...
Elk van die 13 hoofstukke in Spoilt ballots het ’n datum – dit begin by Dingane in 1828 en eindig by Polokwane in 2007, waar Jacob Zuma vir Thabo Mbeki verslaan het, en Nasrec in 2017, waar Cyril Ramaphosa weer vir Nkosazana Zuma verslaan het.
...
Title: Spoilt ballots. The elections that shaped South Africa, from Shaka to Cyril
Authors: Matthew Blackman and Nick Dall
Publisher: Penguin
ISBN: 9781776096374
Blackman en Dall het die leserspubliek verlede jaar (2021) verras met hulle aweregse en guitige vertellings en vertolkings van die geskiedenis van korrupsie in Suid-Afrika. Daardie storie het gefokus op nege Suid-Afrikaners – meestal wit – wat die skrywers uitgesoek het vir insluiting in Rogue’s Gallery (2021), oftewel ’n “galery van skurke”. Onder die beweerde skelms was bekende name soos Willem Adriaan van der Stel, Charles Somerset, Cecil John Rhodes, Paul Kruger, Nico Diederichs, Eschel Rhoodie, Lucas Mangope, Wouter Basson en Jacob Zuma. Die boek beslaan 13 hoofstukke en 342 bladsye. Blackman en Dall was op daardie stadium redelik onbekende skrywers.
Die leserspubliek – my inkluis – het gewonder of hulle die joernalistieke stamina het om binne een jaar weer met nog ’n magistrale werk vorendag te kan kom. Vandag weet ons hulle het inderdaad genoeg lood in hulle potlode gehad om ’n allemintige boek van 394 bladsye te skryf (wat boonop 684 voetnotas bevat).
Elk van die 13 hoofstukke in Spoilt ballots het ’n datum – dit begin by Dingane in 1828 en eindig by Polokwane in 2007, waar Jacob Zuma vir Thabo Mbeki verslaan het, en Nasrec in 2017, waar Cyril Ramaphosa weer vir Nkosazana Zuma verslaan het. Vir die skrywers is een van die belangrikste datums in die Suid-Afrikaanse verkiesingspolitiek egter 1854, toe swart mans in die Kaapkolonie vir die eerste keer in Suid-Afrika stemreg gekry het.
Die skrywers deel die hele verhaal in vier onderafdelings, te wete Vroeë Dae (1828–1898); Unie van Suid-Afrika (1910–1933); Apartheid (1848–1984) en “Over the Rainbow” (1994–2021), wat betrekking het op ’n uitlating van biskop Tutu, wat ’n ewige optimis was.
Die vroeë dae gaan oor die Zoeloes (destyds Zooloos gespel) en die moord op Shaka in 1828. Uit die geskiedenis weet ons dat Shaka ’n skrikbewind gevoer het. Dié verkiesingstydperk pas egter nie alte lekker in by so ’n puik ontleding van verkiesings soos hierdie nie. Maar as dit die geval was, sou dit waarskynlik “bloody ballots” gewees het.
...
Dit was robuuste witpolitiek. Swartpolitiek was egter op die vooraand van beduidende verwikkelinge met die flirtasie tussen die ANC en die pasgestigte Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in daardie tyd.
...
Daarna volg die tydperk van Paul Kruger en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Dit was ’n onstuimige tyd wat twee Anglo-Boereoorloë opgelewer het. Dit was ook die tyd toe generaal Nicolaas Smit die Britse magte tydens die Slag van Majuba in die Eerste Boereoorlog in 1881 oortuigend verslaan het. Nogtans is daar geen verwysings na Smit of Majuba nie. Dis ’n leemte. Die verkiesings – slegs vir blankes – vind binne die bestek van slegs 10 jaar plaas, met verkiesings in 1883 (net ná Majuba), 1888 en 1893.
Die hoof- strydende partye (sedert Majuba) was “oom Paul” Kruger en “Slimpiet” Joubert. Die Krugerkamp wen. Die skrywers wys daarop dat 1893 die eintlike begin van ware partypolitiek in die ZAR was. En omdat volksleiers daardie tyd almal imponerende baarde gehad het, was die verkiesing van 1893 dan ook as die “verkiesing van baarde” bekend. Dit was ook die eerste keer in die republikeinse noorde dat koerante soos Land en Volk polities kant gekies het. Is dit ’n vroeë aanduiding van persvryheid in die republieke?
Dit was ook die tyd toe Britse bewindhebbers in die Kaap – spesifiek Harry Smith en Benjamin D’Urban – nie geskroom het om swart mense in die Oos-Kaap gewelddadig te onderdruk nie. Dieselfde kan ook gesê word van Andries Stockenström, die kleinseun van ’n swart slavin van Wes-Afrika en wat dus in apartheidsterme as “nie-blank” geklassifiseer sou word. Is dit dalk ’n rede waarom hy so ’n simpatieke verhouding met die Xhosas van die Oos-Kaap gehad het?
Tot Uniewording in 1910 was partypolitiek op die agtergrond.
’n Nuwe generasie leiers het hulle verskyning ná 1910 gemaak. Dit sluit Jan Smuts, Albertus Hertzog, Cissie Gool (’n bruin vrou uit die Kaapkolonie) en Cecil John Rhodes in. Rhodes was ambisieus en het Britse invloed tot in Zambië en Rhodesië, spesifiek Matabeleland, uitgebrei – albei dié kolonies is na hom vernoem. Hy sterf in Muizenberg, maar sy oorskot word in die Matopos-heuwels in die destydse Rhodesië, nou Zimbabwe, begrawe. Vandag is dit ’n toeriste-aantreklikheid. Sy imperiale ambisies het gemaak dat hy die Jameson-inval in 1895 ondersteun het. Die invloedryke Schreiner-egpaar Olive en Cron het hom hiervoor kwalik geneem. Wat hy van Uniewording (in 1910) sou gedink het, weet ons nie, want hy was toe reeds oorlede.
Die volgende generasie leiers soos Jan Smuts en John X Merriman het sterk na vore getree en was prominente figure tydens Uniewording. Nuwe name het op die politieke toneel gekom, soos dié van Albertus Hertzog en Abraham Fischer van die Vrystaat.
’n Ander prominente figuur in die destydse Suid-Afrikaanse politiek was Mahatma Gandhi, die Indiese nasionalis wat ’n voorstander van lydelike verset in Natal en die Witwatersrand was, hoewel sekere rebellies minder vreedsaam was, soos die Bondelswart-opstande in gedeeltes van Namaland in Suidwes-Afrika (Namibië), asook die Randse Rebellie van 1922.
Die rebellie van 1922 het verreikende gevolge gehad. ’n Paktregering het byvoorbeeld tussen die Sappe (Suid-Afrikaanse Party) en die Natte (Nasionale Party) tydens die 1920’s regeer. Boer en Brit, Hertzog en Creswell het almal saamgewerk. Paswette is ingestel om swart verstedeliking te reguleer, terwyl trekarbeid vanuit Mosambiek en Lesotho aangemoedig is om in die behoeftes van mynarbeid te voorsien.
In die verkiesing van 1924 het die Sappe van generaal Jan Smuts gewen met 47,04% van die stemme teenoor die Natte van generaal Hertzog met 35,25%. Hierteenoor kry die Arbeiders van Frederic Creswell 14,35% van die stemme en vorm ’n regerende koalisie saam met die Natte.
Dit was robuuste witpolitiek. Swartpolitiek was egter op die vooraand van beduidende verwikkelinge met die flirtasie tussen die ANC en die pasgestigte Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in daardie tyd. Dié alliansie moes egter lank wag, en kom eers in 1994 aan bewind ná die vrylating van Nelson Mandela en andere.
Intussen was daar baie sosiopolitieke woelinge, soos nuwe terme wat na vore getree het. Voorbeelde is “swartgevaar” (1929) en “apartheid” (1947/8). Dit was ook die tyd toe “Afrikanerpolitiek” sterker op die voorgrond getree het, veral nadat die Broederbond in 1918 deur Nico Diederichs (bankier) en Pieter Meyer (latere hoof van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie) gestig is.
Blackman en Dall wys ook daarop dat Hendrik van den Berg, PW Botha, Klasie Havenga, Paul Sauer en Anton Rupert invloedryke lede van die Broederbond was.
Na Hertzog se dood in 1942 het die Nasionale Party onder DF Malan ’n nuwe woord uitgedink: “apartheid”, wat in 1947 vir die eerste keer in die parlement gebruik is.
Daarna (1960) het republiekwording gekom waarmee bande met die Britse Statebond verbreek is. Wat die skrywers egter nie noem nie, is die internasionale hertoetrede tot sport, beginnende by die Suid-Afrikaanse krieketspan, wat in 1991 in Indië gaan toer het.
Ná die moord op Verwoerd in 1961 het John Vorster premier geword. PW Botha het by Vorster oorgeneem. Onder PW Botha is die Driekamerparlement vir blankes, kleurlinge en Indiërs in 1983/4 ingestel.
Swart uitsluiting is begroet met ’n kombinasie van swart verset en verdere onderdrukking, soos die afkondiging van noodtoestande, en die feit dat die Staatsveiligheidsraad, eerder as die parlement (wetgewende gesag) of die Uniegebou (die uitvoerende gesag) in die land regeer het.
Daar is egter groot gewag gemaak van belangrike beleidsaankondigings by die Nasionale Party se kongres in Durban op 15 Augustus 1985. Die groot kwessie was voortgesette swart uitsluiting. Politieke verwagtings was geweldig groot. Helaas, dié verwagtinge is nie vervul nie. PW Botha se voorgenome toespraak het uitgelek voordat dit gelewer is, en ’n beneukte PW lewer toe die berugte “Rubicon-toespraak”. Toe kom die referendum van 2 Februarie 1990, ‘n reeks Kodesas, ’n interimgrondwet in 1993 en ’n finale RSA-Grondwet van 1996. Sedertdien is die ANC aan bewind.
Volgens Blackman en Dall is Suid-Afrika sedertdien “over the rainbow” – wat dit ook al mag beteken.
Spoilt ballots is ’n pragboek, lywig maar lewendig, geskryf deur twee bekwame joernaliste met ’n sterk akademiese inslag en wat verstaan wat geskiedenisskrywing moet en kan wees.
Blackman en Dall se name mag maar by dié van sulke hedendaagse swaargewigte soos Giliomee en Grundlingh gereken word. Ons historici is tops.
Lees ook:
First sip: Rogues’ Gallery by Matthew Blackman and Nick Dall
Hier is jou naaste tak van Bargain Books
As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.