’n Verkenning van relasionele outonomie aan die hand van die outobiografiese poësie van Afrikaanse vrouedigters

  • 2

’n Verkenning van relasionele outonomie aan die hand van die outobiografiese poësie van Afrikaanse vrouedigters

Ihette Senekal, Departement Afrikaans en Literatuurteorie, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming 

Die spanning tussen outonomie en relasionaliteit is ’n opvallende onderwerp binne die feministiese relasionaliteitsteorie. Friedman (2000:36) maak die belangrike stelling dat die kulturele begrip outonomie verandering moet ondergaan om ook vir vroue ter sake te wees. Sy bespreek drie voorbeelde van dienooreenkomstige veranderinge as (1) nuwe paradigmas van outonomie wat vroulike protagoniste insluit; (2) die herdefiniëring van outonomie wat stereotipiese manlike eienskappe vermy; en (3) die herdefiniëring van outonomie wat op een of ander wyse sosiale verhoudings insluit.

In die lig van bogenoemde is die metodologie van hierdie artikel om die begrip outonomie van nader te beskou, met die doel om die moontlikheid van ’n herdefiniëring van outonomie in terme van die relasionele uiteen te sit. Met betrekking tot dié doel word daar in hierdie artikel onder meer ’n relasionele model van outonomie aangebied. Outonomie word ook bespreek in terme van relasionaliteit en moederskap. Om nuwe paradigmas van outonomie wat vroulike protagoniste insluit te illustreer, word die teoretiese bespreking deurgaans toegelig met outobiografiese gedigte uit die oeuvres van Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog en Ronelda S. Kamfer. In hierdie voorbeeldgedigte staan ’n outobiografiese digterspreker telkens voorop om die stem van die vrou en haar relasionele posisie na vore te bring en/of te problematiseer.

Die teoretiese bespreking en die gedigontledings lei in hierdie artikel tot die bevinding dat outonomie en relasionaliteit nie as losstaande entiteite gesien kan word wanneer dit kom by die identiteitsvorming van die vrou nie. Albei entiteite beïnvloed die totstandkoming van die vroulike digterspreker se identiteit, en die ontleding van die onderskeie gedigte toon dat sowel sosiale ingebedheid as agentskap deur die vrou beliggaam kan word, en dat sy ook die posisie kan inneem om dit te kan verwoord.

Trefwoorde: digterspreker; feministiese relasionaliteitsteorie; identiteit; outobiografiese poësie; relasionele outonomie; vrouedigters

 

Abstract

An exploration of relational autonomy with reference to the autobiographical poetry of Afrikaans female poets

The tension between autonomy and relationality is an intriguing topic in feminist relationality theory. In The female imagination Patricia Meyer Spacks (1972:267) warns against the dangers of relational female self-definition in terms of woman’s struggle to create a positive identity of self-mastery. Friedman (2000:36) states that the cultural term autonomy should be altered in order also be applicable to women. She discusses the examples of said change as (1) new paradigms of autonomy, which include female protagonists; (2) redefining autonomy so as to avoid stereotypical male characteristics; and (3) the redefining autonomy to include social relationships.

The methodology of this article entails that the term autonomy be closely scrutinised with the aim of conceptualising the possibility of redefining autonomy in terms of relationality. This conceptualisation follows the framework provided by Friedman (2000:37–41) in “Autonomy, social disruption and women”. Friedman’s framework entails a characterisation of autonomy which is typical thereof in contemporary philosophical literature. Her characterisation of autonomy is done under the headings of personal autonomy, autonomy and female identity, autonomy and gender stereotyping, the social reconceptualisation of autonomy, and a critical view of autonomy as disruptor of personal relationships. 

In striving to redefine female autonomy in terms of relationality this article elaborates on the discussion based on Friedman’s framework by constructing a relational model of autonomy with additional reference to Nedelsky (1989), Keller (1997), Mackenzie and Stoljar (2000), Dryden (2013) and Stoljar (2013). Autonomy is also elaborated on in view of Stone (2011) and others in terms of relationality and motherhood, an important identity marker in terms of female subjectivity.

New paradigms of autonomy which include female protagonists are illustrated by illuminating the theoretical discussion of relational autonomy by means of autobiographical poems from the oeuvres of Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog and Ronelda S. Kamfer. In these corroborating poems an autobiographical poetic speaker is used in a way that causes the woman’s voice and her relational position to be highlighted and/or problematised. 

This article’s scope allows for the analysis of only a limited number of female poets’ poetry, and necessitates a demarcation of poets. The focus is not so much on identifying detailed similarities in the poetics of the chosen poets as it is on analysing these poets’ autobiographical poetry in determining similarities from a critical approach by which certain theoretical frameworks can be illustrated. 

The theoretical discussion and analyses of poems in this article lead to the conclusion that autonomy and relationality cannot be viewed as separate phenomena with regard to the identity formation of women. Both autonomy and relationality influence the formation of the female poetic speaker’s identity, and an analysis of the various poems indicates that social embeddedness and agency are embodied by women, and that women can take a position by which to articulate this. 

This article’s focus on a feminist application of autonomy entails that the narratives of women will react against patriarchal limitations in order to articulate and redefine their awareness and relationality of the self. This can entail that a narrative reflects on the fact that women are, according to the conventional stereotyping of gender roles, linked to a motherly function. It is shown that a narrative that reflects on the motherly role, or even redefines it according to new paradigms not dominated by patriarchal views, can constitute a feminist application of the term autonomy.

A further insight entails that the gender-stereotypical separation of emotion and reason has become less prominent in contemporary contexts. It is found that rationality is made up of both emotion and reason, and that the reconceptualisation of autonomy also necessitates a reconceptualisation of the gender norms which influence gender roles and gender-specific characteristics. 

It is inferred from the discussion of the social reconceptualisation of autonomy that one develops the capacity for autonomy by means of social interaction. This development is subject to the context of values, meaning and modes of self-reflection as formed by social practice. The influence of social norms on the identity of a person forms part of the relational approach to autonomy, and implies that within a feminist framework the role of social norms (and specifically gender norms), relationality and autonomy are interactively and inseparably involved in the conceptualisation of the self. 

The argument that autonomy can, in certain cases, be regarded as disruptive to personal relationships is acknowledged, as is evidence of situations where this disruption does not necessarily manifest. It is also determined that the potential of autonomy for social disruption should not be viewed as exclusively negative. Autonomic reflection can offer women an opportunity for critical review of their relationships and the influence these relationships have on her identity.

Viewing autobiographical poetry through the lens provided here offers enriching possibilities. The poet who in an autobiographical poem reflects on certain relationships – i.e. reflects on her relationality ­– is simultaneously enacting her autonomy. Autonomy enables critical reflection on relationships, and a relationship cannot, in the first instance, exist without the possibility of relationality. Therefore, the writing of an autobiographical poem which critically reflects on the poetic speaker’s relational position can also be regarded as an exercising of the poetic speaker’s autonomy.

Keywords: autobiographical poetry; female poets; feminist relationality theory; identity; poetic speaker; relational autonomy

 

1. Inleiding

And so when we speak about my sexuality or my gender, as we do (and as we must) we mean something complicated by it. Neither of these is precisely a possession, but both are to be understood as modes of being dispossessed, ways of being for another or, indeed, by virtue of another. It does not suffice to say that I am promoting a relational view of the self over an autonomous one, or trying to redescribe autonomy in terms of relationality. The term “relationality” sutures the rupture in the relation we seek to describe, a rupture that is constitutive of identity itself. (Butler 2004:19) 

Die spanning tussen outonomie en relasionaliteit is ’n prominente onderwerp ten opsigte van die feministiese relasionaliteitsteorie. ’n Vroeë feministiese kritikus, Patricia Meyer Spacks (1972:267), waarsku in The female imagination teen die gevare van ’n relasionele vroulike selfdefiniëring in die konteks van ’n vrou se stryd om vir haar ’n positiewe identiteit van selfbemeestering te skep. 

Friedman (2000:35) stel die vraag of vroue in Westerse samelewings vervreemd voel deur die ideaal van outonomie. Ter stawing van hierdie vraag stel sy dit dat verskeie feministiese filosowe suggereer dat vroue outonomie as onherbergsaam beskou. Outonomie word hiervolgens gesien as iets wat eerder ’n manlike styl van preokkupasie met selfonderhouding en selfrealisering ten koste van menslike verhoudings voorstel.

Volgens Friedman (2000:36) definieer vroue hulself in die algemeen meer dikwels in terme van persoonlike verhoudings as mans.1 Boonop beskou Friedman (2000:36) die morele belange van vroue as geneig om meer intens te fokus op die onderhou en bevordering van persoonlike verbintenisse as dié van mans. Ook is sy van mening dat populêre kultuur steeds aanneem dat vroue meer gemoeid is met verhoudings soos die liefdesverhouding binne die huwelik as mans, wat eerder outonomie op prys stel.

Die argument kan gevoer word dat bostaande stellings te genderessensialisties is en uitgaan van ’n binêre beskouing van gender en gendernorme. Daar moet egter in gedagte gehou word dat dit juis Friedman (2000) se doel is om algemene stellings te maak en dit krities te ondersoek. Verder kan daar aangevoer word dat dit noodsaaklik is om te onderskei tussen wat mans en vroue beskou as outonomie, om te voorkom dat dié begrip slegs onder ’n genderneutrale vaandel geplaas word. 

Volgens Dryden (2013) staan feministiese filosowe dikwels krities teenoor begrippe en waardes wat as genderneutraal veronderstel word, byvoorbeeld wetenskap, rede en geregtigheid, omdat dit by nadere ondersoek blyk dat dit eerder manlik-gekodeer te wees.2 Outonomie is een van hierdie begrippe, omdat dit lank reeds gekodeer word as manlik en geassosieer word met manlike idees en ideale. Benjamin (1988:7) argumenteer dat “while we are formally committed to equality, gender polarity underlies such familiar dualisms as autonomy and dependency”. Daar is ook debatte rondom die vraagstuk of outonomie werklik ’n nuttige waarde vir vroue is, en of dit onherroeplik deur assosiasie bevlek is.

Feministiese ontleders wys op die kulturele devaluering van noue persoonlike betrokkenheid by en identifikasie met die ander, wat in samehang met die devaluasie van vroue tot uiting kom. Die reaksie van feministiese teoretici is dan juis om te fokus op die belang van die sosiale om in die eerste plek hierdie tradisionele denke uit te daag en in die tweede plek die vrou se sosiale beeld te bevorder. Feministiese filosowe het op grond hiervan in hul werk prominensie verleen aan sosiale verhoudings en relasionele benaderings tot verskillende filosofiese begrippe3 (Friedman 2000:36). 

Friedman (2000:36) maak die belangrike stelling dat die kulturele begrip outonomie verandering moet ondergaan om ook vir vroue ter sake te wees. Sy bespreek in haar artikel “Autonomy, social disruption and women” (2000) drie voorbeelde van dienooreenkomstige veranderinge as (1) nuwe paradigmas van outonomie wat vroulike protagoniste insluit; (2) die herdefiniëring van outonomie wat stereotipiese manlike eienskappe vermy; en (3) die herdefiniëring van outonomie wat op een of ander wyse sosiale verhoudings insluit. 

Friedman (2000:36) waarsku egter teen die moontlike gevaar wat die omarming van relasionele benaderings vir outonomie kan inhou. Die moontlikheid bestaan dat outonomie persoonlike verhoudings kan versteur. Hoewel Friedman (2000:36) dit stel dat hierdie siening van outonomie empiries eerder as konseptueel is, dit steeds ’n betekenisvolle gevaar inhou wat bevraagteken of die ideaal van outonomie werklik vir vroue ook geborgenheid bied. 

Die metodologie van hierdie artikel hou in dat die begrip outonomie van nader beskou word met die doel om die moontlikheid van ’n herdefiniëring van outonomie in terme van die relasionele te konseptualiseer. Dié konseptualisering volg die raamwerk wat Friedman (2000:37–41) verskaf in “Autonomy, social disruption and women”. Haar raamwerk behels ’n karakterisering van outonomie wat tipies is van beskrywings daarvan in die eietydse filosofiese literatuur. Sy hanteer die karakterisering van outonomie onder die volgende opskrifte: persoonlike outonomie; outonomie en vroulike identiteit; outonomie en genderstereotipering; sosiale herkonseptualisering van outonomie; ’n kritiese beskouing van outonomie as ontwrigter van persoonlike verhoudings.

Met die doel voor oë om die vrou se outonomie in terme van die relasionele te herdefinieer, word die bespreking aan die hand van Friedman se bogenoemde raamwerk in hierdie artikel aangevul deur die konstruering van ’n relasionele model van outonomie. Outonomie word ook verder bespreek in terme van relasionaliteit en moederskap, ’n belangrike identiteitsmerker met betrekking tot vroulike subjektiwiteit. 

Nuwe paradigmas van outonomie wat vroulike protagoniste insluit, word geïllustreer deur die teoretiese bespreking van relasionele outonomie deurgaans toe te lig met outobiografiese gedigte uit die oeuvres van Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog en Ronelda S. Kamfer. In hierdie voorbeeldgedigte staan ’n outobiografiese digterspreker telkens voorop sodat die stem van die vrou en haar relasionele posisie na vore gebring en/of geproblematiseer word. 

In die bestek van hierdie artikel is dit alleenlik moontlik om die poësie van enkele vrouedigters te ontleed, en ’n keuse van bepaalde digters is dus nodig. Dit gaan nie soseer oor die voorafgaande identifisering van gedetailleerde ooreenkomste tussen die poëtikas van die gekose digters nie, maar eerder oor die ontleding van dié vrouedigters se outobiografiese poësie ten einde die ooreenkomste uit die kritiese beskouing daarvan te kan neem om sekere teoretiese raamwerke te kan illustreer.

Enkele oppervlakskenmerke van die gekose digters se poësie kan wel geïdentifiseer word en dien as motivering vir die insluiting van dié spesifieke digters. Die gekose digters is almal vroue wat in een of ander stadium in die relasionele posisie van ’n huwelik met ’n man gestaan het of steeds staan. Elkeen van die digters het ook in haar leeftyd kinders gehad en moederskap is as ’n tema in hulle poësie teenwoordig. Verder word die outobiografiese aard van Eybers,4 Krog,5 Jonker6 en Kamfer7 akademies erken en bestudeer. Die persoonlike omgang met die self-ander-verhouding in hulle poësie sluit aan by hierdie bespreking van relasionaliteit in outobiografiese vrouepoësie. Die gedigte van hierdie vier vrouedigters dien deurgaans as illustrasie van die toepassingsmoontlikhede van die teoretiese bevindinge, asook as ’n toetslig wat ’n kritiese blik terugwerp op die teorie.

 

2. Outobiografiese poësie en relasionele outonomie

Voordat die verkenning van relasionele outonomie voortgesit word, moet daar eers stilgestaan word by konseptualisering van outobiografiese poësie en die tersaaklikheid daarvan ten opsigte van hierdie verkenning. In Jacobs (2016) is die outobiografiese aard van poësie bespreek. Dié navorsing dien as bykomende teoretiese agtergrond vir hierdie artikel, aangesien dit die moontlikheid van die bepaling van die outobiografiese aard van poësie (na aanleiding van Lanser 2005) bespreek.

In hierdie verband gebruik Jacobs (2016) Lanser (2005) se model vir die bepaling van die verbonde of onverbonde aard van tekste. Verbondenheid verwys na die potensiaal om die tekstuele ek-spreker aan die skrywer te kan verbind. Lanser (2005) stel vyf begrippe van verbinding voor om hierdie verbondenheid te bepaal, naamlik enkelvoudigheid (singularity), anonimiteit (anonymity), identiteit (identity), betroubaarheid (reliability) en nienarratiwiteit (nonnarrativity). Jacobs (2016) illustreer hoe hierdie begrippe en terme gebruik kan word om die outobiografiese lees van poësie te motiveer. Waarskynlik die belangrikste afleiding wat uit die bespreking hiervan gemaak word, hou verband met die laaste term, nienarratiwiteit. Daar word bespreek hoe die leser van narratiewe liriese gedigte die nienarratiewe gedagtes, emosies en beelding só voorop kan stel dat die gebeure ongemerk oorgesien kan word wanneer dit nie sentraal staan tot die leser se interpretasie en poging tot begrip van die betekenis van die gedig nie. 

Daar word in hierdie konteks spesifiek verwys na die belang van die feitelike bepaling van gebeure wat voorgestel word in liriese poësie met outobiografiese en narratiewe elemente. Die aard van die gebeure as fiktief of feitelik word deur Lanser (2005:215) beskou as van mindere belang, omdat dit nie vir haar noodsaaklik is om die gebeure as narratiewe waarheid te aanvaar om die emosie, gedagtes, beelding, ens. van die skrywer-spreker te kan interpreteer nie. Die leser kan dus die narratiewe gebeure in die gedig beskou as gerieflik fiksioneel, terwyl die uiteindelike siening wat in die gedig uitgedruk word, steeds aan die skrywer verbind kan word. Anders gestel, is dit dus moontlik om in terme van een teks die narratiewe ek los te maak van die skrywer en as fiksioneel te beskou, maar die liriese ek te verbind tot die skrywer, al is hierdie ek-spreker tegnies een entiteit in die teks (Lanser 2005:215).

Die gevolgtrekking waartoe Jacobs (2016) kom, is dat die ontleding en die bestudering van outobiografiese tekste (hier spesifiek poësie) nie noodwendig ten doel het om afleidings te maak of tot insigte te kom oor die skrywer se persoonlike lewe of gesien kan word as ’n feitelike weergawe van die lewensgebeure uit die skrywer se verlede nie, maar eerder tekenend is van die skrywer se wêreldbeskouing en beeld van die self ten tye van die skryf van die teks. Die hipotese word gestel dat dit juis die bestudering van outobiografiese tekste is wat dit leen tot die teoretiese ontdekking van ’n bepaalde tydvak. So kan daar byvoorbeeld afleidings gemaak word oor die aard van relasionaliteit in ’n spesifieke era deur die outobiografiese tekste van daardie era te ontleed en die wêreldbeskouings wat daaruit blyk met mekaar te vergelyk.

Jacobs (2016) stel dit dat hierdie hipotese problematies kan wees, aangesien die argument gevoer kan word dat fiktiewe tekste net sowel met dieselfde doel voor oë ontleed kan word. Die vraag ontstaan rondom die verskil tussen fiksionele en outobiografiese werke met betrekking tot die gestelde hipotese. Hieruit ontstaan ’n tweede moontlike hipotese, naamlik dat outobiografiese tekste (soos poësie) ’n groter bewustheid van die (lewensgetrouheid) van die hede illustreer en daarom meer funksioneel aangewend kan word om bepaalde afleidings daaruit te maak oor ’n bepaalde tydvak of teoretiese uitgangspunt.

 

3. Persoonlike outonomie

Eenvoudig gestel beteken outonomie, in die filosofiese sin van die woord, om jou eie mens te wees en om op te tree en gedryf te word deur oorwegings, begeertes, toestande en karaktereienskappe wat nie eenvoudig ekstern op ’n mens afgedwing word nie, maar wat beskou kan word as deel van die mens se outentieke self. Outonomie kom in hierdie sin voor as ’n onteenseglike waarde, veral omdat die teenoorgestelde daarvan die hoogty van onderdrukking aandui. In ’n poging om die spesifikasies van die voorwaardes van outonomie presies te omskryf kom kontroversie aan die lig. Die bewering dat outonomie ’n ongekwalifiseerde waarde vir alle individue is, lê aan die basis hiervan (Stoljar 2013).

Volgens Friedman (2000:37) behels outonomie om keuses uit te voer en te leef volgens die standaarde en waardes wat die mens se eie is. Sy betrek by dié definisie twee dimensies wat as die mens se eie beskou kan word. Eerstens moet iemand op ’n outonome wyse besin oor die keuses wat sy maak en die standaarde of waardes waarvolgens sy gelei word. Hierdie wyse van besinning is nie tot die rasionele beperk nie. Terme soos krities, besinning, oorweging, evaluasie, betragting en keuse behels sowel emosionele as rasionele en kognitiewe dimensies van persoonlike prosesse. Tweedens moet die besinning self relatief losstaande wees van variëteite van inmenging wat die verwerwing van outonomie belemmer. ’n Voorbeeld hiervan is aspekte van dwang wat binne sosiale kontekste kan ontstaan. Dit is egter nie ’n gegewe dat enige sosialisasie outonomie sal belemmer nie. 

Friedman (2000:37) definieer verder persoonlike outonomie met verwysing na morele outonomie. Morele outonomie hou in dat die mens keuses uitvoer en lewe volgens die reëls wat sy as moreel bindend beskou. Persoonlike outonomie behels dan om te handel en te lewe volgens ’n mens se eie keuses, waardes en identiteit, binne die beperkings van wat die mens as moreel toelaatbaar beskou.

’n Voorbeeld van ’n gedig waarin onder meer persoonlike outonomie onder die loep geneem word, is Antjie Krog (2000:47) se “ai tog!” uit Kleur kom nooit alleen nie:

ai tog! 

ek is moeg
vir dié wat so hewig tuiskom teen die Afrikanerbors
die ou prostate met die gekroonde tande en die bifocals
die male vanity van die wat die laaste woord spreek
oor die voorwaardes van by hulle hoort

ek is moeg
vir hul onbetaamlike haas om te brandmerk, in te stoet en op te pis
almal sit helaas met ’n spul stinkende identiteite in die skoot
(en ’n taal gestroop van die grammatika
van menslikheid en berou)
mens sê maar gereeld
mens is niemand se Afrikaner nie
mens praat niemand se taal nie
mens is nie ’n moer iemand se meriete nie
mens is drolwit en pisswart
mens skyt graag op die manne
wat werk by die nuwe barcounter van identities

mens hoort by haar wat daagliks woordeloos
nuwe wolle by die mat vleg.

Volgens Louise Viljoen (2002:28–9) staan “ai tog!” besonder krities teenoor die kwessie van identiteit in postapartheid Suid-Afrika. Viljoen voer aan dat die gedig van soveel minagting vir “die manne / wat werk by die nuwe barcounter van identities” spreek dat die leser mag dink dat dit geld vir die hele kwessie van identiteit in postapartheid Suid-Afrika.

Viljoen (2002:28–9) meen egter dat mens by die lees van die gedig bewus word daarvan dat die digter verwys na ’n uitgediende en eksklusivistiese opvatting van identiteit. Sy bring dit veral in verband met bejaarde Afrikanermans (vergelyk die verwysing na “tuiskom teen die Afrikanerbors” en “die ou prostate met die gekroonde tande en die bifocals”). Sy gebruik verder ’n metafoor uit die hoofsaaklik manlike domein van stoetboerdery om te beklemtoon dat hierdie opvatting van identiteit gerig is op die uitsluiting van diegene wat nie voldoen aan die kriteria gestel deur dié Afrikanermans nie. Sy verwys na “hulle onbetaamlike haas om te brandmerk, in te stoet en op te pis” en benadruk dat hulle “male vanity” die oorsaak is van hulle dringende behoefte om die finale seggenskap te hê “oor die voorwaardes van by hulle hoort”. Hulle idee van ’n suiwer identiteit word weerspreek deur die digterspreker se gevoel dat hulle almal met “’n spul stinkende identiteite in die skoot” sit. Die feit dat daar ook gesê word dat hulle hulleself bedien van “’n taal gestroop van die grammatika / van menslikheid en berou”, verwys daarna dat sommige van hierdie Afrikanermans hulle eie aandeel in die menseregteskendings van die apartheidsera ontken (iets waaroor Krog haar in Country of my skull uitdruklik uitspreek). Met die hartstog en woede so kenmerkend van haar poësie maak Krog dit duidelik dat sy hierdie soort opvatting van (Afrikaner)identiteit verwerp, dat sy “niemand se Afrikaner” is nie, dat sy “niemand se taal” praat nie en dat sy graag “skyt (...) op die manne / wat werk by die nuwe barcounter van identities”. Diegene wat krities staan teenoor Krog se politiek en werk, sien hierin ’n verwerping van haar etniese en linguistiese identiteit as ’n Afrikaner en ’n oorgawe aan die “amptelike assimilasie-ideologie” van die Suid-Afrikaanse regering (Dan Roodt, soos aangehaal in Viljoen 2002:28–9).

Viljoen (2002:28–9) beskryf hoe die digterspreker haarself veel eerder assosieer met ’n aktiwiteit wat plaasvind in ’n tradisioneel vroulike domein: “mens behoort by haar wat daagliks woordeloos / nuwe wolle by die mat vleg”. Die metafoor van die vrou wat weef en wat haar onopvallend besig hou met haar bedryf, terwyl sy voortdurend besig is om nuwe elemente in haar werk te integreer, is een wat verskeie intertekstuele verbande oproep (vanaf die Skikgodinne [“Fates”] in die Griekse mitologie, asook die wewende Penelope in die Odusseia van Homeros, tot by die feministiese herwaardering van die kunsvlyt tradisioneel deur vroue beoefen). Volgens hierdie gedig vereenselwig Krog haar met dié soort opvatting van identiteit. Sy distansieer haar van die metafoor van stoetboerdery wat die suiwerheid van die veestapel probeer handhaaf deur vreemde elemente uit te sluit. 

Die slot van “ai tog!” roep ook die verhouding tussen skrywende moeder (Dot Serfontein) en skrywende dogter (Antjie Krog) op. Viljoen (2007:11) noem dat in die fiksionalisering van hierdie verhouding in ’n Ander tongval Krog soms die grense tussen die twee laat vervaag om die kontinuïteit tussen die geslagte te suggereer. Verder sluit Krog in sommige van haar gedigte nie net by haar ma aan nie, maar antwoord sy ook op haar. Die gedig “ai tog!” kan as só ’n voorbeeld beskou word. Serfontein (1986:107) se essay “Vlegters van matte” sluit af met die volgende besinning oor die Westerling se perspektief op “ontwikkelendes”: 

Hoe ver kan ’n bevolkingsgroep gedruk word om te presteer sonder dat dit sy eie rustige siel vertroebel? Sou dit nie eerder beter wees as die Westerling die hoogs gesofistikeerde teenprestasies waarmee hy hom so graag besig hou, tot voordeel van almal verrig nie? En sou ons die groepe wat ons die ontwikkelendes noem en wat ons so aanjaag om beskaaf te raak, nie maar vir ons rekening en gewete neem nie? Laat hulle maar bietjie vee en in hul eie tempo hulle sakies bedryf sodat hulle kan bly sing en vir mekaar oor die berge roep en matte vleg en stories vertel. As ons, en veral hulle, dit nou maar sou doen. Maar daar is nou weer Agnes Rapitso. Agnes wat R36 000 uit haar kop uit beredder, en Belle Lebone wat leivore met beesmis uitsmeer en eerder die enjin oppoets as om vir lamsakke groente daarmee te kweek. Dalk moet Witmense soos ek dan liewer vee en matte vleg en stories vertel en die beskawing aan Agnes en Belle oorlaat. 

Volgens Viljoen (2007:11) distansieer die sprekerdigter haar in “ai tog!” van diegene wat eksklusiewe identiteite probeer vestig. Hierteenoor stel sy dit dan eksplisiet dat sy haar identifiseer met “haar wat daagliks woordeloos / nuwe wolle by die mat vleg”. Sy roep die beeld van haar ma op om haar daarby aan te sluit, maar haar ook daarvan te distansieer: Sy sluit haar aan by haar ma se gewilligheid om die belangrikheid van die vlegters van matte te erken, maar distansieer haar tog ook van die onderliggende gevoel van meerderwaardigheid. Alhoewel Serfontein se uitspraak die teenstelling tussen beskaafdes en sogenaamde ontwikkelendes losmaak van ras, suggereer sy tog (heel waarskynlik met ’n groot skeut ironie) dat “vee en matte vleg en stories vertel” die teenpool van beskawing verteenwoordig. 

In terme van die uitbeelding van persoonlike outonomie in “ai tog!” kan daar verwys word na die digterspreker se kritiese besinning, op ’n outonome wyse, oor die keuses wat sy maak en die standaarde of waardes waarvolgens sy gelei word. Die wyse waarop die digterspreker se besinning self relatief losstaande is van variëteite van inmenging wat die behaling van outonomie belemmer, kan hierby gevoeg word, omdat die digterspreker haarself in hierdie gedig distansieer van diegene wat eksklusiewe identiteite probeer vestig. Die standaarde wat vasgestel is deur die patriargale en politieke bestel word deur die digterspreker verwerp en sy voer die keuse uit om haarself eerder te assosieer met ’n identiteit wat metafories verbeeld word deur ’n aktiwiteit wat plaasvind in ’n tradisioneel vroulike domein: “haar wat daagliks woordeloos / nuwe wolle by die mat vleg”. 

Dit is gestel dat persoonlike outonomie behels om te handel en te lewe volgens ’n mens se eie keuses, waardes en identiteit, binne die beperkings van wat die mens as moreel toelaatbaar beskou. In “ai tog!” blyk die definisie uit die posisie wat die digterspreker inneem. Sy vereenselwig haar identiteit met die waardes wat sý as belangrik en moreel beskou, naamlik om voortdurend nuwe elemente in haar handeling en haar selfbewustelikheid te integreer. Haar voorkeur lê eerder by ’n identiteit wat ruimte laat vir integrasie en eie handeling, keuses en waardes as wat sy aanklank vind by die eksklusiewe identiteit wat deur die “Afrikanerbors” verteenwoordig word.

 

4. Outonomie en vroulike identiteit

Alhoewel outonomie histories geassosieer word met mans en manlike karaktertrekke, stel Friedman (2000:37) die vraag of ’n begrip noodwendig onherroeplik gevorm word deur die bepaalde paradigmas wat aanvanklik die gebruik van die begrip bepaal. Sy is van mening dat outonomie deur dieselfde vormingsproses vrygemaak kan word van historiese, amper eksklusiewe, assosiasies met manlike biografieë en karaktertrekke. Dié proses vereis egter ’n sistematiese herkonseptualisering, waarvan nuwe paradigmas wat ook vroulike protagoniste insluit, ’n belangrike komponent is. Volgens Friedman (2000:37) noodsaak ’n feministiese toepassing van die begrip outonomie dat die narratiewe van vroue sal reageer teen patriargale beperkings om sodoende ’n bewustheid van die self en die self se verbindinge te verwoord en te herdefinieer.

Verskeie narratiewe deur vroue bied vandag ’n gevarieerde beskouing van die vrou se posisie ten opsigte van outonomie. Friedman (2000:37–8) noem in hierdie verband enkele voorbeelde. Susan Brison skryf “Surviving sexual violence” (1993) oor die terugeis van outonome beheer oor haar lewe nadat sy die slagoffer was van verkragting en poging tot moord. Patricia Hill Collins fokus in Black feminist thought: Knowledge, consciousness, and the politics of empowerment (1991) op die swart Amerikaanse vrou se selfdefinisie wat ingaan teen die dominante kulturele beeld wat daar van dié vroue bestaan. Minnie Bruce Pratt vertel in “Identity: Skin blood heart” (1984) van haar bestaanstryd as homoseksuele vrou en haar verwerping van die rassisme en anti-Semitisme wat sy van haar familie en oorsprongsgemeenskap ervaar het. Friedman (2000:38) voeg ook ’n voorbeeld tot haar lys toe wat nie in die besonder die deurbreking van patriargale beperkings illustreer nie: In Sara Ruddick se Maternal thinking: Toward a politics of peace (1989) word daar geput uit moederlike denke en die verhale van vroue wat besin oor aspekte van vrou-wees soos die versorging van kinders, iets wat tradisioneel en konvensioneel gesien is as ’n vroulike taak.

Alhoewel Friedman (2000:38) dit nie by uitstek só stel nie, kan haar laasgenoemde voorbeeld ook potensieel die funksie verrig om te ontsnap van patriargale beperkinge. Die feit dat daar in ’n narratief besin word oor die moederlike rol kan nie sonder meer toegeskryf word aan die niefeministiese nie. Die vrou word wel volgens konvensionele genderrolstereotipering gekoppel aan ’n moederlike rol. ’n Narratief wat hieroor besin, of selfs moontlik die moederlike rol herdefinieer volgens nuwe paradigmas waarin die patriargale nie domineer nie, kan ook deel vorm van die feministiese toepassing van outonomie. Soos wat Friedman (2000:37) dit hier bo gestel het, vereis so ’n toepassing dat die narratiewe van vroue sal reageer teen patriargale beperkings om sodoende ’n bewustheid van die self en die self se verbindinge te verwoord en te herdefinieer. Antjie Krog (1995:55) se “1 (vol voorbodes sit ek)” (Gedigte 1989–1995) kan in hierdie verband as voorbeeld bespreek word: 

1

vol voorbodes sit ek
naamtags en aanwerk
aan klere waaruit sy tussen my vingers glim soos sheen
haar harde maermerries
en witgeknelde hoë skene
soos sy tussen ander dogters dapper stap

die kind hóú by my
omhels wys haarself af by my
en ek sit. sit stokkerig
weersinnig
en gevlei 

’n onwennigheid wil ek in haar hê
verset staan teen gooi rug
teen die oorgawe van ’n lokkige lyf
duisel van selfdunk
en ondergrawe
ondermyn blou bengelende oë
brand kobalt en sweepslag ’n platinumvlegsel 

weerstaan my verstaan
sien my onbevrydheid
my ontoereikende seningrige hart
die eksploitasie van letsels
die absolute fake wat ek is
die groot kilte

steur jou aan hierdie gedig nié, my Susantjie
laat dit soos water van jou rol
sag, vertrouend
soos jy nou op jou bed lê en lees
is jy reeds méér. 

In dié Krog-gedig is ’n vroulike ek-spreker wat besin oor haar eie (gender)identiteit en ook dié van haar dogter, aan die woord as digterspreker. Die gedig kan as outobiografies gelees word vanweë die gebruik van die digter se biografiese dogter se eienaam, Susan, asook die verwysings na ’n man met blou oë, ’n verwysing wat deurgaans in die Krog-oeuvre dui op Krog se biografiese eggenoot, John Samuel.

Die digterspreker gee ’n tekstuele manifes weer van wat sy vir haar dogter wens, en hierdie wens hou verband met ’n reaksie teen patriargale beperkings om sodoende ’n bewustheid van die self en die self se verbindinge te verwoord en te herdefinieer. In die derde strofe stel sy dit byvoorbeeld dat sy as moeder “’n onwennigheid” in haar dogter wil hê, dat sy wil hê die dogter moet haar “verset”, en gee sy die implisiete opdrag aan haar dogter in die vorm van “staan teen” en “gooi rug”. Die digterspreker sou wou hê dat die dogter haar moet verset teen veral die “oorgawe van ’n lokkige lyf”, wat moontlik daarna verwys dat sy haar nie liggaamlik moet oorlewer aan ’n man nie, maar eerder moet “duisel van selfdunk”. Die moeder se wens vir haar dogter is by implikasie dat sy haarself as outonome wese sal uitleef en nie bloot sal definieer in verhouding tot ’n man nie. Dít word weer beklemtoon wanneer die digterspreker haar wens uitspreek dat die dogter sal “ondergrawe” en “ondermyn”. Wat die dogter moet ondergrawe en ondermyn, is “blou bengelende oë”. Die afleiding kan gemaak word dat die digterspreker nie gedoen het wat sy hier vir haar dogter wens nie. Sy het nie die man (wat verteenwoordig word deur die “blou bengelende oë”) ondergrawe en ondermyn nie, en dit het veroorsaak dat haar relasionele posisie ten opsigte van die man haar (gender)identiteit beïnvloed sodat dit daar uitsien soos wat sy dit in die vierde strofe beskryf.

Strofe 3 kan gelees word as ’n manifes vir die reaksie teen patriargale beperkings, ten gunste van ’n definiëring van ’n self wat outonomie opeis. Die digterspreker herdefinieer haar moederlike rol deur hierdie manifes aan haar dogter voor te lê, omdat die oordra daarvan self ook patriargale beperkings ondermyn.

Dit is egter opvallend dat die laaste strofe van die gedig in kontras staan met die voorafgaande strofes. Hier maak die digterspreker gebruik van ’n metapoëtiese verwysing wanneer sy sê “steur jou aan hierdie gedig nié, my Susantjie”. Hiermee ondermyn sy die voorafgaande uiteensetting van wat sy vir haar dogter wens. Dié ondermyning word egter geregverdig aan die hand van die stelling “sag, vertrouend / soos jy nou op jou bed lê en lees / is jy reeds méér.” Die moederlike digterspreker besef hier dat sy haar (gender)identiteit en die manier waarop patriargie haar beïnvloed en benadeel het, in die voorafgaande strofes op haar dogter projekteer. Die dogter het egter nie die manifes nodig wat die digterspreker aan haar wou bied nie, omdat sy “reeds méér” is as wat die digterspreker vir haar wens. Die laaste strofe is op sigself ’n herdefiniëring van vroulike identiteit, omdat die dogter reeds ’n sterk outonome identiteit het, ’n besef waartoe die moeder deur die skryf van die gedig kom.

Twee dekades gelede maak Friedman (2000:38) reeds die afleiding dat genderparadigmas van outonomie besig is om te verskuif. Sy motiveer hierdie stelling deur te verduidelik dat die historiese verband tussen mans en outonomie nie eenvormig is nie en ook uitgedaag word deur die groeiende verskeidenheid ten opsigte van vroulike identiteitsbepaling.8 Outonomie is beskikbaar vir vroue en word ook toenemend beskou as waardevol vir die vrou. Op die basis van paradigmas kan outonomie nie langer geklassifiseer word as tradisioneel manlik-georiënteerd of as iets waarvan die vrou vervreem is nie.

 

5. Outonomie en genderstereotipering

Outonomie word histories gekonseptualiseer in terme van karaktertrekke wat ’n antivroulike vooroordeel inhou. So is tradisionele ideale van outonomie gegrond op rede en sluit dit eienskappe wat beskou word as “vroulik”, soos byvoorbeeld emosie, uit.9 Friedman (2000:38) voer aan dat emosie se afsondering van rede in ’n eietydse konteks minder prominent geword het. Heelwat onlangse weergawes van rasionaliteit wat deur feministe én filosowe verwoord is, vervaag die grens tussen emosie en rede en ondermyn hierdie tradisionele digotomie.10 

’n Gedig wat wel emosie wil afsonder van die begrip rede, is Elisabeth Eybers (2004:88) se “Krisis” (oorspronklik gepubliseer in Die ander dors, 1946): 

Krisis

Dis hier wat ons twee skei – jy, Hart, en ek,
albei tot afskeid so onvoorbereid.
Die weg was lieflik waarlangs jy gelei’t
maar dis verby, al staar jy terug. Nou strek
die pad langs klowe, afgrond en moeras.
Voortvarend en ’n lafaard soos altyd
en nooit in staat tot enige besluit
en siek daarby, is jy nou net ’n las.

Jy was die gas en gasheer by die fees,
die seremoniemeester en die nar:
jou dwase raad kan net die Hoof verwar
waar elke tree die laaste tree mag wees.
Kyk, dit word laat, die kermis is verby,
kan jy dit nie begryp? Hier moet ons skei. 

In bostaande gedig vereenselwig die digterspreker haarself met rede, met die “Hoof”, en spreek die begeerte uit om afstand te doen van emosie. Deur middel van personifikasie word emosie as “Hart” aangespreek en die skeidingsproses word metafories uitgebeeld as die beëindiging van ’n persoonlike verhouding tussen “Hart” en “Hoof”. 

Daar word egter in die gedig gesuggereer dat dié afskeid nie so maklik is nie; die digterspreker sê dat in haar skeiding van die Hart “albei tot afskeid so onvoorbereid” is. Later in die eerste strofe meld die digterspreker ook dat die Hart nie moeiteloos gaan instem tot die skeiding nie, “maar dis verby, al staar jy terug”. Die gedig word afgesluit met die woorde “Hier moet ons skei.” Die skeiding het dus nie reeds plaasgevind nie, en al is dit die digterspreker se begeerte om haar van emosie te distansieer, laat die genoemde gegewens uit die gedig blyk dat dit nie noodwendig moontlik is om rede en emosie te skei nie. Die gedig word dan implisiet onderlê deur die siening dat rasionaliteit uit rede én emosie bestaan.

Buiten hierdie siening kan ook aangevoer word dat die stereotipiese assosiasie van die vrou met slegs emosie nog altyd ongegrond was en dat vroue, net soos mans, die potensiaal het om ’n kognitiewe modus van rede te beoefen.11 By implikasie hou dit ook in dat die stereotipiese idee dat mans geassosieer word met rede, net so ongegrond is en dat ’n man ook oor ’n sterk emosionele kapasiteit kan beskik.

Die tradisionele konseptualisering van outonomie as ’n manlike eienskap is gebaseer op verouderde en stereotipiese gendernorme en genderrolle. Friedman (2000:39) noem die voorbeelde van uitgesprokenheid en onafhanklikheid wat ook volgens stereotipiese norme gekoppel is aan die “manlike” toe-eiening van outonomie.12 Sosiale interaksie word aan die ander kant stereotipies verbind tot die vrou en word nie beskou as iets wat outonomie kan veroorsaak, suggereer of meebring nie.

Die herkonseptualisering van outonomie noodsaak met ander woorde die herkonseptualisering van dié gendernorme wat genderrolle en genderspesifieke karaktereienskappe bepaal. Gendernorme het in die verlede bepaal dat mans veel meer geleenthede gehad het om ’n outonome leefstyl te volg, omdat slegs mans toegang gehad het tot politieke mag, finansiële onafhanklikheid en die vryheid om veilig (alleen) te reis (Friedman 2000:39).

Volgens Friedman (2000:39) kan oordrewe manlike stereotipes ook die verdraaiing van die begrip outonomie beïnvloed. Veral “manlike” karaktertrekke soos onafhanklikheid en selfonderhouding is in die verlede, binne die algemene kulturele konteks en die filosofiese tradisie, geïnterpreteer as asosiale, atomistiese trekke wat voorkom asof dit afstandelikheid ten opsigte van intieme persoonlike verhoudings sanksioneer. Binne die feministiese tradisie is hierdie oordrewe individualistiese definiëring van outonomie dikwels as kommerwekkend beskou, omdat die atomistiese aard daarvan die konseptualisering van outonomie gekontamineer het. Ook word nagelaat om erkenning te gee aan die sosiale verhoudings wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van karaktereienskappe wat vereis word vir ’n volwasse geskiktheid vir outonomie. ’n Groot gedeelte van dié sosiale verhoudings bestaan uit die tradisionele kinderversorging deur vroue. Friedman (2000:39) stel dit wel dat die eietydse filosofiese tradisie erkenning gee aan die sosiale opvoeding en voortgaande persoonlike interaksie wat ’n integrale komponent uitmaak van die outonome wordingsproses. Hierdie erkenning hou in dat selfbegrip en die vindingrykheid wat nodig is vir kritiese besinning – iets wat outonomie vereis – bevestig word. 

Friedman (2000:40) maak hieruit die afleiding dat daar gewaak moet word teen “manlike” paradigmas wat die begrip outonomie kan beïnvloed. Die feit dat foutiewe konseptualisering van outonomie gebaseer is op partydigheid teenoor die “manlike”, dui egter nie daarop dat outonomie wat korrek begryp word, partydig is teenoor die “manlike” of anti-“vroulike” nie.

 

6. Sosiale herkonseptualisering van outonomie

Friedman (2000:40) plaas klem op die behoefte aan ’n beskrywing van outonomie wat ook die relasionele karakter daarvan na vore bring. Daar bestaan twee ontwikkelings tersaaklik tot hierdie kwessie, naamlik ’n prosessionele opvatting van outonomie en ’n relasionele of intersubjektiewe opvatting van outonomie.13

Volgens die prosessionele verstaan van outonomie realiseer persoonlike outonomie deur middel van refleksiewe selfbegrip en interne koherensie, in die afwesigheid van onbehoorlike dwang of manipulasie deur andere. Prosessionele outonomie vereis egter nie die vermyding of versaking van persoonlike verhoudings as voorwaarde vir outonomie nie (Friedman 2000:40). 

Friedman (2000:41) stel dit dat die relasionele of intersubjektiewe benadering tot outonomie behels dat die mens beskou word as ’n fundamenteel sosiale wese wat die bevoegdheid vir outonomie ontwikkel deur middel van sosiale interaksie. Dié ontwikkeling is onderhewig aan die konteks van waardes, betekenis en modi van selfbesinning wat gevorm is deur sosiale praktyk. Die invloed van sosiale norme op die identiteit van die mens vorm dus deel van die relasionele benadering tot outonomie. Dit veronderstel dat binne ’n feministiese raamwerk die rol van sosiale norme (in die besonder gendernorme) relasionaliteit en outonomie interaktief en onlosmaaklik ’n rol speel in die konseptualisering van die self. Dié beskouing van die rol van sosiale norme op die identiteit van die mens blyk ook uit Elisabeth Eybers (2004:144) se “Moeder” (oorspronklik in Die helder halfjaar, 1956):

Moeder 

Jou nougesette buik volbring sy taak:
die kinderliggaam wat hy vervolmaak
verlos hy sonder om hom nog te steur
aan hoe sy vrug die eensaamheid trotseer.
Jou hande wat hom steun en voed en stuur
word steeds bedrewener maar op die duur
tog ook oorbodig, jou beperkte oë
moet sy ál verder voortdwaal blind gedoë.
En as hy eendag met ’n frons van pyn
jou aankyk het die towerwoord verdwyn
waarmee jou mond sy eerste angs kon troef.
’n Nuwe trots laat sy gelaat verstroef
en vrugloos swoeg jou hartspier wat die swaar
geboortekramp naboots en niks kan baar.

“Moeder” is ’n voorbeeld van ’n Italiaanse sonnet. Tradisioneel word die oktaaf en die sestet in só ’n sonnet geskei deur ’n wending. In die oktaaf van hierdie gedig word die geboorte, asook die vroeë opvoeding van die kind uitgebeeld. Dit is veral die tweede kwatryn in die oktaaf wat die sosiale norme wat hier bo genoem is, illustreer. Die verhouding tussen moeder en seun help om sy identiteit te vorm (versreëls vyf en ses) en stel hom in staat om al hoe meer outonoom te word in versreëls sewe en agt. Die beskouing van die mens as ’n fundamenteel sosiale wese wat die bevoegdheid vir outonomie ontwikkel deur middel van sosiale interaksie word hierdeur ondersteun.

Die sestet waarmee die gedig afsluit, illustreer egter ook die teendeel in terme daarvan dat sosiale interaksies wat die seun in sy lewe teëkom hom nie alleen “steun en voed en stuur” nie, maar ook pyn verskaf. Alhoewel die seun dan terugkeer na sy moeder, met wie hy sy vroeë sosiale interaksies gehad het, kan sy nie sy pyn wegneem nie, en die suggestie bestaan dat beide positiewe en negatiewe sosiale interaksies, met ander woorde die relasionele, bydra tot die vorming van die mens se identiteit en vermoë om outonoom te kan funksioneer.

 

7. ’n Kritiese beskouing van outonomie as ontwrigter van persoonlike verhoudings

Feministe se soeke na ’n relasionele beskrywing van outonomie wat tersaaklik is tot die vrou is volgens Friedman (2000:41) ’n eietydse kwessie. Alhoewel die wyer filosofiese beskouing van outonomie tans behels dat outonomie nie gesien word as antiteties teenoor sosiale waardes en deugde soos liefde, vriendskap, sorg, lojaliteit en toegewydheid nie, waarsku Friedman (2000:41) dat hierdie beskouing dikwels nie rekening hou met die moontlikheid van ontwrigting wat outonomie kan inhou vir persoonlike verhoudings en in gemeenskappe nie.

Menseverhoudings en gemeenskappe word gebind deur wat mense deel, insluitend taal, praktyke, tradisies, geskiedenis, doelwitte, sienings en waardes. Enige van hierdie elemente in die mens se lewe kan die fokus word van haar kritiese ondersoek. Wanneer iemand dit wat haar tot ander verbind, bevraagteken of evalueer, ontstaan die moontlikheid dat sy dié verbintenis onverantwoordbaar kan bevind en kan begin om haarself daarvan te distansieer of die verbintenis te verwerp. Dit kan ook gebeur dat iemand besin oor die aard van haar verhouding met ’n spesifieke ander en gevolglik tot die besef kom dat die verbintenis sekere belangrike dimensies van haarself verwaarloos of smoor. Om dan hierdie aspekte van haarself weer te bevry, mag inhou dat sy haarself van die problematiese verhouding moet distansieer (Friedman 2000:42). 

In Ingrid Jonker (2004:125) se “Mamma” (oorspronklik gepubliseer in Rook en oker, 1963) word uitgebeeld hoe die outobiografiese spreker die psigiese toestand van die self (“sy spreek die psigiater”)14 en die self se relasionele posisie bevraagteken:

Mamma

mamma is nie meer ’n mens nie
net ’n ’n
sy trek aan
sy gaan na die haarkapper
sy loop op die strate
haar voete haak vas
sy spreek die psigiater
nes ’n gewone mens

en fluister woorde
mon cheri
dit het geen klank nie
dis die wit
gefluister van ’n spook
dit het g’n kleur nie
en dit hardloop
dit giggel uit hysbakke
dit loer deur brilglase
dit wonder agterbaks
dit is ontwapen
dit is naak soos ’n african
dit wil glo in die mens
wat nog te sê van ’n god.

Wanneer die digterspreker probeer om “nes ’n gewone mens” die woorde “mon cheri” (“my liefling”) te uiter, vind sy dat dit geen klank het nie, en gevolglik bevraagteken sy haar verhouding tot “die mens” en “’n god” in die slotreëls. Die woorde “mon cheri” en “dit wil glo in die mens” impliseer haar poging tot die sluit van ’n persoonlike verbintenis tussen haarself en ’n ander (’n geliefde of ’n kind), maar binne die konteks van die gedig word die bevraagtekening van die self ’n struikelblok vir verhoudings. Alhoewel die feit dat sy haarself “mamma” noem vanuit die staanspoor ’n relasionele karakter aan haar toeken, is die stelling “mamma is nie meer ’n mens nie” ’n duidelike ontkenning van hierdie posisie en daarmee saam ’n distansiëring van die ander. 

Bogenoemde voorbeeldgedig illustreer dat die ontwrigting van persoonlike verhoudings nie noodwendig deur toenemende outonomie veroorsaak word nie. Dit kom eerder van die bevraagtekening van die self en die self se plek binne die samelewing. Volgens Friedman (2000:42) kan iemand se toenemende outonomie wel soms tot gevolg hê dat ’n verhouding verbrokkel. Dit kan gebeur weens die persoon se poging tot die bevryding van die self, maar kan ook gebeur as gevolg van verwerping deur die ander party wat nie die verandering in die persoon wil erken of toelaat nie. Friedman (2000:42) beklemtoon egter dat om die stelling te maak dat outonomie op sigself sosiale verhoudings ontwrig, misleidend kan wees. Die kapasiteit vir outonomie is nie intrinsiek sosiaal ontwrigtend nie; die ontwrigting vind eerder plaas as gevolg van ’n bepaalde beoefening van outonomie. Met ander woorde, die verskille wat tussen mense ontstaan as gevolg van een party se outonome verwerping van sekere waardes of verbintenisse waaraan die ander party steeds waarde heg, kan veroorsaak dat een party afstand doen van ’n ander party. 

Hoewel Friedman waarsku teen die gevare wat outonomie vir persoonlike verhoudings inhou, beklemtoon sy dat dit nie beteken dat outonomie genoegsaam is vir die ontwrigting in sekere verhoudings nie. Die verband tussen outonomie en sosiale ontwrigting is volgens Friedman (2000:43) bloot samevallend. ’n Mens se outonome besinning vergroot die kans van ontwrigting in haar sosiale verhoudings, maar maak dit nie ’n noodwendige gevolg nie. In sekere gevalle kan outonomie selfs nie sosiale ontwrigting enigsins meer waarskynlik maak as wat dit normaalweg sou wees nie. Iemand se besinning kan ook tot gevolg hê dat sy ’n sekere verbintenis in ’n nuwe lig sien en nuwe, verrykte waarde aan haar verbintenis tot ’n ander party mag heg. In sulke gevalle word relasionele verbintenisse eerder deur outonomie versterk as ontwrig. 

’n Goeie voorbeeld van so ’n versterking word geïllustreer in Antjie Krog (1995:43) se “dié huwelik is my herder”: 

dié huwelik is my herder
niks ontbreek die kollig
met ’n beswyming het hy my lief
en begeer my met onthutsende jagsheid
man wat my moontlik maak
(in staat om hom spectacular te fight)
(die manier waarop ons ’n dubbelbed opmaak, wys
         ’n onverdeelde onverwoesbare pakt)

soms vang hy my uit aan die agterpoot
         as een groot stuk verraderlikheid
         agtervolg hy my
naai my dag en nag
violate elke millimeter private space
smoor glint in die oog
         elke geskryfde 

“moet die kinders suksesvol in gerespekteerde skole
         toekyk hoe hulle pêlle lees van hulle ma se plasserige poes
         en hulle pa se geperishde piel
ek meen my vrou
jissus, êrens moet ’n man tog ’n streep trek”

Ek sal geen onheil vrees nie
die stok en die staf vertroos my.

Die digterspreker in hierdie gedig beoefen haar outonomie deur haarself die vryheid toe te ken om gedigte te skryf wat ander met wie sy in ’n verhouding staan nie noodwendig goedkeur nie. Sy besin oor hierdie outonome posisie in hierdie gedig, maar die gedig dui daarop dat die digterspreker hierdie vryheid van outonome seggenskap het juis vanweë die sekure relasionele posisie van haar huwelik. In hierdie geval versterk outonomie dus die huweliksverhouding, want, soos die digterspreker dit stel, “die stok en die staf” wat in die gedig ’n metafoor word vir die huwelik “vertroos my”. 

Outonomie se potensiaal om sosiaal ontwrigtend te wees kan dus nie as slegs negatief vir die vrou beskou word nie. Outonome besinning kan haar die geleentheid bied om krities te besin oor die verhoudings waarbinne sy staan en die invloed wat hierdie verhoudings op haar identiteit het. Soos Friedman (2000:46) dit stel, mag besinning oor verhoudings of die waardes wat onderliggend aan die verhoudings is, die enigste manier wees waarop iemand vir haarself die morele waarde van daardie verhoudings kan bepaal. 

Die beskouing van outobiografiese poësie in die lig van die bespreking in hierdie afdeling bring interessante gewaarwordinge na vore. Die digter wat in ’n outobiografiese gedig besin oor bepaalde verhoudings, met ander woorde oor haar relasionaliteit, is terselfdertyd besig om outonomie te beoefen. Outonomie maak die kritiese besinning oor verhoudings moontlik en ’n verhouding sal in die eerste plek nie bestaan sonder die moontlikheid van relasionaliteit nie. Daarom kan die skryf van ’n outobiografiese gedig wat krities besin oor die digterspreker se relasionele posisie ook gesien word as ’n beoefening van die digterspreker se outonomie.

 

8. ’n Relasionele model van outonomie

Keller (1997:152) plaas die klem daarop dat “the insight that the moral agent is an ‘encumbered self,’ who is always already embedded in relationships with flesh-and-blood others and is partly constituted by these relations, is here to stay.” Die behoefte ontstaan aan die konseptualisering van ’n relasionele model van outonomie, ’n model wat ook relasionele outonomie se ontwikkeling in die feministiese filosofie insluit. Die onderstaande aanhalings uit onderskeidelik Dryden (2013) en Stoljar (2013) is illustrerend van hierdie ontwikkeling van relasionele outonomie: 

A feminist attempt to rehabilitate autonomy as a value, and to further underscore the contingency of its relationship to atomistic individualism or independence, emerges in the growing research on “relational autonomy” (Nedelsky 1989, Mackenzie and Stoljar 2000). It addresses the challenge of balancing agency with social embeddedness, without promoting an excessively individualistic liberal atomism, or denying women the agency required to criticize or change their situation. The feminist work on relational autonomy attempts to capture the best of the available positions. (Dryden 2013) 

“Relational autonomy” is the name that has been given to feminist reconceptualizations of the notion of autonomy. The term “relational” here may serve simply to deny that autonomy requires self-sufficiency. If relationships of care and interdependence are valuable and morally significant (Mackenzie and Stoljar 2000:8–10), then any theory of autonomy must be “relational” in the sense that it must acknowledge that autonomy is compatible with the agent standing in and valuing significant family and other social relationships. “Relational” may also deny the metaphysical notion of atomistic personhood, emphasizing instead the idea that agents are socially and historically embedded, not metaphysically isolated, and are, moreover, shaped by factors such as race and class. (Stoljar 2013)

Dit is belangrik om in te sien dat outonomie nie eenvoudig die verwerping van sosiale invloed en relasionaliteit impliseer nie. Wanneer daar aanvaar kan word dat outonomie eerder gaan oor die vermoë om op ’n sekere manier teenoor sosiale invloed te kan reageer – daarmee in kritiese gesprek te tree – sluit sosiale bepaling nie outonomie uit nie.

Vervolgens kan ’n model van relasionele outonomie aangebied word aan die hand van Nedelsky (1989), Keller (1997), Mackenzie en Stoljar (2000), Dryden (2013) en Stoljar (2013):

Figuur 1. ’n Model van relasionele outonomie 

Dit is dié beskouing van relasionele outonomie wat in hierdie artikel voorgehou word as deel van die konseptualisering van die herdefiniëring van outonomie aan die hand van relasionaliteit. Hierdie model van relasionele outonomie kan dan ook aangewend word in die ontleding van die outobiografiese poësie van vrouedigters om sodoende die narratief van die vrou as outonome en relasionele protagonis in haar eie verhaal te illustreer. 

Vervolgens sal ’n outobiografiese gedig van elk van Elisabeth Eybers (2004:626), Ingrid Jonker (2004:47), Antjie Krog (1981:46) en Ronelda S. Kamfer (2016:87) ter illustrasie aan die hand van die relasionele-outonomie-model bespreek word.

8.1 Elisabeth Eybers: “Uitsig op die kade” 

Eerstens word daar gekyk na Elisabeth Eybers se “Uitsig op die kade” (oorspronklik gepubliseer in Respyt, 1993):

Uitsig op die kade 

Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel. 

Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei. 

Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei. 

Volgens Hein Viljoen (2014) is dit ’n gedig van Eybers wat moontlik die naaste aan die mistieke kom. Hierdie stelling is veelseggend, omdat die mistieke juis relasionaliteit impliseer – die mistieke proses hou die voortdurende strewe om relasioneel deel te word van die goddelike in. 

Viljoen (2014) skryf in die artikel “‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers” hoe sekere woorde en frases in die gedig nie soseer negatief van betekenis is nie, maar in die besonder ’n polariteit van vermindering uitdruk – Viljoen verwys na die voorbeelde “Nouliks”, “afgetrokke”, “mis”, “steeds minder”, “sintels”, “selfafstotend”, “Vermindering”, “omgekeerde bloei”, “leeg genoeg te loop”. Die gedig werk met negativerende woorde eerder as met gewone morfologiese of sintaktiese ontkenning. ’n Sin soos “ek mis myself steeds minder” kom neer op ’n verdere ontkenning (“steeds minder”) van wat reeds ’n negatiewe woord is (“mis”). “Sintels” dra ook ’n negatiewe konnotasie: van die emosie bly net uitgebrande reste soos van uitgebrande steenkool oor. Wat minder word, word meer – ’n gedagte wat vasgevang word in die frase “omgekeerde bloei”, wat die vermindering deur die “choreografie van ontwyking” paradoksaal omvorm tot wat tog ’n soort bloei is. Om “leeg genoeg te loop om vol te loop” is mistieke taal vir die leegmaak van die self wat paradoksaal ook ’n volheid word. Ook deur die ander paradokse van vermindering wat ’n vermeerdering is en ’n afname wat ’n toename is, volg Eybers hier die via negativa om die onuitspreeklike uitgedruk te kry (Viljoen 2014).

Uit bostaande ontleding van die gedig in terme van die mistieke kan afgelei word dat die gedig illustreer dat outonomie as waarde gerehabiliteer en herkonseptualiseer kan word. Van Niekerk (2000) verwys na “Uitsig op die kade” as ’n gedig waarin daar selfondersoek gedoen word. Dit kan dan wel gestel word dat die metafisiese begrip atomisme in hierdie Eybers-gedig ontken word ter wille van die idee dat agente sosiaal en histories ingebed is, asook waarde aan hulle relasionaliteit kan heg. 

Volgens die relasionele-outonomie-model bestaan die moontlikheid om die uitdaging van die balansering van sosiale ingebedheid en agentskap aan te spreek sonder om vroue te weerhou van die agentskap wat noodsaaklik is om hulle situasies te kan kritiseer of verander. Alhoewel die gedig nie soseer ’n vrou illustreer wat haar situasie kritiseer nie, blyk dit uit die gedig dat die vrou nie weerhou word daarvan om haar begeerte uit te spreek om deur middel van selfondersoek en selfaflegging op te gaan in haar omgewing en afstand te doen van ’n atomistiese bestaan nie. Daar is nie in hierdie gedig sprake daarvan dat selfgenoegsaamheid ’n vereiste vir agentskap is nie. Die digterspreker sien haarself steeds as ’n individu, ’n outonome wese, want haar begeerte is “om vol te loop”. Sy wil net vol loop met “alles wat vanuit hierbuite binnevloei”. Sy wil met ander woorde die grense tussen innerlik en uiterlik oorskry en daarmee saam die grens tussen outonomie en relasionaliteit uitwis.

8.2 Ingrid Jonker: “Op alle gesigte”

Ingrid Jonker se “Op alle gesigte”, oorspronklik in Rook en oker (1963) gepubliseer, is die volgende gedig wat aan die hand van die model van relasionele outonomie bespreek word:

Op alle gesigte

Op alle gesigte van alle mense
altyd jou oë die twee broers
die gebeurtenis van jou en die onwerklikheid
van die wêreld

Alle geluide herhaal jou naam
alle geboue dink dit en die plakkate
die tikmasjiene raai dit en die sirenes eggo dit
elke geboortekreet bevestig dit en die verwerping
van die wêreld

My dae soek na die voertuig van jou liggaam
my dae soek na die gestalte van jou naam
altyd voor my in die pad van my oë
en my enigste vrees is besinning
wat jou bloed wil verander in water
wat jou naam wil verander in ’n nommer
en jou oë ontsê soos ’n herinnering. 

Volgens Van Zuydam (2016:515) is “Op alle gesigte” ’n voorbeeld van ’n verskynsel wat dikwels in Jonker se oeuvre nou saamhang met die geheimsinnige en die vaagheid van dinge, naamlik die ontwykende aard van die alomteenwoordige geliefde en die ontwykende woord self. Die geliefde na wie hier gesoek word, is bykans in alles aanwesig, hetsy sigbaar of hoorbaar – maar telkens blyk dit net “tekens” of “spore” te wees en bly die geliefde dus ontwykend.

Van Zuydam (2016:515–6) bespreek die onderskeie strofes aan die hand van die samehangende verskynsel wat hier bo genoem word: In strofe een is dit duidelik dat die “oë” van die geliefde oral aanwesig is en verbind word met die suggestiewe “gebeurtenis van jou”. Die “oë” waarvan die digterspreker so bewus is en die “gebeurtenis van jou” word assosiatief verbind met “die onwerklikheid van die wêreld”. Van Wyk (1987) sluit hierby aan in sy siening dat die “gebeurtenis van jou” gekontrasteer word met die “onwerklikheid van die wêreld”. Hiervolgens is laasgenoemde frase uit die gedig ’n vooruitwysing na die “besinning” waarna daar in die slotstrofe verwys word. 

In die tweede strofe verskuif die fokus van die geliefde se oë na sy naam – dus van die konkrete na die abstrakte, albei draers van identiteit. Die geïmpliseerde sien-handeling van strofe een gaan nou oor in allerlei dinamiese prosesse: Op “alle” denkbare maniere word die naam herhaal, gedink, geraai, geëggo en bevestig. Die slotstrofe illustreer hoe die “ek” getransponeer word in ’n tydsgestalte (“my dae”), terwyl die soektog met groter intensiteit gepaard gaan. Hier word ook die belangrike beeldspraakkoppeling gemaak tussen “voertuig” en “naam”, twee metafore wat verwisselbaar word. ’n Voertuig impliseer beweging, aandrywing, selfs vervoer en besieling, terwyl “gestalte” dui op iets wat vorm aanneem, konkreet word, of selfs ’n begeerte tot vleeswording impliseer (Van Zuydam 2016:515–6). 

Die geliefde se naam is reeds ’n draer van identiteit genoem, wat impliseer dat die identiteit van die geliefde vir die digterspreker ’n mobiliteitsfaktor inhou. Die wêreld, daarenteen, is iets wat bestempel word as “onwerklik”, iets wat verwerp moet word.

Dié beskouing van die wêreld moet egter gesien word in die lig van die laaste strofe, waarin die digterspreker verklaar dat sy besinning vrees juis omdat dit die relasionaliteit tussen haar en die geliefde bedreig. Die verwerping van die wêreld is dus nie hier ’n uitspraak vír ’n outonome selfgenoegsaamheid en verwerping van relasionaliteit nie – dit is juis ter wille van die voortbestaan van haar relasionele verband met die geliefde dat sy die besinning wat die wêreld mag bring, wil vermy.

8.3 Antjie Krog: “ballade vir ’n 5-jarige huwelik”

Vervolgens word Antjie Krog se “ballade vir ’n 5-jarige huwelik”, uit Otters in bronslaai (1981), bespreek.

ballade vir ’n 5-jarige huwelik

vanoggend met ontbyt vorm ons die klassieke spotprent:
jy met jou welige hare wat blink om jou nek en ore tros
jou oë penblou en skerp ingestel reeds op vandag se werk
jou hande korreleer presies die argitektoniese opsny
van perfekte spek en eiers
my gesig ongewas, sweterig van ontbyt maak
lê pofferig geplooi, ’n kussinghaal keep my wang
my hare ongekam en my hande vol tissues, hooikoors en kinders

dan wonder ek wat het gebeur?
ek behoort artikels te lees oor hoe om jou man te behou
ek behoort pastelagtige rome vir my vel te koop
fyn hoëhak-sandaaltjies en kettinkies
ek behoort weer Miss Balmain te gebruik en kantsakdoekies
’n breastlift te kry sodat my tieties weer rosig en lewendig
onder jou hande kan vroetel
die leervelle oor my maag en gewese sexy boude te laat wegsny
(die baldadige moeras tussen my bene is goddank tydloos) 

en dan?
 dan weet ek nog nie verder nie
hoe lank voordat ons mekaar se vleis met naels van die ribbes ruk
mekaar se skedels in vreemde huise oor die matte rol
mekaar se genitalieë saam met uie in bredies rasper
cocktails met mekaar se oë versier:
blou maraschino-kersies dobberend op lang kil martini’s?
(drink my altyd so met jou oë ... )

ek staan op en laat vir jou ’n roos kantoor toe stuur
sedert ek daardie oggend opgekyk
en jou tussen al die karikature betrap het
het ek jou lief. 

“ballade vir 5-jarige huwelik” vorm volgens Botha (2012:368) deel van ’n versameling huweliksliedere of -odes uit Krog se oeuvre, wat sy (eksplisiet of implisiet) aan haar eggenoot opdra: “In Otters in bronslaai is daar ‘ballade vir ’n 5-jarige huwelik’ (1981:46); in Gedigte 1989–1995 word daar in ‘verhonger’ (1995:30) verwys na ‘man van my van agtien jaar’; en in Kleur kom nooit alleen nie is ‘liefdeswoord’ (2000:63) ’n minsame verklaring vir ’n huwelik van 23 jaar. Al hierdie liefdesverse skakel op direk outobiografiese wyse met die digter en haar lewensloop.”

Binne die konteks van Otters in bronslaai as ’n bundel word die roos ’n belangrike motief wat die tema van die verhouding tussen man en vrou, meestal in terme van die liefdesverhouding van ’n huwelik, ondersteun. Hierdie motief kom onder meer in gedigte soos “ballade vir ’n 5-jarige huwelik”, “my tyd is verby” en “daarsonder” voor.

“daarsonder” openbaar die motief van die roos in die versreël “met rusies en rose hou jy my normaal”. Hier word die roos gebruik as motief om die tema van die huwelik te ondersteun. Die normale diskoers van ’n huwelik is hier ter sprake. Met die rose – by implikasie fisiese en/of simboliese rose – wat die manlike karakter vir die spreker gee, word die huwelik in stand gehou.

In “ballade vir ’n 5-jarige huwelik” kom die roosmotief ter sprake in die ontknoping wat in die laaste strofe uitspeel. Die spreker laat vir haar man ’n roos na sy kantoor toe stuur en volgens Spies (1983:113) stel sy haarself, wat vroeër die dag nie so goed daar uitgesien het nie (“ongewas”, “ongekam”, vol “hooikoors”, traag en onbevoeg), weer oop vir die liefde. Die roos is dus weer hier in die rol van die middel tot instandhouding van die liefde en die huwelik.

Die roosmotief blyk ’n simbool te wees wat die liefdesverhouding bevoordeel, ten spyte van moontlike teenspoed (soos waarvan strofe drie van “ballade vir ’n 5-jarige huwelik” getuig). Die roos word telkens gebruik om ’n poging aan te dui om ’n verbintenis te sluit met ’n ander en hou daarom ook verband met die digterspreker van die gedigte se verbondenheid aan relasionaliteit. Die digterspreker neem telkens die keuse om, onder meer deur die gee of die ontvang van ’n roos, haarself te oriënteer as sosiaal en histories ingebed, asook om waarde te heg aan haar familie- en sosiale relasies.

Die stelling kan gemaak word dat die digterspreker in “ballade vir ’n 5-jarige huwelik” outonomie as waarde rehabiliteer en herkonseptualiseer deur onder meer die selfgenoegsaamheid wat dikwels gepaardgaan met die konseptualisering van outonomie te kritiseer en/of te ontken. Die gedig illustreer in die eerste plek ’n teenstelling tussen die jy/jou en die ek/my. Daar is dus ’n aangesprokene en ’n digterspreker wat hom aanspreek. Die grootste gedeelte van die gedig word egter bestee aan ’n monoloog met die self, terwyl slegs die aanvang en slot van die gedig indirek aan die aangesprokene gerig is. Dít getuig daarvan dat die digterspreker deur middel van die gedig eerder haar eie identiteit verken as wat dit slegs gaan oor uitsprake teenoor haar man. Outonomie as waarde word dus nie ontken ten opsigte van die identiteit van die digterspreker nie. Inteendeel, die leser kan uit strofe twee aflei dat die digterspreker nie ’n navolger is van die samelewing se tradisionele bepalings ten opsigte van die vroulike eggenoot se voorkoms en optrede nie. Dit getuig van persoonlike outonomie, maar die feit dat sy die frase “ek behoort” drie keer in hierdie strofe gebruik dui tog daarop dat sy bewus is van haar bestaan in terme van sosiale relasies. 

Dit kan gevolglik nie ontken word dat die digterspreker outonoom is nie. Terselfdertyd getuig sy ook deurgaans van haar bewustheid van relasionaliteit en sluit sy die gedig af met die uitspraak “het ek jou lief”, wat onvermydelik relasioneel is, asook met die stuur van ’n roos – met die gepaardgaande simboliese betekenis. Alhoewel sy haarself as individu beskou en die tyd neem om innerlike gesprek te voer, is daar geen sprake in die gedig dat dít selfgenoegsaamheid impliseer nie. Die gedig illustreer dat enige teorie van outonomie wel relasioneel moet wees en dat albei ’n rol speel in die identiteit van die mens, veral van die vrou in hierdie geval.

8.4 Ronelda Kamfer: “Ouma Nol”

Die laaste gedig wat in hierdie afdeling aan die hand van die relasionele-outonomie-model bespreek gaan word, is Ronelda Kamfer se “Ouma Nol” uit die bundel Hammie (2016):

Ouma Nol

my ouma is ’n hand-op-die-heup-
frons-op-die-gesig-tipe mens
sy is altyd gereed vir ’n fight
die dag toe my ma dood is
het my pedo uncle kom condolences gee
ek het mal geraak
en hom begin slaan toe hy instap
my bitch antie het try afkeer
toe spring Allisen in 

instead van ons troos
is my ouma uit by die deur
saam met uncle pedo 

en saam met haar vat sy
Grabouw my ma se ma
my oupa se Nol en vir klein Neldatjie.

Die openingsreël van die gedig dui reeds op relasionaliteit wanneer die digterspreker begin met “my ouma”. Volgens Terblanche (2014) het Ronelda op driejarige ouderdom by haar oupa en ouma, Thomas Daniel en Sarah Granfield, wat op ’n appelplaas by Grabouw gewerk het, gaan bly. Dié biografiese inligting maak dit vir die leser moontlik om ’n nabye verband tussen die digterspreker en haar ouma in te dink. Die narratief van hierdie gedig sentreer rondom die dag waarop die digterspreker se ma oorlede is en die familie om hierdie rede bymekaar was. Wanneer daar ’n familielid opdaag met wie die spreker ’n emosionele geskiedenis het (haar “pedo uncle”), tree die digterspreker se ouma egter nie op soos die ouma wat sy ken en wat sy in die eerste strofe beskryf as onder meer “altyd gereed vir ’n fight” nie. Haar ouma vat nie haar kant nie en troos haar nie, en wanneer haar ouma saam met die oom na buite stap en haar sodoende by hóm skaar, het dit verreikende gevolge vir die digterspreker.

Dié gevolge word in die laaste strofe uiteengesit. In hierdie strofe definieer die digterspreker persone en ’n plek (Grabouw) wat deel vorm van haar lewe in terme van die spesifieke aard van haar verbintenis tot die persoon en die plek. Die verlies wat sy hier voel, is dus nie net die verlies van ’n plek of van persone nie, maar ’n verlies van die gedeelte van haar eie identiteit wat sy aan hierdie plek en persone gekoppel het. In die slotstrofe word daar verwys na “klein Neldatjie”, wat een van Lanser (2005) se terme van verbintenis aktiveer, naamlik identiteit. Die ooreenkoms tussen die naam van die ek-spreker en die skrywer motiveer dus hier die lees van die gedig as outobiografies.

“Ouma Nol” is tekenend van die waarde wat die digterspreker aan familiebande heg. Sy besef dat sy vir haarself kan opstaan – “ek het mal geraak / en hom begin slaan toe hy instap” – met ander woorde dat sy kan handel volgens haar eie keuse, waardes en identiteit, binne haar eie morele raamwerk (sy beskou hom as ’n pedofiel). Sy illustreer dus hier iets van haar persoonlike outonomie, maar terselfdertyd gee sy erkenning aan die feit dat sy nie selfgenoegsaam is nie en op relasionaliteit staatmaak in terme van ’n ondersteuningsnetwerk (“toe spring Allisen in”, “instead van ons troos”), asook die invloed wat relasionaliteit op haar identiteit het.

Weer eens kan die afleiding gemaak word dat ook hierdie gedig van Kamfer illustreer dat outonomie en relasionaliteit nie as losstaande entiteite gesien kan word nie. Albei entiteite beïnvloed die digterspreker se identiteitsvorming en daardeur wys die gedig daarop dat sowel sosiale ingebedheid as agentskap deur die vrou beliggaam kan word, en dat sy ook die stem het om dit te kan verwoord.

 

9. Relasionaliteit, outonomie en moederskap

’n Belangrike aspek van relasionele outonomie is die poging om outonomie as waarde te rehabiliteer en te herkonseptualiseer. Friedman (2000:46) se beskouing dat, tradisioneel beskou, die meerderheid vroue hulle primêre volwasse identiteit aflei van hulle families of huwelike, bring die vrou se beskouing van en besinning oor haar huwelik en moederskap as belangrike onderwerp na vore.

Alhoewel daar verskeie sosiale, historiese, ekonomiese en ander verhoudings bestaan wat ’n rol speel in die definiëring van die vrou se identiteit vanuit die perspektief van relasionele outonomie, val die fokus in hierdie afdeling spesifiek op die vrou se relasionele posisie binne ’n ma-en-kind-verhouding, omdat hierdie aspek van die vrou se relasionele posisie dikwels ’n belangrike rol speel met betrekking tot die vrou se identiteitsbepaling.

In 1979 voer Simons en Benjamin ’n onderhoud met Simon de Beauvoir waarin sy onder andere haar beskouings van moederskap soos volg verwoord (Simons, Benjamin en Beauvoir 1979:340–1):

I think that by changing the concept of motherhood, by changing the idea of maternal instinct, of the feminine vocation, society will change completely. Because it is through this idea of feminine vocation that women are enslaved to the home, that they are enslaved to their husbands, that they are enslaved to man, to housekeeping, etc. If this concept were to be destroyed, I do not mean motherhood itself, but all the myths which are related to motherhood, without any doubt society would be completely transformed.

In dieselfde onderhoud sê Beauvoir dat indien dit moontlik sou wees om die omstandighede van moederskap te verander, moederskap nie vanuit ’n feministiese perspektief as ’n negatiewe ervaring gesien hoef te word nie. Daar is sekere verhoudings tussen ’n vrou en haar kind wat baie sterk kan wees en ’n positiewe uitwerking op die vrou kan hê. Ten spyte hiervan staan Beauvoir by haar vroeëre siening van “maternity is a trap”. In Simons, Benjamin en Beauvoir 1979:341) beskou sy moederskap as die gevaarlikste valstrik vir vroue wat vry en onafhanklik wil wees, ’n beroep wil volg, vir hulself wil dink of ’n lewe van hulle eie wil hê.

Benjamin (in Simons, Benjamin en Beauvoir 1979:341) stel die vraag of dit steeds onmoontlik is vir ’n vrou om ’n moeder én transendentaal te wees. Beauvoir se reaksie getuig daarvan dat haar perspektief hierop minder ekstremisties is as in haar vorige werke, wanneer sy noem dat dit dalk nie onmoontlik is nie en dat heelwat vroue dit tog regkry. Sy voeg egter by dat dit dikwels gebeur dat hierdie vroue ’n negatiewe verdeeldheid tussen moederskap en beroep ervaar. Hierdie stellings, uit ’n onderhoud in 1979, vind as tema neerslag in Antjie Krog se “ma sal laat wees” (Krog 1989:73):

ma sal laat wees 

dat ek na julle toe terugkom
moeg en sonder herinnering
dat die kombuisdeur oop is ek 

inskuifel met tasse haastige presente
in die gange sluip rond my gesin
se verdrietige drome ruite aangepak 

van hulle verlate taal in die harde
badkamerlig borsel ek my tande
druk ’n pilletjie op my tong: Do. 

dat ek verbyloop waar my dogter slaap
haar lakens netjies geplat onder haar ken
op die spieëltafel steier sywurms in goud getoom

dat ek my seuns verby kan kom
fronsend teen kussings aangevuis
hul onrustige ondertone kneus deur die kamer

dat ek ’n naghemp vroetel uit die laai
inglip in die donker skreef agter jou rug
dat die warmte na my oorvloei

maak my nog digter nog mens
in die hinderlaag van asem
sneuwel ek tot vrou. 

In hierdie gedig word onder meer tradisionele geslagsrolle uitgebeeld. Die digterspreker sien haar dogter slaap met lakens platgetrek onder haar ken en betekenisimplikasie ontstaan dat die dogter gesien word as netjies en meer ingeperk as die seuns, wat beskryf word as “fronsend teen kussings aangevuis / hul onrustige ondertone kneus deur die kamer”. Hiermee word kommentaar oor tradisioneel-gekondisioneerde geslagsrolle gesuggereer. Die digterspreker noem ook in die gedig dat sy haastig vir haar gesin geskenke gekoop het voor haar tuiskoms, ’n handeling wat beskou kan word as ’n voorbeeld van ’n ma wat skuldig voel omdat sy meer tyd aan haar werk spandeer en dan voel dat sy haar gesin afskeep. Hierdie skuldgevoel is gewortel in die tradisionele geslagsrol van die vrou as die versorger, waarop die gedig krities reageer (“sneuwel ek tot vrou”). Die spreker se gevoel is duidelik een van verdeeldheid tussen die eise van haar beroepslewe en haar skuldgevoel oor die feit dat sy haar man en kinders alleen moet laat wanneer sy haar professionele verpligtinge nakom. Die laaste strofe gebruik oorlogsterminologie om uit te beeld dat die vroulike spreker wat ná haar beroepsreis terugkom by die huis en langs haar man in die bed klim, voel asof sy in ’n hinderlaag gelei word en dan “sneuwel” tot vrou. Die “hinderlaag van asem” kan daarop dui dat sy die lewe, of haar lewe, beskou as ’n hinderlaag (dalk juis omdat sy ’n vrou is). Dit is “tot vrou” dat sy sneuwel en hier is die gebruik van “tot” veelseggend – dit kan geïnterpreteer word as ’n aanduiding dat die spreker voel dat haar beroepslewe (haar lewe as professionele “digter”, reël 19) “sterf” met haar tuiskoms. 

In Alison Stone se 2011-artikel “Female subjectivity and mother-daughter relations” herkonseptualiseer sy vroeë moederlike verhoudings binne-in die feministiese tradisie. Sy tree veral in gesprek met die teoretisering van Christine Battersby as een van die eietydse feministiese denkers wat – saam met ander teoretici soos Adriana Cavarero, Luce Irigaray, Julia Kristeva en Adrienne Rich – tradisionele beskouings oor die moederlike heroorweeg en herdefinieer. Stone (2011:168) verwys na Battersby se 1998-boek The phenomenal woman, waarin laasgenoemde beskouings oor die verband tussen beliggaming, geboorte en individuele subjektiwiteit krities beskou.

Stone (2011:168–9) bespreek vyf aspekte van subjektiwiteit wat deur Battersby (1998:8–11) geformuleer is: Eerstens is die mens ’n natale wese – elke mens is gebore vanuit die liggaam van sy/haar moeder. Tweedens is die mens, vanweë dié natale aard, ook ’n afhanklike wese: Die mens word gebore en is in die vroeë lewensjare afhanklik van ’n versorger. Hierdie afhanklikheid is asimmetries en plaas die mens uit die staanspoor in magsverhoudings en ongelykheid. Magsverhoudings is dus normaal en konstitueer die menslike bestaan, eerder as wat dit ’n afwyking van enige veronderstelde normale toestand van gelykheid is. In die derde plek veroorsaak hierdie afhanklikheid dat die mens slegs geleidelik ’n onderskeibare individu word. Daar is geen oombliklike of afgetekende self-ander-onderskeid nie. Elke self (individu) is eerder ’n voortdurende proses van te voorskyn kom vanuit die magsbelaaide verhoudings met ander. Vierdens is die self beliggaam en ontstaan dit spesifiek vanuit die veld van vleeslike kontinuïteit met ander. In die vyfde plek ontwikkel die self tot ’n produktiewe wese wat die grense tussen outonomie en afhanklikheid, tussen selfbehoudendheid en relasionaliteit, tussen agentskap en passiwiteit en tussen liggaam en die verstandelike oorskry en verdof.

Bogenoemde aspekte van subjektiwiteit word deur Battersby geteoretiseer deur die herlesing van die geskiedenis van filosofie, wat die vroulike getipeer het as afwykend relatief tot die manlike norm. Battersby herinterpreteer en transformeer hierdie negatiewe karakterisering tot die positiewe en produktiewe. Hierin is Battersby dit verskuldig aan Luce Irigaray se welbekende mimetiese benadering tot die tradisionele Westerse metafisika. Irigaray herlees die kanonieke tekste van hierdie tradisie en reproduseer en werk binne dié kanon se terme om die spesifieke terme te herhaal in die vorm van nuwe kombinasies en variasies sodat die betekenis en waarderings daarvan subtiele transformasie ondergaan (Stone 2011:169).

Onder die invloed van Battersby en Irigaray is Stone (2011) se uitgangspunt om die aard van afhanklikheid van vroeë versorgers te herbeskou binne die sosiale en kulturele konteks waarin dit voorkom, omdat die vrou merendeels sosiaal beskou word as die vroegste versorger van die individu.15 Volgens Stone (2011:169) ontstaan ’n subjek binne hierdie konteks as ’n natale wese in asimmetriese afhanklikheid van die moeder16 in die besonder. Magsverhoudings met die moeder (en moeder-plaasvervangers) is dus algemeen die primêre matriks, die eerste stel vleeslike en affektiewe kragvelde waaruit die mens tot individuasie kom. Stone (2011:169) argumenteer dat die moederlike mag wat binne vroeë moeder-kind-verhoudings bestaan, daartoe kan lei dat die kind in vrees en/of vyandigheid reageer teenoor die moederlike en vroulike mag, en sodoende patriargie ondersteun en onderhou. 

Stone (2011:169–70) is dus van mening dat moederlike mag tradisioneel as problematies beskou kan word. Sy beskou die ideaal as die subjek wat in staat is om weg te breek van die afhanklikheid van die moederlike figuur om sodoende outonomie te bereik. Dit is verder haar argument dat hierdie ideaal die manlike subjek bevoordeel, omdat vroulike subjekte nie op dieselfde wyse van ’n moederlike figuur kan wegbreek nie. Dogters moet met ander woorde aanhou identifiseer met ’n moeder om ’n eie vroulike identiteit te ontwikkel. Die gevolg is dat vroulike subjekte (meer as manlike subjekte) vasgevang word in ’n lewenslange en onoplosbare stryd om outonomie.

Stone se beskouings kan egter binêr voorkom, aangesien sy aanneem dat ’n wegbreek van die moederlike by implikasie die patriargie bevoordeel. Die aanname dat dogters meer afhanklik is van hulle moeders as wat seuns is, is ’n absolute siening. Dit is ook moontlik dat ’n dogter meer met haar pa se genderidentiteit mag identifiseer en ’n seun meer met sy moeder s’n. Stone se argument berus dus op ’n tradisionele beskouing van die noodwendigheid dat ’n vroulike subjek ’n vroulike genderidentiteit wil en/of moet aanneem.

Ter verdediging van Stone se moeder-dogter-relasie-problematiek kan dit wel ingesien word dat daar gedeeltelike waarheid in haar uitsprake steek. Die verhouding tussen moeder en dogter is besonder problematies, soos wat ook gesien kan word in My mother / my self: The daughter’s search for identity deur Nancy Friday (1997:xiv):

Because we [women] are the same sex as mother, the business of separation is usually harder for a daughter than for a son. The need to define ourselves, to recognize our unique identity separate from the woman with whom we automatically identify, is crucial to becoming genuinely independent. Every argument and difference of opinion comes with the threat that it will lose us her approval, her love. Separation requires practice and repetition of every step away from her and into ourselves so that we can maintain her love even if we are different from her, and even if we argue and compete with her and, yes, win the contest with her. For that to happen she has to be able to say, “Go, my darling, and find yourself. My daughter, right or wrong”, and we must have the capacity to believe her, to accept that message. To put it bluntly, daughters aren’t there yet. We haven’t achieved that degree of separation.

Die problematiek wat hier bo deur Friday (1997:xiv) aangespreek word, blyk uit ’n gedig deur Ronelda S. Kamfer getiteld “as seer nie meer seer is nie” (2016:47–8): 

As seer nie meer seer is nie 

’n week voor my ma se dood
stry sy en Allisen
ek ken nie die hele storie nie
maar ek side met Allisen
ek ignore my ma die heel naweek 

die Sondagaand kom sit sy
met haar teddybear nighty
en blourollers in haar hare
op my bed
sy mompel iets van my
wat moet ophou rook
jou kind gaan met ’n bloubek gebore word
ek rol my oë en sê is fine

sy bly stil
laat sak haar kop in haar hande
en begin snik
jirre Ronelda moet jy nie ook
my verwerp nie
ek kry dit van alle kante af

ek skrik en gaan troos haar
ek sê sorry Hammie ek’s net kwaad

ja my kind ek weet ek is so
jammer

oor alles

ek sê net
is okay Hammie daai’s ou kak

want as ’n ma sorry sê
is dit asof die Here afkom aarde toe
en vir jou kroon op jou kop sit. 

Kamfer se gedig illustreer ook iets van die moeder se afhanklikheid van die dogter, veral in die derde strofe. Die moeder se emosionele uitbarsting in strofe drie veroorsaak egter dat die dogter, wat hier as outobiografiese spreker optree, in die vierde strofe skrik en dadelik die moeder troos. Dit dui op die vrees vir verwerping waarop Friday in die aanhaling sinspeel. In die voorlaaste strofe gee die spreker dan voor asof die geïmpliseerde dinge uit die verlede waaroor die moeder jammer sê, reeds vergete is. Dit blyk egter uit die begin van die gedig, asook uit ander gedigte wat Kamfer oor haar moeder geskryf het,17 dat sy ’n outobiografiese digterspreker konstrueer wat steeds wrokkig teenoor haar moeder staan. As ’n troos bied sy dan hier ’n vorm van haar vergifnis aan en in die laaste strofe verskaf sy die rede vir haar optrede: “want as ’n ma sorry sê / is dit asof die Here afkom aarde toe / en vir jou kroon op jou kop sit.” Hierdie versreëls wys op die feit dat die dogter nog nie haarself sien as outonome wese, apart van haar moeder, nie. Die verskoning wat die moeder aanbied, word gesimboliseer deur ’n heilige kroon wat op die dogter se kop gesit word. Dit is dus duidelik dat die dogter nog in ’n groot mate van die moeder se goedkeuring afhanklik is en dat die proses van afstanddoening problematies bly. 

Ook die bekende Krog-gedig “Ma” (Dogter van Jefta, 1970:12) is tekenend van die problematiek rondom die dogter se afstanddoening van die moeder.

Ma 

Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
 sonder fênsie leestekens
 sonder woorde wat rym
 sonder bywoorde
 net sommer
 ’n kaalvoet gedig –
 want jy maak my groot
 in jou krom klein handjies
 jy beitel my met jou swart oë
 en spits woorde
 jy draai jou leiklipkop
 jy lag en breek my tente op
 maar jy offer my elke aand
 vir jou Here God.
 jou moesie-oor is my enigste telefoon
 jou huis my enigste bybel
 jou naam my breekwater teen die lewe
 ek is so jammer mamma
 dat ek nie is
 wat ek graag vir jou wil wees nie.

Louise Viljoen (2009:7) sê die volgende hieroor in Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog

Dit is uit die gedig duidelik dat die moeder haar dogter op ’n harde manier slyp (“jy beitel my met jou swart oë / en spits woorde”). Verder lyk dit asof die dogter aan die een kant dankbaar is dat die moeder haar beskerm deur as tussenganger tussen haar en die buite-wêreld op te tree, maar aan die ander kant is daar ook suggesties dat die moeder haar daardeur inperk en weghou van daardie wêreld wanneer sy skryf: “jou moesie-oor is my enigste telefoon / jou huis my enigste bybel / jou naam my breekwater teen die lewe.”

“Ladybird” (oorspronklik gepubliseer in Rook en oker, 1963) deur Ingrid Jonker (2004:77) word opgedra aan die digter se ma wanneer sy skryf dat die gedig ’n “herinnering aan my moeder” is: 

Ladybird
’n Herinnering aan my moeder

Glans oker
en ’n lig breek
uit die see.

In die agterplaas
êrens tussen die wasgoed
en ’n boom vol granate
jou lag en die oggend
skielik en klein
soos ’n liewenheersbesie18
geval op my hand.

Alhoewel dié gedig meer werk op die vlak van assosiatiewe beelding kenmerkend van die poësie van Sestig, word daar steeds iets konkreets oor die moeder-dogter-verhouding daardeur uitgebeeld. In die psigoanalise word die oermoeder (ook baarmoeder) tradisioneel met die see verbind, en dié groot watermassa hou ook verband met die anima-argetipe. Die lig wat in die eerste strofe uit die see breek, kan daarom sinspeel op ’n helder (“lig”) herinnering aan die moeder (“see”) wat tot die outobiografiese spreker deurdring. ’n Ander moontlikheid is dat “’n lig / breek uit die see” gelees kan word as ’n voorstelling van ’n geboorte, waarin die kind, “die lig” voortgebring word uit die moeder, “die see”.

Die tweede strofe is ’n beskrywing van die herinnering, waarin die assosiatiewe beelding sinspeel op die delikate verband tussen ma en dogter. Aanvanklik kom die herinnering alledaags en positief voor, met die verwysing na “wasgoed”, “’n boom vol granate” en “jou lag”. Dit is egter juis die moeder se lag en die herinnering aan ’n oggend wat “skielik en klein” op die spreker se hand kom val “soos ’n liewenheersbesie”. Hier is die gebruik van die woord “geval” opmerklik, aangesien daar nie gesê word dat die besie op haar hand kom sit nie. Die suggestie is eerder dat die besie nie uit eie wil of opset op haar hand kom sit nie, maar per ongeluk op haar hand land of selfs moontlik dood is en tot op haar hand val. Die “val” suggereer ’n noodgedwongenheid wat illustrerend is van die verhouding tussen moeder en dogter. Die delikaatheid van die “klein” besie en die ma se “klein” lag beeld ook die besondere broosheid van die verhouding uit en die feit dat die dogter haarself nie maklik daarvan los kan maak nie. Net soos wat die besie noodgedwonge op haar hand val, word die herinnering aan haar moeder onvermydelik by haar opgeroep. Biografies is ’n mens bewus daarvan dat Jonker se moeder oorlede is toe Jonker nog ’n kind was, maar selfs in die dood is die spreker as dogter nie van haar moeder geskei nie.

Volgens Van Wyk (1999:2) blyk die invloed van die Rooms-Katolisisme op Ingrid Jonker uit gedigte soos die bostaande “Ladybird”. Hy noem dat die woord “ladybird” afgelei is van “Our Lady’s bird” en identifiseer “Our Lady” as die Katolieke benaming vir die Moedermaagd Maria. Die verband wat daar dus tussen Jonker se biografiese moeder en die “ladybird” getrek word, kan deur hierdie gegewe verder uitgebrei word om ook verband te hou met Moeder Maria. Die digterspreker beskou dus ook haar moeder as ’n Maria-figuur, en die ewigheidswaarde wat dié figuur inhou, bevorder die idee van die onlosmaaklikheid van die verhouding tussen die digterspreker en haar moeder.

Elisabeth Eybers se siening van haar moeder word in die outobiografiese gedig “Oorsig” (Balans, 1962)19 soos volg verbeeld:

Oorsig

Van kindsbeen af het ek die boos-
heid van die vlees geraai,
so wêreldwars en argeloos
het Vader dit versmaai.

En Moeder was ’n donker vrou
met ’n stiletskerp gees:
van onversoenbaarhede sou
ek later nooit genees.

My pastorale vader wis
haarfyn hoe alles hoort,
teen elke ydelheid en lis
gewapen met die Woord.

En Moeder het gevit, gevra,
geluister en gelees.
Sy kon soveel verdriet verdra,
so ondeemoedig wees.
Van háár het ek die snelle drif,
die onrus en die skroom,
van hom die vreemde teëgif
van ’n ontasbre droom.

Deur brakkerige dieptes kon
my wortels weerbaar dring,
ook ék haal uit mistieke bron
my soet versadiging: 

’n liefde wat geen lesing ken,
niks ledig of sondeer
maar eensaamheid en hunkering
verruklik raffineer. 

Met aftreksels van skaduwee
moet ek my daagliks voed:
my vader was die dominee,
my moeder vlees en bloed.

Volgens Spies (2015) vergestalt besinning en introspeksie by Eybers onder andere ’n poging om haar eie dualistiese aard te probeer peil deur portrettekeninge van die gelowige dominee-vader en die vrysinnige moeder. Eybers betrek dan ook haar beskouing van haar vader in “Oorsig” juis om te wys op hoe verskillend sy haar vader en haar moeder sien. Dit blyk egter uit die gedig dat die dogter, wat as outobiografiese spreker optree, haar meer met haar moeder as met haar vader identifiseer. In strofes 4, 5 en 6 is dit duidelik dat die dogter haar eerder kan vereenselwig met die moeder se bevraagtekening en “vleeslikheid” (vergelyk reëls 23–28). Die “pastorale vader” word in strofe 3 beskryf as iemand wat nie bevraagteken nie; hy dra die Woord as sy wapen teen “ydelheid en lis”. Die tweede strofe skets egter die moeder as die “donker vrou”, en in die middel van die strofe dui die dubbelpunt daarop dat haar identifikasie met die moeder en die teenstrydige beskouings van die vader tot gevolg het dat “van onversoenbaarhede sou / ek later nooit genees”. Die gedig beeld uit dat die spreker haar nie kan losmaak van die invloed wat haar ouers (veral haar moeder) op haar het nie. Dit is iets waarvan sy nie kan genees nie en wat haar daarvan weerhou om outonomie te bereik. 

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die dogter se verhouding met die moeder wel problematies is ten opsigte van die dogter se identiteitskonstruksie. Stone (2001:170) stel egter voor dat ’n dogter se posisie herbedink moet word, en dat so ’n herformulering noodwendig inhou dat daar van die tradisionele siening van die dogter se afhanklike posisie as iets problematies en patologies wegbeweeg moet word na die beskouing van dié posisie as iets wat positief kan wees.

In die outobiografiese gedigte van vroue tref die leser dikwels gedigte aan wat handel oor die outobiografiese spreker se verhouding tot haar moeder, en/of tot haar eie kinders. Dié gedigte kan gebruik word om bogenoemde fenomeen te ondersoek deur te ontleed hoe hierdie verhouding(s) uitgebeeld word en te (her)besin oor die inwerking daarvan op die self se gender- en identiteitskonstruksie.

 

10. Samevatting

In hierdie artikel is die begrip outonomie van nader beskou, met die doel om die moontlikheid van ’n herdefiniëring daarvan in terme van relasionaliteit uiteen te sit. Die bespreking het die raamwerk gevolg wat Friedman (2000:37–41) verskaf in “Autonomy, social disruption and women”. Hierdie raamwerk behels ’n karakterisering van outonomie volgens beskouings daarvan in eietydse filosofiese literatuur, wat inhou dat dié sienings gekleur is deur onder meer ’n feministiese perspektief. Die bespreking is gevolg deur die formulering van ’n relasionele model van outonomie, asook ’n beskouing van die verband tussen outonomie, relasionaliteit en moederskap. 

Die bespreking van persoonlike outonomie het aan die lig gebring dat dit twee dimensies inhou. Eerstens moet iemand op ’n outonome wyse besin oor die keuses wat sy maak en die standaarde of waardes waarvolgens sy gelei word. Tweedens moet die besinning self relatief losstaande wees van daardie variëteite van inmenging wat outonomie belemmer. Daar is bepaal dat persoonlike outonomie ’n handeling en leefwyse inhou wat bepaal word deur ’n mens se eie keuses, waardes en identiteit, binne die beperkings van wat die mens as moreel toelaatbaar beskou. 

Daar is gefokus op ’n feministiese toepassing van die begrip outonomie wat noodsaak dat die narratiewe van vroue sal reageer teen patriargale beperkings om sodoende ’n bewustheid van die self en die self se relasionaliteit te verwoord en te herdefinieer. Dit kan onder meer inhou dat ’n narratief besin oor die feit dat die vrou volgens konvensionele genderrolstereotipering aan ’n moederlike rol gekoppel word. ’n Narratief wat hieroor besin, of selfs moontlik die moederlike rol herdefinieer volgens nuwe paradigmas waarin die patriargale nie domineer nie, kan ook deel van die feministiese aanwending van die begrip outonomie vorm.

Verder is daar bespreek hoe die genderstereotipiese afsondering van emosie en rede in die eietydse konteks minder prominent geword het. Daar is geargumenteer dat rasionaliteit uit rede én emosie bestaan, en daar is bepaal dat die herkonseptualisering van die begrip outonomie ook die herkonseptualisering van dié gendernorme wat genderrolle en genderspesifieke karaktereienskappe bepaal, inhou. 

Uit die bespreking van die sosiale herkonseptualisering van outonomie is afgelei dat die mens juis die bevoegdheid vir outonomie ontwikkel deur middel van sosiale interaksie. Hierdie ontwikkeling is onderhewig aan die konteks van waardes, betekenis en modi van selfbesinning wat deur sosiale praktyk gevorm is. Die invloed van sosiale norme op die identiteit van die mens vorm deel van die relasionele benadering tot outonomie. Dit veronderstel dat – binne ’n feministiese raamwerk – die rol van sosiale norme (in die besonder gendernorme), relasionaliteit en outonomie interaktief en onlosmaaklik ’n rol speel in die konseptualisering van die self.

Die argument is wel erken dat outonomie in sommige gevalle gesien word as ontwrigtend ten opsigte van persoonlike verhoudings, maar daar is ook bewyse gelewer van situasies waarin die ontwringing nie noodwendig manifesteer nie. Daar is ook bepaal dat outonomie se potensiaal om sosiaal ontwrigtend te wees nie as slegs negatief beskou hoef te word nie. Outonome besinning kan die vrou ’n geleentheid bied tot kritiese oordenking van die verhoudings waarbinne sy staan en die invloed wat hierdie verhoudings op haar identiteit het. 

Die beskouing van outobiografiese poësie in die lig van bogenoemde het verrykende gewaarwordinge na vore gebring. Die digter wat in ’n outobiografiese gedig besin oor bepaalde verhoudings – dus oor haar relasionaliteit – is terselfdertyd besig om outonomie te beoefen. Outonomie maak die kritiese besinning oor verhoudings moontlik, en ’n verhouding sal in die eerste plek nie bestaan sonder die moontlikheid van relasionaliteit nie. Daarom kan die skryf van ’n outobiografiese gedig wat krities besin oor die digterspreker se relasionele posisie ook gesien word as ’n uitoefening van die digterspreker se outonomie. 

In die lig van die poging om relasionele outonomie te verken, is ’n relasionele model van outonomie gekonseptualiseer. Daar is ook verder aandag gegee aan die verband tussen relasionaliteit, moederskap en outonomie. Friedman (2000:46) se beskouing van die tradisionele opvatting dat die meerderheid vroue hulle primêre volwasse identiteit van hulle families of huwelike aflei, is betrek. Dít bring die vrou se beskouing van en besinning oor haar huwelik en moederskap as belangrike onderwerp na vore, veral in die lig van die genoemde poging om outonomie te rehabiliteer en te herkonseptualiseer in die lig van relasionaliteit.

Om nuwe paradigmas van outonomie wat vroulike protagoniste insluit te illustreer, is die teoretiese bespreking in hierdie artikel toegelig deur outobiografiese voorbeeldgedigte uit die oeuvres van vier vrouedigters, naamlik Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog en Ronelda S. Kamfer. In hierdie voorbeeldgedigte staan ’n outobiografiese digterspreker telkens voorop, wat ten doel gehad het om die narratief van die vrouestem en haar relasionele posisie te kon ondersoek.

Deur middel van die teoretiese bespreking en die gedigontledings is daar gevind dat outonomie en relasionaliteit nie as losstaande entiteite gesien kan word wanneer dit kom by die identiteitsvorming van die vrou nie. Albei entiteite beïnvloed die totstandkoming van die vroulike digterspreker se identiteit, en die ontleding van die onderskeie gedigte wys daarop dat sowel sosiale ingebedheid as agentskap deur die vrou beliggaam kan word, en dat sy ook die stem het om dit te kan verwoord.

 

Bibliografie 

Antony, L.M. en C. Witt (reds.). 1993. A mind of one’s own: Feminist essays on reason and objectivity. Boulder: Westview Press.

Battersby, C. 1998. The phenomenal woman: Feminist metaphysics and the patterns of identity. Londen: Routledge.

Benjamin, B. 1988. The bonds of love: Psychoanalysis, feminism, and the problem of domination. New York: Pantheon Books.

Botha, E. en R. Pretorius (reds.). 1983. Samehang en sin: Opstelle oor die Afrikaanse poësie. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Botha, M. 2011. Die outobiografiese kode in Antjie Krog se oeuvre. PhD-proefskrif, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. 

—. 2012. “ek het ’n liggaam, daarom is ek”: Outobiografiese elemente in Antjie Krog se Verweerskrif. LitNet Akademies, 9(2):354–91. http://litnet.co.za/assets/pdf/3GWBotha.pdf

Brison, S. 1993. Surviving sexual violence. Journal of Social Philosophy, 24(1):5–22. 

Bulkin, E., M.B. Pratt en B. Smith (reds.). 1984. Yours in struggle: Three feminist perspectives on anti-Semitism and racism. Brooklyn, NY: Long Haul Press.

Bushnell, D.E. (red.). 1995. “Nagging” questions: Feminist ethics in everyday life. Lanham, MD: Rowman & Littlefield. 

Butler, J. 2004. Undoing gender. New York: Routledge.

Christman, J. 1995. Feminism and autonomy. In Bushnell (red.) 1995:17–39. 

Code, L. 1995. Rhetorical spaces: Essays on gendered locations. New York: Routledge. 

Collins, P.H. 1991. Black feminist thought: Knowledge, consciousness, and the politics of empowerment. New York: Routledge.

Dryden, J. 2013. Relational autonomy. Internet encyclopedia of philosophy. http://www.iep.utm.edu/autonomy/#h3 (5 Mei 2020 geraadpleeg).

Eybers, E. 2004. Versamelde gedigte. 3de uitgawe. Kaapstad: Human & Rousseau.

Fourie, E. 2003. Die feministiese biografie toegespits op die Afrikaanse digter Ingrid Jonker. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Friday, N. 1997. My mother / my self: The daughter’s search for identity. New York: Delta.

Friedman, M. 2000. Autonomy, social disruption and women. In Mackenzie en Stoljar (reds.) 2000:35–51. 

Gibbard, A. 1990. Wise choices: apt feelings: A theory of normative judgment. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Gilligan, C. 1982. In a different voice. Cambridge: Harvard University Press.

Golombok, S. en R. Fivush. 1994. Gender development. Cambridge: Cambridge University Press.

Harding, S. en M.B. Hintikka (reds.). 2003. Discovering reality: Feminist perspectives on epistemology, metaphysics, methodology, and philosophy of science. 2de uitgawe. Dordrecht: Kluwer Academic Publishers.

Jacobs, I. 2016. Die outobiografiese aard van liriese poësie: ’n Voorlopige verkenning. Stilet, 28(1):83–95.

Jaggar, A.M. 1983. Feminist politics and human nature. Totowa, NJ: Rowman & Allenheld. 

—. 1989. Love and knowledge: Emotion in feminist epistemology. In Jagger en Bordo (reds.) 1989:145–71.

Jagger, A.M. en S.R. Bordo (reds.). 1989. Gender/body/knowledge. New Brunswick: Rutgers University Press. 

Jansen, E. 1996. Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies. 

Jonker, I. 2004. Versamelde werke. 3de uitgawe. 4de druk. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kamfer, R.S. 2008. Noudat slapende honde. Kaapstad: Kwela Boeke. 

—. 2016. Hammie. Kaapstad: Kwela Boeke.

Kannemeyer, J.C. 1995. Die gespitste binneblik: ’n Opstel oor die poëtika van Elisabeth Eybers. Kaapstad: Tafelberg. 

Keller, J. 1997. Autonomy, relationality, and feminist ethics. Hypatia, 12(2):152–64. 

Krog, A. 1970. Dogter van Jefta. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1981. Otters in bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau. 

—. 1989. Lady Anne. Kaapstad: Human & Rousseau. 

—. 1995. Gedigte 1989–1995. Groenkloof: HOND.

—. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

Lanser, S.S. 2005. The “I” of the beholder: Equivocal attachments and the limits of structuralist narratology. In Phelan en Rabinowitz (reds.) 2005:206–19. 

Lloyd, G. 1984. The man of reason: Male and female in Western philosophy. Londen: Routledge. 

Longino, H. 1990. Science as social knowledge. Princeton: Princeton University Press.

Mackenzie, C. en N. Stoljar (reds.). 2000. Relational autonomy: Feminist perspectives on autonomy, agency, and the social self. New York en Oxford: Oxford University Press.

Nedelsky, J. 1989. Reconceiving autonomy: Sources, thoughts and possibilities. Yale Journal of Law and Feminism, 1:7–36. 

Noddings, N. 1984. Caring: A feminine approach to ethics and moral education. Berkeley: University of California Press. 

Phelan, P. en P.J. Rabinowitz (reds.). 2005. A companion to narrative theory. Oxford: Blackwell Publishing. 

Pratt, M.B. 1984. Identity: Skin blood heart. In Bulkin e.a. (reds.) 1984:9–63. 

Ruddick, S. 1989. Maternal thinking: Toward a politics of peace. Boston: Beacon Press. 

Serfontein, D. 1986. Galery van reënmakers. Kaapstad: Human & Rousseau.

Simons, M.A., J. Benjamin en S. de Beauvoir. 1979. Simone de Beauvoir: An interview. Feminist Studies, 5(2):330–45.

Spacks, P.M. 1972. The female imagination. New York: Avon Books. 

Spies, L. 1983. ’n Nuwe bloei in Afrikaans: T.T. Cloete se angelier en Antjie Krog se roos. In Botha en Pretorius (reds.) 1983:106–20. 

—. 2015. Elisabeth Eybers (1915–2007). In Van Coller (red.) 2015:750–74.

Stoljar, N. 2013. Relational autonomy. Stanford encyclopedia of philosophy. http://plato.stanford.edu/entries/feminism-autonomy (5 Mei 2020 geraadpleeg).

Stone, A. 2011. Female subjectivity and mother-daughter relations. Women: A Cultural Review, 22(2/3):168–79.

Taljard, M. 2016. Resensie. Hammie (Ronelda S. Kamfer). Versindaba, 3 Maart. http://versindaba.co.za/2016/03/03/resensie-hammie-ronelda-s-kamfer (1 Julie 2020 geraadpleeg). 

Terblanche, E. 2014. Ronelda Kamfer (1981–). LitNet. http://www.litnet.co.za/ronelda-kamfer-1981 (5 Mei 2020 geraadpleeg).

Van Coller, H.P. (red.). 2015. Perspektief en profiel. Deel I. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

—. 2016. Perspektief en profiel. Deel II. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Van Niekerk, M. 2000. Die digterlike verlange. ’n Ouderwetse besinning. http://www.mandela.ac.za/onseangeltjie/verlange.htm (5 Mei 2020 geraadpleeg).

Van Wyk, A.J. 1987. Die dood, die minnaar en die oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks. http://johanvanwyk.oblogs.co.za/texts/die-dood-die-minnaar-en-die-oedipale-struktuur-in-die-ingrid-jonker-teks (5 Mei 2020 geraadpleeg). 

—. 1999. Gesig van die liefde: Ingrid Jonker. Durban: Johan van Wyk. 

Van Zuydam, S.W. 2016. Ingrid Jonker (1933–1965). In Van Coller (red.) 2016:509–22. 

Vermeulen, D. 2018. ’n Ondersoek na Ronelda Kamfer se poësie aan die hand van bell hooks se filosofie oor ras en taal. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Viljoen, H. 2014. “Die choreografie van ontwyking”: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers. Literator, 35(2). http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/view/1138/1608 (5 Mei 2020 geraadpleeg).

Viljoen, L. 2002. “Die kleur van mens”: Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie. Stilet, 14(1):20–49.

—. 2007. Antjie Krog en haar literêre moeders: Die werking van ’n vroulike tradisie in die Afrikaanse poësie. Tydskrif vir Letterkunde, 44(2):5–28.

—. 2009. Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog. Stellenbosch: SUN PReSS. 

Weyer, C.L. 2013. Confession, embodiment and ethics in the poetry of Antjie Krog and Joan Metelerkamp. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch

 

Eindnotas

1 Friedman (2000:48) verwys in hierdie verband byvoorbeeld na die werk van Gilligan (1982) en Noddings (1984).

2 Hier kan ook verwys word na Jaggar (1983), Benjamin (1988), Harding en Hintikka (reds.) (2003) en Lloyd (1984). 

3 Friedman (2000:36) verwys na die voorbeeld van navorsing gedoen deur Helen Longino (1990). Longino ontleed wetenskaplike redenering om te illustreer hoe sosiale waardes soos genderrolle en individuele outonomie navorsingsprogramme aangaande die biologiese basis van gedrags- en kognisiewetenskap beïnvloed.

4 Verwys na Kannemeyer (1995), Jansen (1996) en Viljoen (2014).

5 Verwys na Van Wyk (1987) en Fourie (2003).

6 Verwys na Botha (2011) en Weyer (2013).

7 Verwys na Taljaard (2016) en Vermeulen (2018).

8 Asook van soortgelyke veranderende en nietradisionele prosesse in die identiteitsbepaling van mans. 

9 Friedman (2000:38) verwys ter stawing van hierdie stelling na die teoretisering van Lloyd (1984) en Code (1995). 

10 Friedman (2000:38) verwys ter stawing van hierdie stelling na die feministiese teoretisering van Code (1995) en Jagger (1989), en die filosofie van Gibbard (1990).

11 Verwys byvoorbeeld na Friedman (2000:49), Antony en Witt (reds.) (1993) en Code (1995).

12 Friedman (2000:39) verwys ter stawing van hierdie stelling na Golombok en Fivush (1994).

13 Verwys na die bespreking van hierdie ontwikkelings deur Christman (1995). 

14 Volgens Van Wyk (1999:3) is “Mamma” geskryf op 15 Julie 1964. Dit is pas nadat Jonker uit die St. Anne-inrigting in Parys ontslaan is. In die lig hiervan beskou Van Wyk die gedig as tegelyk ’n voorstelling van Jonker wat haar eie kind aanspreek en ’n eggo van die senuwee-ineenstorting van Jonker se eie ma.

15 Verwys ook in hierdie verband na Battersby (1998:8). 

16 Nie noodwendig die biologiese moeder nie, maar oor die algemeen vroue eerder as mans, met ander woorde die vroulike bekleër van die sosiaal en kultureel gedefinieerde moederlike rol.

17 Verwys byvoorbeeld na “Lae lewens”, “Onrus”, “Die skoonmakers”, “Gertruida” en “Humble brag” uit Hammie (2016). Daar bestaan ook ’n sterk intratekstuele verband met die gedig “Daar is sekere dinge” uit haar debuutbundel, Noudat slapende honde (2008:34).

18 Van Wyk (1999:4) haal die woorde van Ingrid Jonker aan, wat in “Lewenskets vir die vaderland” die volgende oor “Ladybird” gesê het: “Ek het dit [die herinnering van my moeder] probeer te woord stel in ‘Ladybird’ […], gebaseer op die kinderrympie: ‘Ladybird, ladybird, fly away home; your house is on fire, your children are gone …’ My moeder, sterwend, was so sonnig soos ’n liewenheerbesie, so vol geheime, so verrassend, so teer …”

19 Hier aangehaal uit Eybers (2004:241–2).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Derek Odendaal

    Gooi ons met iets meer relevant en verteerbaar in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. Asseblief.

  • Mens kan sien Derek Odendaal is nie 'n Suid-Afrikaanse vrou nie. Hierdie is baie relevant!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top