The incredible beat of my heart |
Geruisloos, ongemerk |
...
Surrealisme poog om die werking van die onderbewussyn uit te druk en word gekenmerk deur denkbeeldige, onwerklike en selfs teenstrydige idees of beelde.
...
Henali Kuit se kortverhaalbundel word op verskeie platforms beskryf as ’n uitlokkende versameling van kortverhale wat wissel tussen realisme en surrealisme.
Haar verhale is hoofsaaklik stories wat gaan oor ’n mens se alledaagse lewe. Sommige verhale is eenvoudig ’n blik op ’n persoon se normale “vervelige” daaglikse lewe, waar niks merkwaardigs gebeur nie.
’n Goeie voorbeeld hiervan is haar kortverhaal “Die mooi meisie” (59–64), wat oënskynlik gaan oor ’n man wat ’n “one-night stand” met ’n mooi meisie het.
Op die toerbus terug het hy ’n sitplek langs ’n mooi meisie gekies. Sam is nie een vir silwer randjies nie, maar die meisie was daar en hy kon netsowel probeer. (60)
Toe hy vanoggend wakker word, was die mooi meisie langs hom in sy bed. Dis nie dat hy haar naam vergeet het nie. Eerder dat name net werk as jy hulle reg uitspreek. Jy moet minstens 70% seker wees 70% van die lettergrepe is korrek. (61)
Hy kyk in die straat op en af. Daar onder staan die mooi meisie by die busstop en wag … Kan die mooi meisie hom dalk daar onder by die busstop hoor? Gaan sy opkyk? Nee – daar kom die bus aan en sy klim op. (64)
Kuit se verhaal gaan egter oor meer as net ’n “one-night stand”. Dit is ’n uitbeelding van mense se eensaamheid in ’n stad en hoe die sikliese aard van die lewe dit sonder betekenis kan laat voel.
Sam is ’n eensame en moontlik depressiewe karakter wat ’n diep behoefte het om die leemte wat hy in sy lewe en woonstel ervaar, te vul. Hy is ook dikwels uitgeput deur al die alledaagse take wat hy moet beheer:
Dis ’n kak en eensame tyd in Sam se lewe. As hy vir homself in die spieël staan en kyk, dink hy aan wat hy alles moet beheer: sy baard, sy tande, sy uitdrukkings. Aan die begin en einde van sy dae trek hy sy lakens op of af en dink vies oor die sikliese aard van beheer. (59)
Hoekom het goed altyd met hom gebeur? Allerhande goed. Maar tog, as niks gebeur nie, het Sam die leegheid om hom gevoel en dan was dit nog erger. Hy sit sy hande agter sy kop, staar na die plafon, en dink. Kon hy beter wees? Kon hy sy dae so organiseer dat die oomblikke daarin na iets begin voel? (61)
Aan die einde van hierdie verhaal kan lesers ervaar dat niks in Sam se lewe verander het nie en dat die verhaal net ’n venster tot sy alledaagse lewe is. ’n Uitbeelding van een van die “goed” wat altyd met hom gebeur, maar wat nie noodwendig die sikliese aard van sy daaglikse lewe verander nie. Dit kan selfs sommige lesers laat redeneer dat die verhaal nietsseggend is.
In hierdie geval sou hulle egter onbewus wees van die lewenswaarheid wat Kuit in haar verhaal vasgevang het:
“I read this thing online last week … There was a ship approaching an island full of people who only knew their own island – they thought it was, like, the world. They didn’t know about ships … they had no word for ‘ship’ … And so the ‘ship’ floated there for many days … Not being spoken about, not being seen.” Die deel wat hy uitgelos het, is hoe hy voel. Soos die eiland. Nee, soos die skip. Niemand praat oor hom nie, niemand sien hom nie. (63)
Die verhaal is dalk alledaags en daar gebeur nie veel nie, maar dit het ’n waarheid vasgevang – die menslike behoefte om te behoort of opgemerk te word.
In kontras hiermee vervreem Kuit die alledaagse lewe in sommige van haar kortverhale deur middel van surrealistiese elemente. Surrealisme poog om die werking van die onderbewussyn uit te druk en word gekenmerk deur denkbeeldige, onwerklike en selfs teenstrydige idees of beelde.
Een van Kuit se verhale wat die leser dadelik met surrealisme konfronteer, is “Kyk by my koeëlgat in” (13), ’n verhaal wat oënskynlik handel oor ’n pa wat van die oorlog terugkeer om na sy dogter om te sien:
Ek het my stupid gehou tot my pa nie anders kon as om uit die oorlog te awol en na my te kom kyk nie … En wragtig daag my pa op die stoep op … Asof dit ’n antwoord is, begin my pa sy sakke leegmaak. Ek hou my hand uit. Daar is ’n veer (sag en mooi). ’n Ystervarkpen. ’n Klompie blink klippertjies waaroor hy baie te sê het. En laastens: ’n koeëlgat. (13)
Wat moontlik die leser die meeste vervreem van die verhaal, is nie noodwendig die “koeëlgat” self nie, maar hoe dit naas mekaar gestel word met geskenke en selfs hoe die hoofkarakter die wond in haar hand tot in besonderhede beskryf;
My pa keer die koeëlgat in my oop hand om en dit is eensklaps myne: ’n gat regdeur my palm, knus langs die swel van my duim. Dit pyn. Soos leë goed maar pyn. Ek lig my hand op en kyk hoe die wêreld deur ’n bloedrooi raam daar uitsien. My tendons knipoog wit soos ek my hand eenkant toe en anderkant toe kantel om te sien wat daar te siene is. (13)
’n Koeëlgat is iets wat gewoonlik met geweld, ’n wond of selfs die dood geassosieer word, terwyl geskenke oor die algemeen met die gevoel van liefde, blydskap of waardering geassosieer word. Hierdie naasmekaarstelling skep ’n gevoel van ongemak by die leser en vervreem jou van die verhaal se realiteit.
Sommige van Kuit se verhale is of volledig realisties of surrealisties, maar daar is verhale waar die twee gekombineer word. ’n Voorbeeld hiervan is “Die dreinslag” (82).
Die verhaal vertel aanvanklik die alledaagse verhaal van ’n karakter, Tante, wat Joy se toilet deur middel van ’n elektriese dreinslang ontblok, maar soos die verhaal verloop, word die wêreld meer en meer surrealisties. Die lesers kan dit sien in hoe die onaangename, walglike taak eers beskryf word en dan later vergelyk word met die ongemak wat ’n mens voel as jy iets aan iemand anders verskuldig is.
Joy leun vorentoe om die rooi geldjie in Tante se denim gatsak te sit, maar Tante leun terug en sit haar kakbesmeerde vingers rondom Joy se gewrig … “Kind,” sê sy, “Tante doen jou ’n guns.” ’n Guns. Joy se hele lyf wil die woord herhaal, dit styg soos opgooi in haal keel. Soos die klonte gestolde toiletpapier wat Tante se dreinslang uit die toilet se binnegoed gevis het, en orals oor haar badkamerteëls gespoeg het. (82)
Kuit neem dit verder deur die verhaal af te sluit met surrealisme in die oortreffende trap wanneer die verhaal alle realisme verlaat en ’n onwerklike en denkbeeldige wêreld betree:
Naderhand val die volmaan helder en blou by die venster in, en toor die dreinslang wakker. Hy maak sy longe vol. Oor die reuk het Joy die deur wawyd oop laat staan. Stil-stil seil die slang oor die vloer, al die pad by die deur uit, geruisloos, ongemerk. (83)
Dit wat bekend is, word verwronge en onherkenbaar uitgebeeld. Hierdie tegniek word gebruik om weg te beweeg van die “norm” en om dit wat die leser van ’n alledaagse lewe verwag, uit te daag.
Die naasmekaarstelling van realisme en surrealisme in dieselfde verhaal beklemtoon die gebruik van surrealisme soos dit die kontras van wat werklik en onwerklik is, teenoor mekaar stel. Hierdie tegniek is ook sigbaar in die uitleg van die kortverhaalbundel, aangesien dit uit ’n kombinasie van realistiese en surrealistiese verhale saamgestel is.
Henali Kuit se kortverhaalbundel is oorspronklik in Engels gepubliseer as The incredible beat of my heart (2021) en toe later, in 2022, as Geruisloos, ongemerk in Afrikaans uitgegee. Die vertaling van prosa en poësie is altyd ’n ingewikkelde taak, daarom is dit nie verbasend dat die Engelse en Afrikaanse titels van die bundel en ook van die kortverhale nie 100% met mekaar ooreenstem nie. Daar sal altyd woorde, frases en beskrywings wees wat nie noodwendig in alle tale voorkom of selfs treffend genoeg is nie.
Wat wel verrassend is, en wat lesers aanvanklik selfs kan verwar (as hulle die Engels en die Afrikaanse vertaling met mekaar vergelyk), is dat die titels van die twee bundels en “blurb” agter op die boekomslag nie uit dieselfde verhale kom nie, maar uit vier verskillende verhale.
Die titel vir die Engelse bundel is die ekwivalent van dié van die verhaal in hoofstuk drie van die Afrikaanse vertaling, “Die verskriklike geklop” (39), terwyl die titel van die Afrikaanse weergawe in die Engels van die verhaal “Die dreinslang” (82) in hoofstuk vyf gevind kan word. Die “blurb” van die Engelse weergawe kom uit die verhaal “Die mooi meisie” (59) in hoofstuk vier, maar die “blurb” wat op die Afrikaanse weergawe verskyn, is uit die verhaal “Kyk by my koeëlgat in” (13) in hoofstuk een.
Dit is verder vreemd dat daar inligting tussen die twee bundelweergawes bygevoeg of weggelaat is. Voorbeelde hiervan kan in die verhale “Brink” en “Bonbon” gevind word:
“Brink”:
“Weet jy wat Mandela vir hom gesê het?” het sy gevra, en reggemaak om my te hump. Ek het nee gesê, al het ek geweet sy bedoel Breytenbach, want Brink was nooit in die tronk nie. “You changed the way I saw the world.” (Geruisloos, ongemerk, 26)
“Do you know what Mandela told him?” she asked, getting ready to hump me. I said no. “He said: When I was in prison, you changed the way I saw the world.” (The incredible beat of my heart, 24)
“Bonbon”:
My niggie gryp my aan die arm. Muggie, muggie, spoeg sy haar troetelnaampie angstig uit, wat as dit gif is? Ek kyk hoe haar mond beweeg. Ek kyk vir die rimpels in haar oë. En dan vir die man. Die man wat wegstap sonder om terug te kyk. En soos Lot se vrouens daar laat staan het, tjoklit in die hand. Die tjoklit wat hy voor al die ander mense in die kafee aan ons twee bemaak het. (Geruisloos, ongemerk, 37)
My cousin grabs hold of my forearm. Cousin, cousin! What if it’s poison? I look at her mouth moving. And the ripples under her eyes. I look at the man walking away, not looking back at us. Not looking back after having given us chocolates. After having given us chocolates in shiny foil with pink heart pictures in front of all the people in the store. (The incredible beat of my heart, 35)
In “Kaarte” en “Maps” (9) in die eerste hoofstuk word die tipografie selfs anders uitgebeeld.
Ek en ’n ou vrou deel ’n woonstel. Ek was dronk in die biblioteek toe ek die advertensie spy. In hoofletters het dit geskree: “ONAFHANKLIK, WERKEND, WOON DAAGLIKS AEROBICS BY”. HOE ROMANTIES, het ek gedink, ook in hoofletters – om ’n kamer by dié vrou te huur sou meer oor die vrou as oor die kamer gaan. (Geruisloos, ongemerk, 9)
I share a flat with an old lady. I saw the ad at the library when I was drunk. It said in all caps, “very independent, goes to job and to group-fitness daily”. How romantic, I thought. Renting a room from her would not be about the room at all. It would be more about her than it would be about me. (The incredible beat of my heart, 9)
Daar is geen aanduiding deur wie die Afrikaanse weergawe vertaal is nie. Dus kan daar aangeneem word dat Henali Kuit dalk self die Afrikaanse weergawe geskryf het en gee dit haar “poetic licence” om ’n bietjie met die inhoud van die bundel rond te speel. Ten spyte van hierdie klein verskille is die bundels oor die algemeen grotendeels dieselfde. Ek dink egter dat lesers dit tog interessant en waardevol sal kan vind om albei weergawes te lees.
Ten slotte: Henali Kruit het in ’n onderhoud met LitNet in 2012 vertel dat haar gunstelingtipe stories die “skynbare banale stories” is. Alledaagse stories oor wat iemand alleen in ’n kantoor aanvang of oor hoe iemand per ongeluk hulle hare met conditioner in plaas van sjampoe was. Kuit het egter gebieg dat sy nie genoeg vaardigheid het om hierdie stories te vertel nie – en tog het sy dit reggekry om hierdie tipe stories in haar kortverhaalbundels te bemeester.