'n Onderhoud met 'n uitgeweke skrywer: Ava Homa

  • 2

 “If we have to say what writing is, we would have to define it essentially as an act of courage.”
– Cynthia Ozick

ava6Verlies en onderdrukking is temas wat soos ʼn goue draad deur Ava Homa se skryfwerk loop. Hierdie Irannees-gebore Koerdiese skrywer se eerste bundel kortverhale, Echoes from the Other Land, werp ʼn skerp kritiese lig op die onderdrukking wat vroue in die hedendaagse Irannese bestel beleef.

Haar skryfwerk is aangrypend en evokatief, dalk meer so omdat sy skryf van ʼn land wat sy in 2007 verlaat het met die wete dat sy nooit weer sal kan teruggaan nie. Dis altyd so  dat elke leser lees deur die lens van hulle eie verwagtinge en ervaring. Selfs terwyl ek myself doelbewus gemaan het om oop te probeer bly vir die storie en nie die skrywer probeer inlees nie, was dit moeilik om nie Echoes te lees en ʼn ervaring van verlies aan ʼn tuiste te ervaar nie. Huis is ʼn woord wat ons elke dag ongeërg gebruik: “ek gaan huis toe”; “my goed is by die huis”. Tog is huis ʼn gelade term, veral vir diegene wat nie huis toe kán gaan nie.

Homa het grootgeword in ʼn Iran wat deur Ruhollah Khomeini omskep is in ‘n teokrasie wat gebuk gaan onder neerdrukkende wetgewing wat daarop gemik is om burgers se reg om die regering te bevraagteken, te beperk. Die Ruholla se reg om te regeer word as heilig beskou, en as sulks mag daar geen kritiek teen hom gelewer word nie. As lid van die Koerdiese minderheid het Ava vroeg reeds die interseksionaliteit van onderdrukking op grond van geslag, ras, kultuur, godsdiens en taal ervaar. Hierdie ervaring het duidelik ʼn blywende invloed op haar kreatiewe werk en ook haar aktivisme gelaat.

echoesEk het met haar gesels op die vooraand van haar Europese toer, waar haar verhaal “Lullaby” in Duitsland en Italië bekendgestel is. Sy het intussen ook ʼn roman, Many Cunning Passages, voltooi. Ons gesprek het wyd gestrek: van identiteit tot aktivisme tot kreatiewe skryfkuns, geheue, familie en veel meer. Sy’s ʼn fassinerende, onderhoudende gespreksgenoot, met haar vinger stewig op die politieke pols.

Homa was baie beslis daaroor dat sy haar identiteit eerstens as Koerdies ervaar, en dat sy haarself nie as Irannees sien nie. In antwoord op my vraag hoekom nie, het sy verduidelik dat Koerde in Turkye, Irak en Sirië op dieselfde manier onderdruk word as Koerde in Iran, en kunsmatige geografiese onderskeidings maak geen verskil aan hulle lyding nie. Ons gesprek het plaasgevind dae na die aanval in Ankara, Turkye, waar beskuldigings gemaak is dat die regering pro-Koerdiese groepe aanval. Die gebeure daar onderstreep haar woorde op ʼn ysingwekkende manier.

Homa woon tans in Kalifornië, maar het vantevore as uitgeweke skrywer in residensie by onder ander George Brown Universiteit in Toronto kreatiewe skryfkuns doseer. Sy het ʼn MA in Engels in Iran, asook ʼn verdere MA in kreatiewe skryfkuns in Toronto, en ‘n diploma in redigering verwerf. Sy skryf vir ʼn aantal publikasies oor die Koerdiese situasie, ontledings wat by tye beide aangrypend en benouend is.

Dis moeilik om te luister na wat Koerde vandag nog deurmaak en nie parallelle te trek met die situasie van swart mense in apartheid-Suid-Afrika nie. Homa vertel byvoorbeeld dat sy as kind nie in haar moedertaal, Koerdies, onderrig kon ontvang nie. Alle Koerdiese kinders word geforseer om in Farsi, die taal van die meerderheid in Iran en die enigste wettige taal, onderrig te word. Soos sy dit verduidelik, laat dit die Koerdiese kind met ʼn geweldige agterstand, omdat hulle terselfdertyd ʼn vreemde taal en ook ʼn vreemde vak probeer baasraak. Boonop word hulle dan uitgemaak as minderwaardig indien hulle nie akademies presteer nie. Dit herinner sterk aan die manier waarop swart Suid-Afrikaners geforseer was om in Afrikaans onderrig te ontvang. In Iran is die onderdrukking egter so erg dat Koerde nie eers toegelaat word om op straat Koerdies te praat nie. Daar is gedurig regeringspioene wat luister en rapporteer. Koerdiese gevangenes in Irannese tronke word ook nie toegelaat om met mekaar in Koerdies te praat nie.

Sy vertel dat sy eers as jong volwassene geleer het om in Koerdies te skryf, en toe moes agterkom die Koerdies wat hulle toegelaat was om tuis te praat, ʼn agterlike weergawe van die ryk kultuurhistoriese taal is. Tog doen sy al haar skryfwerk in Engels. Haar weiering om in Farsi te skryf kan ek verstaan, as ʼn polities-gedrewe besluit. Sy skryf egter glad nie in Koerdies nie, want, verduidelik sy, sy wil haar werk toeganklik maak vir ʼn breër gehoor as net Koerdiessprekendes. Sy wil die wêreld bewus maak van wat dit beteken om Koerdies te wees en onderdruk te word.

Die een onderwerp waaroor sy terughoudend was, was godsdiens. Terwyl sy met gemak verduidelik het dat die meeste Koerde Soenni-Moslems is, en die meeste ander Irannese Sjia-Moslems, en heel geredelik die verskil verduidelik het, het sy soos ʼn oester toegeklap toe ek haar oor haar eie geloof uitvra. Sy het geweet dat ek aktief in die kerk is (ons het saam in die Anglikaanse biskop van Quebec se huis gewoon), en het dit aangevoer as die rede vir haar huiwering. Ek het agterna gedink dat die meeste tradisionele Christene waarskynlik haar agterdog oor my geestelikheid deel, dat wat ek glo, gewoon te radikaal is vir mense om gemaklik mee om te gaan.

Ek wens ek het dit vir haar gesê.

Toe ek egter agterna, ter voorbereiding vir die skryf van hierdie artikel, deur haar rubrieke en kortverhale lees, het ek besef hoe neerdrukkend godsdienstige invloed regtig in Iran is. Die Ruhollah se goddelike reg om te heers mag nie bevraagteken word nie. Daar is rigiede riglyne oor hoe persone mag aantrek. Daar is streng reëls oor hoe mans en vroue sosiaal met mekaar mag omgaan. Onlangs is twee Irannese bloggers byvoorbeeld tot 99 houe elk gevonnis omdat hulle by ʼn internasionale konferensie handgeskud het met lede van die teenoorgestelde geslag wat nie direkte familie is nie.

Uit Homa se kortverhale word ʼn prentjie geskep van ʼn land waar partytjies met alkohol as dekadent en verbode afgekeur word. Geen wonder, dus, dat sy agterdogtig is oor godsdiens nie; sy het te lank gesien hoedat dit gebruik word om mense te onderdruk. Sy verduidelik byvoorbeeld dat Koerde uitgemaak word as najes (onrein) omdat hulle nie Sjia-Moslems is nie.

Haar hele familie het in Iran agtergebly. Sy was nog ʼn jong dogtertjie toe haar pa gearresteer is omdat hy in besit van verbode leesstof gevind is. Hulle was ʼn vooruitstrewende gesin. In ʼn gebied waar die meeste Koerde kwalik hoërskool kon haal, was haar pa ʼn man met ʼn meestersgraad. Ek vermoed dit op sigself het ʼn teiken op sy rug geverf. Homa vertel dat in die twee jaar waartydens haar pa aangehou is, hulle nooit geweet het waar hy is of wat gaan gebeur nie. Elke dag is daar op die radio aangekondig wie daardie dag tereggestel is. Elke dag, vir twee jaar lank, het sy, haar twee jonger broers en haar ma in vrees voor die radio gesit wanneer die lys van tereggesteldes uitgelees word. Twee jaar lank was hulle lewe in limbo. Toe haar pa uiteindelik vrygelaat word, was hy ʼn veranderde man. Sy sê dit nie, maar ek lei af hy was gebroke. Hy kon nie werk nie, omdat hy deur die veiligheidspolisie op ʼn lys van politieke gevangenes geplaas was. Ek kan my indink dat, in ʼn paternalistiese samelewing, sy onvermoë om vir sy gesin te kon sorg, emosioneel vernietigend moes gewees het.

Homa is sigbaar aangedaan wanneer sy die littekens van die sweephoue wat hy toegedien is, beskryf. Dit laat my opnuut besef dat nie alle letsels sigbaar is nie. Haar pa het die fisieke wonde gedra, maar vir haar en die res van die familie was daar bepaald emosionele letsels, en dis daardie wonde wat moeiliker genees.

Disproporsioneel hoë getalle Koerdiese vroue sterf deur hulleself te verbrand. Vir baie is dit die enigste vorm van beheer wat hulle oor hul eie liggame het, voer Homa aan. Haar aktivisme fokus dan ook tot ʼn groot mate op bemagtiging van hierdie vroue. Sy verduidelik dat die organisasie waarmee sy saamwerk, persone in dorpies in Iran instuur om bewusmaking onder vroue te doen. Dis uiteraard riskant vir die vrywilligers, iets wat klaarblyklik swaar op Homa se gemoed weeg. Verder word daar deur middel van gespreksforums, waar enigeen anoniem kan deelneem, kontak gehou met persone wat ʼn veilige spasie soek om oor brandende kwessies te praat. Daar is altyd ʼn risiko dat agente van die regering inluister en deelnemers probeer identifiseer, sê Homa. Dis egter ʼn risiko wat almal bereid is om te neem.

My laaste vraag aan Homa was of sy ooit weer sal terugkeer Iran toe. Net as sy haar eie dood wil veroorsaak, was die tersaaklike antwoord, met ʼn optrek van die skouer.

Dis skrikwekkend maklik om in my geestesoog te sien hoedat sy in vlamme opgaan. Sy is wel ter tale, hoogs intelligent, beurtelings weerloos en vasberade, ʼn kaleidoskoop van teenstrydighede, ʼn talentvolle skrywer en aktivis van wie ons nog baie gaan hoor. Daar is egter ook iets omtrent haar wat op ʼn mespunt balanseer. Maak nie saak hoeveel Homa haar bande met Iran probeer ontken nie, haar skryfwerk, haar aktivisme, haar dryfvere is gevorm deur haar verbintenis met die land.

Wanneer ek na haar kyk, word ek herinner aan die woorde uit die baie bekende Leonard Cohen-liedjie “There is a crack in everything, that’s where the light gets in.”

cohen

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Gert, dankie vir jou tersaaklike opmerking. Die Koerde is deur die Turke misbruik om die Armeniërs uit te roei. Ek het egter aan die ander kant ook simpatie met die Koerde, want die vaderland wat aan hulle beloof is, het niks van gekom nie. Hulle leef verspreid nie net oor vier aanliggende lande nie, maar ook in baie ander lande. Daar word gegis dat hulle oorspronklik blank en natuurlik nie-Moslems was; dat hulle die Mede was. Ek is moeg vir die storie dat Suid-Afrika net sleg tydens apartheid was. Toe was hier wet en orde en rede om 'n voorspoedige toekoms te verwag. Dieselfde het vir Iran tydens die Sjah se bewind gegeld, maar hy is alewig beskuldig van marteling, onvryheid, ens. Nou is Iran 'n chaotiese gemors sonder 'n blink toekoms; nes die nuwe Suid-Afrika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top