Die gevoelswêreld van die jong skrywer – 'n soektog

  • 1

In 1966 verskyn Herinnering se wei – Afrikaanse skrywers oor hulle jeug by Afrikaanse Pers-Boekhandel. Riana Scheepers en Leti Kleyn stel ’n soortgelyke publikasie saam wat later dié jaar by LAPA Uitgewers sal verskyn.

Gepubliseerde skrywers word genooi om jeugherinneringe binne die bestek van 2 500–3 000 woorde op te skryf en met ’n foto uit hulle kinderjare toe te lig.

Maar hoe lyk die prente van die geheue? Is die grepe gedagtes wat mens onthou ooit werklik? Hoe skryf mens dit neer en waarom? Leti Kleyn en Riana Scheepers vertel vir Naomi Meyer van die samestelling van die boek en vertoon ook hul geheueflitse.

NM: Waar kom die idee vandaan om 'n boek saam te stel oor skrywers se jeugherinneringe?

LK: Soms raak mens so verlief op ’n boek dat jy self ook so een wil maak. Ek het Herinnering se wei in ’n tweedehandse boekwinkel raakgeloop toe ek ’n keer in George se tweedehandse winkels rondgekrap het vir een van my skoolbiblioteekprojekte. Ek was dadelik meegesleur én smoorverlief. En ek het daar in die gastehuis op my bed een middernag besluit dat ek ook so 'n boek wil maak.

RS: Dit is altyd fassinerend om te weet hoe talentvolle en suksesvolle mense hul kinderjare en jeug ervaar het. Volgens navorsers is die meeste genieë se kinderjare traumaties. (Nie dat dit 'n voorwaarde is nie!) Ek dink dat veral skrywers, wat die lewe besonder gevoelig ervaar, besonderse kinders was. Om 'n blik te kry na daardie gevoelswêreld van die jong, onontdekte skrywer, is 'n poort na die werk van die volwasse kunstenaar. Toe Leti gevra het of ek saam met haar wil werk aan só 'n boek met jeugherinneringe, toe sê ek dadelik JA!

NM: Wat beteken "jeug" vir elkeen van julle? Is dit noodwendig gekoppel aan ouderdom?

LK: Ek het altyd baie idees gehad oor wat ek wou doen voor ek ’n sekere ouderdom bereik, maar nou kan ek kwalik onthou presies hoe oud ek regtig is.

RS: Jeug is 'n staat van verwondering en onskuld en oorgawe aan die wonderwerk van elke gebeurtenis en ontdekking van elke sintuig - daardie wonderlike fase in 'n mens se lewe voordat die harde lewe toeslaan. Party kinders word noodgedwonge gouer groot, party grootmense bly ewig verwonderd met die lewe.

NM: Is mens in staat om 'n ware geheuebank met so 'n boek te skep, of raak herinneringe in storievorm nie noodwendig fiksie in die hande van 'n skrywer nie?

LK: Ek is deesdae in my voorgraadse kursus weer gekonfronteer met die konsep "persoonlike narratief". Laas Desember het ek in die Tankwa agter stories aangery en toe vir my lewensmaat in besonderhede vertel hoe vreemd dit is om ’n lang tyd te spandeer in 'n plek waar daar eintlik niks is nie. Toe ek hom hierdie afgelope Desember saamneem, toe is hy stomverbaas oor hoe ek die plek aan hom beskryf het, omdat hy meen dit ís ’n afgeslote gemeenskap, maar "niks" is nie sy beskrywing nie. Jy het die reg om jou verhaal te vertel soos dit uit jou ervaring spruit, want dit is jou verhaal. Hoe presies die skrywers van hierdie samestelling gaan vertel, sal ons moet sien, want almal weet dat waarheid nie goeie fiksie waarborg nie ... en dan is daar nog die kwessie dat fiksie vreemder as waarheid is.

RS: Beide gaan gebeur. Omdat dit 'n persoonlike narratief is, gaan herinneringe in 'n geheuebank gevestig word. Dit mag uitsonderlike gegewens wees wat die storie interessant sal maak, maar 'n doodgewone gebeurtenis of ruimte-tekening gaan in die hand van die goeie skrywer ook 'n uitsonderlike verhaal word.

NM: Afrikaans en die verlede is komplekse temas in Suid-Afrika. Beoog jul net om Afrikaanse bydraes te ontvang, of hoe gemaak met ander tale en perspektiewe in die land?

LK: Op die oomblik fokus ons slegs op gepubliseerde Afrikaanse skrywers. Dit sal interessant wees om te sien wat hulle onthou, bereid is om te boekstaaf en graag wil vertel. My kinderjare en my menswees is beslis nie gevorm in ’n tradisionele Afrikanerhuis nie; dit is waarskynlik waarom ek nou nog in townships rondgaan en aktief wil werk in gemeenskappe wat buite my eie kultuur is. Dit boei my, dit trek my soos ’n magneet. En wie weet ... as hierdie projek suksesvol is, word dit dalk ‘n groter projek wat oor taal- en kultuurgrense heen strek.

RS: Ons soek Afrikaanse verhale vir hierdie boek. 'n Groter omvang met ander
tale en nóg meer perspektiewe is 'n ander projek. Daar is bowendien soveel perspektiewe en kulture in Afrikaans opgeneem dat ek nie bekommerd is dat die verhale saam dalk 'n eng, benoude blik op een gemeenskap sal gee nie. My belangrikste jeugervaringe kom byvoorbeeld uit die platteland van Zoeloeland – my jeugvriende was almal swart kinders.

NM: Is daar enigiets wat skrywers bewustelik in gedagte moet hou wanneer hul voorleggings vir julle stuur?

LK: Ek dink ek en Riana is oop vir enige aanslag. Met Die Afrikaanse Skryfgids het ons gesien dat jy nie nodig het om reëls en regulasies neer te lê nie – elke skrywer het sy/haar eie interpretasie van dit wat verwag word. Die diversiteit van ’n projek dra baie by tot die geslaagdheid daarvan.

RS: Nee, ons wil hoegenaamd nie voorskriftelik wees nie. Soos ek skrywers ken, gaan hulle in elk geval enige voorskrif op 'n kreatiewe manier dwarsboom – en so hoort dit ook.

NM: Skryf asseblief vir my 'n geheueflits ('n flitskiekie/snapshot) van jul eie. In een paragraaf.

LK: Ek het in ’n woonstel in Sunnyside grootgeword. Die balkonkamer van die twee-en-‘n-half-slaapkamer. In my laerskool was dit niks vreemds nie, want al my vriende het ook so geleef, almal het enkelouers gehad, almal het hard gewerk om 'n lewe te probeer maak, en almal het probleme gehad. Later jare het die buurt begin verval en ’n prostituut of dwelmhandelaar of 'n wreedaard het maklik oornag jou nuwe bure geword. Ek het vreeslik baie geweld aanskou: polisiebrutaliteit, straatgevegte, geweld in huise, kindermishandeling. Een van die "literêrste" oomblikke van my lewe was die dag wat die kind sy skoene vol gebloei het. Dit was afgryslik, maar die woorde in my kop het vreeslik roerend vir my geklink: Op ’n Vrydagmiddag het ek nie die bus tot by die huis gevat nie, ek het hoog bo in Esselenstraat afgeklim en dan al die pad deur die winkels huis toe gedrentel. Voor die ou Grapevine het ’n straatkind se bewegings skielik rukkerig geword. Hy het uitgestaan tussen die ander mense. Ek kon dit sien, maar ek kon nie presies sê waarom hy so uitgestaan het nie. Hy is met ’n bottel in die kop gesteek, die groen van die glas het soos ’n vin uit sy agterkop gegroei. Die wond het vreeslik gebloei. En toe ek die bloedspoor met my oë volg, het ek gesien dat hy 'n paar stukkende skoolskoene sonder veters aan het. Die bloed het teen sy lyf afgeloop in sy skoene in. En toe sy skoene vol was, het dit oor die rand daarvan begin loop. Daai dag sal ek nie maklik vergeet nie, oor die kind, oor die skoene vol bloed, maar ook oor die woorde wat in my kop gevorm het.

RS: My beste vriend se naam is Bubhesi. Sy naam beteken "leeu". My ma het al moed opgegee om vir my te sê ek moet liewer met Ntombi of Kwezi speel; ek wil nie, want ek kan nie al die lekker goed wat ek wil doen, saam met hulle doen nie. Hulle sit net langs die dam en riet-armbandjies vleg en enige mens word naderhand moeg van armbandjies vleg. Bubhesi se gesig is rond en vet en baie blink. Maar een keer in my lewe het ek gesien hoe sy swart gesig vaal word, vaal soos vuur-as, vaal soos 'n vuil wit lap. Die keer toe ek hom bang gemaak het. Toe ek ... (en nou sal jy moet lees wat gebeur
het!).

Gepubliseerde skrywers kan Riana Scheepers of Leti Kleyn gerus met voorleggings kontak.

Kontak vir Riana by rianas@mweb.co.za of vir Leti by letikleyn@mweb.co.za.

Die sluitingsdatum vir die voorleggings is 15 April 2013.

  • 1

Kommentaar

  • Ek sal graag Leti Kleyn se jeugherinnering wil gebruik oor die straatkind met skoene vol bloed as inskrywing in die begin van die STRAATKINDBUNDEL wat vrygestel word op Internationale straatkinddag – 12 April 2016. Die webwerf kry erkenning as die oorspronklike bron van publisering.
    Daar is 60 gedigte wat 'n straatkind se lewe getrou weergee, 60 skrywers wat die projek ondersteun. Die projek is 'n inisiatief van die nie-winsgewende organisasie YOUNG WORLD EDUCARE wat die afgelope 15 jaar betrokke is by straatkinders. Epos zuanne.marie@gmail.com.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top