’n Vergelykende studie van minderheids- en etniese politiek in China en Suid-Afrika: ooreenkomste en verskille

  • 1

1. Inleiding

Hierdie studie is ’n vergelykende studie van die erkenning van taal- en/of etniese minderhede in die staatkundige instellings van die Chinese Volksrepubliek (sedert 1949) en die Suid-Afrikaanse staatsopset sedert die segregasie-, apartheids- en afsonderlikeontwikkelingsbeleide wat ingevolge die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 finaal afgeskaf is. Enkele verwysings word ook na die Britse koloniale beleide van indirekte bestuur in stamgebiede in Afrika gemaak.

In die kommunistiese wêreld is die datum 1989 van besondere belang, want die val van die Berlynse Muur en die Tiananmenplein-opstand in Beijing het feitlik gelyktydig in dieselfde jaar plaasgevind. Die opstand is in China onderdruk terwyl Deng Xiaoping monderniseringsbeleide begin het.

In Suid-Afrika was voorsiening gemaak vir die erkenning van swart grondgebiede ingevolge wetgewing van 1913 (die Naturellen Grond Wet) en 1936 (die Bantoetrust en Grond Wet). Stam-, streeks- en gebiedsowerhede is vir elke swart etniese tuisland ná 1951 (die Wet op Bantoe-owerhede) ingestel en erken. Uiteindelik het Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei vanf 1963 “onafhanklik” geword ingevolge Suid-Afrikaanse staatsreg. Dit het gegeld tot in 1996, toe ’n nuwe demokratiese grondwet alle tuislandstrukture, behalwe stamowerhede, tot niet verklaar het. Op dié vlak is inheemse reg mbt privaatregtelike sake soos huweliksluiting en grondregte steeds geldig. Konings van opperhoofde bestaan steeds in voormalige tuislande soos KwaZulu, Qwaqwa, KwaNdebele, Ciskei en Transkei.

2. Die situasie in China (kyk Figure I en II aan die einde van die teks)

Daar is iets geheimsinnigs omtrent die Chinese. Hulle het ’n lang dinastiese en imperiale geskiedenis in Noordoos-Asië en het al met talle buurstate gebots. Die bure in die noorde is Rusland en Mongolië; in die noordweste is dit Kazakstan, Kirgistan, Tadjikistan en Afghanistan; in die weste is dit Pakistan (al die “-stans” is Moslemrepublieke); in die suide is dit Nepal, Bhoetan, Indië, Bangladesj en Birma (die meeste hiervan is Hindoe en Boeddhisties).

Die lang oosgrens van China is die kuslyn wat strek vanaf Japan in die noordelike Geel See tot by Taiwan in die Suid-Chinese See. Vanuit ’n Chinese oogpunt gesien is daar veral twee probleemgebiede en dit is die Republiek van Taiwan, wat nie deel van die Volksrepubliek wil wees nie en die veelrassige stadstaat van Hongkong.

Hierbenewens is daar voortdurende spanning tussen van die Volksrepubliek se sogenaamde outonome streke, soos Tibet, en die Tibettaanse geestelike leier (die Dalai Lama) en die Beijing-regering, en daar is gerugte van die onderdrukking van die Moslems en die Uighoer-mense in die noordweste. Daar is ook spanning tussen Hongkong, wat vir lank – sedert 1842 – ’n Britse kolonie was en wat in 1997 aan China teruggegee is. Hongkong het tydens die Britse bewind gesofistikeerde finansiële bestuur met wêreldklasbanke tot stand gebring.

Tydens die lang imperiale geskiedenis – tot in 1949 – het China ’n unieke Asiatiese nasie geword wat nooit in die volkekundige sin van die woord ’n enkele volkstaat was nie. Dit was altyd ’n heterogene nasie wat uit 55 etnisiteite bestaan, maar met gesentraliseerde kommunistiese leierskap. Die dominante groep was altyd die Han, wat 92% van die bevolking uitmaak, en wat verskeie variante van Chinees (waaronder Mandaryns (gebaseer op die dialek van Beijing), Kantonees en Hakka) praat. Hulle was altyd aan bewind. Die ander 8% van die bevolking bestaan uit 54 etniese minderhede, wat ideaal is vir “verdeel en heers”-politiek, soos die Tibettane, Mongole, Uighoers, Zhoeang, Kantonese, Mantsjoeryers, Ningxiane en Koreane. Hierbenewens is daar minstens vier godsdienste in China: Daoisme, Boeddhisme, Islam en Christendom. Dis ’n smeltkroes, ten spyte daarvan dat hulle ook ’n teiken van godsdienstige taalkundige onderdrukking en sinofisering sedert 1949 is.

Die totalitêre strukture van Chinese kommunisme het die toepassing van sulke etniese beleide onder sentrale leierskap vergemaklik. Die ingeboude meerderhede van die Han en die wêreldstatus van Mandaryns, as een van die grootste tale op aarde, het dit vergemaklik. Nieteenstaande hierdie probleme het China – en Rusland – se aansien in die Derde Wêreld ná dekolonisering drasties toegeneem, ook in Afrika.

’n Wedywering het tussen postkommunistiese Rusland en kommunistiese China in Afrika ontstaan. Dié wedywering bestaan nog steeds en alhoewel ’n wenner nog nie aangewys kan word nie, loop China ver voor Rusland in dié stryd om aansien in Afrika. Dis ’n nuwe soort neokoloniale stormloop gemik op grondstowwe en markte. China is by verre ook die grootste investeerder in Afrika, veral mbt infrastruktuurprojekte soos die Tazara-spoorlyn, militêre investering in Djiboeti, hidroëlektriese investering in verskeie Afrikastate, en die bevordering van Mandaryns aan verskeie Afrika-universiteite.

3. Wat maak die Chinese anders?

Eerstens is dit ’n gegewe dat Chinese langtermynbeplanners is; dat hulle streng gesagslyne respekteer; dat hulle steeds die waardes van die Westerse liberale demokrasie verwerp, maar nogtans die kapitalistiese Westerse waardes van wins, risiko en kompetisie goed verstaan en sinvol implementeer. Die grondlegger hiervan was Deng Xiaoping en nie Mao Zedong nie. Afrika het ook ’n belangrike mark vir die afset van Chinese handelsprodukte geword waarin die netwerke van “Chinatowns” orals in Afrikastede en -dorpe ’n belangrik rol speel.

Wat Afrika betref, is dit inderdaad, soos hier bo vermeld, ’n vorm van neokolonialisme, maar sonder die grondgrype van destydse Westerse kolonialisme wat sterk geassosieer was met Von Bismarck se Berlynse Konferensie (1884/5) wat reëls vir die besetting en besitting van alle Afrikakolonies deur Westerse moondhede uitgeklaar het.

Nóg Rusland nóg China het aan die Berlynse Konferensie deelgeneem. China en Rusland het dus nooit koloniale imperialisme probeer vestig nie. Tog is daar merkwaardige ooreenkomste tussen die Chinese se veelvolkige beleide in China self en veral die Britse beleid van indirekte bestuur om stamowerhede tydens kolonialisme vir doeleindes van staatsbestuur te erken. Die Verwoerdiaanse apartheidsregering se beleid van tuislandontwikkeling het sterk elemente van die bovermelde Britse benadering bevat. Soos in Kenia, Zambië en Zimbabwe was die bewindhebbers in die apartheidsjare altyd ’n minderheid wit mense, terwyl die meerderheid swart groepe uitgesluit was. In China was, en is, die situasie anders, want die regerende Han/Mandaryne was nog altyd ’n meerderheid.

Suid-Afrika het in 1910 as Unie – nie ’n federasie nie – onafhanklik geword. Die destydse Naturelle Trust en Grond Wet van 1913 het afsonderlike “swart” en “wit” gebiede tot stand gebring: 13% is vir swart mense en 87% vir die res – lees “blankes” – gereserveer.

Suid-Afrika het ’n Sharpeville opgelewer (1961) wat ’n draaipunt in die geskiedenis was. So ook was die val die Berlynse Muur in 1989 ook ’n draaipunt vir Russiese invloed in Oos-Europa. Vir die Chinese kon die Tiananmen-opstand, ook in 1989, so ’n draaipunt gewees het, maar in ’n totalitêre staat soos die Volksrepubliek van China was dit oënskynlik in orde om die opstand hardhandig te onderdruk en China het sonder internasionale sanksies daarmee weggekom. Onder Deng Xiaoping is gepoog om ’n Leninistiese en kapitalistiese stelsel te vestig. Dit klink onmoontlik, maar China het dit reggekry.

In China is daar sedert 1949 voorsiening gemaak vir vyf outonome streke, met beduidende etnisiteite, wat soos ons destydse tuislande “outonome” status verkry het.

4. Ekonomiese hervormings in China

Ekonomiese hervormings is ná die tydperk van Mao Zedong deurgevoer. Wat egter ook nie verander het nie, is die tipiese Chinese denkwyse soos die volgende: Beplan langtermyn, respekteer enige owerheid, en verwerp die robuustheid van liberale demokrasie. Maar wat hulle wel by die Weste geleer het, is kapitalistiese metodes soos hier bo aangedui. Chinese invloed deur middel van direkte Chinese investering in Afrika het dramaties toegeneem. Die fokus het op infrastruktuur soos treinspore, padwerke en hidroëlektrisiteit geval. Dit is egter nie altyd in vennootskap met Afrikaregerings en korporasies nie, maar ook deur die vestiging van Chinese kleinhandelaarsnetwerke (“Chinatowns”) in Afrikastede en -dorpe dwarsoor die kontinent. Dit is inderdaad ’n oorgang van die Leninisme na die outoritêre kapitalisme van Gorbatsjof (in Rusland) en latere leiers soos Deng Xiaoping, Hu Jintao en Xi Jinping in China, wat ook ’n lid van die Wêreldhandelsorganisasie geword het. Vanuit ’n Westerse perspektief is daar egter nog één groot swakheid in China en dit is dat die middelklas slegs 10–15% van die bevolking uitmaak. Dit bemoeilik enige politieke oorgang van totalitêr na outoritêr en uiteindelik volle demokrasie.

Die bekende Amerikaanse professor Barrington Moore stel dit onomwonde: “No bourgeoisie, no democracy.” Met ’n per kapita-inkomste van $4 260 het China nog ’n lang pad om te loop voor die $6 000-drempel bereik word wat volgens Adam Przeworski as “genoegsaam” vir demokratiese konsolidasie beskou word. Botswana ($6 790) en Suid-Afrika ($6 060) voldoen daaraan, maar nog nie China nie.

Die Chinese per kapita-inkomste van $4 260 lê wel bokant Zimbabwe s’n, maar is steeds onder Suid-Afrika en Botswana s’n. In China is die middelklas ook nog nie groot genoeg nie en die miljoene landelikes ook nog te arm. Daar is ook nog geen sprake van veelpartydemokrasie op sentrale en provinsiale/streeksvlakke nie. Plaaslike bestuur op die munisipale vlak is wel verkose, maar nie op ’n veelpartybasis nie.

5. Etniese onstabiliteit?

Die elitistiese Mandarynssprekende regerende Han-volk regeer steeds met ’n ferm hand. ’n Voorbeeld hiervan is die hardhandige manier waarop die onlangse proteste onder die Uighoer van die Xinjiang-streek (wat oorwegend Moslems is) onderdruk is. Die Boeddhistiese Tibettane was alreeds hardhandig onderdruk. Die vervolging van die Dalai Lama (geestelike leier) van die Boeddhiste van Tibet vind steeds plaas.

Die andersoortigheid van die Volksrepubliek van China word beklemtoon deur die feit dat die land, anders as die meeste ander state, etnisiteit en minderheidspolitiek openlik bedryf, ook dat hulle taalbeleid Mandaryns openlik bevorder ten koste van die ander (minderheids)tale. Dit dui op vermandarynsing en sinofisering van die taalbeleid, net soos daar in Suid-Afrika ’n verengelsingsproses plaasvind.

Die grootste verskil tussen China en die pre-1996-bedeling in Suid-Afrika is egter dat die dominante Han 92% van die bevolking steeds reg teenoor ’n wit minderheid in Suid-Afrika staan. Sedert die implementering van Suid-Afrika se nuwe Grondwet van 1996 het minderheidsregte plek gemaak vir “nierassigheid” op die basis van veelpartyverkiesings. Enige korrelasies met ras, en taal en etnisiteit het bloot toevallig geword.

In die geval van China vind veelpartyverkiesings steeds nie plaas nie. Daarom is China steeds nie ’n demokrasie nie, maar ’n markgedrewe kommunistiese staat. Kyk Figuur I en II hier onder waaruit dit blyk dat etnisiteit, godsdienste en regeringsinstellings merkwaardig korreleer.

Figuur 1:

Figuur 2:

Willie Breytenbach
Emeritus professor, Universiteit Stellenbosch

  • 1

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    'n Merkwaardig onrusbarende nabootsing pryk in die US se bloudruk na uitnemendheid in hul werkswyse en organogram, 'n volksuniversiteit verskyn voor die MRK. Die vraag is eerstens of Afrikaners nog mense is en, indien wel, of hulle enige regte behoort te hê. Democracy must fall, but not for all.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top