’n Vuurvreter van formaat

  • 3

Foto: Unsplash.com

Die mees onvergeetlike karakters is nie net dié wat my geïnspireer het om ’n beter mens te wees nie. Soms steek iemand in jou kop vas omdat hulle groter as lewensgrootte, te groot vir enige halfrond is.

So iemand was my tante Marie. Sy is aangetroud, met my pa se broer. Sy was ’n erfgenaam uit die Vrystaat, uiters ghrênd. Sy het altyd sag en gemoduleerd gepraat, met geronde vokale, sodat ’n mens moet naderstaan om te hoor en jy jou eie stem skel en plat in jou kop hoor blaf het. Sy het lang aandrokke en handskoene gedra. Eendag daag sy laat by ’n troue op, in ’n lang wit rok. Toe sy die kerk binnestap, begin die troumars speel.

Hulle het in Colbyn gewoon, ’n boomryke voorstad van Pretoria. Ek ry nou nog verby hul destydse huis op pad na vriende toe. Nou is dit ’n seeroog – dis die polisie se kantore, dink ek. Verwaarloos, bediefwering, vervalle, die klein stukkie tuin wat nog nie afgesny en herverkoop is nie, oorgroei. In die sestigs, sewentigs en tagtigs was dit die mooiste huis wat ek nog van naby gesien het. ’n Wit verdiepinghuis met pilare en rondings wat nestel in ’n lowergroen tuin van parkagtige afmetings, met palmbome, ’n swembad en ’n tennisbaan. Daar was ’n voorportaal en ’n golwende trap wat aan ’n herehuis in Dallas of Dynasty herinner het.

My niggies en neefs moes elke moontlike les neem: klavier, tjello, skaak, tennis, ballet, redevoering. Tannie Marie wou nie dat ek en my sibbe by hulle kom speel nie, want ons het glo te wild en ongedissiplineerd grootgeword en sou ’n slegte invloed wees. Vir my het sy ’n uitsondering gemaak, want ek was ’n ernstige kind wat bitter graag wou plesier, wat meestal stil in ’n hoek gesit en lees het. Ek onthou hoe sy aan tafel opmerk: “Kyk hoe mooi eet Deborah met haar messie en vurkie” – asof ek die wilde seun van Borneo was.

Tannie Marie het graag onthaal. Dan nooi sy Vrydagaand 50 Nasionale Party-mense en Saterdagaand 50 aanhangers van die Konserwatiewe Party. Sy het hul buurvrou, professor Elize Botha, as haar vriendin beskou, maar ek is nie seker of dit wederkerig was nie. Sy het haar graag aangehaal, bes moontlik buite konteks. So onthou ek dat sy eenkeer gesê het: “Elize sê ’n goeie boek van letterkundige waarde behoort nie ’n storielyn te hê nie.” Dit het my vir lank van Afrikaanse letterkunde vervreem.

Soms het ons die groot gees self, Elize Botha, te sien gekry. My ma – wat, soos tannie Marie, enige introverte kind se grootste nagmerrie is – het, toe ek op hoërskool was, my eerste, soetsappige verse vir die professor voorgedra, tot my rooiskaamte.

Ek en my niggie Susan was van kleins af onafskeidbaar. Sy was my eerste held, ’n engel op aarde.

Tannie Marie was vaagweg stomgeslaan deur Susan en het nooit ophou torring en probeer vorm aan haar nie, soos my ma aan my. Ek het eenkeer vir Susan gesê, oor my pa se ma: “My ma het ons vervreem van ouma Mam omdat sy nie van haar gehou het nie.” “Ja, my ma het ook nie van haar gehou nie, maar ek het my nie daaraan gesteur nie, want my ma het ook nie van my gehou nie,” het sy geantwoord.

“Ai, Santjie het gewig opgetel. Santjie, jou hare lyk nou regtig simpel só,” het tannie Marie gepruil toe Susan in haar punk-grunge-goth-fase op kunsskool was. So het sy Santjie vir endogene depressie in Denmar laat opneem en 13 elektriese breinskokke laat kry. Sy het al Susan se briewe onderskep en teenoor my opgemerk dat ek mooi briewe skryf.

Hierdie gedig is in my bundel, A see-through suitcase, opgeneem:

Susan

Companion of childhood closer than a sister
how I miss the captivating circus of your mind
you sprouted wings at fifteen, absent-minded child
and raced headlong into restless adolescence
with what breathtaking eloquence you raged
oh awesome fragile heroine of my meek years
furious and pretending not to give a damn ever
you got your own back on the neighbourhood
shaming your mother
at times even getting through to your father
who built grandfather clocks all over the yard
down the years your silent scream still echoes in my ears:
marring the milky flesh of your wrists in despair
inflicting visible scars to air the livid invisible ones
that fester darkly under the smooth translucent skin
saying things as they were and worse
laughing harshly at the wrong moment
you were so hopelessly inconvenient
so they sent you away to a white ward where they kept you calm
until you had trouble remembering the day of the month
they strapped you to a stretcher
and sent electricity through your head
thirteen times you jerked under the current
then grew limp
now you live in a town house in Pretoria
and that frozen smile never leaves your face
I'm so lonely since they stole my hero
The clockmakers and the givers of tea parties

Intussen het Susan teruggebons en het haar glimlag ontvries.

My oom, wat ’n sagte mens was, het al die jare alles met ’n fyn, afwesige glimlaggie opgevreet. Susan het my vertel, toe ons klein was, dat haar ma een aand ’n wynglas na sy kop gegooi het. Hy het gekoes en in sy bedaarde stem gesê: “Jy is die duiwel.”

Tannie Marie het elke dag tennis gespeel. Sy was diep godsdienstig, maar het haarself as ’n soort Southern Belle beskou en graag met mans geflankeer. Sy het, toe ons klein was, vir ons stories uit Die Voorligter voorgelees en altyd halfpad deur begin huil, sodat ons groot- en droogoog verleë toekyk en nooit die einde hoor nie.

Sy was ’n paar treë regs van Attila die Hun. Sy het ’n onmenslike sekte omhels, die sogenaamde Brits-Israel-visie wat glo dat Afrikaners die ware verlore stam van Juda is, die uitverkore volk, dat die mense in Israel glad nie Jode is nie, dat swart mense die “diere van die veld” is waarna die Bybel verwys. Sy het wyd en syd probeer geproseliteer.

Sy het vriende gemaak met Saddam Hussein se ambassadeur wat naby hulle gewoon het en só ’n uitnodiging ontvang na Saddam se verjaardagpartytjie. Ek dink nie sy was daar nie, maar sy het ’n horlosie ontvang met sy gesig agter die wysters. Sy was goeie vriende met Gay Derby-Lewis, die vrou van Clive wat betrokke was by die moord op Chris Hani. Later het sy Osama bin Laden aangehang en nog later vir Donald Trump, verwoed.

Sy was klein van postuur, maar eendag het twee mans in ’n verlate straat haar selfoon probeer afneem. Dit was ’n fout. Sy het hulle só toegetakel dat hulle ’n aanrandingsaak teen haar gemaak het. En sy het haar selfoon, weliswaar vol skrape, behou.

Sy het nooit geglo dat daar werklik iets soos homoseksualiteit bestaan nie, totdat sy een nag deur ’n hotelvenster twee mans in die straat gesien soen het. Soen is glo. Natuurlik is dit verdoem.

Op haar oudag koop sy ’n eenheid in ’n meenthuiskompleks in die kusdorpie waar Susan woon. Die huis was in Susan se naam as deel van haar erfgeld. Dus is Susan deur die beheerliggaam voor stok gekry oor haar ma se opruiende, verregse WhatsApps op die kompleksgroepie. Sy is afgeskop van die groepie, soos Trump van Twitter.

Nou is sy terug in Pretoria, in ’n aftreeoord waaroor sy nooit ophou kla nie. “Ons word fisiek versorg maar emosioneel verwaarloos,” sê sy.

Ek het net een keer gaan kuier.

  • 3

Kommentaar

  • Johan de Nysschen
    Johan de Nysschen

    Ek hoop dat daar van die jonger geslag ook die is wat mense kan onthou en in die gedagtes saamdra. Mense wat vir hulle groot en belangrik was/is. Dis sulke mense wat my groter en sterker maak, net deur hulle te onthou.
    Mooi geskryf.

  • Avatar
    Elthea Schlesinger

    Ah Deborah, jou fyn, fyn gekalibreeerde stemvurk, dis als zo eg waar. Hier loop darem baie tante Marias in ons land en die VSA rond, mens sou nou dink hulle raak, met al die oorbluffende bewyse, effe wyser, selfs ontgogeld, maar nee. Darem, darem, darem het Susan teruggebons alle luja en is jy terug op Litnet en hier op ons blou-erige niekerbôl.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top