Jan Smuts: Wie en wat was hy eintlik? deur Paul Grobbelaar: ’n Ope brief

  • 1

Jan Christiaan Smuts (foto: Wikipedia)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Oor enkele dae, op 20 Desember, is dit 105 jaar gelede dat die rebel Jopie Fourie (36), 'n oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein, deur 'n vuurpeloton in Pretoria tereggestel is. Dit was ondanks wye vertoë dat hy begenadig word, maar hy het gesterf weens die absolute genadeloosheid van Jan Smuts, toe onder meer minister van verdediging in Louis Botha se regering. Dit word as die nekslag vir Smuts se binnelandse beleid beskou, en het ook direk gelei tot sy politieke nederlaag as eerste minister in 1924.

Op 11 November was dit 101 jaar gelede dat die wapenstilstand in 1918 tussen die Geallieerde Magte en Duitsland gesluit en die Eerste Wêreldoorlog se stryd op land, see en in die lug beëindig is. Smuts het in hierdie oorlog ook 'n groot rol gespeel.

In 'n “ope brief” aan Smuts skryf Sarel Venter oor Paul Grobbelaar se jongste boek, Jan Christiaan Smuts: Wie en wat was hy eintlik?

 

'n Ope brief aan genl JC Smuts (1870–1950)

Geagte generaal/veldmaarskalk Jan Smuts

Mag ek u met eerbied maar oom Jannie noem? Ons mense het mos altyd van Slim Jannie gepraat, of van oom Jannie. Ek onthou toe my oorlede moeder in trane was nadat u in 1950 oorlede is, al was sy 'n vurige Nasionalis.

Ek wil graag 'n bietjie met u gesels oor u lewe en werk. In baie honderde boeke is u bydrae tot die geskiedenis van ons land al beskryf en ontleed. Ook u rol in die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie, die oorlogskabinet van die toentertydse Britse premier, Winston Churchill, en u aandeel in die stigting van die Verenigde Volke-organisasie, nou die Verenigde Nasies.

U was 'n staatsman by uitnemendheid.

So pas het 'n boek verskyn met die titel Jan Christiaan Smuts: Wie en wat was hy eintlik?. Dit is nagevors en geskryf deur Paul Grobbelaar, 'n onafhanklike historikus. Hy is ook 'n oudonderwyser en afgetrede offisier in die Staande Mag.

Die boek is 'n kritiese beskouing oor aspekte van u rol in die Suid-Afrikaanse militêre wese, staatkunde en politiek van 1895 tot 1920. Dit is in 'n gemaklike, minder akademiese styl geskryf: verstaanbaar vir die man op straat, én vir my, wat 'n ywerige leser van ons land se geskiedenis is.

Grobbelaar sê hy kon nooit verstaan hoe u – 'n bittereinder en Boeregeneraal – so totaal in die Britse Ryk kon opgaan en so Engels kon word asof u nooit as Afrikaner gebore was nie. Het u dalk 'n antwoord vir hom en die lesers van die boek? Sekerlik nie.

Grobbelaar vra ook hoe u dit in die Rebellie van 1914 oor u hart kon kry om gevoelloos ou kamerade met die wapen te beveg en selfs tot die dood te laat veroordeel (soos Jopie Fourie). Hoe kon u die lyding van u eie mense vergeet en heeltemal in die “vyand” opgaan?

Hoe moet ons dit verstaan, oom Jannie?

Lê die antwoord dalk hoofsaaklik in die feit dat u 'n aanhanger en profeet van die holisme was? Die ideologie dat groter gehele voorrang geniet bo die kleiner dele of gehele – ook op staatkundige vlak?

Die boek gee 'n arendsblik op u as plaasseun, natuurliefhebber, student in Stellenbosch, die geweldige invloed wat Cecil John Rhodes op u denke en lewe gehad het, die sogenaamde Secret Society (bestaande uit geldmagnate, politici en staatshoofde, waarvan die doel was om nasionale grense ter wille van die wêreldstaat uit te wis). Soos in Brittanje waar rassepatriotisme of die idee van ‘n wêreldstaat ontstaan het waarin die Britse beskawing wêreldwyd vrede en rus sou voortbring.

Hieroor skryf Grobbelaar dat die Britse Ryk in sy eie oë belangrik genoeg geword het om die wêreld van homself te red.

Dit is mos waar die sug na mag en rykdom in aggressiewe ryksbou gestalte gekry het – soos in die twee Boererepublieke wat deur die gulsige Britse Ryk geannekseer is, seker omdat hulle ryk aan grondstowwe was, én vir die Britse internasionale ideaal dat die son nooit oor Britse gebied ondergaan nie.

Wat sou u sê oor die opmerking in Grobbelaar se boek dat u – ná u skitterende akademiese studies in Brittanje (selfs 'n aanbod om professor in Cambridge te word!) – nié suksesvol was as praktiserende regsgeleerde nie, maar meer tyd gekry het vir politiek en om vir die Cape Times oor politiek te skryf?

Die leser sien gou dat in die groot Britse Ryk (Groot-Brittanje) die holisme die raamwerk was waarmee u die Ryk oor die hele Afrika wou uitbrei. Het Rhodes én u met u helder verstand dan nie gesien dat dit nie sal werk nie; dat Afrika nie in ‘n blik gedruk sal word nie? Al is dit so dat baie landsgrense in Afrika eintlik in Europese raadsale getrek is.

Was u en Rhodes se pogings teen pres Paul Kruger, wat u as agterlik beskou het, en die Britte se gevolglike inval in die Zuid-Afrikaansche Republiek die moeite en bloed werd? Dink net daaraan dat verskeie state weens u “blatante internasionale landrowery” vyandig teenoor Brittanje geraak het. Is u ideaal van 'n omvangryke wêreldstaat nie daarmee gefnuik nie? So ook Brittanje se internasionale ideaal dat die son nooit oor Britse gebied ondergaan nie?

En hoe verklaar u die politieke ommekeer wat u gemaak het? Eers as 'n verbete Empire-bouer en kort daarna as die groot Afrikaner-nasionalis en staatsprokureur in Pretoria? Hoekom soveel teenstrydige verklarings oor wesenlike sake uit u mond of pen?

Oom Jannie, kan u iemand kwalik neem wat u van verraad teenoor u mede-Afrikaners verdink? Was u 'n verraaier of net 'n lojale Britse onderdaan? Die groot vraag, Generaal, is of u die grootste Afrikaner van alle tye was.

Historici en elkeen wat in ons land se geskiedenis belangstel, moet besef dat hierdie boek nie goedkoop verdagmakery is nie. Die inhoud is weldeurdag en fokus skerp op u as die generaal van die Empire en die internasionale aanslae teen nasionalisme.

Hoe graag sou die skrywer van hierdie boek én die resensent én elke leser nie antwoorde op hierdie vrae wou hê nie! Want wie en wat was u eintlik?

Goeienag, Generaal.

Sarel Venter, voormalige adjunkredakteur van Volksblad

Die boek Jan Smuts: Wie en wat was hy eintlik? deur Paul Grobbelaar is gedruk deur Zebra Plus-drukkers van Pretoria. Prys R220. Meer besonderhede kan by Paul Grobbelaar gekry word. E-pos pmgrobbelaar1@gmail.com; sel 072 654 7959.

  • 1

Kommentaar

  • Uitstekend, dankie Mnr. Venter!

    Mnr. Grobbelaar moet kyk of hy nie die boek deur Kraal Uitgewers kan bemark en/of dit deel van hulle aanbieding kan maak nie 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top