’n Plig om te onthou?

  • 1

Foto van Bettina Wyngaard: Naomi Bruwer

“We have a duty to memory,” sê die karakter Eve Ashby in Black earth rising.

Die idee van ’n verpligting om te onthou word gereeld geopper in veral die konteks van die Rwanda-volksmoord. Maar hierdie beroep op ’n plig laat meer vrae as wat dit beantwoord. Dit kan tog seer sekerlik nie net wees dat daar onthou word nie. Wat onthou word, hoe dit onthou word, en met watter einddoel dit onthou word behoort ewe belangrik te wees. En as daar ’n plig is om te onthou, beteken dit dat daar dan ook ’n reg is om te vergeet?

Dis vrae wat dalk te teoreties is, veral in lig van die dringendheid van werklike-lewe-toepassings wat ons in die gesig staar.

Daar het pas ’n verslag verskyn wat die omvang van korrupsie tydens die Covid-pandemie in ons land oopvlek. Die President se weeklikse nuusbrief maak groot gewag van hoe wonderlik dit is dat die korrupsie oopgevlek word. Maar ons het sover nog nie gesien dat die korrupte politici aan die pen ry nie. En daar is genoeg voorbeelde uit ons verlede, onlangs en ver terug, wat vrae laat ontstaan of die regte skurke ooit verantwoording sal doen vir hul dade. As ons maar net wil onthou.

Zuma en Malema drink deesdae saam tee. Het hulle vergeet van die bittere vyandskap wat daar op ’n stadium tussen hulle was, of is dit ons wat vergeet het Malema het eenmaal gesweer hy sal vir Zuma sterf?

Internasionaal word Madiba steeds onthou as ’n ikoon wat ’n verdeelde nasie verenig het, maar hier plaaslik, en veral onder jonger mense, word hy voorgehou as ’n sell-out wat swart mense uitverkoop het om wittes tevrede te stel. Hoekom? Madiba die sell-out is ’n goeie verskoning vir die grootskaalse stroping van hulpbronne wat aan die gang is. Wat gevat word, is tog maar net wat die stropers regmatig toekom, word gesê. En daar is ’n stryd teen witmonopoliekapitaal wat net bestry kan word indien swart mense ook ’n monopolie oor kapitaal bekom. So word dit in elk geval verdedig.

Dan is daar die stryd in die Amerikaanse politiek, waar Republikeine ’n beroep doen op eenheid nadat Trump se poging tot ’n staatsgreep misluk het. Eenheid sonder dat enigeen tot verantwoording geroep word. Is daar nie ook ’n dringende plig om die geskiedenis van die Republikeine te onthou nie?

Die obsessie met Trump is ook vir ons in Suid-Afrika ’n oproep om ons verlede te onthou. Dis geen ongeluk dat Trump so ’n groot aanhang onder baie Suid-Afrikaners het nie. Die mense wat die apartheidsregime ondersteun en in stand gehou het, het nie wonderbaarlik verdwyn of hervorm nie. Hulle het net ondergronds gegaan, tot Trump hulle toestemming gegee het om weer kop uit te steek.

En dan is daar Israel, wat spog met hoe breedvoerig hul Covid-inentingsveldtog is, maar wat nalaat om te meld dat hulle weier om Palestyne in te ent. Dis natuurlik nie nuut nie. Vir jare reeds word die Palestyne in die Wesbank onderdruk, word mediese dienste, voedsel, water en behuising van hulle weerhou. Het Israel vergeet hoe hulle onderdruk was en hulpbronne van Jode weerhou was? Het hulle vergeet hoe Hitler en sy bondgenote hul bes gedoen het om die Joodse nasie te vernietig? Wat is die doel van museums om die volksuitwissing te gedenk as hulle nie die konteks en impak van hul eie optrede in 2021 begryp en kan deurtrek na hul voormalige onderdrukking nie?

In Zimbabwe het Mugabe sy mense van kolonialisme gered, maar iewers langs die pad het hy en sy volgelinge vergeet hoekom hulle in die eerste plek in opstand gekom het. Juis wanneer gemeenskaplike geheue gebrekkig is, word die foute van die verlede herhaal en word die redders die onderdrukkers.

Ons in Suid-Afrika kan nie die fout maak om te vergeet nie. Ons het geen reg om te vergeet nie. Het ons ’n plig om te onthou? O ja, maar dit kan nooit net ’n klakkelose napraat wees sonder konteks en geskiedenis nie.

Om te onthou het ’n funksie. Dit kan nooit wees om vervolgingswaan te regverdig nie. Op sy heel beste het onthou ten doel om ons as samelewing aan te spoor om te verbeter, om empatie te hê, om te leer uit die foute van die verlede. Meer as dit, onthou kan ons help om te genees van die trauma van die verlede.

Ons kan nie bekostig om te vergeet nie, maar ons kan nog minder bekostig om die lesse van die verlede te verwring.

Net dan kan die droom van Madiba en Tutu, van ’n reënboognasie aan die suidpunt van Afrika, realiteit word.

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Die ideaal van Pres. Mandela en Biskop Tutu waarna Bettina verwys was 'n droom en op sy beste, 'n wens. Die massas in Suid Afrika was bloot in mag geinteresseerd. Demokrasie was goed vir lippediens-doeleindes maar in wese was die instellings daarvan vreemd vir hulle en bloot 'n ding wat in die Westerse wêreld nagevolg word.

    Die vraag wat beantwoord behoort te word is; hoekom sou dit wat die ANC in die vooruitsig gestel het, onder hulle leiding in SA werk terwyl dit feitlik nêrens in Afrika die geval was/is nie? Wat maak die ANC en sy ondersteuners anders as hulle medebroers in die res van Afrika!?

    Verval is oral te sien. Alles waaraan geraak word stort in duie en enige fondse wat inkom om die lot van mense te verbeter, word gesteel. Diegene waarna Bettina smalend verwys as Trump ondersteuners wat ondergronds gegaan het, is ironies genoeg die mense wat wou en wil help en ook hulle ondervinding en kennis met ander wou/wil deel. Dit het hulle 'n tyd gevat om die sprong te maak en eventueel het hulle. Waar hulle kan, help en reik hulle uit maar dit word oorwegend van die hand gewys en in hulle gesigte teruggesmyt.

    Daar word eerder op onbevoegde BEE aanstellings staat gemaak wat klaaglik misluk. Mens sou dink dat lesse hieruit geleer sou word maar nee, niks daarvan nie. Die spulletjie leef eerder daarmee saam voordat hulle die hulp van Afrikaanses sal inroep of aanvaar. Geen wonder dat hierdie Afrikaanse en witmense in die algemeen hulleself nou in organisasies organiseer vir selfhelp en selfwerk doeleindes nie. Projekte en programme word van stapel gestuur om te onderrig en hulp op vele ander terreine te verleen. Dis nie nie die eerste keer dat so-iets gebeur nie. Dit was so onder 'n vyandige Britse imperialistiese regering en nou weer onder 'n vyandige, rassistiese en haatdraende ANC regering.

    Baie mense uit die vorige era het intussen die pad gevat en hulle oorsee gaan vestig. Hulle doen dit steeds en is oorwegend suksesvolle, professionele mense en lewer uitstekende bydraes in beroepe in hulle nuwe tuistes. Op sportgebied verteenwoordig hulle daardie lande met onderskeiding en help lei hulle tot indrukwekkende oorwinnings...... ook oor ons spanne hier te lande.

    Vra jy hulle oor hulle emigrasie is die antwoord kort en saaklik. "Ons het geloop omdat ons geweet het dat wat vandag gebeur, sou gebeur. Ons het dekades gestry, gesoek en geveg vir ons vryheid en dit toe eensklaps met 'n paar handtekeninge gaan staan en wegteken. Alles onder die vaandel van 'n sogenaamde nuwe Suid Afrika met demokratiese beginsels wat kamstig voorspoed en vrede sou bring. Niks het daarvan gekom nie, inteendeel. Ons het geweet dit sou die uitkoms wees en dank die vader, ons kinders is nou geheel en al vry met 'n mooi toekoms ten spyte van die feit dat mens steeds na jou mense en die mooi plekke in jou land verlang."

    Van daardie Suid Afrikaners wat wel terugkom doen so omdat die verlange na familie en vriende bloot te groot is. Hulle probeer egter 'n plekkie in die Wes Kaap kry waar dinge nog werk aangesien dit oorwegend vry is van ANC denke en optredes. Vir hoe lank en of dit regtig moontlik is, bly 'n ope vraag. Miskien is nog 'n Kodessa nodig. Die keer om te kyk of 'n standhoudende oplossing nie dalk gevind kan word nie. Een waar daar 'n plek vir almal in die son kan wees. Ook vir minderheidsgroepe waar taal, kultuur en die dinge wat vir hulle belangrik is, tot uitdrukking kan kom.

    En net vir ingeval daar moedswilliges is wat dink dat 'n terugkeer na apartheid bepleit word. Die antwoord is nee! Geensins nie. Geen stelsel wat die bedoeling het om die menswaardigheid van die individu aan te tas, kan 'n oplossing bied nie. Dis harde lesse wat die verlede leer. 'n Idee wat liederlik skeefgeloop en prakties gesproke baie hartseer teweeggebring het. Met die regte ingesteldheid en wil is 'n NUWE oplossing wel moontlik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top