'n Onderhoud oor elke skrywer se droom: die Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs

  • 0
_MG_0785

Steward van Wyk (foto: Naomi Bruwer)

Die Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs beloop vanjaar R380 000. Hier is nog besonderhede omtrent dié skrywersbeurs.

Steward van Wyk vertel vir Naomi Meyer wat skrywers moet doen wat hiervoor in aanmerking wil kom.

Hallo Steward, aansoeke vir vanjaar se Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs word ingewag. Hierdie beurs word toegeken aan ’n skrywer wat ’n jaar lank kans gaan kry om net te skryf – of is dit nie so eenvoudig nie? Vertel asb in jou eie woorde hoe jy die beurs sien.

Die testament bepaal dat die beurs ’n skrywer in staat moet stel om ’n jaar lank aan ’n skryfprojek te wy sonder die kommer om ’n inkomste te genereer. Ons hoop dat dit wel moontlik is met hierdie aansienlike bedrag van R 380 000, gegewe die hoë lewenskoste. Nietemin wil ons ’n aanduiding kry dat die ontvanger ’n tyd lank voltyds aan die skryfprojek sal werk.

Afrikaans is ’n taal met baie sprekers en baie dialekte. Dié is ’n groot beurs. Hoe maak mens seker die skrywer wat die beurs ontvang, gaan Afrikaans in die breë gemeenskap uitdra met die voorgenome roman?

Net eers ’n regstelling – alhoewel die weninskrywings tot dusver almal tot ’n roman gelei het of ’n roman in die vooruitsig stel, word die projek nie beperk tot slegs romans nie. Dit is oop vir enige genre wat breedweg as ’n kreatiewe skryfprojek geklassifiseer kan word, soos wat die testament uitstippel.

Die weninskrywings tot dusver het ’n idee gegee van die besonder vernuwende impak wat dit op die Afrikaanse letterkunde kan hê en die romans van André P. Brink en Willem Anker het presies dit gedoen. Albei romans het aspekte van ons geskiedenis ontgin en ’n versuimende perspektief daargestel, bykomend tot die aanwending van vernuwende literêre procédés. Dit is ook die idee wat ons gekry het uit die aansoek van Fanie Naudé, die laaste ontvanger van die beurs. Ek is oortuig dat die weninskrywings Afrikaans op ’n besondere manier verruim en deursypel na die breë Afrikaanse gemeenskap.

Kan slegs skrywers van romans (fiksie) in aanmerking kom vir die beurs? Wat van die digkuns, of wat van dramas?

Ja seker, maar streng gesproke nie biografieë, essays, memoires, ensovoorts nie. Ek glo egter dat die beurskomitee oop sal wees vir grensoorskrydende werk.

Hierdie beurs is in die verlede toegeken aan André P Brink en aan Willem Anker. Hulle boeke is wyd geloof. Maar hoe weet mens dat die projek waaraan die skrywer gaan werk, gaan slaag – of moet die skrywer aan die hand van sy tydsuiteensetting die bestuur van die beurs op hoogte hou van sy (of haar) vordering?

Die projekomskrywing en werkplan moet reeds voldoende aanduiding gee dat die projek haalbaar is en suksesvol afgehandel kan word. Die beurs word in twee paaiemente uitbetaal. Ná die bekendmaking van die wenner ontmoet die bestuurskomitee die persoon en reeds op daardie stadium moet daar ’n aanduiding gegee word hoe die projek sal ontvou. Voordat die tweede uitbetaling gedoen word, moet ’n vorderingsverslag ingedien word en volg ’n tweede ontmoeting met die bestuurskomitee.

Elke skrywer in hierdie land sou sekerlik hierdie beurs wou ontvang, juis omdat die meeste skrywers kreatief moet wees in afskeeptyd en na-ure. Sou mens kon aflei dat die borge van hierdie beurs begrip hiervoor gehad het? Of het dit vir hulle meer gehandel om skrywers wat nooit enige geleentheid gekry het nie, dalk weens sosio-ekonomiese omstandighede in die algemeen, ’n kans te gee om kuns te skep?

Hiervoor moet mens Marjorie Wallace loof dat sy die visie gehad het om haar boedel aan die Universiteit van Wes-Kaapland te bemaak met die bepaling dat dit aangewend word vir ’n skrywersbeurs. Dit spruit waarskynlik uit haar en Jan Rabie se omstandighede waarin hulle dikwels basiese dinge moes ontbeer om aan ’n skryf- of kunsprojek te werk en hul kreatiwiteit tot uiting te laat kom.

Die testament maak geen melding van skrywers uit bepaalde sosio-ekonomiese omstandighede nie. Hieromtrent het ons die mening van ’n senior advokaat ingewin wat dit eens was dat die meriete van die aansoek die enigste oorweging moet wees.

Die beursgeld is nou R380 000 – is dit nie aansienlik meer as die vorige beurs nie en waarom is dit so?

Danksy die universiteit se fondsbestuurders is die opbrengs van die boedel so goed belê dat die belegging verseker is en die rente-opbrengs in hierdie swak ekonomiese tye nie verswak nie. Ons wil hê dat die beursbedrag tred hou met inflasie en dat die waarde van die 2016-beurs gelyk is aan dié van 2010.

Met beursgeld van hierdie grootte wonder mens vir hoeveel jare hierdie beurs toegeken sou kon word. Sou mens daaroor kon bespiegel, of eerder nie? (Anders gestel: as ’n skrywer dit nie hierdie slag ontvang nie, is daar hoop in die toekoms?)

Elke ronde is ’n nuwe ronde, en alhoewel daar groot kompetisie is, glo ek dat skrywers sal aanhou aansoek doen.

Waarna kyk julle spesifiek as ’n aansoek oorweeg word: kyk julle na die persoon se agtergrond, of kyk julle na die idee en konsep? Kyk julle na die taal, of kyk julle na die plot?

Soos genoem, kyk ons na die projekomskrywing en die werkplan, want ons wil weet of die projek haalbaar is, suksesvol afgehandel kan word en uiteindelik tot ’n publikasie sal lei. Ons wil ’n idee kry van die bewese skryfvermoë van die aansoeker, maar die agtergrond en aansien van die aansoeker is nie ’n faktor nie.

’n Storie begin dikwels met ’n idee – maar dan kan ’n karakter die ding heeltemal in ’n ander rigting stuur. Hou julle ’n skrywer aandadig aan die oorspronklike idee van die voorlegging? Hoeveel ruimte het hy om te verander aan sy voorlegging soos wat die storie vorm aanneem?

Daar is genoeg ruimte vir die kreatiewe gees om haar loop te neem. Willem Anker se boek het byvoorbeeld ’n ander titel gehad en dit was nogal interessant om te sien hoe die kwessies waarmee hy in sy voorlegging geworstel het, uiteindelik uitgespeel het in Buys: ’n grensroman.

Prakties: as ’n skrywer nou iets wil voorlê, wat het julle presies nodig en wanneer?

Ons vra vir ’n motiverende dekbrief, projekomskrywing, werkplan, CV asook voorbeelde van skryfwerk. In die verlede het mense ook ’n motivering van hul uitgewer voorgelê. Meer besonderhede is in die inligtingstuk wat aangevra kan word van me Dawn Siebritz by telefoonnommer 021 959 2112, of deur ’n e-pos te stuur na [email protected] Die sluitingsdatum is 23 November 2015 en ons sal die wenner ná 11 Desember 2015 aankondig.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top