’n Seereis

  • 0

LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.

In Ingrid Winterbach se monoloog ’n Seereis is Albert Pretorius as Jan van Riebeeck aan die woord. Marthinus Basson is die regisseur.

’n Seereis

Ons vertrek uit die stad Amsterdam. Ons reis op die Drommedaris, ’n skip van 200 ton.

Ek was eers sjirurg, toe koopman, nou bevorder tot kommandeur.

Ek het vroeër ’n tyd lank in Japan vertoef, maar is afgelê weens oortreding van die verbod op handel in diervelle. Vir eie gewin.

Ek bid: “O Barmhartige God en Hemelse Vader, nadat dit U goddelike majesteit gelief het ons te beroep oor die bestuur van sake van die VOC aan die Kaap van Goeie Hoop, help ons om justisie te handhaaf onder die wilde, brutale mense.

“Om U Christelike leer aldaar voort te plant en te verbreed, tot U en die Heeren 17 se lof en welstand.

“Help ons dat ons harte verlig sal word, dat alle verkeerde hartstogte, misverstande en ander dierlike gebreke van ons afgeweer sal word.

“Help ons om U naam aldaar te verheerlik in die diens van die Heeren 17 en Meesters, sonder om op eige baat of partikuliere profyt ingestel te wees.”

Die wind waai wes. Dit is reënerige weer. Op my hoof dra ek ’n hoed, en om my hals, ’n gestyfde kraag, met kantwerk omsoom.

Ons laat die vertroude wêreld stadigaan agter.

Spoedig is daar van die land niks meer te sien nie.

Daar is opwinding in ons hart. Deur die geloof is ons bewapen. Ons opdrag is ons borswering. Ons blasoen.

Links, altyd links van ons, lê sy, die sluimerende, onbetrede kontinent.

Ons beweeg stadig langs haar kus af. Ons het vermoedens.

Is Afrika lank, of is sy breed?

Ná vele dae, verby die Kreefskeerkring. Van die bemanning sterf aan skeurbuik.

Sy is bang, sê Maria, my jong eggenote. Sy droom, sê sy. Sy het voorgevoelens, sê sy.

Ná die ewenaar beweeg ons nader aan die kus. Sien ons gebukkende vorms hardloop? Wat flits so agter die gordyn van digte blare? Sien ons sloom troppe giraffe, olifante?

Die Suiderkruis word sigbaar. Die môrester verskyn nou in die ooste.

Ons doen vlugtig by riviermondings aan vir vars water.

Die matrose – vuige onderlinge – moet voortdurend in die oog gehou word.

Twee kry stry. Die een het die ander se bruid onteer. Ontugtig met haar omgegaan. Haar nate losgewoel sodat haar binnenste stoffering begin lek het. Haar vlegsels gekoek.

Die saak word voor ’n tribunaal besleg. Vasgemaak aan die hoofmas en ses houe met die rottang. ’n Dag lank opgesluit in ’n donker hok.

Maria sê: “Kyk hoe hou hulle ons vroue oordag dop. Hulle is ’n klomp wilde diere. Hulle is lui en wellustig. Jy kan hulle nie vertrou nie. Wanneer die water min raak, gaan hulle muit.”

Ek sê: “Bedaar, vrou, hulle vrees die strawwe: kielhaal en loopplank. Opsluiting sonder voedsel of water.”

Die nagte bied ’n skouspel van sterre. Hulle bane weerkaats op die oppervlak van die water. Soms is daar fosfor op die see. Oordag is daar skole kopspelende dolfyne sigbaar.

In die diepsee is ons meer as ooit uitgelewer aan God se groot genade.

Die matrose mor oor die kosvoorrade. Dit is in die aard van matrose om te mor.

Die jongste kind van die oppersjirugyn, wat gesterf het aan die skeurbuik, laat ons te water. Mag God gee dat daar nou niemand meer met die siekte besmet is nie.

Maria, my eggenote, begin haar van my wegkeer. Sy sê sy vervloek die dag waarop sy aan boord gegaan het. Sy sê: “Wat laat jou dink dat jy jou opdrag in daardie heidense land sal kan uitvoer?”

Sy sê: “Sonder eige baat of partikuliere profyt? Wie probeer jy en jou opdraggewers om die bos lei?”

Ek sê: “Maria, asseblief.”

Sy sê: “Jy is ’n handpop in diens van die Here 17.”

Ek sê: “Maria, asseblief. Vertrou hierdie sending. Ons maak van die Kaap ’n lushof. ’n Tuin van Eden. Ons bring die Woord Gods aan die heidene daar. Ons plant druiwe, graan, en vrugte. Ons verblyf daar sal voorspoedig wees.”

Sy sê: “Ek droom. Ek lê onder die grond met ons doodgebore kindertjies.”

Dae lank is die land nie sigbaar nie, maar sy is dáár, haar skimmige teenwoordigheid brand agter die ooglede. Sy is daar in ons koorsdrome, soos ’n afvallige vrou. Soos ’n wrede moeder. Gaan sy haar oorvloed van ons weerhou, of mildelik met ons deel?

Maria sê: “Hoe gaan ons hier oorleef? Hoe gaan ek ons kinders baar in daardie heidense woesteny?”

Ek sê: “Maria, God sal met ons wees.”

Sy sê: “Jy laat jou uitbuit deur die Heere 17. Dit gaan vir hulle alleen om eie gewin.”

Ek droom. ’n Oosterse vrou met skreefoë se kop is ingeënt op die lyf van ’n homonkulus. ’n Wond word swart. Dan groen. Maaiers. ’n Vrou sit wydsbeen oor my.

Maria sê: “Sonder eige baat of partikuliere profyt?”

Ek sê: “Maria.”

“Moenie dat ek lag nie,” sê sy.

Verby die Kreefskeerkring. Ons is nou twee maande onderweg. Soms is die see rustig. Dae lank is daar nie ’n wolkie in die lug nie. Ek buig oor my kaarte. Ek memoriseer die name van die inheemse plante: Protea. Disa. Van die inheemse volke: die Goringhaikwa. Die Hessekwa. Die woorde: Gora. Ghnarra. Ghaip. Ek lees oor die inenting van druiwe op stokke. Ek bestudeer die welige naghemel. My oog raak ingestel op die beweging van komete.

Wanneer daar ’n storm woed, word ons nietige skippie op die golwe rondgeslinger asof deur ’n toornige leviatan. Die matrose se gesigte is groen. Maria vra dat ek haar aan die hoofmas vasmaak. Sy sterf eerder vanweë ’n bliksemstraal as wat sy later deur heidene in oneer om die lewe gebring word. Die weerlig verlig haar gesig soos dié van ’n heilige.

Ná die storm is die see glad en blink soos perlemoer.

Maria vra: “Verkeerde hartstogte, misverstande en ander dierlike gebreke?”

Ek sê: “Maria.”

Ná al die maande ter see nader ons uiteindelik die kus van suidelike Afrika.

Drie man roei uit en gaan aan wal vir vars water. Die kus is witgeblaker in die son en droog soos been.

“Ander dierlike gebreke,” sê Maria, haar lippe droog en gebars en haar asem harig.

Dan. Oplaas. Ná al die ure, die dae, die weke, die maande! Ná al die ontbering! Ek voel my hart word lig. My oë raak nat. Eers dynserig, en dan geleidelik word haar buitelyn duideliker.

“Kyk,” sê ek, “kyk my vrou, daar lê die beloofde land!

“Kyk,” sê ek, “die berg! Is sy nie majestueus nie!”

Maar Maria hou haar gesig afgewend.

“Dierlike gebreke,” sê sy, “en úitbuiting.”

En sy lag skel en uitbundig.

***

Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die Stemme-monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme

Lees hier meer oor die Stemme-projek:

Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top