Die skokgolwe rondom Media24 se sluiting van die papierweergawes van die meeste van hul koerante het effens bedaar. Nou kan ons nadink oor wat besig is om met die Afrikaanse taal te gebeur. Terwyl ek worstel met die depressiwiteit wat hierdie nuus by my veroorsaak, dink ek onwillekeurig terug aan George Bernard Shaw se woorde: “The single biggest problem in communication is the illusion that it has taken place.”
Niemand by enige van die maatskappye wat Afrikaanse boeke publiseer, het na vore gekom met ’n boodskap van hoop en gerusstelling nie. Nie Media24 nie, nie Penguin Random House nie, nie Protea nie.
In die skinderkanale word vertel dat Rapport Boeke daarmee heen is, maar dan hoor mens ook dat Netwerk24 ’n Sondag-weergawe gaan hê. Wat moet mens glo as niemand by Media24 iets spesifieks te sê het oor hoe die toekoms gaan lyk nie?
Ek probeer hard om nie te dink aan die toekoms van Afrikaanse boeke nie.
’n Voëlvlug oor onlangse resensies van Afrikaanse boeke:
Dis heerlik om weer ’n resensie te lees van iemand wat al ’n lang pad deur verskeie publikasies se resensieblaaie gestap het. Paul Boekkooi is van die geslag wat in die jare tagtig en negentig hul stem gevind het, en dit is ook opvallend in die gedrae manier waarop hy sy bespreking aanpak. Dis amper ’n essay dié; op ’n manier herinner dit sterk aan die musiek wat hy deur die jare aan soveel lesers bekend gestel het – ’n stadige opbou, dan die intensivering, ’n klimaks, en die oordra na die leser vir verdere ontginning. Boekkooi se opmerkings getuig van belesenheid en ’n wye verwysingsveld. Dié elemente wend hy ter inleiding aan voor hy die bundel in detail bespreek. Dit sal net Boekkooi wees wat raaklees hoe baie van die bydraers reiswenke in die verbygaan gee. Welkom terug! 7/10
Op die kantlyn, deur Marnus Kok. Resensie: Frederik Botha (Boeke24)
Nog ’n resensent waarvan ons té lanklaas gehoor het. Botha is die ene aanmoediging; Marnus Kok het nog meer vingeroefening as hierdie nodig om by die punt te kom waar Botha hom op dieselfde vlak sal ag as die kort-kortverhaalgenre wat hy in die resensie uitlig. Botha weet wat hy doen en hoekom hy dit doen. Hy kon baie maklik die bundel aan flarde getrek het en het oënskynlik besef dat dít nie is hoe mens ’n debuut soos Op die kantlyn moet benader nie. As jy talent raaksien, probeer jy die skrywer die regte brandstof gee. (Jammer van die openingsopmerking van die resensie – wat is belowend?) 6/10
Oor jou dooie liggaam, deur François Bloemhof. Resensie: Francois Bekker (Boeke24)
Dit mag vir koerantlesers nie altyd só lyk nie, maar boeke soos dié wat François Bloemhof skryf, is van die moeilikstes om te resenseer. Hy doen interessante dinge met die speurverhaal. Hy het ’n deeglike literêr-teoretiese agtergrond. Hy het die soort kundigheid oor die genre wat skaars is – daarom dat hy so maklik ’n metateks kan betrek. Maar hoe hanteer ’n resensent ’n Bloemhof-roman, waar die raamwerk die skrywer se poging is om die aard van die speurverhaal te dissekteer en dan weer aanmekaar te sit? Francois Bekker se resensie van Oor jou dooie liggaam behoort vir ander resensente stof tot nadenke te gee. Die resensent vind ’n balans tussen die opsom van die verhaal, die uitwys van die verhaal se masjinerie en die groter en kleiner historiese konteks. Bellville en Bredasdorp is deel van ’n groter geheel. En dan is Bekker ook bewus daarvan dat Ludo, die hoofkarakter in die verhaal, al drie Bloemhof-romans agter die rug het. In die begin van die resensie het ek begin wonder of Ludo Labuschagne en Kassie Kasselman nie dalk naby aan mekaar woon en mekaar ken nie. Ander tyd, ander matrix. Die groot probleem is dat François Bloemhof se roman ’n sterk onderlaag van sardoniese humor het. En die enigste manier wat ’n resensent daardie aspek kan belig sonder om vas te val in ’n ellelange verduideliking van hoe humor werk, is om dit nie te bespreek nie, maar jou eie ligte aanslag in die resensie te ontwikkel. Bekker kry dit grotendeels reg, maar nog nie volledig nie. 6/10
Die geskenk, deur Riette Rust. Resensie: Trisa Hugo (Boeke24)
Trisa Hugo het my simpatie. Sy het Theresa Papenfus se Sing, Mamma, sing só uitnemend geresenseer dat sy nou die eerste keuse is om boeke met ’n sterk aanslag op die emosies te bespreek. Om sake te kompliseer, is Riette Rust iemand met ’n baie groot vriendekring op sosiale media. Ek was een van die mense wat die selfdood van haar eerste eggenoot “ervaar” het via die dinge wat Rust op Facebook geplaas het. Nie iets wat ek gou sal vergeet nie. Niemand sal van Hugo kan verwag om op Rust se boek te reageer soos sy op Papenfus s’n het nie; wat sy wel vermag, is om ’n kritiese afstand te kry en die koerantleser te vertel van die balans in Rust se geaardheid en lewe. Rust het dinge beleef wat ’n mens kan knak en Hugo verseker mens gou dat sy nie het nie. Die waarde van hierdie resensie lê in dít wat mens nie met die eerste lees volledig snap nie, maar met herhaalde lees deeglik raaksien: Rust se boek, en sy aanpak, skep vir Hugo die ruimte om self afstand te neem, om haarself as resensent te beskerm. 7/10
’n Goeie voorbeeld van ’n swak resensie. Om in die eerste sin van die resensie te erken dat reisverhale nie haar koppie tee is nie, is om die gesag van enige opmerking wat daarna gemaak word, totaal te ondermyn. Om dan voort te gaan en die bundel te resenseer en groot uitsprake te maak oor die inhoud is eintlik ’n bietjie belaglik. Die noodwendige gevolg van ’n resensie soos hierdie een is dat mens in die vervolg Linza de Jager se resensies baie krities sal benader. 0/10
Ek sal vir jou veg, deur Cliffordene Norton. Resensie: Christien Neser (LitNet)
Is hierdie ’n keurverslag? Volgens struktuur en styl moet dit wees. Hoekom dit aanbied as resensie, terwyl dit ’n heeltemal ander funksie het? (As resensie: 0/10. As keur- of leesverslag: 5/10.)
Anoniem, deur Chanette Paul. Resensie: Antoinette Coetzee (FMR, geplaas op LitNet)
Luisteraars van Amanda Botha se Boekkeuse-program op FMR (ek volg die podcasts) sal weet dat dit dikwels gerig is aan leeskringe en hul behoeftes. Veral die resensies. Antoinette Coetzee se bespreking van Anoniem is nog nie gelaai nie, wat my effens frustreer, want ek sou graag wou gehoor het hoe dit “vloei”. As leesstuk val dit op dat die paragrawe los van mekaar staan sonder enige skakels of aansluitende opmerkings. Dit lees nie vloeiend nie, en mens kry nooit die gevoel dat die resensent besig is met ’n gestruktureerde betoog oor/vir ’n roman nie. 3/10
Die geskenk, deur Riette Rust. Resensie: Deborah Steinmair (Vrye Weekblad)
Die formaat van wat Deborah Steinmair “’n deurloop” van ’n handvol boeke noem, is van só ’n aard dat ek nie almal as volle resensies kan hanteer nie. Haar aanslag is om sommige boeke kortliks te noem, soos die drie digbundels wat sy verlede week bekend gestel het, elk met ’n gedig wat aangehaal word om mens ’n idee van die digterskap te gee. Dieselfde geld haar skrywes oor boeke van Leon van Nierop en twee Engelse skrywers. Maar vir Riette Rust se Die geskenk gee sy die full monty … Ek wens sy wil meer sulke langer resensies skryf. As mens Steinmair en Trisa Hugo se besprekings van hierdie boek naas mekaar plaas, sien jy presies hoekom meerdere resensies uiteindelik die skrywer, boek en medialesers baat. Steinmair was in ’n stadium aan Protea Boekhuis verbonde. Sy is waarskynlik meer bewus van boeke se sterk- en swakpunte as ons wat nie by uitgewerye gewerk het nie. Haar bespreking van Die geskenk dring onmiddellik deur tot die kern van die boek. Steinmair sit nie met dieselfde resensentsituasie as Trisa Hugo nie en daarom is dit nie nodig om die trauma op dieselfde afstand te hou nie. Steinmair gee mens geen kans om dié boek te ignoreer nie. Daarom slaan ek dit hoog aan. 7/10
ek en jy bestaan nie, deur Danie Marais. Resensie: Deborah Steinmair (Vrye Weekblad)
Ek warra-warra té dikwels oor die neiging onder resensente om digbundels slegs vanuit ’n akademiese hoek te benader. Hoe anders, kan mens seker vra. Dit neem een resensie soos hierdie een van Steinmair om te bewys daar is ’n ander invalshoek moontlik. Dié van die leser wat wil testify oor wat die bundel aan haar gemoed en insigte gedoen het, wat voel dat die gedigte iets vir almal te sê het, en die vinger kan plaas op presies wat dit is. Die resensent wat nie lus voel vir die gebruiklike jargon oor digbundels nie. Al wat saak maak, is die openbarings wat die bundel vir haar gebring het. Die aanhalings wat sy plaas, is netjies gekies. Ek het hierdie resensie gelees en ’n uur later het ek die bundel gaan koop. 8/10


Kommentaar
Hoe lees jy so baie? Al daai boeke en nog al die mense se resensies ook? Het julle nie 'n see daar waar julle woon nie? Met die winter nou sterk, sal ek seker ook darem 'n boek of wat meer lees. Die see is te koud nou. Dis nou as ek nie die tyd op ander verslawings spandeer nie.
Crito, ek neem waar dat jy in jou inskattings, voorkeur gee aan resensies wat op "gewone lesers" gerig is eerder as akademiese/literêre ontledings. Dit is veral opvallend dat jy nooit na resensies in literêre tydskrifte (byvoorbeeld TVL) of selfs akademiese webtuistes (byvoorbeeld LitNet Akademies of selfs Versindaba) verwys nie. Dus het jou oorsigte die bykomende caveat dat dit uitsluitlik gaan om resensies in die populêre media waarin lesers sonder enige onderliggende kennis bekendgestel word aan nuwe boeke, eerder as om literêre kritiek en resensiekunde te bespreek. Vir jou gaan dit dus klaarblyklik eerder om boekoorsigte as resensies soos in die literatuurwetenskap verwoord.
Ek aanvaar jou invalshoek, en miskien praat jy in hierdie rubrieke van jou ook met die deursnee-lesers, maar dan moet jy darem in jou besprekings verklaar dat jy nie werklik jouself met die evaluering van literêre kritiek besig hou nie. Ek moet jou ook daarop wys dat die resensent, aldus grondleggende kenners soos AP Grové, steeds 'n opvoedingstaak teenoor die publiek, sowel as die skrywer het, selfs in die populêre media. Daarvoor is literêre kundigheid noodsaaklik en is die gevoelsindruk van mindere belang.
Maar my eintlike vraag, Crito, is hoe word jou puntetellings bepaal (want dit kom uiters lukraak voor)? Is daar bepaalde kriteria vir 'n 0, 'n 1, 'n 2 ensomeer? Is daar 'n gestandaardiseerde instrument of is jou toekenning ook maar 'n gevoelsindruk? Of staan jy in die oggend op en as die hond twee keer blaf kry die resensent 'n 2?
Ek kry altyd ook akademiese joernale. Maar nie die letterkunde soort nie. Meer die geskiedenissoort. Oor die jare het ek nou al gesien, meeste normale mense lees dit glad nie. Daar is wel sommige professor freaks wat ALLES lees. Maar normale mense gooi al daai joernale iewers op 'n hoop. Uiteindelik lê dit net en stof vergaar. Mense skrywe ook resensies oor geskiedenisboeke in daai joernale. Resensies wat niemand eintlik lees nie. My vermoede is dat Crito se puntesisteem seker maar arbitrêr is. Dis nie uitsprake van die konstitusionele hof die nie. Dis sommer maar net daar om bietjie gesprek te stimuleer oor boeke. Ek sou wel eerder 'n sisteem uit 5 verkies het eerder as uit 10. Maar wie is ek om vir Crito te wil voorskryf? Ek is net te dankbaar vir die interessante oorsig.