’n Oog vir ’n oog

  • 0

“’n Oog vir ’n oog” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

’n Oog vir ’n oog

Ben le Roux skrik wakker. Hy lê roerloos in die donker en spits sy ore. Iets het hom wakker gemaak. Laura se asemhaling neffens hom is rustig en egalig. Sy het beslis niks gehoor nie. Die huis is doodstil. Nee wat, dit was waarskynlik niks. Dis die misdaad in die land wat besig is om hom paranoïes te maak. Sy veiligheidstelsel is van die beste wat geld kan koop. En dan is daar die honde. Niemand gaan naby die huis kom sonder dat hy dit weet nie. Maar hy bly onrustig …

Daar’s dit weer! ’n Kraakgeluid. Dalk ’n skoensool wat iets raakgetrap het in die gang? Hy leuen stadig oor na sy linkerkant om sy pistool uit die bedkassie se laai te haal, versigtig om nie ’n geluid te maak nie. Maar dan bars die hel los. Die kamerlig gaan aan. Drie of vier mans met gewere en musse oor hul koppe storm die kamer binne.

“Wake up!” bulder een.

Laura skrik wakker met ’n klein gilletjie. Ben gryp na die laai van die bedkassie. Hy sukkel lomp om die laai oop te kry.

Een van die mans storm op hom af. “No, no! Leave it!” Hy slaan vir Ben met die agterkant van die geweer teen die kant van sy kop. Ben sien sterre en val terug met sy kop op die kussing. Daar is vier aanvallers, almal gewapen met gevegsgewere, waarskynlik AK47’s. Laura gil weer; hierdie keer hard en deurdringend.

“Shut up!” maak die man wat vir Ben met die geweer geslaan het, haar stil. “Nobody will hear you!”

“What do you want?” wil Ben paniekerig weet. Hy kry geen antwoord nie, maar word hardhandig uit die bed gesleep. Hy sit hom nie teë nie. Om te probeer terugbaklei sal sake net vererger. Hy sal moet kophou en doen wat hulle sê. Vir nou in elk geval. Hy en Laura se hande word agter hul rûe vasgemaak en hulle word gedwing om op die vloer te sit. Honderd gedagtes skiet tegelyk deur sy kop. Hoe het hulle ingekom? Hoekom het die honde nie geblaf nie? Gaan hy en Laura vannag doodgemaak word?

“Please! Don’t hurt us! I’ll do what you ask!” pleit Ben weer.

“Bly stil, boer!” skreeu die leier in Afrikaans. “Ek is nou die baas hier. Wil jy vrek?”

Laura huil hardop. Sy krimp ineen wanneer een van die aanvallers dreigend nader storm. “No please …!” roep sy uit. Die aanvaller steek vas.

“Asseblief,” pleit Ben, so rustig as waartoe hy in staat is. “Ek sal doen wat julle sê, moet asseblief net nie my vrou seermaak nie.”

Hy word weer met die kolf van die geweer bygedam. “Luister!” sê sy aanvaller. “Ek sê jy shut up! Ek sal sê as jy kan praat. Ons soek geld! En guns! Waar is jou kluis?”

“Dis in my studeerkamer,” antwoord Ben. “Maar daar is nie baie geld nie.” Hy voel hoe ’n straaltjie bloed teen die kant van sy kop afloop.

Een van die ander sê iets in Sotho. Die leier antwoord kortaf. Dit klink soos ’n ligte woordewisseling. Maar dan knik die leier instemmend met sy kop en beduie met sy geweer na Ben.

Die ander een stap in Ben se rigting met sy geweer op Ben gerig. “Kom wys my,” beveel hy en beduie met die geweer dat Ben moet opstaan. Ben sukkel om regop te kom met sy hande agter sy rug. Die man kry hom met een hand agter aan sy kraag beet en help hom op. Vir ’n oomblik ontmoet hulle oë. Dit lyk of hy iets vir Ben wil beduie, maar Ben kan niks uitmaak nie. Hy word by die slaapkamer se deur uitgedwing met die geweerloop teen sy rug.

Wanneer Ben by die deur uitstap, stamp die aanvaller hom so hard teen die rug dat hy vorentoe steier. Hy verloor sy balans en kom weer op die vloer in die gang te lande. “Jy gaan vrek vanaand!” sê die man hard terwyl hy weer vir Ben help om op te staan. Hy stoot vir Ben vorentoe met die loop van sy geweer. “Loop, boer! Wys my jou geld en jou guns!” Die ander drie aanvallers bly agter by Laura.

Die studeerkamer is op die grondverdieping. Terwyl hulle by die trappe afstap met die geweerloop teen sy rug, dink Ben aan Laura wat alleen by die ander drie aanvallers agtergebly het. Hy kon die vrees in haar snikke hoor voor hy uit die vertrek is. “Liewe Vader,” prewel hy saggies. “Laat hulle asseblief nie vir Laura seermaak nie.”

Sy brein werk in hoogste rat. Hy sal eenvoudig aan iets moet dink terwyl hy die geleentheid het. In die studeerkamer draai hy na die aanvaller toe. “Die sleutel van die kluis is in die laai van die lessenaar,” sê hy. “As jy my hande losmaak sal ek dit uithaal.”

“Ben!” sê die man sag, maar dringend.

Ben is verstom. “Hoe ken jy my naam?”

Die man sê niks, maar haal stadig die mus van sy kop af. Ben herken hom onmiddellik. “William!”

William beduie met sy vinger op sy mond vir Ben om stil te bly.

“William, wat maak jy hier?” vra Ben saggies.

William ignoreer sy vraag. “Draai om,” fluister hy en sny dan Ben se hande agter sy rug los. Hy is duidelik baie senuweeagtig. “Daar is nie tyd nie, Ben. Sam gaan ons kom soek. Ons is hier om julle dood te maak. Maar ek het nie geweet dis jóú plek nie.”

“Ek verstaan nie, William ... Ek en jy was vriende, maar toe verdwyn jy. Dis nou al vyf jaar. Hoekom? En wat maak jy by hierdie mense; dis tog nie wie jy is nie?”

“Jy is ’n boer, Ben, jy sal nie verstaan nie,” kom die antwoord.

“Wat sal ek nie verstaan nie? Magtag man, hierdie mense is moordenaars!”

“Hierdie mense is mý mense, Ben,” antwoord William. “Ons baklei vir óns goed; dis al.”

“Wat bedoel jy vir júlle goed? Julle maak onskuldige mense dood verdomp!”

“Partykeer is dit nodig om hard te praat sodat mense luister, Ben. Mense gaan dood, ja, maar hoe sal julle anders luister? Julle moet verstaan ons is serious. Julle sit met al die grond terwyl ons vrek van die honger. Maar dis óns grond wat julle gesteel het!”

“My bliksem, man!” sê Ben ergerlik in ’n fluisterstem. “Ek het nog nooit iets van iemand gesteel nie en jy weet dit. Ek het die plaas by my pa geërf. Julle wil alles verniet …”

William onderbreek hom. “Hou jou bek, Ben,” sê hy sag maar dringend. “Daar is nie tyd nie. Ek het gesê jy sal nie verstaan nie.”

“Luister na jouself, William,” sê Ben ergerlik. “Wat bedoel jy as jy sê ons en julle? Wie is ons; wie is julle? Ek weet daar het lelike dinge in hierdie land gebeur, maar jy en ek was nie verantwoordelik daarvoor nie. Niemand het iets van jou gesteel nie. My pa het hierdie plaas wettig gekoop en hard gewerk om dit te betaal. Ons het dit opgebou en iets daarvan gemaak sonder om iemand te na te kom. Nou wil jy alles sommer net vat? Dink jy julle is geregtig daarop? En dink jy dis reg om onskuldige mense dood te maak om dit in die hande te kry?”

“Wat van óns, Ben? My ancestors het gesuffer en alles verloor sodat jou mense kon ryk word! Moet ek net vergeet?”

Ben sug. Dit sal sinneloos wees om verder te probeer redeneer. “Wat gaan jy nou doen, William?”

“Ek skuld jou, Ben, jy weet! Ek gaan jou help.”

“Dankie, William,” sê Ben verlig. “Waar was jy die laaste vyf jaar? Is Mary oukei?”

“Ja, sy’s nou in grade seven. Sy bly by my ma. Mooi groot.”

“Ek is bly, William. Dis goed dat sy by jou ma is. Dis moeilik vir ’n man om ’n kind alleen groot te maak. En jy is besig met verkeerde goed. Jy kan nie ’n kind by jou hê nie.”

“Dis hoekom ek haar by my ma gelos het.”

“Ek sê weer, William, jy moet wegkom by hierdie mense. Hulle praat jou kop vol nonsens. Ek en jy moet praat. Dink aan jou dogter.”

William staar ’n paar oomblikke na Ben sonder om te antwoord. “Ons kom ver, Ben,” sê hy dan. “Die pad wat ons gekom het, is té ver vir omdraai. Dinge is nie meer dieselfde nie.”

“Dis nooit te laat om die regte ding te doen nie, William,” sê Ben sag. Hy merk dat William verward is. “Jy is reg. Ons kom ver, jy en ek … maar onthou hoe dit was. Moenie dat die haat jou verblind nie, my vriend.”

“Sorry, Ben. Ek wil jou nie seermaak nie. Ek skuld jou omdat jy my kind daai dag van die accident uit die kar gehaal het. Anders het sy doodgebrand. Maar jy is nog altyd ’n boer.”

“Wat de hel beteken dít, William? Is dit my groot sonde? Dink jy ek het gevra om so gebore te word?”

“Ons dink anders, Ben. Almal is nie soos jy nie … Miskien … miskien sal ek kom dat ons praat. Miskien kan ons mekaar verstaan. Maar nie nou nie, die tyd is min ...”

Ben reageer nie dadelik nie. Hoe antwoord ’n mens in elk geval daarop? Hy is net dankbaar dat dit lyk of hier ’n uitkomkans is. “Wat is jou plan, William?” vra hy dan.

William beduie met die geweer na die deur van die vertrek. “Jy moet gaan, voordat Sam kom kyk waar ons bly. Ek sal sê jy het my oor die kop geslaan.”

“Ek gaan nêrens sonder my vrou nie,” antwoord Ben.

William skud sy kop. “Nee, ek sal kyk wat ek kan doen vir haar, maar jy moet gaan. Nou!”

Voordat Ben kan reageer, verskyn Sam in die deur. Hy skreeu in Sotho op William en die twee voer ’n kort gesprek waarvan Ben niks verstaan nie.

Dan merk Sam skielik dat Ben se hande losgemaak is. “Jy gaan vrek, boer!” skreeu hy en rig sy geweer op Ben. Ben besef dat hy hom gaan skiet en hy krimp ineen. ’n Skoot klap, maar tot Ben se verbasing is dit Sam wat agteroor val. Dit neem net ’n oomblik vir Ben om te besef dat William sy leier geskiet het.

“Kom!” sê William en trek Ben aan die arm in die rigting van die deur, maar Ben rem terug. “Ek het jou gesê ek gaan nêrens sonder Laura nie!”

Ben sien die paniek in William se oë. “Ons het nie tyd nie, Ben!”

Hulle hoor hoe die ander twee aanvallers by die trappe afgestorm kom. Ben ruk los en gryp Sam se geweer van die grond af op. Op daardie oomblik verskyn die aanvallers in die deur. Een het vir Laura aan die arm beet. Chaos bars los. Laura word eenvoudig eenkant toe gestamp en beland hard op die vloer, haar hande steeds agter haar rug vasgebind. Sy gil terwyl die aanvallers almal tegelyk in hul taal op mekaar skree. Een van hulle rig sy geweer op William en trek die sneller. William steier ’n tree agteruit en val op die vloer met sy kop teen die muur. Terselfdertyd begin Ben met Sam se geweer op die twee aanvallers in die deur skiet. Skote klap heen en weer. Hy hou aan met skiet totdat die magasyn leeg is. Wanneer alles tot bedaring kom, lê al vier aanvallers op die vloer, elkeen in ’n plas bloed. Wonderbaarlik is Ben ongeskonde.

 

Laura lê op die vloer en huil histeries. Ben kniel by haar en druk haar teen hom vas. “Dis verby, Laura, dis verby. Ons is veilig,” prewel hy saggies totdat sy effens bedaar.

’n Geluid laat hom verwoed omkyk. Dis William; hy leef nog. Ben los vir Laura en gaan kniel by William op die vloer.

“William?” sê-vra hy. William se oë fladder oop en hy maak sy mond oop asof hy iets wil sê. Sy oë is glaserig. Bloed borrel by sy mond uit. Dis duidelik dat hy sterwend is.

“William,” sê Ben weer, “lê stil; ek bel die ambulans.”

“Kyk hoe ver het ons gekom, Ben …” fluister William moeisaam. “Maar jy … jy is nog altyd … my vriend.”

“Moenie daaroor worry nie, William,” antwoord Ben sag.

William se lippe beweeg, maar daar kom eers nie ’n geluid uit nie. Ben besef dat die einde naby is. “Moenie praat nie, William,” sê hy.

Maar dan lig William sy hand van die vloer af op en plaas dit op Ben se arm. “My skuld ... is betaal, boer,” fluister hy byna onhoorbaar. “Sê vir Mary … ek is … sorry … ek het nie … Kyk na haar … asseblief ...” Dan verstar sy oë en hy blaas sy laaste asem uit. Dit is doodstil in die huis. Buite roep ’n naguil na sy maat.

EINDE

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top