’n Wag voor die mond

  • 6

Van jongs af word die meeste van ons gewaarsku om ’n wag voor die mond te plaas.

Soms val die waarskuwing op dowe ore, soms word dit doelbewus geïgnoreer. Ons weet woorde het gevolge. Vra maar vir Vicky en Penny. Die ou sê-ding, “Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me” is lankal verkeerd bewys.

Woorde het impak. Woorde het gevolge.

Ouers word gewaarsku dat die manier waarop hulle met hul kinders praat, deel van hul innerlike stem word soos wat hulle grootword. Om sekere woorde te gebruik word eenvoudig nie meer geduld nie. Hoekom? Woorde weerspieël die innerlike werking van ons koppe.

Geen mens wat ’n ander respekteer, gaan na daardie persoon verwys as ’n bobbejaan nie. Woorde weerspieël houdings teenoor ander rasse en geslagte. Woorde weerspieël beskouings van die wêreld. Woorde weerspieël politieke sienings. Dink maar aan die minagtende manier waarop Trump en sy volgers na demokrate verwys as “snowflakes”. Die woord self is neutraal, maar word met negatiewe konnotasie gevul. Daar is egter ander woorde wat reeds uit die staanspoor as negatief ondervind word, en wat spesifiek gebruik word om te onderdruk en te verneder.

Woorde wat neerhalende rasseverwysings bevat, is natuurlik ooglopende voorbeelde. Deesdae verwys ons glad nie meer na “kafferwaatlemoen” of “hotnotsvis” nie, terwyl dit gedurende die apartheidsjare algemeen gebruik was. Beteken dit mense is nou meer liggeraak oor sekere woorde? Nee. Dit beteken veel eerder dat mense besig is om geleer te word, met wortel of stok, dat neerhalende, rassistiese of seksistiese taalgebruik nie sonder meer en sonder gevolge geduld sal word nie.

In hierdie dae van erge politieke en sosiale spanning tussen groepe, sou mens dink, sou mense wat hul bestaan uit woorde maak, juis soveel meer bedag wees op die impak van woorde. Juis daarom is dit so verstommend wanneer ’n bekende skrywer by ’n skrywersbyeenkoms opstaan en ’n lesing gee, skynbaar oor ’n kollega, met die titel “Niggerball met ’n marshmallow hart”. Dis selfs meer verstommend wanneer die uitgewer ’n foto van die skrywer in aksie op hul Instagram plaas, met klaarblyklike goedkeuring.

Ek ken die skrywer glad nie, en het nog nooit met haar te doen gehad nie. Ons is nie Facebook-vriende nie, ons volg mekaar nie op Twitter of Instagram of enige ander sosiale media nie. Ek ken haar nie, dus kan ek nie sonder meer aanneem dat sy dit moedswillig bedoel het nie. Waarskynlik het sy gedink dis oulik, die woordspeling op sagte en harde lekkers. Pleks dat sy maar eerder ’n appelkosie of Wilson-toffie of iets anders gebruik het vir haar metafoor.

Rassistiese terme, maak nie saak hoe oulik verpak of hoe onskuldig bedoel, kan eenvoudig net nooit geduld word nie. En “niggerballs” is in wese rassisties. Dis ’n gelaaide term, selfs hier in Suid-Afrika.

Ek het dadelik kommentaar gelewer op hoe toondoof dit oorkom. Ek moet my hoed afhaal vir die uitgewer. Binne minute het hulle die opskrif verander en my by wyse van direkte boodskap om verskoning gevra. My kommentaar is egter ook blitsvinnig verwyder.

In verskeie oorsese lande word kenners aangestel om manuskripte te lees vir wat hulle “tone sensitivity” noem. Met ander woorde, manuskripte word gefynkam om seker te maak dit kom nie rassisties of diskriminerend oor teenoor bepaalde groepe nie. ’n Vriendin van my wat nou in die VSA woonagtig is, word gereeld gevra om manuskripte oor die Midde-Ooste, of oor Moslems, te fynkam om seker te maak dit is nie toondoof nie.

Dalk het dit tyd geword dat uitgewers in Suid-Afrika dieselfde begin doen. Op hierdie stadium in ons politieke lewe, waar soveel spanninge en onderstrominge ons samelewing op ’n mespunt laat draai, kan ons eenvoudig nie bekostig dat ’n onversigtige woord verby die wag voor ons mond (of pen) glip nie. Te veel bloed is verspil, te veel spanning is verduur, te veel mense is verneder om sulke goed af te maak as vryheid van spraak, of kunstige vryheid.

Kunstenaars was tradisioneel nog altyd aan die voorpunt van sosiale verandering, die eerstes om voorbrand te maak vir groter verdraagsaamheid en sosiale kohesie. Dis nie net diegene wat “Die Stem” sing wat afbreek nie. Soms kom dit deur ’n oulike woordspeling, of deur ’n gedig of ander kunsvorm.

Word ’n kunstenaar aan bande gelê deurdat verwag word dat hulle nie rassistiese woorde sal gebruik nie? Natuurlik nie. Die vraag behoort eerder te wees: Hoe kan enigeen verwag dat ’n reg wat effektiewelik ander se regte skend, beskerm moet word?

Wat soveel nie verstaan nie, is dat elke vryheid met ’n verantwoordelikheid kom. En as kunstenaars behoort ons eerste verantwoordelikheid te wees om ons kuns te beoefen om die wêreld beter te maak, nie om die samelewing twee treë terug te laat gee nie.

My beste hoop is dat die betrokke uitgewer nie sal dink dat die druk van die delete-knoppie die somtotaal van hul verantwoordelikheid in hierdie verband was nie.

  • 6

Kommentaar

  • Wat gaan ons nou Boerpampoen Boerewors of Boeretroos noem. Dan is daar nog Whiteys en bleeksiele en rockspiders en Rooinekke en Limeys. Die brandewyn en Coke brigade en bekvelders almal kwetsende woorde.

  • Gustaf Claassens

    Dis nie te sê dat as mense nie "rassistiese taal" gebruik nie, hulle nie so voel en dink of dan ophou om rassisties te wees nie. Dis wat in hulle harte en verstand is wat hulle maak wat hulle is. Om dit nie te uiter ten aanhore van ander nie maak dat hulle bloot in vandag se terme, polities korrek optree, iets wat aangeleer word, veral namate dit met 'n vorm van straf gepaard gaan ... 'n Straf wat nie maak dat mense skielik hul ingesteldheid en siening verander nie. Hulle leer net aan hoe om meer versigtig in die alledaagse lewe om te gaan en probeer om nie 'uitgevang' te word nie ...'n valse soort van leefwyse in 'n valse samelewing en dit geld na alle kante toe.
    En terloops Bettina, om rassisme gereeld net van eenkant te beskou raak regtig bietjie afgesaag. As 'n uiters bekwame skrywer, intellektueel en gerespekteerde mens kan jy gerus meer gebalanseerd oor die soort van ding probeer skryf. Die woorde boerpampoen ('n pampoen word geassosieer met iemand wat dom is en dan's daar mense wat deesdae poog om die woord 'boer' as iets agterlik te beskryf en dit kwetsend aan te wend) of witgatspreeu kan ook politiek van gemaak word en dan 'n rassistiese kleur kry. Tog, ek gaan nou regtig nie toelaat dat ek geaffronteer word deur so iets nie. Ek weet wat en wie ek is en ouens soos Malema, sy rooikeps-brigade en hordes in die ANC of wie ook al kan na my verwys net hoe hulle wil. Dit toon net aan wie en wat hulle is en maak dat ek hulle as kwaadwillig sien en nie as die soort mense met wie ek graag saam sal wil braai nie. Wat nodig is in SA, is behoorlike opvoedingsprogramme hieroor; om "oortreders" te leer en te laat verstaan hoe diegene aan die ontvangkant sekere uitsprake ervaar en beleef. Dis natuurlik 'n gesprek op sy eie.
    Wat my betref is moedswillige en kwetsend-bedoelende optredes soos hierbo na verwys, bloot ongevoelig, 'n aanduiding van swak maniere en ongeskik. Om enige mens te verkleineer en sy/haar menswaardigheid aan te tas hoort nie tuis in die 21ste eeu nie. Om egter woorde en uitsprake goedsmoeds te verpolitiseer en te kriminaliseer gaan ons op 'n gevaarlike pad plaas. Wie gaan bepaal wat as rassisties gesien word? En soos ek al by geleentheid gesê het, ons gaan 'n stil nasie word (te bang om iets te sê) terwyl ons juis moet praat om dinge op te los. Ek ken talle familielede wat na hul seun en dogter as "kaffertjie" en meidjie" verwys en ek laat my nie vertel dit word sleg of neerhalend bedoel nie. Inteendeel, dis uit hulle oogpunt 'n liefdevolle uiting wat sy bestemmingsfunksie in deernis en “omgee” het. Om dus 'n woord sonder meer gelyk te stel aan rassisme en te kriminaliseer gaan ons nêrens bring nie. Ons gaan ook nie eenvormigheid kry in uitsprake wanneer boetes of tronkstraf opgelê word nie. Dit gaan afhang van die nukke en grille van die “beampte” wat voor sit. 'n Uiters gevaarlike speletjie wat teenreaksie gaan ontlok en na my mening rassisme gaan SKEP en aanwakker. Daar's reeds tekens hiervan.
    Teen die agtergrond kan ek ook nie glo dat jy sê dat jy jou vereenselwig met die idee dat manuskripte gefynkam moet word om seker te maak dit kom nie rassisties of diskriminerend oor teenoor bepaalde groepe nie. Kyk waarnatoe beweeg ons nou, SENSUUR! Het ons nie al genoegsame ervaring in die verband nie? En as eers hiermee begin word, neem dit toe en weereens gaan dit onderhewig wees aan die subjektiewe beoordeling van individue en mense in magsposisies. Ons val dan terug na die 16de eeu toe Montesquie gesê het die mens word vry gebore maar bevind hom oral in kettings ...
    Dit bring my by my eintlike punt. Een van die hoekstene van 'n demokrasie is die beginsel van "vryheid van spraak." Wat my betref is ons stadig maar seker besig om aan hierdie beginsel te begin torring en hoe meer ons dit doen, hoe meer kalwe ons weg aan vry idees, menings en ten einde laaste, vryheid per se. Wat ons polities probeer doen, vir watter doeleindes ook al, moet wat my betref teenoor hierdie beginsel getoets word. Ek vra my deesdae baie keer die vraag af; gaan dit werklik oor “rassisme” (en die definisie hiervan word gevaarlik breër) of het dit in baie gevalle nie maar te doen met 'n soort vergeldingsaksie wat merendeels uit 'n minderwaardigheidsgevoel (by, of van) baie voortspruit nie.
    Ons gaan onsself ernstig in die voet skiet as ons aan hierdie beginsel (vryheid van spraak) karring en miskien het die tyd aangebreek dat meer gesprek hieroor gevoer word sodat mense kan verstaan wat dit werklik behels. Salman Rushdie het by geleentheid gesê: "What is freedom of expression? Without the freedom to offend, it ceases to exist." Is hier waarheid in of nie?

  • Gustaf Claassens

    Dis nie te sê dat as mense nie "rassistiese taal" gebruik nie, hulle nie so voel en dink of dan ophou om rassisties te wees nie. Dis wat in hulle harte en verstand is wat hulle maak wat hulle is. Om dit nie te uiter ten aanhore van ander nie maak dat hulle bloot in vandag se terme, polities korrek optree, iets wat aangeleer word, veral namate dit met 'n vorm van straf gepaard gaan ... 'n Straf wat nie maak dat mense skielik hul ingesteldheid en siening verander nie. Hulle leer net aan hoe om meer versigtig in die alledaagse lewe om te gaan en probeer om nie “uitgevang” te word nie ...'n valse soort van leefwyse in 'n valse samelewing en dit geld na alle kante toe.
    En terloops Bettina, om rassisme gereeld net van eenkant te beskou raak regtig bietjie afgesaag. As 'n uiters bekwame skrywer, intellektueel en gerespekteerde mens kan jy gerus meer gebalanseerd oor die soort van ding probeer skryf. Die woorde boerpampoen ('n pampoen word geassosieer met iemand wat dom is en dan's daar mense wat deesdae poog om die woord “boer” as iets agterlik te beskryf en dit kwetsend aan te wend) of witgatspreeu kan ook politiek van gemaak word en dan 'n rassistiese kleur kry. Dog, ek gaan nou regtig nie toelaat dat ek geaffronteer word deur so iets nie. Ek weet wat en wie ek is en ouens soos Malema, sy rooikeps brigade en hordes in die ANC of wie ook al kan na my verwys net hoe hulle wil. Dit toon net aan wie en wat hulle is en maak dat ek hulle as kwaadwillig sien en nie as die soort mense met wie ek graag saam sal wil braai nie. Wat nodig is in SA, is behoorlike opvoedingsprogramme hieroor; om "oortreders" te leer en te laat verstaan hoe diegene aan die ontvangkant sekere uitsprake ervaar en beleef. Dis natuurlik 'n gesprek op sy eie.
    Wat my betref is moedswillige en kwetsend bedoelende optredes soos hierbo na verwys, bloot ongevoelig, 'n aanduiding van swak maniere en ongeskik. Om enige mens te verkleineer en sy/haar menswaardigheid aan te tas hoort nie tuis in die 21ste eeu nie. Om egter woorde en uitsprake goedsmoeds te verpolitiseer en te kriminaliseer gaan ons op 'n gevaarlike pad plaas. Wie gaan bepaal wat as rassisties gesien word? En soos ek al by geleentheid gesê het, ons gaan 'n stil nasie word (te bang om iets te sê) terwyl ons juis moet praat om dinge op te los. Om 'n woord sonder meer gelyk te stel aan rassisme en te kriminaliseer gaan ons nêrens bring nie. Ons gaan ook nie eenvormigheid kry in uitsprake wanneer boetes of tronkstraf opgelê word nie. Dit gaan afhang van die nukke en grille van die “beampte” wat voor sit. 'n Uiters gevaarlike speletjie wat teenreaksie gaan ontlok en na my mening rassisme gaan SKEP en aanwakker. Daar's reeds tekens hiervan.
    Teen die agtergrond kan ek ook nie glo dat jy sê dat jy jou vereenselwig met die idee dat manuskripte gefynkam moet word om seker te maak dit kom nie rassisties of diskriminerend oor teenoor bepaalde groepe nie. Kyk waarnatoe beweeg ons nou, SENSUUR! Het ons nie al genoegsame ervaring in die verband nie? En as eers hiermee begin word, neem dit toe en weereens gaan dit onderhewig wees aan die subjektiewe beoordeling van individue en mense in magsposisies. Ons val dan terug na die 16de eeu toe Montesquie gesê het die mens word vry gebore maar bevind hom oral in kettings ...
    Dit bring my by my eintlike punt. Een van die hoekstene van 'n demokrasie is die beginsel van "vryheid van spraak." Wat my betref is ons stadig maar seker besig om aan hierdie beginsel te begin torring en hoe meer ons dit doen, hoe meer kalwe ons weg aan vry idees, menings en ten einde laaste, vryheid per se. Wat ons polities probeer doen, vir watter doeleindes ook al, moet wat my betref teenoor hierdie beginsel getoets word. Ek vra my deesdae baie keer die vraag af; gaan dit werklik oor “rassisme” (en die definisie hiervan word gevaarlik breër) of het dit in baie gevalle nie maar te doen met 'n soort vergeldingsaksie wat merendeels uit 'n minderwaardigheidsgevoel (by, of van) baie voortspruit nie.
    Ons gaan onsself ernstig in die voet skiet as ons aan hierdie beginsel (vryheid van spraak) karring en miskien het die tyd aangebreek dat meer gesprek hieroor gevoer word sodat mense kan verstaan wat dit werklik behels. Salman Rushdie het by geleentheid gesê: "What is freedom of expression? Without the freedom to offend, it ceases to exist." Is hier waarheid in of nie?

  • annette le Grange

    Raak die mensdom nie 'n bietjie te kleinsielig nie, ek vra maar net, mens moet deesdae behoorlik jou woorde goed afweeg anders gee mens aanstoot, moet daar in elke woord wat gesê of geskryf word, dadelik die rassekaart gegooi word? Of is dit net van toepassing op sekere mense in die sameleweing? Weereens, ek vra net?

  • Dink ek moet nou dadelik 'n klas-aksie begin en kyk of daar nie 'n paar rand te make is nie uit diegene wat in beheer was van die ou SAW. Die tale wat daar gebruik is, sou menige sedeprediker onmiddellik van beroerte laat sterf het.
    Die intreepreek vir my en mede-lotelinge ,met kort hare, (kon myself skaars herken
    toe ek in die spieël kyk na die besoek aan die weermag-haarkapper ) het min of meer soos volg geklink.
    'n Ou met 'n paar pips op sy skouer het op 'n kassie gestaan en plegtig verklaar: “My naam is Witrot. Ek het nie 'hart nie, maar 'n tweesilinder-listerenjin wat alkohol deur my are pomp. En ek is hier om julle ouens op te fok.” Res gesensor.
    Doodse stilte en daardie naweek AWOL talle lotelinge en vind ons uit dat daar soveel diewe as vlieë in die kamp is, want wasgoed het teen 'n spoed van die wasgoedlyne verdwyn en knope ontlok, wat menige predikant na sy asem sou laat snak het en mammas sou laat bloos het. Stadig my kind, Mammie het jou nie so groot gemaak nie.
    Hygend hert - hoe het ons die verbale aanslag op ons menswees oorleef?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top