) en die 25 gemeenskappe wat deur die Louvain-algoritme geïdentifiseer is, sentreer om mitologie, natuur en stryd, wat hul fokus op die geskiedenis van die Lae Lande en Germaanse erfenis onderstreep, eerder as om slegs op die Skandinawiese Vikingtydperk te steun. Die ondersoek bied sodoende ’n gedetailleerde blik op die tematiese kompleksiteit van Heidevolk se lirieke, en bevestig hul rol in die breër subgenre as ’n groep wat plaaslike identiteit en geskiedenis deur swaarmetaal uitdruk.
Heidevolk is ’n baie sigbare Nederlandse en Nederlandstalige heidenmetaalgroep, maar daar bestaan ander groepe, soos Mondvolland, :Nodfyr:, Alvader, Bezwering en nog vele meer wat ook bestudeer kan word. Toekomstige ondersoeke kan sulke groepe betrek, of selfs vergelykend te werk gaan om die kernwoordeskat van verskillende groepe te vergelyk.
Bibliografie
Álvarez-Ossorio Rivas, A., F. Lozano en C. Alarcón (reds.). 2019. The present of antiquity. Reception, recovery, reinvention of the ancient world in current popular culture. Besançon: Institute des Sciences et Techniques de l’Antiquité.
Ashby, S.P. en J. Schofield. 2015. “Hold the Heathen hammer high”: Representation, re-enactment and the construction of “Pagan” heritage. International Journal of Heritage Studies, 21(5):493–511. DOI:10.1080/13527258.2014.960441.
Barabási, A.-L. 2016. Network science. Cambridge, VK: Cambridge University Press.
Bastian, M., S. Heymann en M. Jacomy. 2009. Gephi: an open source software for exploring and manipulating networks. Proceedings of the International AAAI Conference on Web and Social Media, 3(1):361–2.
Bénard-Goutouly, N. 2015. La figure du Viking dans la musique metal. Nordiques, 29:87–100. DOI:10.4000/nordiques.5425.
Billington, S. en M. Green (reds.). 1996. The concept of the goddess. Londen: Routledge:
Blondel, V.D., J.-L. Guillaume, R. Lambiotte en E. Lefebvre. 2008. Fast unfolding of communities in large networks. Journal of Statistical Mechanics: Theory and Experiment, 2008(10):P10008. DOI:10.1088/1742-5468/2008/10/P10008.
Bonacich, P. 1987. Power and centrality: a family of measures. American Journal of Sociology, 92(5):1170–82. DOI:10.1086/228631.
Brin, S. en L. Page. 1998. The anatomy of a large-scale hypertextual web search engine. Computer Networks and ISDN Systems, 30(1–7):107–17. DOI:10.1016/S0169-7552(98)00110-X.
Brughmans, T. en M.A. Peeples. 2023. Network science in archaeology. Cambridge: Cambridge University Press. DOI:10.1017/9781009170659.
Chao, A.S., Z. Liu en Q. Li. 2021. Network of words. Journal of Historical Network Research. DOI:10.25517/jhnr.v5i1.122.
Dark Lyrics. S.j. Heidevolk lyrics. http://www.darklyrics.com/lyrics/heidevolk/wederkeer.html (16 Januarie 2026 geraadpleeg).
De Klepper, S., S. Molpheta, S. Pille en R. Saouma. 2007. Cultural heritage and history in the metal scene. Wageningen: Belvedere Chair in The Chairgroup Land Use Planning.
Doshi, T. 2025. Gemini 3 Flash: frontier intelligence built for speed. https://blog.google/products-and-platforms/products/gemini/gemini-3-flash (10 Maart 2026 geraadpleeg).
Doumen, J., V. Prins en V. Vandeghinste. 2025. Textlens: an online dashboard for digital text analysis. Zenodo. DOI:10.5281/zenodo.15425644.
Driedger, M.D. 2015. Dutch stop words (revised). https://www.academia.edu/10234830/Dutch_stop_words_revised (19 Januarie 2026 geraadpleeg).
Encyclopaedia Metallum. 2026. Heidevolk. https://www.metal-archives.com/bands/Heidevolk/17850# (16 Januarie 2026 geraadpleeg).
Esposito, G. 2021. Armies of the Germanic peoples, 200 BC to AD 500. History, organization and equipment. South Yorkshire: Pen & Sword Military.
Fletcher, K. 2019. Classical antiquity, heavy metal music, and European identity. In Álvarez-Ossorio Rivas, Lozano en Alarcón (reds.) 2019:223–46.
Granholm, K. 2011. “Sons of northern darkness”: Heathen influences in black metal and neofolk music. Numen, 58(4):514–44. DOI:10.1163/156852711X577069.
Grundy, S. 1996. Freyja and Frigg. In Billington en Green (reds.) 1996:56–67.
Halink, S. 2020. Van “Gods vijand” tot nationaal icoon. De verbeelding van Redbad en andere “heidense helden” in vergelijkend perspectief. De Vrije Fries, 100:102–19.
Heesch, F. 2010. Metal for Nordic men: Amon Amarth’s representations of Vikings. In Scott (red.) 2010:71–80.
Heinen, S. 2017. “Odin rules”: Religion, Medien und Musik im Pagan Metal. Bielefeld: Transcript Verlag.
Kahn-Harris, K. 2007. Extreme metal: music and culture on the edge. Oxford: Berg.
Knoke, D. en S. Yang. 2020. Social network analysis. Thousand Oaks, Kalifornië: SAGE.
Liao, H., M.S. Mariani, M. Medo, Y.-C. Zhang en M.-Y. Zhou. 2017. Ranking in evolving complex networks. Physics Reports, 689:1–54. DOI:10.1016/j.physrep.2017.05.001.
Manea, I.-M. 2020. Aesthetic Heathenism: pagan revival in extreme metal music. [Inter]sections, 23:59–76.
Martin, S., W.M. Brown, R. Klavans en K.W. Boyack. 2011. OpenOrd: an open-source toolbox for large graph layout. In Visualization and Data Analysis 2011. IS&T/SPIE Electronic Imaging, SPIE (SPIE Proceedings):786806. DOI:10.1117/12.871402.
Mora-Rioja, A. 2023. Poetry in English and metal music: adaptation and appropriation across media. Cham: Springer Nature Switzerland. DOI:10.1007/978-3-031-29183-8.
Moynihan, M. en D. Søderlind 2003. Lords of chaos. The bloody rise of the Satanic metal underground. Los Angeles: Feral House.
Murdoch, B. en M. Read. (reds.). 2004. Early Germanic literature and culture. Rochester: Camden House.
Newman, M. 2018. Networks. Oxford: Oxford University Press. DOI:10.1093/oso/9780198805090.001.0001.
Pettit, E. (red.). 2023. The Poetic Edda: a dual-language edition. Cambridge, VK: Open Book Publishers. DOI:10.11647/OBP.0308.
Pinheiro, C.A.R. 2023. Network science. Analysis and optimization algorithms for real-world applications. Hoboken, NJ: John Wiley & Sons.
Rembold, I. 2018. Conquest and christianization: Saxony and the Carolingian world, 772–888. Cambridge: Cambridge University Press. DOI:10.1017/9781108164597.
Roe, S. 2019. Against the modern world: NeoFolk and the authentic ritual experience. Literature & Aesthetics, 29(2):15–31.
Scott, N.W.R. (red.). 2010. The metal void: first gatherings. Oxford: Inter-Disciplinary Press.
Segers, G.F.P. 2012. A blaze in the northern sky: black metal as an expression of extremist politics in modern day Europe. MA-verhandeling, Tilburg Universiteit.
Senekal, B.A. 2011. Vervreemding in die ekstreem: ’n oorsig oor normloosheid en sosiale isolasie in Afrikaanse ekstreme metal. LitNet Akademies, 8(1):76–101. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2021/01/LA_8_1d_senekal.pdf.
—. 2024. The Norse Pagan revival in music: A network analysis of Wardruna’s environment on Spotify. Ensovoort, 45(9). http://ensovoort.co.za/index.php/2024/09/09/the-norse-pagan-revival-in-music-a-network-analysis-of-wardrunas-environment-on-spotify (5 Mei 2025 geraadpleeg).
—. 2025. Mensveragtend, afstootlik en omstrede: ’n verkenning van Afrikaanse swartmetaal. LitNet Akademies, 22(3):308–38. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2026/01/LitNet-Akademies_j22n3b6_Senekal.pdf.
Siegfried, K.E.H. 2013a. Interview with Joris Boghtdrincker of Heidevolk, Part One. https://www.norsemyth.org/2013/06/interview-with-joris-boghtdrincker-of.html (11 Maart 2026 geraadpleeg).
—. 2013b. Interview with Joris Boghtdrincker of Heidevolk, Part Two. https://www.norsemyth.org/2013/06/interview-with-joris-boghtdrincker-of_12.html (11 Maart 2026 geraadpleeg).
—. 2013c. Interview with Joris Boghtdrincker of Heidevolk, Part Three. https://www.norsemyth.org/2013/06/interview-with-joris-boghtdrincker-of_18.html (11 Maart 2026 geraadpleeg).
Simek, R. 2004. Germanic religion and the conversion to Christianity. In Murdoch en Read (reds.) 2004:73–102.
Sinclair, S. en G. Rockwell. 2016. Voyant tools. http://voyant-tools.org (6 Mei 2026 geraadpleeg).
Skeech, M. 2022. The biology of heavy metal. Evolutionary links between science and culture. Doktorale proefskrif, University van Salford.
Trafford, S. 2021. Nata vimpi curmi da: dead languages and primordial nationalisms in folk metal music. In Valijärvi, Doesburg en Digioia (reds.) 2021:223–40).
Valijärvi, R.-L., C. Doesburg en A. Digioia (reds.). 2021. Multilingual metal music: sociocultural, linguistic and literary perspectives on heavy metal lyrics. Bingley: Emerald Publishing Limited. DOI:10.1108/978-1-83909-948-920200020.
Vera, J. en W. Palma. 2021. The community structure of word co-occurrence networks: experiments with languages from the Americas. EPL (Europhysics Letters), 134(5):58002. DOI:10.1209/0295-5075/134/58002.
Von Helden, I. 2010. Barbarians and literature: Viking metal and its links to Old Norse mythology. In Scott (red.) 2010:257–64.
Weinstein, D. 2014. Pagan metal. In Weston en Bennett (reds.) 2014:58–75.
Weston, D. en A. Bennett. (reds.). 2014. Pop Pagans: Paganism and popular music. Oxon: Routledge.
Wolfgang, G. 2014. Germanische Mythologie Vollständige Ausgabe. Wiesbaden: Marix Verlag.
Diskografie
Ade. 2016. Carthago Delenda Est. Xtreem Music.
Amon Amarth. 1994. The Arrival of the Fimbul Winter. Onafhanklik.
Bathory. 1988. Blood Fire Death. Black Mark/Tyfon.
—. 1990. Hammerheart. Noise Records.
—. 1991. Twilight of the Gods. Black Mark Production.
Burzum. 1993. Det som engang var. Cymophane.
—. 1994. Hvis lyset tar oss. Misanthropy, Cymophane.
—. 1997. Dauði Baldrs. Misanthropy Records.
—. 2012. Umskiptar. Byelobog Productions.
Enslaved. 1994. Vikingligr Veldi. Deathlike Silence.
Heidevolk. 2005. De strijdlust is geboren. Onafhanklik.
—. 2008. Walhalla wacht. Napalm Records.
—. 2010. Uit oude grond. Napalm Records.
—. 2012. Batavi. Napalm Records.
—. 2015. Velua. Napalm Records.
—. 2018. Vuur van verzet. Napalm Records.
—. 2023. Wederkeer. Napalm Records.
Led Zeppelin. 1970. Led Zeppelin III. Atlantic Records.
Manowar. 1983. Into Glory Ride. Megaforce Records.
Rebellion. 2012. Arminius: Furor Teutonicus. Massacre Records.
Sacred Blood. 2008. The Battle of Thermopylae: The Chronicle. Eat Metal Records.
Skyclad. 1991. The Wayward Sons of Mother Earth. Noise Records.
Unleashed. 1990. The Utter Dark. Onafhanklik.
White Skull. 1999. Tales from the North. Nuclear Blast Records.
—. 2000. Public Glory, Secret Agony. Nuclear Blast Records.
Filmografie
Reiné, R. 2018. Redbad. Farmhouse TV & Film.
Eindnotas
1 Trafford (2021:226) definieer ’n dooie taal soos volg: “A ‘dead’ language is one that has no living users for whom it is a mother tongue, that is, one learnt as a child as one’s first language.”
2 Germaanse, Saksiese en Noorse geloofstradisies is natuurlik nouverwant. Die onderskeid wat hier getref word, het spesifiek betrekking op die naamvorme van gode (Woden/Óðinn) en onderlinge verskille, byvoorbeeld die teenwoordigheid van ’n god in een streek, maar nie in ’n ander nie.
3 Burzum se enigste lid, Varg Vikernes, stig onder andere die Norsk Hedensk Front en skryf ’n aantal boeke oor Noorse/Germaanse geloofstradisies (Senekal 2025:318).
4 Textlens is beskikbaar by https://portal.clarin.ivdnt.org/textlens/annotate/corpora.
5 Die getal 9 is belangrik in Noorse/Germaanse mitologie. Óðinn/Wodan hang byvoorbeeld vir nege dae aan Yggdrasil om die runes te bekom, soos genoem in “Wodan heerst” (Walhalla wacht).
6 Wolfgang (2014:427) toon aan dat ’n godin genaamd Ostara nooit bestaan het nie en dat haar naam van die lys van Germaanse gode geskrap moet word.
7 Karel die Grote se vernietiging van die Irminsul in 772 A.J. was ’n spesifieke poging om inheemse geloofstradisies onder die Saksers te vernietig (Rembold 2018:76).
8 Saxnot is ’n god wat slegs onder die Saksers bekend is (Simek 2004:83).
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Jonathan Cooper en is verkry op Pexels.
| LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |

