’n Verkenning van belydenispoësie in Afrikaans

  • 0

’n Verkenning van belydenispoësie in Afrikaans

Natasha Harmse, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 21(2)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n2g1

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die doel van hierdie studie is om belydenispoësie in Afrikaans te verken. Die begrip belydenispoësie is aanvanklik daargestel deur kritici soos Rosenthal en Lerner in die Amerikaanse konteks. Die volgende vrae word in hierdie artikel gestel: Is belydenispoësie eie aan ’n spesifieke beweging in ’n spesifieke konteks? Of behoort belydenispoësie eerder as ’n onderafdeling of voortsetting van liriese poësie beskou te word?

Bogenoemde vrae sal beantwoord word deur middel van ’n vergelyking tussen drie besprekings van belydenispoësie in drie verskillende kontekste. Opperman en Dekker se bespreking van belydenisverse deur Leipoldt en die Dertigers word vergelyk met Gregory se uiteensetting van die Amerikaanse belydenisskool sowel as Weyer se bespreking van belydenis in Engelse Suid-Afrikaanse poësie.

In die Afrikaanse konteks is Opperman en Dekker dit eens dat Leipoldt die eerste belydenisdigter is. Opperman assosieer belydenisverse met die breë tendens by die Dertigers om meer persoonlik te skryf as die vorige generasie digters. In Gregory se ondersoek na die Amerikaanse belydenisdigters soos Sylvia Plath en Robert Lowell blyk ’n soortgelyke opstand teen die poëtiese norme van die vorige generasie digters. In die Suid-Afrikaanse konteks van die 1990’s en 2000’s ondersoek Weyer die belydenispoësie van Antjie Krog (vertaal in Engels) en Joan Metelerkamp in die nasleep van apartheid. Weyer redeneer dat Krog en Metelerkamp enersyds deur die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) en andersyds deur die Amerikaanse tradisie van belydenispoësie beïnvloed is.

Belydenispoësie in al drie kontekste deel ’n verwerping van die poëtiese konvensies van die vorige generasie digters sowel as ’n fokus op die persoonlike ervaring en die verkenning van emosies wat voorheen as taboe beskou is. Hierdie ooreenkomste dui daarop dat belydenispoësie nie noodwendig gegrond is in ’n spesifieke konteks nie, maar eerder ’n voortsetting van liriese poësie is. In liriese poësie word uiting gegee aan emosies terwyl daar in belydenispoësie uiting gegee word aan spesifieke emosies soos skuld en skaamte.

Trefwoorde: Afrikaanse poësie; belydenis; belydenispoësie; Krog; Leipoldt; Lerner; liriese poësie; Lowell; Metelerkamp; Opperman; poësie; Rosenthal; skaamte; skuld

 

Abstract

Exploring confessional poetry in Afrikaans

Confessional poetry has been extensively studied in the American literary tradition. The genre was defined by the foundational work of critics like Rosenthal and Lerner in 1959 and 1987 respectively. This article explores confessional poetry in the Afrikaans literary tradition, drawing comparisons with some of its American and South African English counterparts. This comparative study is guided by the following question: Does confessional poetry constitute a distinct movement with a specific cultural context or does it merely amplify tendencies inherent in lyric poetry?

The investigation begins with Rosenthal’s seminal use of the term “confessional poetry” in his review of Robert Lowell’s Life studies in 1959, while Lerner later articulated the genre’s main characteristics in his article “What is confessional poetry?” (1987). Lerner poses critical questions about the distinction between confessional poetry and ordinary confession, as well as its relationship to other kinds of poetry. In the Afrikaans literary landscape, Opperman and Dekker identify the roots of confessional poetry with the Dertigers. Opperman’s Digters van Dertig (1952) offers insights into the cultural milieu of this group of poets, emphasizing a departure from traditional themes towards personal expression. Dekker, in Afrikaanse literatuurgeskiedenis (1958), identifies Leipoldt as the first confessional poet in Afrikaans, citing the poem “Op my ou ramkietjie” from Uit drie wêrelddele (1923) as an early example of the genre in Afrikaans.

The Dertigers, influenced by Romanticism and the literary trends of the Dutch Tagtigers, were the first poets in Afrikaans to embrace personal themes in their work. Opperman also highlights the shift from rural to urban imagery, symptomatic of a broader societal transition at the time. This period saw a rejection of the reticence of previous generations, marking a clear departure from the established poetic norms and conventions. The discussion of confessional poetry in the Afrikaans context is then compared with Gregory’s examination of American confessional poets in the 1950s and 1960s. These poets show the same reactive approach to their reticent predecessors. Drawing on Rosenthal’s definition, Gregory underscores the deeply personal and autobiographical nature of these poets, including Sylvia Plath and Robert Lowell, who are the first to confront taboo subjects such as mental illness, familial conflict and intimate bodily experiences. Their work, like the work of the Dertigers, challenges the societal norms and conventions of the time. Turning to the contemporary South African context, Weyer explores the confessional poetry of Antjie Krog (translated into English) and Joan Metelerkamp against the backdrop of post-apartheid South Africa. Weyer suggests that their work is informed by both the American confessional tradition and the unique socio-political landscape of South Africa. The Truth and Reconciliation Commission is identified as a specific influence in their work.

In comparing these three discussions of confessional poetry, it is clear that in each case, an argument is made for the origins of the movement in a specific context: while Opperman’s and Gregory’s arguments focus on broader socio-political conditions, Weyer’s argument includes a specific event, namely the Truth and Reconciliation Commission (TRC). Weyer identifies similarities between the American context of the 1950s and 1960s and South Africa in the 1990s and early 2000s, while the milieu in which the Afrikaans confessional poets emerge in the 1920s and 1930s is quite different from the former. This comparison allows for the main question to be addressed: Does confessional poetry constitute a distinct movement with a specific cultural context or does it merely amplify tendencies inherent in lyric poetry? Lyric poetry is a well established genre known for emotional expression. Both the Afrikaans and American confessional schools are characterized by a rejection of conventional poetic norms, a focus on personal experience and an exploration of taboo emotions. Confessional poetry as a genre seems to transcend geographical boundaries and temporal distinctions and should therefore be considered an offshoot of lyric poetry with an emphasis on guilt and shame specifically.

Keywords: Afrikaans poetry; confession; confessional poetry; guilt; Krog; Leipoldt; Lerner; Lowell; lyric poetry; Metelerkamp; Opperman; Rosenthal; shame

 

1. Inleiding

In besprekings oor die oorsprong van belydenispoësie in die Amerikaanse konteks word Rosenthal en Lerner dikwels as die toonaangewende kritici oor die onderwerp beskou. Dit is Rosenthal wat vir die eerste keer die begrip “confessional poetry” gebruik in sy resensie oor Robert Lowell se Life studies in 1959 en in 1987 formuleer Lerner die hoofeienskappe van die genre in ’n artikel getiteld “What is confessional poetry?”. Vir Lerner is daar twee sentrale vrae wat oor belydenispoësie gestel kan word: Op watter maniere verskil dit van gewone belydenis en hoe verskil dit van ander tipes poësie? (Lerner 1987:46). Verder is daar ’n nog meer ingewikkelde vraag – “Everyone knows who the confessional poets are: Robert Lowell, Anne Sexton and Sylvia Plath [...]. All of them American poets of the 1950s and 1960s, who knew one another, often well, and influenced one another, so that they can accurately be called a school” (Lerner 1987:46–7). Beteken dit dat belydenispoësie dan ’n spesifieke beweging is wat spruit uit ’n spesifieke konteks of is dit bloot verse wat sekere voorafbestaande eienskappe van liriese poësie beklemtoon? Lerner stel dit soos volg:

Does this mean that confessional poetry is a specific movement, locatable in time and space with some precision? As a matter of literary history, it clearly is, but what we want to ask is whether this movement merely brought into explicit focus a tendency inherent in all lyric poetry, or whether it attempted something beyond the range of earlier poets, something that derives from living in the later twentieth century, perhaps even from being American? (Lerner 1987:47)

In die Afrikaanse konteks identifiseer Opperman en Dekker die oorsprong van belydenispoësie by Leipoldt en die Dertigers. Hierdie artikel is ’n verkenning van belydenispoësie in Afrikaans deur middel van ’n vergelyking tussen drie besprekings: eerstens Opperman en Dekker se bespreking van belydenispoësie in Afrikaans, dan Gregory se bespreking van dié genre in die Amerikaanse konteks en daarna Weyer se bespreking van Krog en Metelerkamp as Suid-Afrikaanse belydenisdigters. Die doel van hierdie vergelyking is om Lerner se vraag te beantwoord: Is belydenispoësie ’n spesifieke beweging met ’n spesifieke kontekstuele oorsprong of behoort dit eerder as ’n onderafdeling van liriese poësie beskou te word? Om hierdie vraag te beantwoord, word daar by elke onderskeie argument gekyk na die kenmerke van belydenispoësie en die kontekstuele redenasie.

 

2. Eerste argument: Opperman en Dekker oor Afrikaanse belydenispoësie

Die vroegste verwysing na belydenispoësie in Afrikaans kom voor in Opperman se Digters van Dertig (1952) as deel van sy bespreking van die Dertigers. Hy skets die konteks waarin hierdie groep digters debuteer soos volg: Die Tweede Afrikaanse Beweging kom tot ’n einde met die erkenning van Afrikaans in 1925 en teen die tyd wat die Dertigers begin publiseer is die Derde Beweging al aan die gang (Opperman 1952:13). Die taalstryd is verby en die fokus val nou op ’n belangstelling in internasionale wetenskap en kuns: “Politiek en poësie raak geskeie; die digter veg nie meer om sy taal en erkenning as mens nie: nou is hy mens, word indiwidualis met ’n wyer wordende belangstelling” (Opperman 1952:19, eie kursivering). Hy brei uit oor die verband tussen die Derde Beweging en die digkuns van die Dertigers:

As onderdeel van die Derde Beweging [...] het ons die vernuwing van die Afrikaanse digkuns omstreeks die jare dertig. In die Afrikaanse poësie is die Beweging van Dertig die strewe en wil by ’n aantal doelbewuste jong digters om in Afrikaans ’n poësie te skryf wat gelykwaardig is met dié van ander volke. Eers lyk dit na ’n amper doellose gesoek en getas, dan merk ons in die geskrifte van hierdie jong talente, wat los en onafhanklik van mekaar staan maar deur dieselfde vernuwing in die volkslewe geprikkel word, verwante strewes, gemeenskaplike eienskappe en ideale. (Opperman 1952:14)

Opperman teoretiseer hier dat die vernuwing in die poësie van Dertig (wat belydenispoësie insluit) toe te skryf is aan ’n gedeelde kulturele en kontekstuele dampkring. Hy beskryf dié konteks verder:

[Ons het] die wording van ’n nuwe wêreld waarin die Dertigers grootword [...], [d]ie wordende wêreld is hoofsaaklik ’n Afrikaans-Angelsaksiese nywerheidstaat: ’n verskuiwing vind plaas van die platteland na die stede, na die myne, fabrieke en staatsdiens. Die Afrikaner word ’n stedeling. (Opperman 1952:16)

Daarom is daar vir Opperman ook ’n tematiese verskuiwing te bespeur in die werk van hierdie digters – weg van natuurbeelde en die platteland na ’n stedelike ruimte. Verder is hy van mening dat die Dertigers reageer op die skugterheid van die ouer digters:

Ons ouer digters was skugter om te bely, om oor hulself te praat; hulle het gewoonlik maar vir almal en oor almal ‘gesing’ of dan iets laat praat (Celliers en Totius). [...] Eers by Leipoldt word ons aangegryp deur die mens wat bely, juig, tart, skreeu... ‘ek’, ‘jy’ – later ook by die ander. (Opperman 1952:55)

In Afrikaanse literatuurgeskiedenis (1958) beaam Dekker dat Leipoldt die eerste digter is wat belydenispoësie skryf in Afrikaans:

Leipoldt is [...] een van die boeiendste figure in ons digkuns. Hy is dit deur sy hartstogtelikheid en spontaneïteit, die hewige openbaring van sy menslikheid en individualistiese vereensaamdheid, deur sy oorspronklikheid en vryheid van konvensie – hy is die eerste wat belydenispoësie in Afrikaans geskryf het. (Dekker 1958:85)

Dekker (1958:95) verwys spesifiek na Leipoldt se “hartstogtelike selfbelydenis” in “Op my ou ramkietjie” uit die bundel Uit drie wêrelddele (1923). Vergelyk byvoorbeeld die eerste twee strofes van Totius se “Die tarentaal” (verteenwoordigend van die ouer styl waarop die Dertigers reageer) met Leipoldt se “Op my ou ramkietjie”:

Die tarentaal

Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.

Hy soek – en dit is ook al laat –
vir hom ’n kameraad,
om in ’n boom die eensaamheid
en nag te slyt (Totius in Brink 2008:54, strofes 1–2).

XVIII

Op my ou ramkietjie
Met nog net een snaar
Speel ek in die maanskyn,
Deurmekaar.

Ek sing van Adam
En Eva se val,
Van die ou Paradys.
‘Halfpad mal!’

So sê die mense
Wat my hoor speel
As die skemer my wang soen
Soos ferweel.

As die maan my aanhoor,
En die sterre knik,
Dan speel ek kordaat voort,
In my skik.

Wat gee ek om mense
Wat sê ek’s mal,
As die varings my aanhoor
By die wal?

Wat om my vrinde –
Wat nooit nie verstaan –
As die sterre my toeknik,
En die maan?

Op my ou ramkietjie
Met nog net een snaar,
Speel ek in die maanskyn,
Deurmekaar (Leipoldt in Brink 2008:85–6).

Leipoldt se “Op my ou ramkietjie” is tekenend van die verskuiwing van tema en styl wat Opperman assosieer met die Dertigers se ontluikende indiwidualisme.

2.1 Invloede op die Dertigers: die Romantiek en die Tagtigers

In Opperman se bespreking van die Dertigers noem hy twee van die vernaamste invloede op hulle werk: die Romantiek en die Tagtigers. Beide het betrekking op die tendensie by die Dertigers om meer persoonlik te skryf as hulle voorgangers:

Aansluitend by die Twintigers, soos Wassenaar en Toon van den Heever en die ander ouer digters wat in hul jongste werk al meer persoonlik skrywe, soos Leipoldt, Totius en Eugène Marais, maar nog duideliker onder die regstreekse invloed van die Viktoriane en Tagtigers, vind ons dat die volgende groot tendensie, veral vanaf 1923–24, is om in die gedig uitdrukking te gee aan ‘’n eie indiwiduele sielslewe’. (Opperman 1952:52)

Hierdie “eie indiwiduele sielslewe” sluit aan by wat Opperman elders “die indiwidualisme” noem. Dit is een van die hoofeienskappe van die Romantiek en kom veral voor by digters soos Wordsworth, Coleridge, Keats en Shelley:

By die Dertigers tref ons meer moderne digters, maar ook ouer digters aan, soos byvoorbeeld Wordsworth met sy wysgerige belydenisse, sy natuurbeskrywings en sy sonnette; Coleridge se hallusinêre vertelling The Rime of the Ancient Mariner wat ’n eie literatuurtjie by ons wek; dan Keats en Shelley, die groot indiwidualiste en aanbidders van die skoonheid, wat ook stimulerend was in die Nederlande en veral vir die vernuwing van Tagtig. (Opperman 1952:41)

Die Dertigers is dus óf direk beïnvloed deur die Romantiese digters, óf via die Tagtigers wat sterk deur die Romantiek beïnvloed is. In Momente in die Nederlandse letterkunde (1988) is Jonckheere van mening dat die Tagtigers reageer op die kunsopvatting dat “dít waaroor geskryf word, [...] belangriker [is] as die skrywer. Die Tagtigers keer die opvatting heeltemal om en verhef subjek bo objek. Die indiwidu is primêr” (Jonckheere 1988:279). Daarom kom Jonckheere tot die slotsom dat “[d]ie individualisme en estetisisme van Tagtig [...] beslis ’n belangrike invloed op die Afrikaanse poësie van Twintig en Dertig uitgeoefen [het]” (Jonckheere 1988:281).

2.2.1 Die indiwidualisme ontwikkel tot belydenisliteratuur

Vir Opperman ontwikkel die indiwidualisme tot belydenisverse by die Dertigers: “Hierdie tendensie om die ‘eie indiwiduele sielslewe’ uit te druk, word al sterker, groei natuurlik saam met die sterker bewuswording van die digterskap, lei tot belydenisverse” (Opperman 1952:52). In Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 1 brei Kannemeyer uit op dié ontwikkeling weg “van die tradisionele Afrikaanse ‘motiewe’-kuns in die rigting van ’n persoonlike belydenispoësie” (Kannemeyer 1984:364). Kannemeyer verwys na Opperman se Digters van Dertig waarin CM van den Heever se Deining (1932) as die eerste voorbeeld van belydenispoësie in bundelvorm vermeld word. Dit word gevolg deur WEG Louw se Die ryke dwaas (1934), NP van Wyk Louw se Alleenspraak (1935), Uys Krige se Kentering (1935) en Elisabeth Eybers se Belydenis in die skemering (1936). Verder word bundels soos Stryd (1935) en Vreemde liefde (1937) van ID du Plessis genoem as voorbeelde van ’n persoonliker biegvers1 (Kannemeyer 1984:364). Dit is noemenswaardig dat Elisabeth Eybers in 1937 haar BA Honneurs verwerf met ’n verhandeling oor “Die ontwikkeling van indiwidualisme in die Afrikaanse liriek” (Kannemeyer 1984:465). Oor die indiwidualisme kom Opperman tot die volgende slotsom:

Die versvorm van die indiwidualisme [...], soos telkens reeds geblyk het, [is] die belydenisgedig of die biegvers. Die vernuwing van Dertig is hoofsaaklik die beoefening van die belydenisvers in Afrikaans en alles wat daarmee geïmpliseer word. Daar word gestreef na die persoonlike ervaring, die onvervangbare woord, die persoonlike en deurvoelde beeld, die persoonlike stem, die persoonlike gewaarwording. (Opperman 1952:55)

2.2.2 Kenmerke van belydenispoësie

Behalwe dat die belydenisvers as vorm vir die uitdrukking van die indiwidualisme beskou word, is daar ook bepaalde tematiese verskuiwings in die werk van die Dertigers. Aldus Opperman: “Gaan ons die ‘inhoud’ van hierdie indiwidualisme na, dan vind ons intiemer en persoonliker verse as voorheen in Afrikaans” (Opperman 1952:53). Hy identifiseer drie tematiese verskuiwings:

  1. ’n Groter fokus op die liefde as ’n tema – “Die belydenisse [oor die liefde] is nog nie oral ewe openhartig nie, maar die kundige leser verstaan wel waaroor dit gaan” (Opperman 1952:53). ID du Plessis se “Vreemde liefde” is ’n voorbeeld hiervan.
  2. Twyfel in en opstand teen geloof en godsdiens – dit blyk byvoorbeeld by Toon van den Heever se “Want wie sal ons twis met God besleg?” (Opperman 1952:53).
  3. “Ook word daar, soos nog nooit voorheen by ons nie, geskryf oor die ondergrawings van die gees, oor allerlei aberrasies: die waansin, sadisme, paranoia, narcissisme en die godslasterlike – belydenisse oor die skemergebiede van die mens” (Opperman 1952:53).

Dit is veral die derde tema wat uitstaan in Leipoldt se “Op my ou ramkietjie”: “‘Halfpad mal!’ / So sê die mense / Wat my hoor speel” en “Wat gee ek om mense / Wat sê ek’s mal” (reëls 8–10;17–18). Hierdie reëls sluit aan by die “ondergrawings van die gees” wat vir die eerste keer by die Dertigers as ’n tema in Afrikaanse poësie figureer. Dit sluit ook aan by Lerner se drie kenmerke van belydenispoësie in sy bespreking van Plath se werk:

  1. Biografiese inligting in die gedig wat ooreenstem met die lewe van die digter: “First, there is the factual element: she provides plenty of biographical detail, identifies the members of her family, states the time and place of many of the episodes, not attempting to disguise the fact that all these things happened to the poet-outside-the-poems. That is one meaning of ‘confessional’” (Lerner 1987:54).
  2. Die ervarings wat in die gedig beskryf word, is dikwels negatief: “Second, there is the sordid, often degrading nature of the experiences: she confesses to pain as well as joy and (more difficult) to experiences that deprive her of dignity in her suffering – precisely what one is normally most ashamed to own up to. That is another meaning of ‘confessional’” (Lerner 1987:54).
  3. Die beelde en taalgebruik is intens en ontstellend: “And then there is a peculiar and disturbing intensity in the language, an attempt to render raw and disturbing experience through ugly and disturbing images” (Lerner 1987:54).

Hierdie twee stelle kenmerke stem tot so ’n mate ooreen met mekaar dat hulle met vrug saamgevoeg kan word om drie algemene eienskappe van belydenispoësie daar te stel:

  1. ’n Groter fokus op die liefde as ’n tema kan onder die sambreel van Lerner se “egte, biografiese gegewens” staan; met ander woorde, in belydenispoësie is daar ’n groter fokus op persoonlike temas wat biografies gegrond is.
  2. Die begrip “belydenis” verwys ook na “bely” in die sin om erkenning te gee aan ervarings waaroor ’n mens gewoonlik skuldig of skaam voel. Dit sluit in twyfel aan God en ander “ondergrawings van die gees”.
  3. Belydenispoësie word gekenmerk deur intense en ontstellende beelde en taalgebruik.

 

3. Tweede argument: Gregory oor die Amerikaanse skool

Sowel Opperman as Lerner se teoretisering kan vergelyk word met Gregory se bespreking van die Amerikaanse skool van belydenisdigters. Gregory se essay “Confessing the body: Plath, Sexton, Berryman, Lowell, Ginsberg and the gendered poetics of the ‘real’” verskyn in Modern confessional writing. New critical essays (2006) onder redaksie van Jo Gill. Dié publikasie is volgens die redakteur “[the] first comprehensive and scholarly account of this popular and influential genre” (Gill 2006:i). Sy vind die eerste gebruik van die begrip “confessional poetry” in ’n resensie wat ML Rosenthal geskryf het:

Though the term confessional poetry has been current since ML Rosenthal introduced it in a review of Lowell’s Life Studies in 1959, its definition and usefulness have been much debated. [...] To begin with a brief definition: confessional poetry draws on the poet’s autobiography and is usually set in the first person. It makes a claim to forego personae and to represent an account of the poet’s own feelings and circumstances, often by reference to names and scenarios linked to the poet. (Gregory 2006:34)

In Rosenthal se resensie beskryf hy die spreker in Lowell se bundel, met verwysing na die “gemaskerde” styl van Eliot en Pound, soos volg: “Lowell removes the mask. His speaker is unequivocally himself, and it is hard not to think of Life Studies as a series of personal confidences, rather shameful, that one is honor-bound not to reveal” (Rosenthal 1991:109). Hy sê van die digter: “He does not spare himself in these poems, at least two of which have to do with sojourns in mental hospitals and his return home from them” (Rosenthal 1991:109). Rosenthal gee dan die slotgedig uit dié bundel, “Skunk hour”, as ’n voorbeeld van Lowell se gemoeidheid met persoonlike belydenis. Vergelyk die onderstaande uittreksels uit die gedig:

Skunk hour

[...]
My mind’s not right.

A car radio bleats,
“Love, O careless Love...” I hear
my ill-spirit sob in each blood cell,
as if my hand were at its throat...
I myself am hell;
nobody’s here –

only skunks, that search
in the moonlight for a bite to eat.
[...]

I stand on top
of our back steps and breathe the rich air –
a mother skunk with her column of kittens swills the garbage
              pail.
She jabs her wedge-head into a cup
of sour cream, drops her ostrich tail,
and will not scare (Lowell 1959:83–4).

Veral die reël “my mind’s not right” herinner aan Leipoldt se reëls “‘Halfpad mal!’” en “Wat gee ek om mense / Wat sê ek’s mal” en stem ooreen met Opperman, Gregory én Lerner se karakterisering van belydenispoësie (ondergrawings van die gees / “transgressions”). Aldus Gregory: “Lowell’s Life Studies was his first volume to include numerous portraits of family members in moments of crisis, and ‘confessions’ of such personal difficulties as marital trouble and intermittent madness” (Gregory 2006:44).

Soos Opperman redeneer dat die Dertigers reageer op die skugterheid van die voorafgaande generasie digters, redeneer Gregory ook dat die Amerikaanse belydenisdigters reaktief te werk gaan: “The [confessional] mode transforms and comments upon the ‘impersonal’ poetics of the modernists who immediately preceded the confessionals” (Gregory 2006:33).

Sy karakteriseer hulle werk verder soos volg:

The work dwells on experiences generally prohibited expression by social convention: mental illness, intra-familial conflicts and resentments, childhood traumas, sexual transgressions and intimate feelings about one’s body are its frequent concerns. The transgression involved in naming the forbidden gives rise to the term ‘confession’, which, via its religious, psychoanalytic and legal associations, summons up ideas of sin, mental breakdown and criminality. (Gregory 2006:34)

Gregory lê veral klem op die kulturele konteks en redeneer dat die belydenisdigters reageer op ’n gedeelde kulturele konteks en op die styl van ’n voorafgaande generasie digters. Ook in die inleiding van Modern confessional poetry benadruk die redakteur hierdie aspek van die genre: “For most of the critics collected here, modern confessional writing is not hermetically sealed from its historical and cultural contexts” (Gill 2006:3). Op dieselfde manier begin Opperman sy bespreking oor die Dertigers ook met hulle historiese en kulturele agtergrond – wat interessant is, is dat verskillende argumente verskillende kontekste gebruik om dieselfde verskynsel te verantwoord, naamlik belydenispoësie.

By Opperman is dit die invloed van die Derde Beweging saam met die invoer van indiwidualisme uit die Romantiek en die poësie van die Tagtigers. Vir Gill, in die Amerikaanse konteks, korreleer die ontwikkeling van belydenispoësie met “new cold war cultures of privacy and surveillance, with therapy/pop psychology culture, with the falling away of modernist and ‘New Critical’ approaches to art and literature, with the rise of the television talk show and the cult of the celebrity” (Gill 2006:4). Dié tendense word deur Gill onder die sambreel van politieke onstuimigheid geplaas: “[Political upheaval] generate[s] a loss of faith in authority and society, and a retreat to the inner self” (Gill 2006:6). In Gregory se bespreking noem sy spesifiek die invloed van die psigoanalise en psigoterapie in die VSA in die 1950’s: “In developing their contrastingly ‘personal’ approach, the 1950s confessional poets utilized the methods of psychoanalysis and psychotherapy, which had only recently gained wide acceptance in the US and with which they all had direct experience” (Gregory 2006:33).

 

4. Derde argument: Weyer oor Krog en Metelerkamp

Die derde argument wat in hierdie artikel bespreek word, is Weyer se 2013-proefskrif getiteld “Confession, Embodiment and Ethics in the Poetry of Antjie Krog and Joan Metelerkamp”. Hierin redeneer sy dat die Suid-Afrikaanse digters Joan Metelerkamp en Antjie Krog (spesifiek haar Engelse poësie) se werk sterk beïnvloed is deur die onstuimige politieke konteks van Suid-Afrika in die 1990’s. Hierdie argument is onder andere gegrond in Krog se betrokkenheid by die WVK. Volgens Weyer:

[I]n accordance with its historical and geographical context, the confessional poetry of Antjie Krog and Joan Metelerkamp – both of whom were, in different ways, watching and invested in the TRC process, as can be seen in their poetic (and prose) responses to it – engages more with the TRC’s understanding of confession, while also drawing on and responding to the confessional poetry of the 1950s and 1960s in the US. (Weyer 2013:41)

Verder is Weyer van mening dat sowel Krog as Metelerkamp beïnvloed is deur die Amerikaanse skool van belydenisdigters en dat daar kontekstuele ooreenkomste is tussen die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse belydenisskole:

[I] will discuss the historical context in which [the American] school emerged, and then propose that there are significant parallels between the contextual emergence of this school and the context of South Africa in the 1990s and 2000s, which gave rise to an outpouring of confessional literature within which Krog’s and Metelerkamp’s poetry can be situated. (Weyer 2013:35)

Volgens haar kan belydenispoësie beskou word as ’n reaksie op ’n spesifieke Amerikaanse oomblik:

The emergence of a confessional school of poets can thus be seen as a response to the specific socio-economic and political context of the 1950s and 1960s in the US: post-WWII consumerism-driven economic growth; international political involvement in the nuclear-fueled cold war and the domestic repercussions of this. (Weyer 2013:54–55)

In haar bespreking beaam Weyer Gregory se argument dat die opkoms van belydenispoësie verband hou met breë ontwikkelinge in die moderne Westerse kultuur:

While participation in psychoanalysis is waning, its emphasis on verbalization has spawned a tell-all culture, visible not only in the ubiquitous television and radio talk shows, but also in the more recent proliferation of blogs, social networking sites that often function as sites of self-exposure (for example, Facebook, Twitter). (Weyer 2013:37)

Behalwe die breë ontwikkelinge bring sy dit ook in verband met die spesifieke Suid-Afrikaanse konteks van die 1990’s:

Confession is thus a historically and geographically situated activity. It is dialogic, ritualized and imbued with power differentials. However, while in the history of the Renaissance and the development of a modern Western subjectivity, it is understood as a mechanism which produces the autonomous self, in the recent South African context of the TRC, it is understood as a means of re-emphasizing and extending relational and communal subjectivity. (Weyer 2013:41)

Alhoewel Krog duidelik beïnvloed is deur die sosio-politieke situasie in Suid-Afrika en veral die WVK, is dit ook waar dat sy ’n erfgenaam is van die lang geskiedenis van belydenispoësie in die Afrikaanse kanon.

 

5. Slot

In al drie besprekings van belydenispoësie wat hier gegee is, word geredeneer dat die historiese en kulturele kontekste aanleiding gegee het tot die opkoms van belydenispoësie – veral die politieke situasie word beklemtoon en die feit dat belydenis as ’n reaksie op die vorige generasie se digters gesien kan word. Waar Opperman fokus op Afrikaanse poësie in Suid-Afrika in die 1920’s en 1930’s, fokus Gregory op Amerikaanse poësie in die 1950’s en 1960’s en Weyer kyk na twee Suid-Afrikaanse belydenisdigters wat publiseer in die 1990’s en vroeë 2000’s. Terwyl Opperman en Gregory fokus op breër kulturele bewegings en verskuiwings, fokus Weyer op die impak van ’n spesifieke gebeurtenis, naamlik die WVK, op twee Suid-Afrikaanse digters. Weyer identifiseer raakpunte tussen die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse kontekste terwyl die konteks waarin Afrikaanse belydenispoësie tot stand kom, heelwat anders lyk. Om Lerner se vraag weer by te bring: Kan die oorsprong van belydenispoësie met ’n spesifieke tyd en plek geassosieer word of is dit eerder ’n onderafdeling van liriese poësie? Lerner onderskei tussen twee moontlike definisies van liriese poësie: een wat die etimologie van die woord benadruk en liriese poësie beskou as poësie wat gesing kan word en ’n tweede definisie wat die liriek beskou as ’n persoonlike gedig of die uitdrukking van persoonlike gevoel in poësie (Lerner 1987:46). As liriese poësie die uitdrukking van emosie is, is belydenispoësie die uitdrukking van sulke spesifieke emosies soos skuld en skaamte. Verder kan die reaksie op die voorafgaande generasie digters dan beskou word as die ontginning van daardie emosies wat deur die ouer, skugter digters vermy is. Lerner maak ’n saak uit vir die verband tussen belydenispoësie en skaamte:

Confession is something that causes us shame. Real confession will cause shame because we have done wrong, confessional poetry deals with experience that it is deeply painful to bring into public, not because it is disgusting, nor because it is sinful, but because it is intensely private. Which experiences cause this shame changes as the culture changes, but shame itself is a universal experience. (Lerner 1987:64)

Daarom kom Lerner tot die gevolgtrekking dat “however much people have changed about what causes them shame [...] I suggest that lyric poetry was never wholly detachable from confession” (Lerner 1987:66) – vir hom is belydenispoësie onlosmaaklik deel van liriese poësie en is die vernuwende aard daarvan bloot as gevolg van ’n kulturele verskuiwing in die tipe onderwerpe wat met skaamte geassosieer word. Belydenispoësie is liriese poësie, oftewel poësie waarin uitdrukking gegee word aan persoonlike gevoel, met ’n spesifieke fokus op die emosies van skuld en skaamte. Alhoewel dit duidelik beïnvloedbaar is deur die konteks, is dit nie noodwendig verbonde aan ’n spesifieke historiese oomblik nie.

 

Bibliografie

Brink, A.P. 2008. Groot verseboek. Deel 1. Kaapstad: Tafelberg.

Dekker, G. 1958. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasou Bpk.

Gill, J. (red.). 2006. Modern confessional writing. New critical essays. New York: Routledge.

Gregory, E. 2006. Confessing the body: Plath, Sexton, Berryman, Lowell, Ginsberg and the gendered poetics of the ‘real’. In Gill (red.). 2006.

Jonckheere, W.F. 1988. Vernuwing van Tagtig. In Van der Elst, Ohlhoff en Schutte (reds.). 1988, ble. 259–81.

Kannemeyer, J.C. 1984. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band 1. Pretoria, Kaapstad: Academica.

Lerner, L. 1987. What is confessional poetry? Critical Quarterly, 29(2):46–66.

Lowell, R. 1959. Life studies. New York: Vintage Books.

Opperman, D.J. 1952. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasou Bpk.

Rosenthal, M.L. 1991. Our life in poetry: Selected essays and reviews. New York: Persea Books.

Van der Elst, J., C.H.F. Ohlhoff en H.J. Schutte (reds.). 1988. Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria, Kaapstad: Academica.

Weyer, C.L. 2013. Confession, embodiment and ethics in the poetry of Antjie Krog and Joan Metelerkamp. Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

 

Eindnota

1 By hierdie belydenispoësie sluit ook Hettie Smit se belydenisroman Sy kom met die sekelmaan (1937) aan (Kannemeyer 1984:364).

 

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top