’n Spook in die huis deur Francois Loots: ’n lesersindruk

  • 0

’n Spook in die huis
Francois Loots
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN 9781415210055

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

’n Spook in die huis is Francois Loots se sewende roman. Volgens Loots is die boek “grootliks beïnvloed deur ’n verskeidenheid hoofsaaklik Engelstalige akademiese studies oor tegnologie en veranderinge in die mediawêreld” (263). Daarby verklaar Loots dat hy ook baie verskuldig is aan die modernisme asook die Duitse skrywer Franz Kafka. Van Franz Kafka weet ek niks nie, maar die modernisme het ek al van gehoor. Dit is natuurlik ’n vorm van periodisering – ’n gebruik wat vir my niks minder as ’n nagmerrie is nie, en waarom ek wye draaie loop. Die kopseer met periodisering, behalwe dat dit ’n lekker kunsmatige glans het, lê vir my veral by die feit dat historici verskillend periodiseer as sê byvoorbeeld die beeldende kunste, of as musici, of letterkundiges, of argeoloë (geoloë vat die koek). Soms is daar ’n losse verband tussen die maniere waarop die verskillende dissiplines periodiseer, en ek neem aan dat die modernisme waarvan hier gepraat word verwys na die tydperk van die industriële revolusie en daarna.

Die literêre modernisme behels, soos ek verstaan, ’n wegbeweeg van formele struktuur, waar letterkunde meer as ’n denkstroom aangebied is, in teenstelling met ’n verhaal met ’n duidelike begin, middel en einde. Vir die historikus is die moderne era sinoniem met die protestantse hervorming en die einde van feodalisme. En daarmee saam, die opkoms van die wetenskap en tegnologiese vooruitgang. Die mens is na bewering in die moderne era beskou as die beskikker van sy eie lot, en die rol van god is gereduseer, en daarmee saam die bonatuurlike. Hierin het die Darwinisme en die evolusieleer geen geringe rol gespeel nie. Enigiemand wat egter die moderne era wil verromantiseer as ’n era van groot menslike prestasie, moet ook Charles Dickens (1812–1870) lees, en die euwels van kinderarbeid waaraan dit gekenmerk was, net om darem die skadukante te sien. En laat staan nog globale verwarming en die verlies aan biodiversiteit. Maar die literêre modernisme moet skynbaar nie heeltemal verwar word met die moderne era van die historici nie.

Dit is wel kenmerkend van ’n Spook in die huis dat daar nie die tipiese struktuur van begin, middel en einde is, met groot keerpunte in die verhaal nie. Maar uit die titel kan reeds blyk dat die bonatuurlike moontlik ’n rol speel. Tensy dit ander soort “spoke” is wat hier ter sprake is, soos duiwels van die gemoed. Wel, dié is daar ook. Maar nee, spoke speel wel ’n rol in hierdie boek, en so ook god, hoewel dit in die vorm van ’n tentprediker is – nie die formele derduiwel nie. Die hele boek speel af in die Kaapse Skiereiland en die narratief wissel tussen twee hoofkarakters, ene De Villiers, wat bedags vir die regering werk en snags in die “skaduwêreld” van sadomasochisme doenig is, en dan Paul, wat in die uitgewersbedryf werk, maar drome koester om ’n bakker te wees.

Die boek word baie aanloklik aangebied. Die titel prikkel die verbeelding; so ook die buiteblad en flapteks. Maar al die laasgenoemde kan maklik die verkeerde indruk wek. Die boek lees moeilik en is nie besonder boeiend nie. Dit was van meet af aan my ervaring. So wil die duiwel dit ook hê dat ek so ’n kwart deur die novelle die koerant sal oopslaan en ’n uiters onvleiende resensie sien van dieselfde boek deur ene Jonathan Amid. Volgens Amid oortuig Loots se spoke nie en het die boek hom koud gelaat: “In plaas van melodieë en harmonieë beur dieselfde drie akkoorde tot vervelens toe.”1 Maar gedagtig aan die modernisme, was dit moontlik dalk ook juis die plan van die skrywer. Hoe sal ek weet? Die modernisme het immers juis minder van ’n formele struktuur.

Die berugte Dewani-saak word deel van die boek deurdat Anni Dewani as spook aan De Villiers verskyn. De Villiers worstel met Anni se verskyning aan die een kant, en word ook besig gehou met persoonlike tragedie aan die ander. Tussendeur is daar die onderwêreld van die sadomasochisme, wat Div deur middel van ’n webtuiste bedryf. Hy is bekend as ’n “meester”, en mense kom selfs van ver af om van sy dienste gebruik te maak. Ook oor hierdie aspek van die roman is Amid krities en beskryf die uitbeelding van die fetisjpraktyke as “futloos”. En ek weet nie of ek daarmee sal kan stry nie.

Periodisering help my nie veel om letterkunde te verstaan nie. Die erodering van struktuur is immers ook ’n kenmerk van die postmodernisme. Die bonatuurlike en god in sy alternatiewe vorme stap ook gemakliker by die postmoderne agterdeur in, aangesien die sekerhede van die mens se eie vermoë mos ’n bietjie daarmee heen is. Mens sou ewe maklik die boek met ’n postmoderne bril kon lees as periodisering vir jou belangrik is. Vir my is dit net ’n jammerte dat ’n Spook in die huis die heel eerste boek is van Loots wat ek onder oë kry, aangesien daar baie lof vir sy vorige pogings is. Ek moet my ongelukkig by ander kritici aansluit deur te volstaan daarby dat die boek moeilik lees, en ietwat van ’n teleurstelling is. Die geluk by die ongeluk is dat ek nie ’n professor in letterkunde is nie, en dat my mening so goed is soos enige ander mens op straat s’n. Ek hoop ek kry iewers tyd om van Loots se ouer boeke te lees.  

1 “Boek se fantastiese gegewens bly agter wasige sluier” in Volksblad, 13 Mei 2019, bl 7.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top