
...
Op ’n tyd kon ons hulle raaksien in ’n spesifieke kampie, net langs die geskiedenis van ons land. Nou is hulle eenkant-kampie die hoofkamp van ons volk se skape.
...
Die winde van verandering waai sterk deur Suid-Afrika in 2025. Van alles wat ingewaai het, is ’n nuwe geloof seker die opspraakwekkendste, al praat niemand daaroor nie! Ek kies doelbewus geloof en nie kerk nie, want ’n kerk sê ten minste Jesus is God, al kry ons dit nie altyd in praktyk reg om dit uit te leef nie. ’n Nuwe “geloof” is wat ons Bybel ’n afgod noem, ’n manier van dink, leef en praat sonder die Christosentriese WWJD?
Hierdie nuwe geloof praat van Christen- of selfs Protestantse wortels, maar preek inkrementeel loodreg teen die goeie nuus van Jesus.
- Jesus bepleit eenheid en “saam”; die nuwe geloof praat van en hunker na apartheid en “self”.
- Jesus leer ons om die ander wang te draai en ons lewens neer te lê; die nuwe geloof leer ons terug slaan.
- Jesus leer ons kniel; hierdie nuwe gees bepleit opstaan en teenstaan.
- Jesus leer ons om ons lewe op dankbaarheid te bou; die nuwe geloof leer ons om onsself as slagoffers te sien.
- Jesus sê direk: Moenie kla nie. Die nuwe geloof vermy klaagliedere en sing soos klakouse oor mense by mense.
- Die Bybel sê eer en onderwerp jou aan die owerhede; die nuwe geloof mik vir en veg vir self-regering.
Interessant is dat hierdie nuwe geloof nie lidmate uit huidige kerke weglok nie. Hulle dissipel ons lidmate sommer so onder ons neuse. Sondag vir ’n uur gee dominee of pastoor ’n preek uit die Bybel, oor byvoorbeeld onselfsugtig liefhê, maar 24 uur ’n dag, sewe dae ’n week preek die nuwe geloof selfsug, selfbehoud en selfbelang, veral in ’n soort-soek-soort-selfbeskikking.
Die nuwe geloof het leiers en slim geleerdes, net soos alle gelowe. Daar is ’n pous en daar’s biskoppe. Soms word ’n biskop uitgeskop, maar dié preek nog dieselfde geloof en dien as ’n tipe sendeling. Die pous en biskoppe is ooms.
Op ’n tyd kon ons hulle raaksien in ’n spesifieke kampie, net langs die geskiedenis van ons land. Nou is hulle eenkant-kampie die hoofkamp van ons volk se skape. Die ooms is nou die herders van ons volk en hulle plant beter gras en bou die beste hokke en krale.
Die skape ken hulle stem, want hulle herken die vrees en frustrasie agter die woorde.
Daar is voortdurend beloftes van groener gras sonder wolwe of hiënas. Hierdie hoop vir groen weivelde sonder valleie van donkerte word direk in ons lidmate se ore gepreek sonder om ooit direk te vra: “Kies teen Jesus.” Die kritiek sal teen “linkse” dominees binne die kerk wees, nooit direk teen Jesus nie.
Die nuwe geloof belowe egter presies die dinge waarteen Jesus gekies het in die woestyn versoeking: veiligheid, aardse koninkryk, voedselsekuriteit. Geen ruimte vir selfbejammering in die volg van Jesus nie (lees byvoorbeeld 2 Korinthiërs), tog is die nuwe godsdiens deurweek met selfbejammering. Hulle sê nie Jesus was verkeerd of naïef nie, hulle preek en modelleer net iets anders, en dit werk.
Daar’s bybels ook betrokke: ou Testamentiese Art of war en Von Clausewitz staan sterk, oorlogmetafore. Huntington dien as nuwe Paulus met Clash of civilisations. Die vraag is nie Huntington of Fukuyama nie, maar Huntington teen Paulus, Lukas, Petrus, et al. Kolossense 2:23 praat van “’n skyn van wysheid” en hierdie nuwe etnogodsdiens klink slim solank dit nie direk langs Jesus se woorde staan nie. Dit lyk kaal in die skadu van die kruis. Ek gee ’n voorbeeld: Die Waarheid (Jesus self) sal terugkom om te oordeel en in Matteus 25 lees ons daar sal ’n verdeling wees tussen skape en bokke. Die bokke sal dié wees wat nie na hulle eie mense gekyk het nie, want op daardie dag sal Jesus sê: “Ek was ’n wit plakker, ’n BEE victim en julle het niks vir my gedoen nie.”
Hierdie manier van dink is so dominant ek het eintlik reeds opgegee; ek het klaar aanvaar dat hierdie middelgrond ’n middeweg skep vir die meerderheid Afrikaners. Daar is nou ’n goed-georganiseerde breë pad wat met gemak en sekerheid betree kan word. Die tyd sal ons leer wat reg en verkeerd, slim of selfsugtig was. Ek hoef nie te stry nie. Ek kan wel trots verklaar: Ek’s deel van die 10% wat van verstes naastes wil maak.
Die ding van wiskunde is dat die nommers nie jok nie. Al is jy in ’n dominante meerderheid binne ’n 5% minderheid, bly jy ’n minderheid wat die totale prentjie betref. Dalk gaan ’n nuwe draai in die geskiedenis jou weer uitskryf as eenkant-kampie wat (op anti-Afrikanerwyse) nie kon verander nie, nie kon vorentoe trek nie, nie kon koers hou nie.
Ek sluit af met Anton Goosen se profetiese woorde uit 1984: “Flip it boys, ons gaan moet ernstig raak oor die human nature van ammal, dissie ’n klein probleem nie, al dink jy dalk die keiser issie kaalie.”
Lees en kyk ook:
Hoe kan Suid-Afrikaners prakties gesproke saamstaan en saamwerk?
Kunsmatige-intelligensie-Jesus-kletsbotte se uitdaging vir teologie: ’n verkennende studie
Filmresensie: Citizen Saint by die Europese Filmfees en op Mubi
Can there be a dance between the health sciences and the arts?

