’n Onderhoud met bekroonde navorser Helgard Raubenheimer

  • 2

Helgard Raubenheimer van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Universiteit Stellenbosch, is met ’n ATKV|SA Akademieprys bekroon vir sy artikel “AuII: Skaars of afgeskeep? ’n Kritiese literatuuroorsig” wat in LitNet Akademies (Natuurwetenskappe) verskyn het.

Raubenheimer het ook in 2014 ’n ATKV|SA Akademieprys ontvang vir die artikel “Asikliese karbeenkomplekse maak eerste opslae in goudstormloop” wat LitNet Akademies in Desember 2012 geplaas het.

Wat beteken so ’n bekroning vir jou?

Dat iemand, êrens in Suid-Afrika, dalk gedink het die artikel is die moeite werd om te lees.

Hoe pas hierdie artikel in jou oorkoepelende navorsingsfokus in?

Dit was vir baie jare pret om op die gebied van goudchemie, een van my gunstelinggebiede, te werk en dit verder te ontwikkel. Dalk kan een of ander chemikus in Suid-Afrika van die voorstelle in die artikel opvolg.

Was dit vir jou ’n uitdaging om Afrikaanse terminologie te vind om in jou artikel te gebruik, of wat was jou ervaring om ’n artikel oor so ’n gespesialiseerde onderwerp in Afrikaans te skryf?

Dit was geen probleem nie. Alles wat gesê moes word, kon maklik in Afrikaans gedoen word.

In die akademie, en veral ook natuurwetenskappe, word daar al hoe minder Afrikaans gebruik. Dink jy dit is belangrik vir Afrikaanse studente van gespesialiseerde vakgebiede om onderrig en studiemateriaal in hul moedertaal te ontvang?

Die wêreldtaal van die natuurwetenskappe is Engels. Om as wetenskaplike internasionaal saam te praat, moet jou gekose vakgebied so gou moontlik totaal in dié taal beheers word. Die top Suid-Afrikaanse navorsingsuniversiteite doen reeds feitlik al hul chemie-opleiding in Engels. In Duitsland is sekere universiteite besig om oor te skakel na onderrig in Engels. Nederlanders publiseer uitsluitlik in dié taal. Dis nogtans geweldig jammer dat dit nou die einde van die pad is vir die beoefening van die natuurwetenskappe in Afrikaans.

Die keurders van die artikel het genoem dat die artikel in die toekoms ’n goeie verwysingsbron vir goudchemie sal wees, veral aangesien dit fokus op die voorkoms van stabiele goud(II)-verbindings – ’n minder algemene onderwerp. Is daar nog baie nuwe velde en navorsingsmoontlikhede wat in hierdie veld ontgin kan word?

Beslis. Sulke ontwikkelingsmoontlikhede lê meestal op die grensvlakke tussen die chemie en ander dissiplines soos biologie (medisinale verbindings), ingenieurswese (heterogene katalise, materiale, nanotegnologie, energie) en rekenaarwetenskap/fisika (teoretiese modellering).

Waarom het jy eintlik die twee artikels in Afrikaans geskryf?

Ten einde, terwyl die beoefening van chemie in Afrikaans uitsterf, dokumente daar te stel wat toon dat ons aan die begin van die 21ste eeu voorfrontchemie in Afrikaans kon bedryf. Dis my enigste twee publikasies in Afrikaans. Ek het net een vereiste gestel: die gehalte moet so hoog wees dat, indien in Engels geskryf, hulle aanvaarbaar sou wees vir publikasie in hoë-impak, internasionale joernale.

  • 2

Kommentaar

  • Wonderlik dat die twee artikels in Afrikaans verskyn het. Helgard se antwoorde op die vrae is eerlik en gee die kern van die stand van sake in die Natuurwetenskappe (en ook wyer) weer.

  • André Badenhorst
    André Badenhorst

    Dis seker die naaste wat ‘n akademiese artikel aan literatuur sal kom. Dis asof dit so móét wees: In Afrikaans. Of liewer, óp Afrikaans ... vir die onwaarskynlike “ná Afrikaans”. Dit sal die bleddie dag wees!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top