’n Ongedoofde lamp: Die dagboek van Anne Frank

  • 1

  1. My persoonlike betrokkenheid by Anne Frank en haar dagboek

Die wêreldberoemde dagboek van Anne Frank neem ’n sentrale plek in my lewe en digterskap in. Die eerste druk van die dagboek het in 1947 verskyn en my kennismaking daarmee het plaasgevind as honneursstudent in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde in 1961 aan die Universiteit Stellenbosch, waartydens ek ook die assistent van my mentor, die digter en hoogleraar DJ Opperman, was. Die hoeveelste druk van die dagboek van Anne Frank ek in dié jaar gelees het, kan ek ná 48 jaar nie meer agterhaal nie. Die oudste druk in my besit is die 23ste van 1958.

My belangstelling in die dagboek is gewek deur die Hollywood-film The diary of Anne Frank van 1959, gebaseer op die gedramatiseerde weergawe daarvan van Frances Goodrich en Albert Hackett, met dieselfde naam, wat ek in 1961 gesien en wat my aangegryp het. Dit was ook in 1961 dat die verhoor van Adolph Eichmann in Jerusalem plaasgevind het. Hy was die man wat verantwoordelik was vir die organisasie van diensroosters van die treine wat Jode oor die lengte en breedte van Europa na die uitwissingskampe vervoer het. Ek het daagliks sy verhoor in Die Burger gevolg en so het die gruwels van die Nazi’s teen die Jode vir my ’n skrikwekkende werklikheid geword, en die agterdoek van Anne Frank se dagboek.

Binne dié konteks het ek dan ook die dagboek in die oorspronklike Nederlands met die titel Het Achterhuis by Haum, die boekwinkel van die Hollands-Afrikaanse Uitgewersmaatskappy, gekoop en gelees, wat ’n indruk vir die res van my lewe op my gelaat het.

Al dié faktore – die film, die dagboek, die Eichmann-verhoor – moes noodwendig neerslag vind in ’n gedig en “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” was die eerste gedig van my wat my mentor, DJ Opperman, sonder voorbehoud goedgekeur het met die woorde dat dit “aards en pragtig” is. So het my digterskap in 1961 inderwaarheid by die gedig oor Anne Frank begin. Dit het verskyn in my debuutbundel Digby Vergenoeg (1971), het een van my bekendste gedigte geword en is in verskillende versamelings uit die Afrikaanse poësie opgeneem:

Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,
as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,
die meisie in haar sabbatrok
wat in die dodeput afstort,
die vrou wat met sekslose sekerheid besef
uit haar vervloekte bloed sal ’n kind
die nuwe vrye wêreld nooit weer vind …

Maar in die agterhuis was veel
menslikheid: Mevrou Van Daan,
prikkelbaar-bevrees, vervelig-verwaand
’n moeder se subtiel verset,
omdat haar kind die vader liewer het …

En tog mos jy jou jong
ontwaking leer verstaan – alleen.
En wat het al jou vroulikheid gebaat?
Jy moes die laaste toevlug deel
vir nog ’n Jood se veiligheid –
tandarts Dussel jou ongewenste kamermaat.

 Toe het jy jou na hom gekeer
 – soos jy uit sy jeug geruk tot in ’n solderkamertjie.
 Blou agter ’n berookte ruit en ’n gordynde raam
 het helder in sy oë kom leef …

 maar die natuur verdra geen surrogaat –
 jy het geweeg, te lig bevind. Weer
 moes Peter maar vir Mouschi streel
 en vir ’n troos het jy seisoenverward
 pinksterrose en blou druifies in een droom verbeel.

Meer as Jood of Christen het jy geweet
 die mens se gees oorwin as hy
 elke dag sy aartappels met vreugde eet.

My vergestalting van Anne Frank het uitdrukking gevind in die kontrastering van die verskrikkinge van die Joodse vervolging in die buitewêreld met die gespanne verhoudings tussen die agt mense wat in geheimhouding moes leef in hulle skuilplek, die agterste gedeelte van die huis op Prinsengracht 263. Hulle enigste kontak was met hulle helpers, wat die voorste kantoorgedeelte van dié huis beset het; werknemers van Opekta, ’n firma wat ’n stolmiddel vir konfyt gemaak en bemark het waarvan Otto Frank die hoof was. Vir 25 maande moes die Frank-gesin (Otto en Edith en hulle twee dogters, Margot en Anne), die gesin Van Pels (Hermann en Auguste en hul seun Peter; die Van Daans in die dagboek) en die tandarts Fritz Pfeffer (Alfred Dussel in die dagboek) in die beperkte ruimte leef om aan vervolging te ontkom. Van Pels was ’n kenner van speserye en het in dié hoedanigheid Otto Frank se kollega geword. Die voorste kantoorgedeelte is beset deur Johannes Kleiman, Victor Kugler en Miep Gies; al drie in diens van Opekta. Hulle was die helpers van die agt mense wat in die agterhuis “ondergeduik” het; ’n begrip wat van toepassing was op Jode in Nederland wat by goedgesinde Nederlanders ’n skuilplek gevind en as ‘t ware onder die oppervlak van die samelewing verdwyn het.

Vanaf 1961 het my lewe sy bepaalde loop geneem, maar Anne Frank het nie daaruit verdwyn nie. Naas my Stellenbosse studiejare was die gelukkigste en vormendste periode in my lewe my studie in die Nederlandse Taal- en Letterkunde aan die Vrije Universiteit in Amsterdam (1968–1970). Dit spreek vanself dat ek ook die Anne Frank-huis besoek het. Dié huis was toe nog nie die toeristebesienswaardigheid van die hede nie; vandag staan mense die volle lengte van die grag langs tot in die dwarsstraat verby die Westerkerk vir ’n besoek aan Prinsengracht 263. Ek was op ’n ysige wintersdag in November 1968 saam met my beste vriendin uit ons Stellenbosse studietyd alleen in daardie huis. Teen die muur in die kamer wat Anne met Fritz Pfeffer gedeel het, was prente van bekende Hollywoodse filmsterre, en ek het aan my jongste suster tuis gedink wat ’n koerantfoto van haar rugbyheld Jannie Engelbrecht teen haar muur geplak het. Tereg sê Anne se biograaf, Melissa Müller, sy was ’n “gewone meisie; dit is die tragiese”. Die laaste kamer van ons roete deur die agterhuis was die heel boonste, dié van Peter, en toe ons daarin staan, hoor ons die kwartierslag van die Westerkerk se toringklok wat vir Anne so ’n gerusstellende geluid was. Toe het ek gehuil.

Ná my geluksalige Amsterdamse studietyd het ek my akademiese loopbaan voortgesit met meer hoogte- as laagtepunte. Ek het Afrikaanse en Nederlandse letterkunde, hoofsaaklik poësie, gedoseer aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU), Pretoria en Stellenbosch en onder die studieleiding van AP Grové gepromoveer oor die poësie van DJ Opperman. By al die vreugde en bevrediging wat ek geput het uit klasgee, my akademiese navorsing en my skeppende werk, het heeltyd onderliggend daaraan die begeerte in my gesluimer en soms aan my geknaag om die dagboek van Anne Frank uit die oorspronklike Nederlands in Afrikaans te vertaal. Ná 12 jaar as professor aan my alma mater het ek in 1999 uitgetree en was die geleentheid daar om uiteindelik dié ideaal te verwesenlik. Om dit te kon doen, het ek die uitgewer deur bemiddeling van John Kannemeyer in Nicol Stassen van Protea gevind en deur hom my redakteur, Martjie Bosman. Daarna was die onus op my om die dagboek te vertaal.

Ek het elke dag skaars van my rekenaar gewyk om in samewerking met Martjie Anne Frank Afrikaans te laat skryf en praat. Op ’n dag in Junie 2008 is ’n eksemplaar persoonlik uit Kaapstad deur ’n werknemer van Protea aan my gebring. Op die voorblad was nie die laggende Anne wat so dikwels op voorblaaie verskyn nie, maar ’n profielfoto van die peinsende Anne. Ek het nooit by die verskyning van my agt bundels wat Anne se dagboek voorafgegaan het, gehuil nie, maar met Die Agterhuis in my hande het ek gehuil; stil en sag soos 40 jaar vantevore in 1968 in Peter van Pels se solderkamertjie.

Foto: Wikipedia

  1. Die self en die “ander”: Anne se groei van kind tot mens

 (i) Die geskiedenis van die dagboek

 Die oorspronklike rooigeruite dagboek van Anne Frank was ’n geskenk op haar 13de verjaarsdag, 12 Junie 1942, wat sy vooraf saam met haar pa gaan koop het en wat sy dadelik herken het by die uitpak van haar presentjies: “… en dit was jou wat ek eerste te siene gekry het, miskien een van my wonderlikste geskenke” (2008:35). Dit was ’n profetiese uitspraak. Die persoonlike aanspreek van die dagboek suggereer ’n vertrouensverhouding wat daartoe lei dat sy na enkele inskrywings oor haar skoollewe op 20 Junie besluit dat die dagboek die rol van die ware vriendin wat sy reeds sedert haar bedrywige skooljare mis, moet vervul en dat haar naam Kittie moet wees. Haar dagboekinskrywings sou voortaan die vorm aanneem van briewe aan Kittie. Dit was ’n belangrike literêre strategie: Anne Frank, die dagboekskrywer, is van ekkerigheid bewaar omdat sy Kittie moes boei deur haar te betrek by alles waaroor sy skryf. In die twee jaar in die agterhuis het die vertrouensverhouding met Kittie ’n oorlewingstrategie geword. Aan Kittie kon sy vertel van hoe mense wie se menswees hulle ontsê is, moes lewe in hulle afgeslotenheid van die buitewêreld en die hoop behou het op voortsetting van die normale lewe ná die oorlog.

Anne het nadat sy die oorspronklike dagboek vol geskryf het, voortgegaan in ’n manuskripboek en toe op los velle, en op ’n sekere tydstip het sy ook begin om haar dagboek oor te skryf. Die dagboeke en al die los velle het sy in haar pa se aktetas gebêre en by die inval in die agterhuis het dit alles op die vloer bly lê, waar die SS-Oberscharführer Karl Josef Silberbauer dit uitgeskud het om die aktetas vol te stop met die dinge wat hy geroof het. Miep het dit ná die inval opgetel en in ’n brandkluis toegesluit. Otto Frank het bly hoop op sy dogters se terugkeer, maar toe dit blyk dat hy die enigste oorlewende uit die agterhuis was, het Miep dit aan hom gegee met die woorde: “Dit is u dogter se nalatenskap.”

Die verskillende weergawes van die dagboek was vanaf die verskyning daarvan in 1947 die primêre aanleiding vir die opvatting wat die wêreld ingestuur is dat die dagboek ’n vervalsing is. Die eerste dagboek is deur Otto Frank saamgestel en die belaglike veronderstelling was dat hy die skrywer van die dagboek was. Elke onbevooroordeelde leser van Die Agterhuis sal die absurditeit van dié aanname besef, want hoe sou Anne se integere vader hom so kon identifiseer met die gevoelens van ’n tienerdogter, onder meer oor haar menstruasie, dat hy die dagboek kon geskryf het? Daar sal wel nooit ’n definitiewe weergawe van die dagboek wees soos die onlangse Amerikaanse vertaling impliseer met die titel Anne Frank: The diary of a young girl: The definitive edition van Otto H Frank en Mirjam Pressler nie. Die titel is alreeds in ’n sekere sin “vals”, omdat dit nie erkenning gee aan die se Joodsheid van “young girl” wat dagboek hou in ’n krisistyd nie. Soos die Amerikaanse vertaler het ek wel ook uit die Frank-Pressler-uitgawe van Het Achterhuis vertaal en ook dikwels die kritiese uitgawe van die NIOD (Nederlandse Instituut van Oorlogsdokumentasie) De dagboeken van Anne Frank geraadpleeg wat in 2001 met ’n inleiding deur David Barnouw verskyn het. In dié kritiese uitgawe is die drie weergawes van Anne se dagboeke opgeneem: die a-weergawe (die eerste weergawe in die dagboeke), die b-weergawe (die weergawe op die los velle) en die c-weergawe (die in 1947 gepubliseerde weergawe). Die drie weergawes, wat in hoë mate ooreenstem, maak ontkenning van die dagboek se outentisiteit haas onmoontlik, maar ontkenners sal daar altyd wees.

(ii) Die fenomeen Anne Frank

 Anne Frank het ’n fenomeen geword deur die wêreldwye bekendheid van haar dagboek. Die verskillende resepsies van dié dagboek en van die beeldvorming van haar daardeur het in tallose boeke en gepubliseerde artikels neerslag gevind. ’n Groot aantal van dié boeke staan een lang plank van my boekrak vol en vele artikels het hul weg gevind na ’n dik lêer in my liasseerkabinet. Daaruit kon ek ruim put vir die uitgebreide inleiding tot my vertaling van die dagboek.

Die dagboek maak altyd weer sy verskyning in die openbare domein. So pas, op 12 Junie vanjaar, het Sue Pyler in die program Middag op RSG melding gemaak van dié dag in die geskiedenis as Anne Frank se verjaarsdag in 1942 toe sy 13 geword en die oorspronklike dagboek as geskenk ontvang het. Een van die luisteraars het ingebel en die dagboek ’n “foefie” genoem. Soos ek reeds gesê het, is die ontkenners daar – helaas, nog steeds – nie net van die egtheid van Anne Frank se dagboek nie, maar van die Holocaust as sodanig. So het die dagboek nogeens onder my aandag gekom en van LitNet het ek die versoek gekry om ’n artikel oor die dagboek te skryf. Dis ’n moeilike opdrag, omdat ek nie net in herhaling wil verval van wat reeds in my inleiding tot my vertaling van Die agterhuis staan nie.

By die herlees van die dagboek is ek soos nooit voorheen nie getref deur hoe sterk Anne in die agterhuis bewus was van die lot van die Jode in die buitewêreld; van hoe die skaduwee van die Holocaust (“(brand)offer”) of die Sjoa (Hebreeus vir “vernietiging”) geval het oor wat haar lewe in die onderduiksituasie vir twee jaar van dag tot dag ingehou het. In Cynthia Ozick se artikel “Who owns Anne Frank?” in The New Yorker van 6 Oktober 1997 maak sy die belangrike uitspraak dat “die dagboek van Anne Frank” nie die “lewensverhaal van Anne Frank is nie”. Sy sou sterf as slagoffer van die Nazi’s se haatveldtog teen die Europese Jodedom in die uitwissingskamp Bergen-Belsen. Haar kennis van die Holocaust wat uit haar dagboek spreek, het vir haar verskriklike werklikheid geword.

Anne se 15de verjaarsdag was die tweede in die agterhuis. In teenstelling met haar 13de verjaarsdag in die gewone wêreld waaroor sy in haar eerste inskrywing in die oorspronklike dagboek uitgebreid verslag doen, bestee sy in haar skrywe oor haar 15de verjaarsdag op 12 Junie 1944 die volgende dag, die 13de, net een kort paragraaf aan die presente wat sy gekry het. Sy fokus op die bevryding waarop sy hoop: “Churchill, Smuts, Eisenhower en Arnold was gister in die Franse dorpe wat deur die Engelse verower en bevry is” (2008:321). Haar hoop sou beskaam. Op 1 Augustus 1944 het sy die laaste keer in haar dagboek geskryf. Op 4 Augustus, ’n stralende somersdag, het Karl Josef Silberbauer in uniform en drie Nederlandse helpers van die Grüne Polizei in burgerlike drag die gragtehuis op Prinsengracht 263 binnegeval, maar in stilte en nie met die skreeu van remme en sirenes soos dit in die drama voorgestel word nie. Miep het van haar werk opgekyk vas in die geweerloop van Silberbauer. Victor Kugler het geen ander keuse gehad nie as om die afvaardiging van boodskappers van die dood tot in die Agterhuis te lei nie.   

Daarvandaan het die Frank-gesin se weg gelei na die deurgangskamp Westerbork en van daar met die laaste trein na Auschwitz. Die laaste stasie vir Anne en Margot op dié lydensweg was Bergen-Belsen waarheen hulle vervoer is en waar albei gesterf het, terwyl hul moeder in Auschwitz dood is. Net Otto Frank het oorleef en deur hom die nalatenskap van sy dogter, haar dagboek. Vir hom was die dagboek veral ná die publikasie daarvan ’n lewenslyn; so ook sy tweede huwelik, met Elfriede Markovits in 1953, eweneens ’n oorlewende van die Holocaust, met wie hy vir die res van sy lewe in Basel (Switserland) gewoon het.

(iii) Gevange in die net van menseverhoudings

Gedagtig aan Ozick se uitspraak dat die dagboek nie die lewensverhaal van Anne Frank is nie, omdat die uiteinde van haar lewe dié van ’n slagoffer van die vernietigingsveldtog van die Nazi’s in die kamp Bergen-Belsen was, het ek by die herlees van die dagboek bewus gekonsentreer op die donker kant van haar lewe as onderduiker. Haar gelukkige, onbesorgde lewe as skoolmeisie waaroor sy net enkele inskrywings in haar dagboek kon maak, het tot ’n abrupte einde gekom toe daar ’n oproep van die SS vir Margot gekom het en die Frank-gesin binne twee dae hulle intrek in die agterhuis moes neem. Vir 25 maande was Anne gevange in ’n net van menseverhoudings binne die beperkte ruimte van die agterhuis, ’n situasie wat haar vermoë om haar medemenslikheid te behou tot die uiterste getoets het. My leesstrategie om op dié verhoudings te konsentreer, is gekondoneer deur die boek De kamergenoot van Anne Frank van die historikus Nanda van der Zee wat reeds in 2001 verskyn het, maar wat ek nou eers gelees het by die besef dat dit ter sake is vir my invalshoek vir my artikel.

Van der Zee sê dat dit haar by haar lees van die dagboek as 14-jarige verbaas het dat “Otto Frank zijn beminde en gekoesterde jongste dochtertje, Anne, de kamer liet delen met een man als ‘Dussel’” (2001:7). Ook vir my het dit verbaas, en my enigste verklaring daarvoor was dat Anne nog as ’n kind beskou is, terwyl haar 16-jarige suster Margot ’n kamer met hulle ouers gedeel het. Van der Zee vertel die boeiende verhaal van hoe dit gebeur het dat sy ’n boek oor Anne se kamergenoot geskryf het. ’n Medewerker, Joke Kniesmeyer, van die Anne Frank Stichting in Amsterdam, het op 17 Oktober 1987 op die vlooimark op die Waterlooplein in Amsterdam die nalatenskap van Charlotte Kaletta gevind. Hierdie Charlotte was die nie-Joodse beminde van Fritz Pfeffer wat Kniesmeyer geëien het deur ’n foto in haar vonds en toe sy onthou het dat Anne êrens in haar dagboek skryf: “[H]ij denkt alleen aan zijn Lotte” (2001:8).

Deur die liefdesbriewe van Pfeffer aan Lotte en die foto’s van hulle twee en van Pfeffer in sy lewe as Duitser kon Van der Zee ’n korrektief gee op die beeld wat sy van Dussel uit Anne se dagboek gevorm het as ’n “knorrige, kleingeestige, irriterende man” (2001:7). Op Anne se beeldvorming nie net van Dussel nie maar ook van haar ander huisgenote, is Van der Zee se gevolgtrekking van toepassing: “In Anne Franks beeldvorming van de ‘Dussel’-figuur is een onderdeel van de onderduikproblematiek verdisconteerd, namelijk dat mensen wanneer ze lang en te dicht op elkaar zitten, hun balans kunnen verliezen” (2001:9).

Deur Van der Zee se boek het ek na Anne se kamergenoot anders begin kyk as deur Anne se oë. Ek het albei begin sien in die onbenydenswaardige situasie wat hulle verplig het om ’n kamer te deel. Die bewussyn van die lot van die Jode in die buitewêreld het die gedagte by die volwasse inwoners van die agterhuis laat ontstaan dat hulle nog ’n Joodse vrygesel kon huisves. Hulle keuse het ná beraadslaging op Fritz Pfeffer, Miep se tandarts, geval. Anne het vol verwagting uitgesien na die koms van die nuwe onderduiker, al het sy besef dat dit lastig sal wees om ’n kamer met ’n vrygesel te deel. Vir nog ’n Jood se veiligheid wou sy nogtans graag die opoffering maak. Binne die kortste tyd het Dussel egter ontwikkel in ’n bemoeisieke opvoeder wat haar meermale tot die uiterste geïrriteer het. Anne het vooraf haar vader se verlof gevra om met Dussel te praat oor die gebruik van die tafeltjie in hulle kamer. Deur hulle irritasie met mekaar het die gesprek ontaard in ’n heftige argument wat Anne lewendig weergee. Sy het dit dan ook tereg bestem vir haar Verhaaltjesboek, maar dis onder 13 Julie 1943 ook opgeneem in die dagboek onder die titel “Het beste tafeltje”. Die verloop van die gesprek is ’n illustrasie van hoe skitterend Anne dialoog kon skryf, soos uit enkele aanhalings daaruit blyk.

Anne begin haar inskrywing met die aanleiding tot haar gesprek met Dussel: “Van halfdrie tot vieruur sit ek elke dag daar en verder is die kamer en die tafeltjie verbode terrein.” Weens die gewoel smiddae in die algemene kamer kon sy nie daar in stilte werk nie en noem dit tereg as ’n “grondige rede” vir haar “suiwer beleefde versoek” en vervolg: “Wat dink jy nou het die hooggeleerde Dussel geantwoord?

“‘Nee.’ Botweg en alleen maar: ‘Nee’” (2008:133). Anne het die saak nie daar gelaat nie en Dussel gevra na die rede vir sy “nee”. Hy het onder meer geantwoord: “‘Ek moet die taak wat ek vir my gestel het, afhandel, anders het ek verniet daarmee begin. Jy werk tog ook nie ernstig nie. Mitologie, watse werk is dit nou? Brei en lees is ook geen werk nie. Ek sit en bly sit aan daardie tafeltjie!’ My antwoord was: ‘Meneer Dussel, ek werk wel ernstig. Ek kan smiddae nie binne werk nie en ek vra u vriendelik om nog ’n keer oor my versoek na te dink!’ Met hierdie woorde het die beledigde Anne haar omgedraai en gemaak asof die hooggeleerde dokter nie bestaan het nie” (2008:133). Anne het die gesprek ná die aandete voortgesit, waartydens Dussel onder meer gesê het: “As jou suster Margot, wat tog meer rede tot so ’n versoek het, daarmee na my tot sou kom, sou ek nie daaraan dink om te weier nie, maar jy …” (2008:134). Otto Frank het die stryd besleg deur Dussel te oorreed om aan Anne se versoek te voldoen.

Anne se vervreemding nie net van Dussel nie, maar van al haar medeonderduikers, met uitsondering veral van haar vader, het kort na die aankoms in die agterhuis begin, hoofsaaklik rondom haar suster Margot, wat as ’n modelkind beskou is. As skooldogter was Anne opgewek en het sy pret gemaak met haar medeskoliere, maar toe reeds het sy ook ’n kritiese kyk op hulle gehad. Daaroor gaan haar tweede inskrywing in haar dagboek op 15 Junie 1942 (2008:36–8) en in die derde inskrywing van 20 Junie, haar eerste brief aan Kittie, omdat sy die vriendin moes wees wat Anne mis (2008:39). Deur Anne se kritiese kyk op ander kan die leser maklik die afleiding maak dat sy egoïsties is. Wat daarteen pleit, is dat wanneer sy haar kritiek uitspreek op haar medeonderduikers, sy altyd later weer in ’n volgende brief die korrektief daarop gee.

’n Deurlopende tema in haar dagboek is haar moeilike en gespanne verhouding met haar moeder. ’n Versagtende omstandigheid is dat Anne ’n vadersdogter en Margot ’n moedersdogter was, wat nie vreemd is aan die aard van hulle gesinsamestelling nie. Wat ook in ag geneem moet word, is dat bloedverwantskap nie die verskil in karakter van lede van ’n gesin ophef nie. Die band tussen Anne en haar vader het gesetel in hul geesverwantskap. Snags tot beswymens bang by die oorverdowende geknal van geweervuur het sy na hom in sy bed gevlug, maar by een so ’n geleentheid gee sy haar moeder die eer wat haar toekom as sy teen Otto Frank se wil in ’n kers aansteek om Anne te kalmeer: “Anne is tog nie ’n ou soldaat nie” (2008:113).

Anne skryf oor die luide rusies wat die egpaar Van Daan op hulle verdieping voer en waarna die Frank-gesin, vir wie sulke stryery wesensvreemd is, met verbystering luister. Op 29 Julie 1943 skryf Anne oor al die kritiek wat Dussel en mevrou Van Daan op haar losgelaat het terwyl hulle opwas omdat sy van hulle verskil oor ’n boek wat Dussel haar gegee het om te lees. Sy moes aanhoor sy is “totaal verkeerd opgevoed ” en “teoreties volleerd, net die praktyk kom nog kort!” (2008:140–1). Anne se reaksie belig die essensie van die eise wat aan onderduikers gestel word om so gedruk op mekaar te leef: “Ek kon die twee wat my daar staan en belaglik maak het op daardie oomblik in die gesig slaan. Ek was buite myself van woede en sou die dae begin aftel (as ek geweet het waar om op te hou) wanneer ek van dié mense ontslae sal wees.” Anne bring die korrektief aan deur ’n naskrif: “Ns. Sal die leser in ag neem dat toe die verhaal geskryf is, die skryfster se woede nog nie afgekoel het nie!” (2008:141).

Die kameraderie tussen Anne en Margot was ’n verweer teen die oormag van die volwassenes met wie hulle daagliks saam moes lewe, maar kon nie vergoed vir die verlies aan ’n uitbundige lewe saam met leeftydsgenote waaruit hulle van die een dag op die ander geruk is nie. Albei was individualisties en elk op haar eie manier eensaam. Op 14 Augustus 1942 skryf Anne aan Kittie oor die aankoms van die Van Daans ’n maand vroeër, op 13 Julie. Oor Peter wat ’n halfuur voor sy ouers aangekom het, sê sy: “Die oggend om tienuur (ons was nog besig met ontbyt) het Peter van Daan gearriveer, ’n taamlike vervelige en skaam lummel van byna sestien jaar van wie se geselskap nie veel te verwag is nie” (2008:60). Teen hierdie indruk in verander Anne se houding en in die loop van nege maande vanaf Januarie tot Julie 1944 speel ’n tienerromanse tussen Anne en Peter hom af.

Sy skryf op 6 Januarie 1944 oor haar “verlange wat so groot geword het om met iemand te praat” dat sy dit “op die een of ander manier” in haar “kop gekry het om Peter daarvoor uit te kies” (2008:181). Uit dié formulering blyk dat Anne nie haar eie behoeftes deurgrond nie. In die enkele inskrywings as sorgvrye skooldogter het haar belangstelling in seuns ’n prominente plek ingeneem. Dit dring nie tot haar deur dat haar voorneme om toenadering tot Peter te soek voorafgegaan is deur haar droom die vorige nag oor Peter Schiff – waarin haar oë syne ontmoet het en sy sy wang teen hare gevoel het – en dat Peter van Daan dus ’n projeksie is van Peter Schiff nie (2008:182). Anne maak haar voorneme om Peter te leer ken waar deur hom dikwels in sy kamertjie te besoek. Sy neem die inisiatief in hulle gesprekke en bewus van sy minderwaardigheidsgevoel probeer sy om sy selfvertroue te versterk. Uiterlik word hy vir haar steeds aantrekliker en op 3 Maart 1944 skryf sy: “O, watter warm blik het die seun! Daar kort nie meer veel nie of ek raak verlief op hom.” Die waarheid dring tot haar deur dat dit eintlik al reeds die geval is en sy wonder wanneer sy dit vir hom sal kan sê (2008:222).

In die verdere verloop van Maart word Anne en Peter se gesprekke al hoe intiemer, sodat hulle selfs oor seksuele onderwerpe praat (2008:248). Sy gaan dikwels saans boontoe en die volwassenes begin hulle al hoe meer met dié besoeke bemoei. Anne skryf dat Van Daan en Dussel hulle “vreeslik kinderagtig gedra” as sy in sy kamer in verdwyn; na Anne se “zweite Heimat” (tweede vaderland) verwys of sê: “Is dit gepas vir here om saans laat in die donker nog jong meisies op besoek te hê?” (2008:249). Uit dié goedige gekorswel blyk dit dat die twee here die meteense gehegtheid tussen Anne en Peter as onskuldige adolessente verliefdheid beskou. Dit vind egter liggaamlike uitdrukking as Peter Anne teen hom vasdruk en haar ’n ongemaklike soen gee: “tussen my hare, half op my linkerwang, half op my oor” (2008:278). Dit was op 17 April 1944, en 11 dae later, op 28 April, soen Peter haar op die mond, waarvan hulle albei duisel, maar Anne vra haar onmiddellik af: “Is dit goed? Is dit goed dat ek so gou toegee, ek so heftig is …” Sy besluit om met Peter se toestemming met haar pa te praat en sy antwoord is in essensie presies dit wat sy self weet: dat dit “in die Agterhuis nie goed is nie”, anders as in die buitewêreld, waar sy “vry is en kan wegkom en ander dinge doen” (2008:288). Anne se vervreemding van Peter begin byna dadelik ná die gesprek. Op 19 Mei skryf sy aan Kittie: “Ek staan ná my moeisame verowering ’n bietjie bo die situasie, maar jy mag nie dink dat my liefde verflou het nie. Hy is ’n skat, maar ek het my innerlike gou weer toegesluit …” (2008:307. Die vervreemding het toegeneem tot waar sy haar innerlike heeltemal vir hom toegesluit het, omdat sy hom “swak vind” en hy geen geloof in homself of in God het nie (2008:330).

(iv) ’n Skrywer in die skadu van die Holocaust

 Anne Frank het maar enkele inskrywings in haar dagboek gemaak as sorgvrye skoolmeisie wat haarself met genoegdoening ’n “bakvissie” genoem het. Met die onderduik het om dagboek te hou onmiddellik vir haar erns en ’n anker geword, waar die skadu van die Holocaust vanaf die eerste inskrywing oor die dagboek geval het. Op 23 Junie skryf sy in haar brief aan Kittie hoe die goeie tye vir die Jode verby was ná Mei 1940 met die kapitulasie en die inmars van die Duitsers. Sy noem die hele reeks Jodewette, waarvan die een op die ander gevolg het, onder meer die dra van die geel Dawidster, die beletsel om van vervoer per fiets of motor gebruik te maak en die verbod om by Christene aan huis te kom (2008:41). Van Dussel se verslag met sy koms oor wat in die buitewêreld met die Jode gebeur, maak Anne vir haar ’n verbysterend reële voorstelling: “Ek sien saans in die donker rye goeie, onskuldige mense loop, met huilende kinders, steeds maar loop, gekommandeer deur so ’n paar kêrels, geslaan en gepynig tot hulle omtrent neerval. Niemand word ontsien nie, oues van dae, babas, swanger vroue, siekes, almal gaan saam in die tog na die dood” (2008:97–8).

Op 27 Maart 1943 skryf Anne oor die mitologie en die Griekse gode waarop sy dol is as een van haar “dagverdryfvakke”, wat sy so noem omdat “ons niks anders doen as om die dae so gou as moontlik verby te kry nie sodat die einde van die onderduiktyd so gou as moontlik aanbreek” (2008:120). Die ironie is dat Anne, asook die res van die onderduikers in die Agterhuis, ontdekking en gevangeneskap gevrees het, maar nogtans gedink het dat dit nie sou gebeur nie. So skryf Anne op 22 Mei 1944 van die opvlammende Jodehaat in die buitewêreld, ook in Nederland: “Daar word in ondergrondse kringe gefluister dat Duitse Jode wat na Nederland geïmmigreer het en nou in Pole is, nie meer na Nederland sal terugkeer nie … En as die vreeslike inderdaad waarheid word, dan sal die armsalige oorblyfseltjie Jode uit Nederland weggaan. Ons ook, ons sal weer trek met ons bondeltjies, uit die mooi land wat ons so hartlik onderdak aangebied het en ons nou die rug toekeer. Ek hou van Nederland; ek het eenmaal gehoop dat dit vir my, vaderlandlose, as vaderland mag dien, ek hoop dit nog!” (2008:310–1). Gevangenskap wat oor 15 maande sou aanbreek en die vernietigingskampe van die Nazi’s waarin, buiten haar vader, al die onderduikers sou sterf, was nie in Anne se visier nie.

In die skadu van die Holocaust en haar eensaamheid het Anne al hoe sterker besef wat skryf vir haar beteken en dat sy ’n skryfster wou word. Die talent daarvoor spreek op meerdere wyses uit die dagboek self. Dit spreek uit haar volkome vereenselwiging met die Nederlandse taal en haar voorneme by erkenning van haar Joodsheid om volkome Nederlander te word. Sy skryf aan Kittie: “Hou tog asseblief in gedagte, Kittie, dat die twee dames hier skandalige Nederlands praat … As jy die geradbraakte taal sou hoor, sal jy skaterlag. Ek sal as ek oor moeder en mevrou van Daan skryf maar nie die oorspronklike taaltjie weergee nie, maar behoorlike Nederlands skryf (2008:264). Die verwesenliking van dié voorneme spreek uit die Nederlands wat sy deurentyd skryf: sy skryf helder en onderhoudend en hou die leser se aandag gevange deur die lewendigheid van die dialoog wat sy haar huisgenote in die mond lê, onder andere deur die nabootsing van die hulle Duitse uitspraak van Nederlandse woorde.

Lees was vir Anne in die agterhuis nie net ’n tydverdryf nie, maar ’n hartstog, en dis inderdaad ondenkbaar dat die ideaal om ’n skrywer te word sou kon behoort aan iemand wat nie ook baie lees nie. Naas die meisiesboeke van Cissie van Marxveldt oor Joop Ter Heul het Anne se vader haar ook die klassieke werke van Goethe en Schiller laat lees. Sy skryf ook oor hoe graag sy biografieë, mitologie en geskiedenis lees (2008:263–5). Wat verder ’n onteenseglike bewys is van Anne se talent vir die woord, is die inskrywings in haar dagboek wat sy geëien het as selfstandige stukke en bedoel het vir ’n aparte “verhaaltjesboek”. In hierdie artikel is my weergawe van “Het beste tafeltje” genoegsame bewys van haar skryftalent. Daarnaas is haar “Ode aan my vulpen: In memoriam” oor haar vulpen waaraan sy geheg was en wat in die vuurherd beland en verbrand het, ’n essay uit eie reg (2008:165–6). Anne het onwrikbaar geglo aan die voortsetting van haar skrywerskap ná die oorlog. Op 5 April 1944 skryf sy: “(E)k wil voortlewe ook ná my dood! En daarom is ek God so dankbaar dat Hy my by my geboorte al die moontlikheid gegee het om my te ontwikkel en om te skryf, dus alles uit te druk wat in my is” (2008:263–4). Anne het haar dagboekbriewe kennelik beskou as die vertrekpunt van haar skrywerskap; die werk van ’n kind.

Die aandag aan haar dagboek in die Afrikaanse media by die herdenking van wat haar 90ste verjaarsdag sou gewees het, bevestig vir my dat Anne Frank haar dagboek Het Achterhuis ’n lamp is wat nie gedoof kan word nie, omdat die pit nie uitbrand nie. Dit gooi sy lig wyd en ver. Anne se blywende betekenis spreek uit die titel van Sonja Loots se uitgebreide artikel die afgelope Sondag, 23 Junie 2019, in Rapport-Weekliks: “Anne is nog hier; sy is 90”.

Die artikel fokus op Anne Frank se inskrywings in haar dagboek oor die Holocaust in al sy mensonterende gruwelikheid. Daarvoor verdien Sonja Loots ons grootste waardering. Ook in Afrikaans en by Afrikaanses mag die lot van die Europese Jodedom deur anti-Semitisme nie in die vergetelheid raak nie. Waar Cynthia Ozick tereg daarop wys dat Anne Frank se dagboek nie haar lewensverhaal is nie, konsentreer Loots uitsluitlik op Anne se weergawe van die lot van die Jode soos wat  sy daarvan kennisgeneem en dit gevisualiseer het op grond van betroubare getuienis. Dit het eers vir haar in Auschwitz en Bergen-Belsen soos vir al die Jode in die vernietigingskampe die verskriklike werklikheid geword.

Eli Wiesel se boek Night  as oorlewende van Auschwitz en Buchenwald waarmee Loots Anne Frank se dagboek in verband bring, verskil essesieël van Anne s’n. Hy vertel hoe sy lewe in die kampe omgekeer is in ’n durende nag; die donkerste boek in my kennis van die Holocaust. Die verhaal wat in Wiesel se Night afspeel, sentreer om sy ervarings as vyftienjarige saam met sy vader in die kamp. Hy skryf: “Never shall I forget that first night in the camp, which turned my life in one long night, seven times cursed and seven times sealed” (1958: 45). Sy vader aan wie hy onlosmaaklik verbonde was, sterf  op 29 Januarie 1945 en Elie oorleef tot en met die bevryding van Buchenwald op 10 April 1945.

Die twee slotsinne van Wiesel se verhaal lui dat hy ná sy gevangeneskap en twee weke tussen lewe en dood in die kamphospitaal weer in ’n spieël wou kyk: “From the depths of a mirror, a corpse gazed back at me. The look in his eyes, as they stared into mine, has never left me” (1958: 126). Hierdie woorde van Wiesel dra Sonja Loots oor op hoe ons oor die verhaal van Anne Frank moet dink: “Op haar aangrypendste leer Anne ons juis hoe om te leef waar daar nie meer hoop is nie. Sy is ons gids daar ‘waar die dood jou met duisend hatige oë dophou’ (weer eens Wiesel se woorde).” Dit was ongetwyfeld waar van die Anne Frank in Bergen-Belsen, maar nie van die dagboekskryfster in die Agterhuis nie. Die dagboekskryfster is nie vir my soos vir Loots nie ’n “sterwensbegeleidster” nie. Loots  projekteer Elie Wiesel myns insiens veels te sterk in Anne Frank.  Anders as Loots glo ek ook nie dat ’n mens met stelligheid  kan konstateer dat as Anne oorleef het “sy lewend dood sou gewees het” nie. In Bergen-Belsen het Anne en haar groot skoolvriendin Hanna Goslar mekaar weer teëgekom. Volgens Hanna wat oorleef het, was Anne se moed gebreek nadat Margot gesterf het. Sy het geglo sy is die enigste lid van haar gesin wat nog geleef het, omdat haar vader volgens haar te oud was om te oorleef. Anne was ’n vadersdogter en as sy geweet het dat haar vader oorleef het, was oorlewing dalk vir haar ook  moontlik. Dit bly spekulasie, maar soos haar vader na wie sy geaard het, sou sy nie verbitterd gewees het nie, maar uiteindelik soos hy  kon sê dat sy “geen littekens meer het nie”.

Nee, die verhaal van Anne Frank soos dit neerslag gevind het in haar dagboek is nie een van wanhoop nie, maar een van hoop. Dit  het   getriomfeer oor die dood van sy jong skryfster om ons te vertel van haar moed en oorwinnende gees in haar vervreemding uit die volle lewe waarna sy nie kon terugkeer nie, net omdat sy Joods was. In die slot van sy boek in Engelse vertaling Anne Frank: A portrait in Courage  verwoord die Duitse skrywer Ernst Schnabel dit onoortreflik: “Thus her voice was preserved out of the millions that were silenced, this voice no louder than a child’s whisper. It tells how those millions lived, spoke, ate, and slept, and it has outlasted the shouts of the murderers and has soared above the voices of time (1958: 181).

Foto: Wikipedia

Bibliografie

Barnouw, David. 1998. Anne Frank voor beginners en gevorderden. Den Haag: SDU.

De Costa, Denise. 1996. Anne Frank en Etty Hillesum: spiritualiteit, schrijverschap, seksualiteit. Amsterdam: Balans.

—. Eeuwig onvoltooid. Intermediar, 17/9/1998.

Frank, Anne. 1972. Het Achterhuis: Dagboekbrieven 12 Juni 1942 – 1 Augustus 1944. Amsterdam: Contact.

—. 1995. The diary of a young girl (uit Nederlands vertaal deur Susan Massoty). New York. Bantam Books.

—. 2001a. De dagboeken van Anne Frank (kritiese edisie). Amsterdam: Bert Bakker.

—. 2001b. Verhaaltjes en gebeurtenissen uit Het Achterhuis. Amsterdam: Bert Bakker.

—. 2003. Het Achterhuis: Dagboekbrieven 12 juni 1942 – 1 augustus 1944. Amsterdam: Bert Bakker.

—. 2004. Mooie zinnen-boek. Amsterdam: Bert Bakker.

—. 2008. Die Agterhuis: Dagboekbriewe 12 Junie 1942 – 1Augustus 1944 (uit die Nederlands vertaal deur Lina Spies). Pretoria: Protea Boekhuis.

Goodrich, Frances en Albert Hackett. 1954. The Diary of Anne Frank: In two acts. New York: Samuel French.

Lee, Carol Ann. 2002. Het verborgen leven van Otto Frank (uit die Engels vertaal deur Bab Westerveld). Amsterdam: Balans.

Loots, Sonja. Anne is nog hier; sy is 90. Rapport-Weekliks. 23/6/2019.

Müller, Melissa. 1998. Anne Frank: De biografie (uit die Duits vertaal deur Gerda Meijerink). Amsterdam: Bert Bakker.

Nussbaum, Laureen K. 1995. Anne Frank, schrijfster. De Groene Amsterdammer. 25/8/1995.

Ozick, Cynthia. Who owns Anne Frank? The New Yorker. 6/10/1997.

Schnabel, Ernst. 1958. Anne Frank: a portrait in courage (uit die Duits vertaal deur Richard en Clara Winston). New York: Harbrace Paperback Library.

Schreuder, Arjen. 1998. Ze was een gewoon meisje, dat is het tragische. (Onderhoud met Melissa Müller.) NRC Handelsblad, 29/8/1998.

Spies, Lina. 1971. Digby Vergenoeg. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van der Zee, Nanda. De kamergenoot van Anne Frank. Uitgeverij Aspekt bv.

  • 1

Kommentaar

  • Sophie van Schaik

    Liewe Lina, baie dankie vir jou uitleg. Opnuut leer ek jou ken om jou akademiese kennis. Dankie, Fia.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top