Die gesoute musikant en akteur Laudo Liebenberg het onlangs sy eerste Afrikaanse snit, “Ek kan nie wag”, bekendgestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Laudo. Hoe’s alles?
Hei man, gaan heel goed. Ja, alles is seker maar hoe alles moet wees – hoe dan nou anders? Dit is mos nie in ’n mens se hande wat die lewe jou kant toe gooi nie, maar tans is hy heel oukei met my.
Baie geluk met jou nuwe track, “Ek kan nie wag”, en die gepaardgaande video – dis heerlik! Waar kom die lied vandaan, in terme van die temas in die lirieke (vrede in die liefde, frustrasie met die res van die wêreld, onder meer ...)? Hoe is die lied gebore, en watter besluite moes jy neem om hom te kry waar hy is, spesifiek met die interessante synth-belaaide arrangements?
Die liedjie het ontstaan toe my vrou, Cara, vir my as ’n verjaarsdaggeskenk studiotyd en ’n mix gekoop het, wat seker die amazingste geskenk ooit is, so toe kon ek nie meer verskonings maak oor ’n Afrikaanse song nié te kan doen oor fondse, tyd ens nie. Dit was ’n heerlike uitdaging en ek het onmiddellik vir Hunter Kennedy gevra om saam met my te skryf aan iets. Toe ons met ’n tema en melody opkom, het dit nogal smooth verloop, met Fred den Hartog as producer/engineer.
“Ek kan nie wag” gaan oor verlange en eensaamheid , asof jy iemand of jouself verloor het oor tyd en dan ook die hoop van ’n reünie met dit wat verlore is.
Ek wou die klank nogal old-school hê – dink Tom Petty / Bruce Springsteen met ’n ligte 80’s synth-gevoel daaroor, maar Fred het die gevoel en instrumentasie so mooi begelei en in die rigting waar dit nou is, gestuur. Dane Taylor het gemix.
Jy het al aan heelwat Afrikaanse projekte gewerk (ons kom netnou daarby), maar sover ek weet is “Ek kan nie wag” jou eerste solopoging met ’n oorspronklike Afrikaanse lied. Waar het hierdie behoefte, of hierdie besluit vandaan gekom? Is dit ’n once-off, of beplan jy nog snitte/albums in Afrikaans? Of is dit bloot ’n geval van toon-in-die-water-steek en kyk hoe dit gaan?
Ek was nogal altyd lus om iets oorspronklik in Afrikaans te sing, het net nooit gevoel die tyd was reg nie.
Bietjie van albei – voel dit uit, maar sal definitief nog snitte uitsit, aangesien daar al heelwat geskryf is. Verder speel ek maar op hoe mense reageer teenoor hierdie een en sal later besluite neem oor ’n meer konkrete produk bymekaar sit.
Sterk en oorspronklike lirieke was nog altyd ’n groot kenmerk van jou musiek, en ek dink ’n groot deel van aKING se sukses is te danke aan daai lirieke. Wat is jou filosofie rondom liriekskryf in terme van hoe dit saam met die musiek staan? Is daar ’n spesifieke proses wat jy volg met die skryf daarvan? Wat kom vir jou eerste – die musiek of die woorde? En, was dit ’n groot aanpassing om oor te slaan na Afrikaans in hierdie opsig?
Dit wissel nogal van projek tot projek ... soms leen die musiek hom tot ’n tema en baie kere moet jy gaan grou vir iets. Met Afrikaans kan ek net myself wees, aangesien dit my moedertaal is en die woorde voel eerlik. ’n Mens kom vinnig agter as dit nie uit ’n regte plek uit kom nie.
Ek vind dit moeilik om nie myself te “second guess” op elke reël nie, maar soms moet jy net oorgee aan wat reg voel en lekker sing, solank jy agter die woorde kan staan en nie jou integriteit prysgee nie.
Saam met ’n paar ander uitstekende musikante voer jy die laaste tyd die Eet kreef herleef-produksie uit – ’n verering van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band. Waarom het julle besluit om dit juis nou te doen? Hoe het julle ’n balans gevind tussen die oorspronklike werk eer en julle eie spins/interpretasies op die songs sit, en/of om daardie politieke satire relevant te maak vir die huidige era? Sover ek kan sien was die reaksie in die media geweldig positief – watter soort reaksie het julle gekry van musikante en aanhangers wat dáár was in die laat ’80’s?
Die produksie was Frank Freeman se “brain child” en toe hy my vra om deel te wees was ek eers huiwerig, aangesien dit groot skoene is om te vul. Dit was ’n lekker uitdaging om ’n vars verwerking te doen van so ’n ikoniese album saam met ongelooflike musikante – ons moes probeer om respek te behou teenoor die oorspronklike, maar nog steeds genoeg van ons eie stempel daarop sit.
Die senuwees van dit te moes opvoer voor die “die-hard” Kerkorrel-fans en puriste vir wie die album baie heilig is, was wel ’n klip in die skoen om uit te skud, maar die ontvangs en reaksie was oorweldigend en toe kon ons dit net geniet om hierdie “one of a kind” ikoniese album saam met luisteraars te geniet.
Die liedere en lirieke maak nog steeds v groot indruk op ons en hedendaagse gehore, so mens kan nie anders as om emosioneel betrokke te raak in die vertolking daarvan nie. Dit is nie dieselfde tydperk nie, maar dinge is eintlik maar dieselfde kak in ’n nuwe jas.
aKING gaan ook nog sterk aan – onlangs was daar shows by Mercury en die Love Stellies-fees. Dit is al twaalf jaar sedert Dutch courage uitgereik is, maar ook vyf jaar sedert die laaste album, Morning after. Waar staan aKING op die oomblik vir jou in terme van jou breër loopbaan? Is daar ’n drang om nog tracks op te neem, of kom daardie reistog tot ’n einde? Indien daardie drang wel lewend is, hoe balanseer jy dit met al die ander projekte?
aKING is redelik stil op die oomblik. Ons gig so nou en dan, maar almal is besig met ander projekte en maniere om aan die lewe te probeer bly. Ons is nog saam en is van plan om êrens in die jaar ’n paar songs te record en uit te sit, as almal se skedules dit kan akkommodeer.
Daar is nog nie ’n rede vir ons om te sê dit is die einde van aKING nie – ons het nog musiek in ons wat moet uitkom.
Jy het die laaste tyd baie werk as akteur gedoen, en lekker divers ook – onder meer ’n speurder in die film Ander mens, en ’n genadelose reeksmoordenaar in die TV-reeks Die byl. Is daar vir jou ’n hernude fokus op toneelspel, en waar het dit vandaan gekom? Watter soort projekte is in die pyplyn wat dit betref? Watter soort raakpunte is daar tussen ’n akteursloopbaan en ’n musikantloopbaan, en waar verskil dit hemelbreed?
Ek het drama studeer en teater gedoen voor die band amptelik afgeskop het, so ek wou dit altyd deel van my lewe hê. Eers in die laaste vyf jaar het ek weer begin fokus om meer betrokke te raak in die film/TV/teaterbedryf.
Daar is heelwat in die pyplyn, maar ek kan tans nie te veel sê daaroor nie. Die raakpunte is ... dit is maar ’n kunstige, wispelturige en soms seisoenale bedryf. Alhoewel beide verrykende, ongelooflik kreatiewe en doodsbelangrike kultuurpilare is, is dit baie moeilik as dit kom by finansiële aspekte. Geleenthede is soms min en wyd gesaai, so mens moet probeer jou eie werk skep en vasbyt – selfs ’n neseier bou om op staat maak in die dooie maande.
Partykeer gaan dit weer baie goed en jy moet jouself herinner om nie te gewoond te raak daaraan nie. Maar hey, such is life. Ek is lief vir beide industrieë en hoop om ’n balans te kan handhaaf en dit voluit te kan doen tot ek kunsmis word.
Terug by die musiek: Soos genoem, het jy al geweldig baie songs en albums vrygestel, en natuurlik ’n moerse lang lys van live gigs. Op watter vrystellings is jy die trotsste? As jy vir iemand een song moet speel wat sê “Dit is Laudo die musikant”, wat sal dit wees en hoekom? En ook, is daar terugskouend snitte wat jy anders sou aanpak? Of is dit nie iets waaraan ’n mens dink nie?
Kom ons praat nie eers oor wat ek terugskouend anders sou aanpak nie ... te veel. Ek kan ook eerlikwaar nie sê watter song of vrystelling my gunsteling is nie – dit voel nie meer soos myne nie. Jou laaste song is jou ... blah blah.
Een song wat ek vir iemand moet speel: “In loving memory” – aKING.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir jou in, in soverre jy ’n sê daarin het?
Meer toneel speel en meer musiek maak, asook ander kreatiewe uitdagings aanpak, hopelik van ’n ander aard ook.
Wat is die sin van die dood?
It is what it is.
Kom luister by die Toyota US Woordfees na Eet kreef herleef!: 15 Maart by Spier, |
Lees ook:
EET KREEF!: Die verhaal van PW Botha se wysvinger en Johannes Kerkorrel se middelvinger
Kommentaar
Wat is die lied wat gesing word in "Projek Dina" in die einde van elke episode?