’n Onderhoud met die kykNET-program Megaboere 5 se nuwe aanbieder

  • 4

Kabous Meiring praat met Lorna Joubert van Chipinge, Zimbabwe (foto: https://kyknet.dstv.com/news/megaboere-5-het-vrou-aan-stuur)

Boer soek 'n vrou? Nie hierdie slag nie. ’n Vrou praat landbousake. Naomi Meyer praat met Kabous Meiring, die nuwe aanbieder van kykNET se Megaboere-program.

Kabous, jy's geen onbekende op die televisie nie. Maar aanbieder van Megaboere? Wat trek jou aan, of lok jou, om aanbieder van juis hierdie program te wees?

Daar is ’n sekere retoriek onder ’n groep mense in Suid-Afrika. Hulle kla hoe dinge agteruitgaan. Ek is ook soms mismoedig oor hoe swaar mense in die land kry en oor swak onderwys en dwelmprobleme, maar wat ek onlangs geleer het is dat die één ding wat Suid-Afrikaners in gemeen het, eintlik pionierskap is. En wanneer ons aanvaar dat ons steeds deel is van ’n land in wording, raak dinge makliker. Daar gaan altyd uitdagings wees in Suid-Afrika. Ek hou van nature van mense vir wie uitdagings energie gee, en boere is daardie mense. Van landbou weet ek min, maar ek wíl weet. Ek het dadelik besef dat dit ’n baie ryke ervaring gaan wees om met boere in aanraking te kom.

Kabous Meiring in gesprek met 'n plaasbestuurder in Namibié (foto: https://kyknet.dstv.com/news/megaboere-5-het-vrou-aan-stuur)

Jy is vertroud met aktuele sake en gesprekke daaromtrent op die TV. En is daar 'n warmer gesprek in hierdie land op die oomblik as gesprekke oor grond, eiendomsreg en wie s'n is wie s'n? Gaan jy en die boere hieroor ook gesels? (En wat van die plaaswerkers – met hulle ook? Of die Eerste Nasies-mense, diegene wat dalk mag sê: hokaai, hierdie grond was eerste ons s'n?)

Ons is omring deur slagspreuke. Politiek in plaas van uitkoms is seker maar aan die orde van die dag. Dit kweek weer bittere wyshede, smalende teregwysings en eggo-kamers. Dan is daar diegene wat hulle hande in die grond kry. Onder andere boere. Ons gesels met ’n wye spektrum boere, ook hulle wat grond by opperhoofde gekry het en lief is vir dié grond en boer dat die koring so staan en die stof so spat (letterlik). In Zimbabwe het ons met boere gesels wat grond verloor het, in Suid-Afrika met boere wat reguit praat met president Ramaphosa. Die situasies verskil, maar almal het meriete. Die een gemenedeler tussen die boere met wie ons gesels, is dat hulle glo in die land waarin hul boer, en nie net lief is vir grond nie. Dit geld ook die boere in Zimbabwe, Zambië en Namibië. As jy deesdae lief is vir jou land, is jy lief vir jou werkers, want jy deel ’n projek, en het baie kere dieselfde prioriteite. Meestal om om te sien na familie, na die gemeenskap, te help bou aan die ekonomie, en die land se mense te voorsien van kos. Ek klink seker nou optimisties-naïef. Ek sal nie wegsteek dat werkers soms steeds vasgevang is in werkersklas nie, maar ons was nie by één boer waar nie opheffingswerk en boerdery-ontwikkeling gedoen word nie. Talle van hulle het al grond afgestaan. Een boer het skaam gevra of dit vir ons eienaardig is dat daar nie ’n skool op hulle plaas is nie. Dit was. Dié plaas se kinders gaan egter na ’n skool op die dorp. So ja, ons praat aanhoudend oor die goed.

Kabous Meiring en die kykNET-span op die rooi duine van Stampriet, Namibië (https://kyknet.dstv.com/news/megaboere-5-het-vrou-aan-stuur)

Dit was nou onlangs weer Swart Maandag. En ek kan nie anders as om te vra oor plaasmoorde en -geweld nie.

Ek is bitter bekommerd oor plaasgeweld. Alle lewens is ewe belangrik, maar dit is swaar om te dink dis baie keer ouer mense wat deur trauma moet gaan. Verder dink ek daar is oplossings as die regte mense hulle by die krisis skaar, maar hulle is lugtig, want sommige regses maak asof hulle die enigste teiken is van plaasgeweld, wat natuurlik nie waar is nie. Die feit dat daar veldtogte is waar kwaadstokers in georganiseerde burgerregte-organisasies die oplossings belemmer (want hulle wend nie 'n poging aan om almal in te sluit nie), propageer slagofferskap. Ek glo vas ons kan probleme oplos as ons trots is op ons identiteit en as ons samehorigheid eerste stel. Ek is trots op my identiteit wanneer ek verantwoordelikheid neem vir die beserings uit die verlede en foute erken. Dit is egter so dat plaasgeweld soms as gevolg van rassehaat en mishandeling (vanaf wit na swart en dan uit wraak) gebeur, maar meestal is dit nie die geval nie. En nou moet ek eerlikwaar sê die boere met wie ek gesels het is bekommerd, maar nie een het uit 'n regse invalshoek gepraat nie. Hoewel die boere met wie ons gesels baie doen vir hulle omgewings op alle vlakke, is die duiwel los en plaasgeweld is algemeen. Die boere glo maar in beveiliging en saamstaan. Boere is van die mees proaktiewe Suid-Afrikaners wat ek nog ooit gesien het. Hierdie ding kan nie bekamp word deur groepe wat die Afrikaner bo ander stel, of wat rassisties is nie. 

Kabous Meiring (foto voorsien)

Wie is die mense met wie jy op die TV gaan gesels? Waar woon hulle? En waarna kan kykers uitsien met betrekking tot die nuwe reeks?

In die reeks kyk ons na boere wat nie noodwendig almal mega is nie, maar wat met wat hulle hét, vooruit boer. Wat ongeag teenspoed en uitdagings bo uitkom, verbete en positief. Ons gesels met megaboere ook, maar die gesprek draai elke keer by bestaansboere en hulle verhouding met die megaboer. Elke plaas vertel sy eie storie en dit bepaal met wie ons gesels. In Zimbabwe wou Celonia Joubert nie oor álles praat nie, die verlede was net te swaar. Op Mamokgadi in Bolobedu, kon Steve Mohale se vrou (wat ook boer) nie met ons praat nie, want sy is nie Engels of Afrikaansmagtig nie. Met beide hierdie vroue hét ek eintlik so baie gepraat, al was dit soms woordeloos. Ons het gelag en amper gehuil toe ons groet. Daar is ’n ander taal, ’n ongesegde een: Suid-Afrikanerskap, medemenslikheid en hoop. Boere ken mos daardie taal. 


kykNET-persverklaring:

Watwou dis net mans wat oor boerdery kan praat!

Iewers in die ooste van Zimbabwe, op die plaas Luipaardsvlei, is daar ’n brahmaankalf met die naam Kabous. Tydens die Megaboere-span se besoek aan die plaas het die patriarg, Soois Joubert, hom voorgeneem om die volgende bulkalf in sy stoet na die nuwe Megaboere-aanbieder te vernoem. Voorwaar ’n prestasie as mens weet hoe lief beesboere vir hul beeste is! En Kabous Meiring se reaksie was bloot: “ ’n Búlkalf?”, gevolg met ’n kenmerkende skaterlag.

Die nuwe seisoen van Megaboere wat in Januarie afskop gaan veral in een opsig van die vorige vier reekse verskil:  Megaboere 5 het ’n vrou aan die stuur. Die vervaardigers van Megaboere, Khaki Produksies, voorspel dat Kabous Meiring onder die kykers se vel gaan inkruip terwyl sy die suksesvolste boerderye in suidelike Afrika besoek. Hierdie aanbieder van Prontuit op kykNET is ’n vonds wat ’n vars aanslag aan die program gee. Haar warmte, insig en spitsvondighheid is ’n aanwins en plaas die bekroonde reeks in ’n ander liga.

Megaboere 5 doen moeite om ook in buurlande, met soortgelyke omstandighede as Suid-Afrika, ’n draai te maak. In Afrika bly landbou ’n uitdaging, want hier gaan dit nie net oor wins, omset en kaart en transport nie. In Afrika gaan kosvoorsiening veral oor aanpasbaarheid. Kabous doen moeite om boere se aanpasbaarheid by klimaatsverandering, droogtes, maatskaplike uitdagings en die politiek te toon. Soos in die vorige reekse besoek sy ook ’n verskeidenheid boerderye in verskillende dele van die land. Die klem verskuif hierdie keer na boere se vermoë om verandering as uitdaging te aanvaar. Die boerderye wissel van groot semi-korporatiewe sakebedrywe, tot boere wat op tradisionele grond boer en nooit die titelakte van sy grond gaan besit nie - almal boere wat hulself op die een of ander manier van ander onderskei en op verskillende maniere kwalifiseer om die Megaboer-etiket te dra.

Kabous sê die uitnodiging om Megaboere aan te bied, was ’n onverwagse uitdaging.

“Toe begin ek daaraan dink, hierdie nuwe terrein vir my. Op Prontuit gesels ons soms oor landbou, maar nie soveel oor die tegniese deel daarvan nie. Toe word dit ’n avontuur waarvoor ek opgewonde en nuuskierig geword het. Ek is net steeds bang vir verduidelikings in “watt” en “metrieke ton”.

“Landbou is onlosmaaklik deel van Suid-Afrika se ekonomie, maar ook in ’n mate van die Suid-Afrikaanse identiteit. Dis wat my interesseer: hoe ons praktiese oplossing kry in ’n land met ernstige uitdagings, waar ideologie en ekonomie nou verbind is en dit op ’n manier probleemoplossing bemoeilik. Dié mense, die boere, wat met uithouvermoë en ’n liefde vir die grond – nie noodwendig die eiendom nie – aanhou om deel te wees van nasiebou, kosverskaffing, vaardigheidsontwikkeling, gesprekke voer met politieke leier om sodoende gemeenskappe te ontwikkel of gesond te hou, die mense wat skole op plase bou en diesmeer. Dis die tipe Suid-Afrikaners wat ek wil ontmoet en nou het ek die kans gekry.”

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Estelle Olivier

    Kan nie wag vir die program nie. Het self 35 jaar geboer. Dankie vir die program. Glo daar is n groot toekoms vir die boere in ons land. Sterkte Kabous.

  • Avatar
    Mnr Moolman Lamont

    Hoe kom 'n boer op die program? Word hy genomineer? Deur wie? Kan mens iemand voorstel?

  • Avatar
    Monica Hammes

    Ek het vanaand baie lekker gekyk na Megaboere want op 'n manier is die Jouberts aan my bekend. My ouers was die predikantspaar op Chipinge (destyds Chipinga/Melsetter) van 1938-1945. Ek en my broer en suster is daar gebore. Ek was nog 'n baba toe ons daar weg is.

    Ek onthou een lekker lang Desembervakansie wat ons daar so van plaas tot plaas gekuier het toe ek so agt of nege was, oa ook by Oom Zacharias-hulle. Die tannie het die heerlikste koringbier gemaak. Kersfees was ons by oom Miek en tannie Lena.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top