’n Verhaal van twee maritieme tragedies

  • 3
 

Foto: Unsplash

Op 14 Junie sink ’n oorlaaide vissersboot nie ver van Messinia in die Griekse eilande nie. Aan boord is na raming 750 persone, almal vlugtelinge en asielsoekers wat die gevaarlike reis onderneem omdat die risiko laer is as om te bly waar hulle vandaan kom.

Hierdie vlugtelinge kom van Sirië, Pakistan, Afganistan, Egipte en Palestina. Sommige vlug van oorlog en onderdrukking, sommige van armoede, almal met die hoop van ’n beter lewe in Europa. Hulle het nie genoeg geld gehad om op ’n vliegtuig te klim, of die regte kontakte of vaardighede om Europa op wettige wyse binne te gaan nie.

Ons weet nie veel van hulle nie. Hulle het waarskynlik in Libië op die boot geklim. Hoe hulle daar gekom het, is onseker, maar hulle sou alreeds vele gevare getrotseer en beproewinge deurgemaak het. Ek kan my tonele indink waar ma’s op die strand hulle kinders bymekaar probeer hou, bang en onseker oor die vreemde mense rondom hulle. Hulle sou wonder of hulle die regte ding doen, of dit nie tog maar beter sou wees om terug huis toe te gaan nie. Ten minste ken hulle mense daar. En iewers in daai tyd op die strand sou hulle besef daar is niks om na terug te gaan nie. 

.....
Hulle moes besef het hulle klim in ’n drywende doodskis, met geen ander opsie as om maar die risiko te aanvaar nie.
.....

Het hulle genoeg kos gehad vir die reis? Was die kinders warm genoeg aangetrek? Moes hulle baklei om aan boord te kom? Het hulle hulle laaste geld uitgegee, dalk skuld aangegaan, om ’n plek op die boot te koop? Ons weet nie. Uit foto’s wat geneem is voor die boot gesink het, weet ons wel spasie was beperk. Hulle was soos sardientjies ingepak. Hoe wanhopig hulle was toe hulle die skare sien wat op daai boot moes kom, kan ek my net indink. Hulle moes besef het hulle klim in ’n drywende doodskis, met geen ander opsie as om maar die risiko te aanvaar nie.

Ongeveer 104 is gered. Rondom 78 liggame is gevind. En die res, onder wie minstens 100 kinders? Niemand weet nie. Hulle word vermis. Dalk het hulle saam met die boot gesink. Die kanse dat almal daarin kon slaag om na veiligheid te swem, is bitter skraal. Daar is in ieder geval nie meer ’n soektog na oorlewendes nie.

.....
Ons kan ons net indink wat die mense aan boord van die boot moes deurmaak, want ons het nie die inligting oor wie hulle was nie.
.....

Ons kan ons net indink wat die mense aan boord van die boot moes deurmaak, want ons het nie die inligting oor wie hulle was nie. Die armes sal altyd met ons wees, en net die feit dat so baie van hulle op een slag sterf, want hulle kon onmoontlik almal oorleef, maak hulle merkwaardig. Die Internasionale Organisasie vir Migrasie noem hierdie die mees tragiese insident in Mediterreense waters in amper ’n dekade. In April 2015 het 1 100 aan die kus van Libië gesterf.

.....
Die Internasionale Organisasie vir Migrasie noem hierdie die mees tragiese insident in Mediterreense waters in amper ’n dekade. 
.....

Vier dae nadat die vissersboot gesink het, word daar berig dat ’n duikboot met vyf miljardêrs aan boord kontak met die moederskip verloor het. Elkeen het ’n kwartmiljoen Amerikaanse dollar (vier en ’n half miljoen rand) betaal om die wrak van die Titanic in die Noord-Atlantiese Oseaan te besigtig. Vyf verskillende agentskappe van beide die VSA en Kanada, asook ’n Franse navorsingskip het vir vyf dae alle beskikbare hulpbronne gebruik om die miljardêrs op te spoor en te red. Die soektog het ongeveer 25 900 vierkante kilometer gedek. Die reddingspoging het na raming etlike miljoen dollar gekos, alhoewel amptelike bedrae nie genoem is nie. Uitgebreide nuusdekking op alle moontlike media duur steeds voort.

.....
In beide gevalle was die tragedies algeheel voorkombaar en kan dit toegeskryf word aan geldgierigheid tesame met ’n gebrek aan respek vir reëls.
.....

Die ooreenkomste tussen die twee tragedies is treffend. In beide gevalle is die kanse om liggame te vind, skraal. In beide gevalle was die tragedies algeheel voorkombaar en kan dit toegeskryf word aan geldgierigheid tesame met ’n gebrek aan respek vir reëls. In die asielsoekerstragedie moes die bootkaptein getalle beperk het en met ’n kleiner profyt tevrede gewees het, maar seker gemaak het sy passasiers kom veilig by hul bestemming aan. In die duikboottragedie moes die eienaar van die duikboot seker gemaak het dat sy vaartuig van die beste moontlike materiaal vervaardig is om sy passasiers se veiligheid te verseker. In beide gevalle het groter winste die besluit om met onveilige praktyke voort te gaan, beïnvloed.

.....
Hoekom was daar so ’n skreiende verskil in nuusdekking en belangstelling onder die breë publiek tussen die twee tragedies? Daar is nie ’n eenvoudige antwoord nie.
.....

Hoekom was daar so ’n skreiende verskil in nuusdekking en belangstelling onder die breë publiek tussen die twee tragedies? Daar is nie ’n eenvoudige antwoord nie.

Die onvermydelike afleiding wat gemaak kan word, is dat skatrykes se lewe meer waardevol en interessant, meer nuuswaardig geag word as dié van die groot gros armes. Groter empatie word getoon en meer hulpbronne word aangewend om rykes gemaklik te hou en hulle te beskerm. Kyk maar na die wyse waarop, in ander kontekste, ryk mense meer gereeld komplimentêre items ontvang terwyl hulle kan bekostig om daarvoor te betaal. Arm mense? Wanneer was die laaste keer dat arm mense goed gratis ontvang het en dit nie as “liefdadigheid” afgemaak was nie?

.....
Om arm te wees is ’n klad wat lewens maak of breek.
.....

Die skeefgetrekte waardeoordele tussen ryk en arm is nie net beperk tot nuusdekking nie. Die media is maar net ’n simptoom van ’n veel groter gebrek aan empatie. Om arm en weerloos, afhanklik van die goedheid van ander te wees, word beskou nie net as ’n skande nie. Dit word as weersinwekkend beskou. Om arm te wees is ’n klad wat lewens maak of breek.

As die asielsoekersboot rykes aan boord gehad het, sou die soektog na oorlewendes steeds voortgeduur het, of pogings om liggame te vind sou meer intensief wees. Dit sou nie beperk wees tot die Griekse kuswag nie, maar die Europese Unie sou alle hulpbronne aanwend om die reddingspoging te befonds.

Dit het nie gebeur nie, want arm lewens is goedkoop. Arm mense maak die rykes ongemaklik, omdat hulle gekonfronteer word met hul eie gemaklike lewe en voorregte. Veel eerder ’n naamlose ongemerkte massagraf in die water.

Wie weet, dalk kan daar oor 40 jaar ’n duikboot na die wrak van die gesonke vissersboot gaan soek? Daar is immers altyd ’n mark vir ramptoerisme.

  • 3

Kommentaar

  • Baie waar en mens mag ook nie die saak kritiseer of grappies daaroor maak nie. Mense wil in vrede prins Harry se boek lees, na die Kardashians kyk, Taaitenniek obsessies uitleef en so aan en so meer.

  • Driekie Stander

    Baie tragies inderdaad. Baie goed bewoord, Bettina. Ek ken self armmoede en wat dit aan 'n mens doen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top